Laat dit juig!
Op Donderdagaand 16 Januarie 2020 is die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees-program tydens ’n glansgeleentheid by Zeitz MOCAA in Kaapstad bekendgestel.
Die radiopersoonlikheid Haidee Muller en televisie-aanbieder en die huweliksbeplanner Aleit Swanepoel was die aanbieders.
Met ’n treffende uitsig oor Tafelberg is Kunste Onbeperk se vereerdes vir 2020 ook tydens dié geleentheid aangekondig.

“Dit gaan goed met die kunste,” het Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, die gaste mee verwelkom.

Die bekroonde aktrise Anna-Mart van der Merwe het die Kunste Onbeperk-prys vir Vertolking ontvang. Anna-Mart kon ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie – sy het gewerk – maar Marthinus Basson se commendatio vir haar was aangrypend.

Vinette Ebrahim, die geliefde Charmaine van 7de Laan, het die Kunste Onbeperk Inspirasie-prys vir haar werk en aktivisme ontvang. Henry Mylne en Jacques du Toit het beide ’n commendatio van haar gegee.

Schalk van der Merwe het ’n commendatio van Schalk Joubert gelewer. Schalk het die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys ontvang, wat toegeken word aan die persoon wat brûe tussen verskillende kulture bou.

“Die jong stem van vandag sê: ‘Nie in my naam nie’, en ek wens meer mense wil dit doen.” Africa Melane, aanbieder op CapeTalk, het ’n commendatio van Figure Of 8 Dance Collective gelewer. Shaun Oelf en Grant van Ster het die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem vir hulle vernuwende bydrae met breë glimlagte ontvang.

Dineke van der Walt, KKNK se visuelekunskurator, het die tema, “Plat op die aarde”, en die feeskunstenaar, Barbara Wildenboer, bekendgestel.

Bernie Berkowitz, Kaapse streekshoof vir verhoudingsbankdienste, het vertel waarom hulle al 15 jaar betrokke is by die KKNK.

Die aankondigings is afgesluit met ’n spesiale vereerde, David Piedt, wat die Kunste Onbeperk-prys vir Bydrae tot die KKNK ontvang het. Franklin Sonn het die commendatio gelewer.

Agter van links: Grant van Ster (Figure Of 8 Dance Collective), Franklin Sonn, Shaun Oelf (Figure Of 8 Dance Collective), Schalk Joubert, David Piedt en Marthinus Basson. Voor van links: Vinette Ebrahim en Jacques du Toit
Die KKNK vind 23–29 Maart 2020 plaas en kaartjies kan deur Computicket bespreek word. ’n Minigids is reeds op die KKNK-webtuiste beskikbaar: https://indd.adobe.com/view/72898c8a-715f-4684-b7e0-c35153a203b7.
- Foto’s: Menán van Heerden
- Teks: Cliffordene Norton
Lees ook
Persvrystelling: Ervaar eie Klein Karoo soos nog nooit vantevore by KKNK 2020
"Om te probeer verstaan hoe hulle die wêreld sien" – ’n onderhoud met Dineke van der Walt