Persvrystelling: Ervaar eie Klein Karoo soos nog nooit vantevore by KKNK 2020

  • 0

Die 26ste KKNK bied opnuut unieke geleenthede om die Klein Karoo ten volle te ervaar wanneer dié fees van 23 tot 29 Maart op Oudtshoorn aangebied word.

“Nie net is daar verskeie geleenthede om die Klein Karoo se smaaklikhede te proe nie, daar is ook ’n eens in ’n leeftyd geleentheid om musiek van twee van ons land se voorste musici in die Kangogrotte te beleef,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

“Ons bied vir die eerste keer in meer as twee dekades konserte in die Kangogrotte aan. Feesgangers kan uitsien na Karen Zoid unplugged in die Kangogrotte op Vrydag, 27 Maart om 20:00 – ’n akoestiese konsert saam met kitaarspeler Henry Steele en op Saterdag, 28 Maart – op internasionale klavierdag – eggo die note van Charl du Plessis in Die Kangogrotte konsert deur die Van Zyl-saal van die Kangogrotte,” vertel Theart. Du Plessis word die eerste pianis ter wêreld om ’n solo-klavieruitvoering in die grotte aan te bied en speel boonop op ’n Steinway-klavier.

Karen Zoid (Foto: Liné Loff)

Alhoewel kaartjies vir Zoid se vertoning reeds uitverkoop is, is daar steeds enkele kaartjies vir Du Plessis se klavieruitvoering beskikbaar. “Feesgangers moet gou speel om hul kaartjies vir dié besonderse geleentheid te kry,” sluit Theart af.

Verskeie geleenthede om produkte en lekkernye uit die Klein Karoo te proe word ook aangebied. Onder hulle tel die uiters gewilde Bossafari-wyn-en-tapastoer, aangebied deur Buffelsdrift Game Lodge. Dit is ’n wyn-en-tapas-avontuur, waarin feesgangers na drie verskillende uitkykpunte gaan waar gepaste wyn uit die omgewing, saam met heerlike tapas geniet word. Gaste sien tussendeur van die 22 spesies diere op die landgoed.

Buffelsdrift se Olifant Ontbyt bied ’n wonderlike ervaring met ’n smaaklike Karoo-ontbyt, saam met hul drie grootvoete Malaika, Bulelo en Jabari. Die verhaal van dié drie wees-Afrika-olifante is aangrypend en daar is geleentheid vir persoonlike interaksie met die olifante, sowel as hope kans vir foto’s.

Kangogrotte (Foto: Rute Martins van Leoa’s Photography [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Thorny Creek Brewery bied ’n Craft Beer and Artisan Cheese Pairing by dié nuwe boetiekbierbrouery in die hartjie van die Klein Karoo aan. Feesgangers leer hier meer oor die kuns van bierbrouery, en kan proe hoe die kompleksiteit van ’n bepaalde bier by die intensiteit van ’n bepaalde kaas pas.

Sterrekykers kan op 25 Maart by Johan Breunissen van Beans about Coffee aansluit vir ’n Donkermaan-piekniek waar hulle meer oor sterre, ligjare en sterrestelsels gaan leer. Wyn en versnaperings word verskaf by dié unieke ervaring.

Geniet kykNET-Kokkedoor Leroux se kontreikos tussen die wild by Bushman’s Dining, net buite Oudtshoorn op die N12 na De Rust. Hier op die wildreservaat word heerlike wildgeregte in die opelugrestaurant tussen die doringbome bedien. Daar is ’n buffet met volstruis-, wild- en kontreigeregte, asook ’n verskeidenheid vars brode en natuurlik nageregte waaruit gaste kan kies.

De Rustica Estate bied Olive to Oil by dié olyflandgoed aan. Dit is ’n olyfolietoer wat al die geheime van olyfolie deel – van die olyfboord, tot die -meule en pars. Die toer eindig met ’n proe-geleentheid waar verskillende style olyfolie uit verskillende oesjare en variëteite, geproe kan word.

’n Unieke Volstruis-en-wyn-paring word deur die Cango Caves Estate aangebied, wat aan feesgangers ’n geleentheid bied om verskillende wyne met heerlike volstruishappies, geïnspireer deur die Klein Karoo, te geniet. Dit is egter nie gewone volstruishappies nie, maar verrassende kombinasies wat voorgesit word, met die pragtige Swartberge as skilderdoek in die agtergrond. Adrenalien-verslaafdes kan na afloop van die paring die Cango Caves Zipline-avontuur tussen die Swartberge rondom die Kango-vallei geniet. Dit is ideaal vir jonk en oud. Die lengte van die zipline is 680 m en die dubbeltoue maak dit moontlik vir twee mense om saam te zip.

Vir Whiskyliefhebbers lê daar in Charlie en die tjoklitfabriek ’n reis saam met Chris Koch, bekende Afrikaanse whiskykenner, voor. Proe ’n handvol Skotse enkelmoutwhiskies, gekombineer met heerlike sjokolade, terwyl daar meer geleer word oor die herkoms en eienskappe wat elke whisky uniek maak.

Twee geleenthede om meer oor Oudtshoorn se ryk geskiedenis te leer is op die program ingesluit. Die Vriende van die CP Nel-museum bied ’n Historiese Wandeltoer met Peter Gray aan. Dit is ’n gemaklike staptoer waar besoek afgelê word by belangrike argitektoniese geboue op Oudtshoorn, wat as grondslag dien vir toeligting van en ’n bespreking oor die geskiedenis van die dorp.

Beans about Coffee bied ’n Klok-besigtiging by die museumtoring aan. Dit is ’n uitsonderlike geleentheid om die JW Benson-toringklok, wat uit 1908 dateer, te sien. Die klok is onlangs herstel en om 12:00 word die Westminster-klokkespel gehoor. Om die ervaring nog meer spesiaal te maak, word vonkelwyn en volstruiscarpaccio-versnaperinge ná die tyd bedien.

Vir diegene wat kans sien vir bietjie oefening tussen die feestelikhede deur, is daar twee opsies. Die Mast & Back-drafuitstappie is ’n 12 km roete vanaf die Cape Karoo Emporium, na die koppie oorkant die Olifantsrivier, via die treinspoor tot by die Mas en terug. Hierdie roete is beslis nie vir beginners nie.

Feesgangers kan ook liggaam en siel voed met Pilates-oefeninge in die vars oggendlug van die Klein Karoo, saam met Marieke Vorster tydens Pilates in die Karoo met Marieke. Die klasse is opwindend en beloof om jou in die regte stemming te kry vir ’n prettige dag by die fees.

  • Vir meer inligting en die volledige feesprogram, besoek www.kknk.co.za
  • Kaartjies vir hierdie Klein Karoo-ervarings is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. 

Lees ook

Persverklaring: Gesprekke vir ieder en elk by KKNK 2020

Fotogalery: KKNK 2020-programbekendstelling

"Om te probeer verstaan hoe hulle die wêreld sien" – ’n onderhoud met Dineke van der Walt

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top