Persverklaring: Gesprekke vir ieder en elk by KKNK 2020

  • 0

Vanjaar se KKNK bied ’n geleentheid vir ieder en elk om saam te gesels, met agt diverse en aangrypende gespreksreekse wat by die fees aangebied word.

“Dié gespreksreekse bespreek brandpunte oor die land se ekonomie en regering en sluit gesprekke met van ons land se voorste kunstenaars in. Dit word gratis aangebied wanneer Oudtshoorn sy feesklere aantrek van 23 tot 29 Maart,” sê die KKNK se Artistieke Direkteur, Hugo Theart. Die gespreksreekse word moontlik gemaak deur die Het Jan Marais Fonds.

Elke feesdag begin soggens om 08:30 in die Netwerk24 Feeskafee met die gewilde Die Burger Praat Saam-diskoersreeks, waar belangrike Suid-Afrikaanse kwessies bespreek word. 

Chris Burgess (redakteur van Landbouweekblad) gesels op 24 Maart met Christo van der Rheede (adjunk-uitvoerende direkteur: Agri SA), Lennox Plaatjies (Witzenberg PALS) en Christina Botha (FW de Klerk-stigting) oor Die ANC en grondonteiening

In Het die Wes-Kaap die misdaadoorlog verloor? (25 Maart) gesels Ivor Price (skrywer en TV-aanbieder) met Yolisa Matakata (Wes-Kaapse polisiekommissaris), Albert Fritz (Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid), Johandré van Zyl (AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die suidstreek), asook ’n verteenwoordiger van die Oudtshoorn SAPD-akademie oor die lang gesukkel van die Wes-Kaap om ’n nuwe polisiekommissaris aan te stel.

Ivor Price (Foto: Cliffordene Norton)

Eskom, die grootste bedreiging vir Suid-Afrika se toekoms, word op 26 Maart bespreek in Eskom en die toekoms van elektrisiteit. Die gespreksleier is James-Brent Styan (skrywer van Blackout: The Eskom Crisis) met André de Ruyter (uitvoerende hoof van Eskom), Ted Blom (energiekenner van EECO) en Sampson Mamphweli (direkteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies by US) op die paneel.

James-Brent Styan (Foto: Cliffordene Norton)

Gaan Cyril Ramaphosa die wa deur die drif trek?: Jan-Jan Joubert (politieke joernalis), Amanda Gouws (Universiteit Stellenbosch), Ryland Fisher (politieke joernalis) en Erwin Schwella (Hugenote-kollege se Skool vir Sosiale Innovasie) gesels op 27 Maart oor die maak-of-breek-jaar vir president Cyril Ramaphosa.

Sluit op 28 Maart by Jody Hendricks (RSG-omroeper), Mohammad Karaan (lid van die beplanningskommissie wat die Nasionale Ontwikkelingsplan aanvanklik opgestel het), Jackson Mthembu (minister in die presidensie), Christi van der Westhuizen (politieke ontleder by NMU) en Leslie van Rooi (Universiteit Stellenbosch) aan wanneer hulle gesels oor Kan die Nasionale Ontwikkelingsplan Suid-Afrika red?

Christi van der Westhuizen (Foto: Menán van Heerden)

Amerikaners trek in Desember hul kruisies. Gaan president Donald Trump herverkies word? Gesels op 29 Maart saam in die gesprek Trump, VSA en die olieprys met Heindrich Wyngaard (politieke joernalis en TV-aanbieder), Anthoni van Nieuwkerk (Wits se Skool vir Regeerkunde) en Roelof Botha (ekonoom).

In die daaglikse Boekgesprekke by die ATKV-Boeke-oase in die Netwerk24 Feeskafee, gesels skrywers oor hulle kreatiewe denkprosesse en idees. Dié reeks word moontlik gemaak deur NB-uitgewers, LAPA, Penquin, Naledi en Protea Boekhuis. Daar word tot vier gesprekke per dag aangebied met ’n paar hoogtepunte wat insluit: Die dinge van ’n kind, waar drie opwindende skrywers, André Trantraal, Susan Ongansie en Bianca Flanders oor hul boeke vir kinders gesels (24 Maart 12:00).

Luister na drie van Oudtshoorn se skeppende inwoners in Drie dorpsmense (24 Maart 14:00) waar Hannes Visser, André Boezak en Tania Smit met Elna van der Merwe gesels. Deon Meyer en Coenie de Villiers gesels in Die storie agter Karoo Suite 2: Karoonagte ook met Elna van der Merwe oor die opvolg van hul gewilde verhoogstuk, waarmee hulle drie jaar lank al die verhoog deel. 

Marinda Engelbrecht deel haar geheime om smulkos wat jou mense versadig en gelukkig maak voor te sit, wanneer sy op 26 Maart om 12:00 in Maklik met Marinda met Elna van der Merwe gesels. Erns Grundling vertel in Sushi en Shosholoza meer oor sy pelgrimstog (en rugbyreis) na Japan, ’n mistieke land met sy unieke kultuur waar goeie maniere jou vêr bring.

Gesoute politieke joernalis Jan-Jan Joubert beantwoord in Gaan Suid-Afrika oukei wees? (27 Maart 10:00), die 17 vrae wat hy die meeste gevra word. Ivor Price en Kobus Louwrens se boek For the Love of the Land word op 28 Maart om 10:00 bespreek, met Kabous Meiring as gespreksleier. Dié boek word as “’n ode aan ons landbouers” beskryf.

Jan-Jan Joubert (Foto: Cliffordene Norton)

Wicus Pretorius tree In gesprek met Waldimar Pelser (28 Maart 12:00) en bespreek dié Rapport redakteur se “100 beste ontledings, inleidings en beledigings”. Vind ook sommer hier uit of hy in politieke korrektheid glo.

By die Absa-koffietafelgesprekke gesels die immergewilde Hannes van Wyk van 24 tot 28 Maart om 13:30 met van ons land se mees bekende kunstenaars in die Absa Kuierkamer. Elke gesprek het ’n unieke tema en gehoorlede het die geleentheid om vrae te vra en opinies te lug. Kom gesels saam met onder andere Jana Cilliers, Adam Tas, Margit Meyer-Rödenbeck, Henriëtta Gryffenberg, André Schwartz, Wessel Pretorius, Vinette Ebrahim, Marion Holm en vele ander.

Vinette Ebrahim (Foto: Menán van Heerden)

Netwerk24 bied Sake & Sauvignon in samewerking met Allan Gray aan, met Theo Vorster (Galileo Capital), Monique Brasler (Galileo Capitol), Lise-Mari Crafford (Allan Gray) en Marise Bester (Allan Gray). Hier word van 25 tot 27 Maart om 17:00 in die Netwerk24 Feeskafee gesels oor die ekonomie, beleggings en sake wat jou finansies oor die volgende dekade beïnvloed. Luister en gesels saam met ’n glas Sauvignon Blanc in die hand.

Die David Piedt-gespreksreeks, geïnspireer deur David Piedt, ’n boorling van die Klein Karoo, word vanjaar vir die eerste keer aangebied.

“Piedt is vanjaar vir sy innoverende bydraes tot die KKNK deur Kunste Onbeperk vereer,” sê Theart. “Hierdie gespreksreeks se doel is om in ’n intieme, oop ruimte die geleentheid te skep om waarlik na mekaar se onvertelde stories te luister en so by te dra tot die weef van die Suid-Afrikaanse demokratiese tapisserie,” vertel hy.

Die gespreksreeks skop af met Piedt en sy vrou, Marjorie, wat hul roerende geskiedenis en hul persoonlike lewensreise deel. Dit word gevolg deur verdere gesprekke met plaaslike inwoners van Oudtshoorn en omgewing. Die gesprekke vind plaas teen die agtergrond van die individu en gemeenskapsbelewenis van die politieke stelsel in Suid-Afrika vóór 1994 en die impak daarvan op die individu se huidige keuses en menswees. Ivor Price is die gespreksleier van dié reeks, wat 24 tot 26 en 28 Maart in die Absa Kuierkamer aangebied word.

KLOP!-aanbieder, Heindrich Wyngaard, bied vir die eerste keer die KLOP!-gespreksreeks, ondersteun deur kykNET&kie, op 27 Maart aan. Daar is twee gesprekke wat fokus op hoe om jou plek in die samelewing vol te staan, asook op dissipline by die huis. Die eerste gesprek word in die Absa Kuierkamer aangebied en die tweede by die Toekomsrus Gemeenskapsaal.  

Heindrich Wyngaard (Foto: verskaf)

Feesgangers kan verdermeer na afloop van uitgesoekete teaterproduksies ook teatergesprekke bywoon. Tydens hierdie gesprekke deel die kunstenaars en persone agter die skerms meer oor die spesifieke produksie. Dit is nie nodig om ’n kaartjie vir die stuk te hê, om die gesprek by te woon nie. Hierdie gesprekke sluit in:

Deelname aan Teater. Kweek ’n liefde van jongs af, ná die 12:00 Waterbrief-vertoning by die ATKV-Griesselsaal op 23 Maart om 12:45.

Internasionale werk in vertaling. Die geselskap van Terminaal 3 en regisseur Marthinus Basson praat oor die belangrikheid om vertaalde werk aan te bied, op 24 Maart 15:15 ná die 14:00-vertoning by die SANW-ouditorium.

Ons geskiedenis. Die geselskap van Brandbaar praat op 24 Maart om 16:40 ná die 15:30-vertoning oor die rol wat taal in die produksie speel en die vrouestemme uit ons geskiedenis wat vir lank stil was en die rol wat teater speel om die stilte te laat skree. By Laerskool Wesbank.

Van die bladsye van ’n boek tot ’n teaterervaring. Sandra Prinsloo en ander betrokkenes by Kamphoer praat oor hul ervaring tydens die kreatiewe proses. 25 Maart 10:45 na die 9:30-vertoning van Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell by die SANW-ouditorium.

Sandra Prinsloo (Foto: woordfees.co.za)

Die kuns van ’n ware lewensverhaal. Lizz Meiring en die geselskap van Die atleet gesels oor dié produksie wat geskoei is op ’n ware lewensverhaal. 25 Maart 16:15 ná die 15:00-vertoning by die Gimsaal.

Die absurde van plekspesifieke teater. Die regisseur en skrywer Nicola Hanekom en die geselskap van Mirre en aalwyn gesels oor die uitdagings van plekspesifieke teater en waarom sekere werk nie in tradisionele teaterruimte opgevoer word nie. Absurde teater is ook nie ’n genre wat baie in Afrikaans te sien is nie, en hulle brei hieroor uit. 25 Maart 20:40 ná die 19:30-vertoning by Die Werf.

’n Fisieke dialoog. Die dansteatergeselskap Figure of 8 Dance Collective gesels oor hul inspirasie vir die produksie Karatara en bespreek hul passie vir dans as uitdrukkingsvorm. 26 Maart 11:10 ná die 10:00-vertoning by die Toekomsrussaal.

Die effek van waarnemings. Die regisseur en akteurs van Wit Isse Colour gesels oor die proses om die gedagtes en skryfwerk van die invloedryke Nathan Trantraal in ’n teaterervaring te omskep. 26 Maart 18:00 ná die 17:00-vertoning by die ATKV-Griesselsaal.

Die nuutheid van die onontbeerlike. Die skrywer en regisseur Philip Rademeyer en die geselskap van Opdrifsel gesels oor die skryfproses van ’n nuwe teks. Hulle gesels oor die kreatiewe en persoonlike proses om met die onderwerp van selfdood te werk. 27 Maart 11:30 ná die 10:00-vertoning by die Gimsaal.

Die KKNK se visuele kunskurator Dineke van der Walt, bied daagliks om 11:00 Visuele Kunsgesprekke in die Prince Vintcent-gebou aan. Sy fokus op relevante temas met kunstenaars en kurators wat werke by die fees uitstal, onder die oorhoofse tema Plat op die aarde / Down to earth. Rondleidings van die visuele kunsuitstallings word ook aangebied, waartydens Van der Walt feesgangers deur die uitstallings neem en meer oor die werke by die fees vertel.

  • 24 Maart: Die wese van materiaal: Die wisselwerking tussen die aarde, kuns en kunsmateriaal. Met Ame Bell (kurator), Dirk Bahmann (kunstenaar) en Manyaku Mashilo (kunstenaar). 
  • 25 Maart: Die opdieping van die sensoriese ervarings van kuns. Met Dirk Bahmann (kunstenaar), Jaco van Schalkwyk (kunstenaar), Suen Muller (kurator) en Maryna Cotton (kunstenaar). 
  • 26 Maart: Omgewingsbewustheid: Kuns, verantwoordelikheid en om te behoort. Met Suen Muller (kurator), Barbara Wildenboer (kunstenaar) en Dirk Bahmann (kunstenaar). 
  • 27 Maart: Vervormde landskappe. Met Jaco van Schalkwyk (kunstenaar), Maryna Cotton (kunstenaar) en Lisl Barry (kunstenaar). 
  • 28 Maart: Die aard van medewerking en wisselwerking. Met Tlotlo Lobelo (kurator) Madeleine Beyers (kurator), Mpumelelo Pro Thisi (kunstenaar) en Jaco van Schalkwyk (kunstenaar). 
  • 29 Maart: Omgewingsestetika: Die menslike interaksie met die natuurlike wêreld. Met Barbara Wildenboer (kunstenaar), Lisl Barry (kunstenaar) en Dirk Bahmann (kunstenaar).

Gesels saam by die KKNK van Maandag 23 Maart tot Sondag 29 Maart op Oudtshoorn. Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies vir teaterproduksies en die Kuierbuurt is by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home beskikbaar. Verblyf kan by [email protected] of 044 203 8600 bespreek word.

Lees ook 

Fotogalery: KKNK 2020-programbekendstelling

"Om te probeer verstaan hoe hulle die wêreld sien" – ’n onderhoud met Dineke van der Walt

Persvrystelling: Ervaar eie Klein Karoo soos nog nooit vantevore by KKNK 2020

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top