Kamphoer: ’n teaterresensie

  • 0

Foto van Sandra Prinsloo: Eye Poetry en verskaf deur Vrystaat Kunstefees

Vanjaar is die 120ste gedenkjaar van die Anglo-Boereoorlog, en die produksie Kamphoer bring hulde aan dié era.

Kamphoer, gegrond op ’n ware verhaal, is die storie van Susan Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en vir dood agtergelaat is. Haar pad kruis jare later toevallig weer met dié van een van haar verkragters. Die produksie is geskoei op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en die niefiksiepublikasie The Boer whore deur Nico Moolman. Dit is deur Cecilia du Toit vir die verhoog verwerk.

Ná haar pa in die oorlog vermoor is, word Susan en haar ma-hulle in ’n konsentrasiekamp opgesluit, waar Susan deur twee Britse offisiere en ’n “joiner” wreedaardig verkrag en vir dood agtergelaat word. Sy oorleef die aanval en bekwaam haar later as sielkundige in Nederland. Sy reis gedurende die Eerste Wêreldoorlog na ’n psigiatriese hospital in Engeland, waar een van haar verkragters as pasiënt vir bomskok behandel word. Met dié herontmoeting word Susan opnuut gekonfronteer met die pyn en vernedering van haar verlede.

Die roman Kamphoer is onder meer vir die Jan Rabie-Rapport-toekenning en ’n ATKV-toekenning benoem en vir die 2018 Sunday Times literêre toekennings gekortlys. Met dié produksie maak Lara Foot haar buiging in die professionele Afrikaanse teaterbedryf, terwyl dit ook die eerste samewerking is tussen haar en Sandra Prinsloo, een van Suid-Afrika se mees geliefde en bekroonde aktrises.

Die produksie word moontlik gemaak deur die ondersteuning van KunsStig.

Kamphoer het vanjaar by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein gedebuteer. Dit was daarna by die Kunstekaap te sien as deel van Vrouedag-vieringe en gaan ook na Aardklop reis.

By die Vrystaat Kunstefees is dit aangewys as Beste Nasionale Teaterdebuut by die fees se Blinker-toekennings. Stronk, die fees se amptelike koerant, het dit beskryf as “’n kragtige drama wat diep tref”; en daar is ook gesê “Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.”

Francois Smith, die skrywer van Kamphoer, het oor die vertoning gesê: “Intens en geweldig aangrypend. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking [tot] die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertolking. Bravo.”

Kerneels Breytenbach het destyds met die vrystelling van Smith se boek gesê: “Ek het laas met Donna Tartt se The secret history ’n roman gelees wat dieselfde reaksie by my ontlok het: Ek wou daagliks die aantal sinne wat ek lees, rantsoeneer, sodat ek die genot kon uitrek. Skryfwerk uit die boonste rakke, en ’n reuse-bydrae tot die debat oor geweld teen vroue.”

Die toneelstuk het presies dieselfde gevoel by my laat opkom. Jy wil so graag haar pyn laat einde kry en uit die donker teater – wat ook ’n metafoor vir haar lewe word – hardloop na die lig buite waar jy jou longe vol vars lug kan trek en vry kan asemhaal. Jy wil daardie verskrikking van oorlog en verkragting uit jou wese uitkry, maar terselfdertyd vang Sandra Prinsloo se spel, die fyn regisseursoog van Lara Foot en ’n ongelooflike teks jou só vas dat jy nie wil hê die toneelstuk moet einde kry nie.

Sulke rou toneelspel bly maar ’n magiese ervaring en maak geskiedenis lewend. Ons het nodig om te onthou, sodat ons nie weer die verskrikking van oorlog herhaal nie. Prinsloo se vermoë om van jong, onskuldige meisie tot ouer, gebroke vrou te wissel, is meesterlik. Die verhoog se minimalistiese stel dwing jou ook om op elke woord en gesigsuitdrukking te fokus.

Simon Kohler se klankbaan is só slim dat jy soms byna nie besef daar is musiek nie, maar daardie onheilspellende atmosfeer word beslis daardeur versterk.

Foot bring ’n ongelooflike dimensie na die toneelstuk: ’n soort driedimensionele eienskap wat jou daar in die konsentrasiekamp langs die tent laat staan en inkyk, magteloos om te help. Ons weet almal van die wreedheid van die kampe; die hongersnood; die pyn en dood, maar deur die verhaal te volg van een vrou wat só baie gely het, maak dit die verhaal persoonlik. Dit bring dit ’n eeu later na vore en bewys weer dat geweld teen vroue deur die eeue nie sy afgryslikheid verloor het nie.

Foot se gebruik van ’n tentraam met pragtige kant versier spreek van die sagte, weerlose Susan in ’n ongenaakbare omgewing. Die verhoog lê vol tasse, en op ’n stadium gooi die karakter die klippe binne-in die tasse uit en dit voel asof daardie gewig ook van jou skouers afgegooi word. Maar die hol kol op jou maag wil net nie wyk nie.

Met die statistiek van geweld teen vroue wat jaarliks styg, is mens geneig om na die groot prentjie te kyk en dikwels te vergeet dat elkeen van daardie nommers ’n vrou se verwoeste lewe verteenwoordig. Hierdie toneelstuk bring die noodsaaklikheid daarvan om hierdie geweld aan die kaak te stel, weer na vore.


Kamphoer

Met: Sandra Prinsloo

Regie: Lara Foot

Gegrond op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en die niefiksiepublikasie The Boer whore deur Nico Moolman

Stel- en beligtingsontwerp: Patrick Curtis

Verwerk vir die verhoog deur Cecilia du Toit

Klankontwerp, klankbaan en komposisie: Simon Kohler

Kostuumontwerp: Mariechen Vosloo en Birrie le Roux

Vervaardig deur Theatrerocket

Aardklop kykNET Gimmies

24 September 09:30, 25 September 16:00, 26 September 09:30 en 27 September 16:00.

Besprekings deur ticketpro

Baxter Teatersentrum

9–26 Oktober 2019

Besprekings deur webtickets of enige Pick n Pay-tak.

Ouderdomsbeperking: geen o/14

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top