Persvrystelling: Suidoosterfees se inryteater begin op hoë noot

  • 0

Die Suidoosterfees by kykNET Atlantic Inryteater het Woensdagaand op ’n hoë noot in sy splinternuwe gedaante afgeskop. Francois van Coke en Early B het die inrygehoor behoorlik laat ruk en rol. Die parkeerarea was volgepak met feesgangers in hulle motors, veilig ingevolge die nasionale Covid-19-regulasies.

“Die ervaring vir my was fantasmogories!” sê Early B. “Ek het dit regtig geniet, dit was ’n first, en soos Francois gesê het by die show, dis historical.” ’n Oomblik wat vir dié gewilde rymkletser uitstaan, was toe hy sy bekende “Sies Boy”, waarop gehore gewoonlik woord vir woord saamsing, vir die vertoning aangepas het na “Flick Boy”. Feesgangers het hul motorligte entoesiasties op die maat van die woorde geflikker. “Dis iets wat ek vir ewig en altyd sal onthou!”

Feesgangers

Paraat en voorbereid wag feesgangers vir die vertoning om te begin

Vir Francois van Coke werk die Suidoosterfees se inryteater-konsep uitstekend. “Dit was baie lekker om mense te kon hoor saamsing vanuit en langs hul karre, die eerste keer sedert 14 Maart.” Tydens die grendelstaat is Van Coke se vertonings aanlyn gestroom, maar die inryteater oorterf alles. “Wat ek van videoclips sien, is dat dit baie goed geklink het in die karre, so vir my overall was dit ’n baie lekker ervaring en ek sal dit beslis weer wil doen.”

Dankie, Netwerk24 dat julle die produksie ondersteun – Francois van Coke

Die Suidoosterfees ruk en rol saam met Francois van Coke

Francois van Coke op die verhoog

Francois van Coke in aksie op die Suidoosterfeesverhoog by kykNET Atlantic Inryteater

Francois van Coke by Koelenhof, die wynborg

Die fees moes vroeër vanjaar uitgestel word ná die uitbreek van die Covid-19-pandemie. In dié nuwe formaat is dit die eerste Kaapse fees wat ná die grendelstaat aangebied word. Dit is ook die eerste inryteater-geleentheid waar kunstenaars in lewende lywe op ’n buiteverhoog optree terwyl die vertoning direk op die silwerskerm geprojekteer word.

Netwerk24, produksieborg van Van Coke en Early B se vertoning, is saam met Stad Kaapstad, kykNET, Smile FM en ander borge opgewonde oor feesgangers se oorweldigende entoesiasme teenoor die inryteaterkonsep. Jana Hattingh, Suidoosterfees se uitvoerende hoof, sê dat die samehorigheid van feesgangers, selfs in hulle voertuie, groot verligting bring na die lang isolasietydperk.

Early B in volle aksie

Early B betower die gehoor

Gehoorlede klim uit hulle motors om die kunstenaars van naby te beskou

Devine Hendricks, ’n toeskouer van Eersterivier, sê die konsert het al haar verwagtinge oortref. “Die gees binne en buite die karre was daar en my voete kon nie ophou dans langs die motor nie. Early B en Francios van Coke het amazing perform!” Vir Issy Salie van Milnerton was dit wonderlik om ná maande van inperking weer uit te kom. “Die show was amazing en die kos was baie lekker. Die inryteater is ’n baie goeie idee en ek hoop dit raak ’n instelling.”

Barry Botha, ’n inwoner van Kaapstad, is beïndruk met die goeie organisasie, lekker kos en behulpsaamheid van die vriendelike feesbeamptes. Vir Barry is die gebruik van toeters as applous ’n wonderlike nuwe ervaring. “Na maande van shows op skerms kyk was dit lekker om met mense te kon connect, en mens kon sien die kunstenaars ervaar dit ook so,” sê hy.

Early B by Koelenhof, die wynborg

Ander Suidoosterfees-produksies waarna feesgangers nog kan uitsien, is Klopse Jol!, PJ Powers en die Tygerberg-kinderkoor, Die Variety Show that skriks vir niks, Lottering in Lockdown en Koortjies met Jonathan Rubain.

Vir Stad Kaapstad is die kykNET Atlantic Inryteater die ideale plek om die kunste ná die grendelstaat behoorlik te vier. Daarom gooi Kaapstad haar deure wyd oop om feesgangers van oral in die provinsie te verwelkom. Spesiale pakkette stel besoekers van ver in staat om te deel in vermaak uit die boonste rakke. Verblyfpakkette by City Lodge is beskikbaar teen R1 600 vir twee persone, en sluit bed en ontbyt, ’n inryteaterkaartjie en ‘roadhouse’-ete in.

Kaartjies kos vanaf R250 per motor, en kan by Computicket bespreek word. Besoek die Suidoosterfees se webwerf (www.suidoosterfees.co.za) vir meer inligting.

Hierdie inisiatief van die Suidoosterfees is moontlik gemaak deur die Departement van Kuns, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, kykNET, NATi, Die Burger, Media24, Smile FM en Atlantic Studios.

Lees ook:

Persvrystelling: Suidoosterfees-inryteater

Persvrystelling: Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees | Press release: Special treat for booklovers at Suidoosterfees

Persvrystelling: NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater 2020)

Francois van Coke vir die Suidoosterfees-inryteater

Lag my kla’-vertoning bied unieke inryteater-ervaring by Suidoosterfees 2020

Lag my kla’-komediante gesels oor Suidoosterfees-inryteater-vertoning

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top