Lag my kla’-komediante gesels oor Suidoosterfees-inryteater-vertoning

  • 0

“Sover ek weet, is hierdie vertoning die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse gehoor na stand-up-komedie kan kyk as inryteater.”

So vertel Erns Grundling, vervaardiger van die Lag my kla’-vertoning wat Donderdag 5 November om 20:00 plaasvind by die @kykNET Atlantic-inryreater by Montague Gardens  tydens die Suidoosterfees. Die konsert word ondersteun deur kykNET en Die Son.

Nie minder nie as tien komediante, wat Schalk Bezuidenhout, Shimmy Isaacs, Melt Sieberhagen, Wayne McKay, Solomon Cupido, Rezah Forbes en Alfred Adriaan insluit, gaan by hierdie geleentheid optree. Die program sluit ook die Top 3-finaliste van die onlangse Lag my kla’-kompetisie in.

Die Lag my kla'-kompetisie was ’n projek van Die Son, kykNET en die Suidoosterfees wat tydens die inperking ’n soektog geloods het na nuwe stand-up-talent. Deelnemers moes video's instuur en uiteindelik is 15 finaliste deur die bekende komediante Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido gementor. Vroeg in Oktober is die wenner en twee naaswenners aangekondig en gehore kan hulle ook Donderdagaand sien optree.

Die wenner van die kompetisie was Monrico van Wyk. Rowen Geneke was tweede en Pauline Aaron derde.

Kaartjies kos R200 per voertuig vir tot twee mense en R300 per voertuig vir tot vier mense en kan deur Computicket gekoop word.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid om Afrikaanse stand-up te vier en lekker te lag. Ons kan almal dié tyd van die jaar – veral hierdie wildvreemde jaar – doen met hardop lag vir minstens 100 minute!” vertel Erns.

Hier is wat sommige van die komediante te sê het oor die optrede:

Schalk Bezuidenhout

“Dis soos die ouskoolse drive-ins. Die laaste keer wat ek by ’n drive-in was, was in die laerskool – deesdae bestaan dit nie eintlik meer nie, so hierdie is beslis ’n unieke ervaring.”

Schalk is bekend as onder andere komediant, aanbieder en akteur. Hy het drama aan die Universiteit Kaapstad studeer en doen sedert 2011 stand-up.

Hy is bekend onder meer as aanbieder van Die ware naarheid op kykNET en vir die rol van Danny in die sitkom Hotel op kykNET. Vir sy stand-up het hy al verskeie toekennings ingepalm, en selfs vir Trevor Noah geopen.

Luister hier wat Schalk te sê het:

Wayne McKay

“Ek is baie opgewonde, ek kan nie wag nie! Ek hoop die gehoor geniet hulle gate uit!”

Wayne het ’n lang geskiedenis in die vermaaklikheidsbedryf as ’n stand up-komediant, akteur, radio, televisiestemkunstenaar en seremoniemeester. Hy het ’n indrukwekkend lang CV, en is veral bekend vir sy eenmanvertoning Roots.

“Onthou net jou masker en jou sanitiser,” grap hy oor die opkomende vertoning.

Luister hier wat Wayne te sê het:

Rezah Forbes

“Die Lag my kla’-kompetisie was die eerste in sy soort en dit was vir my ’n groot eer om ’n mentor te kon wees. Nie net het ek die geleentheid gehad om my skills te deel met  die deelnemers nie, maar ek het ook baie by die deelnemers geleer.”

Luister hier wat Rezah te sê het:

Alfred Adriaan

“Dis ’n lekker line-up en soveel talent op een verhoog!”

Luister hier wat Alfred te sê het:

Solomon Cupido

“Ek gaan so ’n bietjie praat oor verhoudings, want dit raak almal... En ek gaan praat oor mans wat te lank vat om op WhatsApp-boodskappe te reply, en vrouens wat pumps dra,” vertel Solomon oor wat hy in die mou voer vir die vertoning.

Vir hom was dit ’n groot voorreg om een van die mentors vir die deelnemers van die kompetisie te wees, en hy glo kompetisies soos hierdie wat talent ontwikkel is baie belangrik.

“Daar is baie talent daar buite, so kom support local en kom lag so bietjie”.

Luister hier wat Solomon te sê het:

Melt Sieberhagen

“Ek hoop die gehoor lê soos hulle lag!”

Melt Sieberhagen is bekend as akteur, regisseur, skrywer, en natuurlik komediant. Op 31 Mei 2006 doen hy “per ongeluk” ’n bietjie stand-up-komedie in Afrikaans en dit was toe “voorwaar ’n hardnekkige gogga wat toe gebyt het”, want vandag doen hy dit nog steeds. Hy is veral ook bekend vir sy deelname aan die improvisasiereeks Proesstraat wat op kykNet te sien was.

“Wat my opgewonde maak, is om uit die huis te kom en ’n slag stand-up-komedie te kan doen, want die afgelope maande was geleenthede maar skaars. Ek sien uit daarna om saam met van die land se beste komediante die verhoog te deel.”

Luister hier wat Melt te sê het:

Monrico van Wyk

“Wat die gehoor van my optrede kan verwag is true life-stories wat ek gaan deel,” sê  Monrico, wenner van die Lag my kla’-kompetisie. Hy vlieg al die pad van Duitsland, spesiaal om by die vertoning te wees. Monrico het grootgeword op Wellington, maar woon deesdae in Karlsruhe in Duitsland.

“Ek was geseënd en bevoorreg genoeg om ’n mentor soos Shimmy Isaacs te hê. Aanlyn komedie is nie so maklik soos hoe dit lyk nie. Shimmy het my egter waardevolle wenke gegee oor hoe ek die voorkant van die kamera sonder kroon kan verbeter. Sy het my ook tegniese wenke gegee oor hoe om my kamera op ’n meer kreatiewe manier te gebruik, en dit het my meer selfvertroue voor die kamera gegee. Haar ervaring help my om nie net op die verhoog ’n beter komediant te word nie, maar ook voor ’n kamera sonder ’n gehoor – net jy en die kamera stoksielalleen in ’n vertrek.”

“Ek sien baie uit na Donderdag – die gehoor gaan hulle klaar lag. Ek gaan jou maag laat bars, jou derm laat kerm en jou tone laat kielie.”

Luister hier wat Monrico te sê het:

Rowen Geneke

Die 34-jarige Rowen is die naaswenner van die Lag my kla’-kompetisie en kom van Wellington in die Boland af.

Rowen werk die afgelope paar jaar in die teaterbedryf in die Stellenbosch-gebied. Hy tree ook gereeld as seremoniemeester by geleenthede op.

Hy doen al die afgelope 10 jaar stand-up-komedie, en beskryf die Lag my kla’-kompetisie as ’n hoogtepunt van sy loopbaan.

“Ek kan nie glo ek tree op by die Suidoosterfees nie. Ek is opgewonde om onder andere Schalk Bezuidenhout, Solomon Kupido en Wayne McKay te ontmoet. Dis mense wat ek altyd op die televisie gesien het!”

Luister hier wat Rowan te sê het:

Pauline Aaron

“Ek kan nie glo dat ek die top drie gehaal het nie, en nou beland ek op dieselfde verhoog as die sterre na wie ek opkyk. Ek kan nie wag om die verhoog met hulle te deel nie. Ek het nooit gedink ek sal so ver kom in die kompetisie nie. Ek is in ekstase en moet myself knyp om seker te maak dis regtig aan die gebeur!”

Pauline is ’n aktrise wat van Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte af kom. Sy het in 2009 ’n diploma in drama ontvang en werk tans in die teaterbedryf en gee buitemuurse dramaklasse by skole.

Sy beskryf die kompetisie as een van haar hoogtepunte van die jaar en is dankaar om die top drie te kon haal.

“Die gehoor gaan hulself pap lag!” sê sy oor Donderdagaand se optrede.

Luister hier wat Pauline te sê het:

Besoek die Suidoosterfees se webtuiste vir meer inligting.

  • Foto's: verskaf
Lees ook:

Persvrystelling: Suidoosterfees-inryteater

Persvrystelling: Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees | Press release: Special treat for booklovers at Suidoosterfees

Persvrystelling: NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater 2020)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top