Lag my kla’-vertoning bied unieke inryteater-ervaring by Suidoosterfees 2020

  • 1

Erns Grundling

Kapenaars kan uitsien na ’n unieke feesgebeurtenis wanneer stand-up-komedie vir die eerste keer regstreeks as ’n inryteater-ervaring aangebied word tydens die Suidoosterfees se Lag my kla’-konsert. 

Nie minder nie as tien komediante, wat name soos Schalk Bezuidenhout, Shimmy Isaacs, Melt Sieberhagen, Wayne McKay, Solomon Cupido, Rezah Forbes en Alfred Adriaan insluit, gaan by hierdie geleentheid optree. Die program sluit ook die Top 3-finaliste van die onlangse Lag my kla’-kompetisie in.

Hierdie geleentheid vind Donderdag 5 November om 20:00 plaas by die @kykNET Atlantic-inryreater by Montague Gardens. Die konsert word ondersteun deur kykNET en Die Son.

Kaartjies kos R250 per voertuig vir tot twee mense en R300 per voertuig vir tot 4 mense en kan deur Computicket gekoop word.

Erns Grundling, vervaardiger van die vertoning, vertel meer. 

Erns, jy is die vervaardiger van Lag my kla’ – vertel asseblief meer oor die vertoning. Wat kan die gehoor te wagte wees?

Sover ek weet, is hierdie vertoning op Donderdag 5 November om 20h00 die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse gehoor na stand-up-komedie kan kyk as inryteater. Dit vind eksklusief en regstreeks plaas by die kykNET Atlantic-inryteater by Atlantic Studios in Montague Gardens. Die gehoor kan uitsien na sewe van Suid-Afrika se topkomediante – Schalk Bezuidenhout, Alfred Adriaan, Shimmy Isaacs, Rezah Forbes, Wayne McKay, Melt Sieberhagen en Solomon Cupido – wat saam met drie opwindende nuwe stemme – Monrico van Wyk, Pauline Aaron en Rowen Geneke – gaan optree.

Schalk Bezuidenhout

Ek kan nie onthou wanneer laas daar tien Afrikaanse stand-up-komediante by een geleentheid opgetree het nie. Elke komediant gaan vir sowat 10 minute optree en hulle beste met die gehoor deel. Die skreeusnaakse Alfred Adriaan is die gasheer wat die komediante gaan aankondig.

Dit is ’n wonderlike geleentheid om Afrikaanse stand-up te vier en lekker te lag. Ons kan almal dié tyd van die jaar – veral hierdie wildvreemde jaar – doen met hardop lag vir minstens 100 minute! 

Rezah Forbes

Die vertoning vind plaas as ’n inryteater-ervaring. Vertel asseblief meer? Hoe werk dit? 

Weens die koronaregulasies moes kunstefeeste uit die boks dink vir maniere om steeds toneel, musiek en komedie op die planke te bring. Die Suidoosterfees was baie vindingryk en het met hierdie inryteaterfees vorendag gekom wat 4–15 November by Atlantic Studios plaasvind. Lag my kla' is een van die vertonings op die program. Wat die vertoning ook spesiaal maak, is die feit dat die gehoor nie na ’n vroeë opname van ’n vertoning op die grootskerm kyk nie.

Shimmy Isaacs

Die optredes vind regstreeks plaas in ’n ateljee by Atlantic Studios. Gehore kan dus in die veiligheid van hulle eie motors na ’n vertoning kyk (jy skakel op ’n FM-radiofrekwensie in) en by Tiaan Langenegger van Kokkedoor-faam se roadhouse iets te ete bestel.

Dit is ook ’n geleentheid vir gehore om in 2020 die nostalgie van die destydse inryteaters te ervaar. Wie sou vroeër vanjaar kon geraai het dat so iets enigsins moontlik (of dalk nodig!) sou wees?

Melt Sieberhagen

Daar was ook ’n Lag my kla’-kompetisie – wat het dit behels en hoe het dit gewerk?

Die Lag my kla'-kompetisie was ’n projek van Die Son, kykNET en die Suidoosterfees wat tydens die inperking ’n soektog geloods het na nuwe stand-up-talent. Deelnemers moes video's instuur en uiteindelik is 15 finaliste deur die bekende komediante Shimmy Isaacs, Rezah Forbes en Solomon Cupido gementor.

Die komediant Alfred Adriaan het verskeie video's opgeneem wat weekliks op Die Son se sosiale media gepubliseer is soos wat die rondes gevorder het. Vroeg in Oktober is die wenner en twee naaswenners aangekondig en gehore kan hulle ook Donderdagaand sien optree.

Alfred Adriaan

Uit hierdie kompetisie is opkomende komediante geïdentifiseer wat dan ook by die vertoning optree. Vertel asseblief meer oor die wenner en finaliste?

Die wenner van die kompetisie was Monrico van Wyk. Rowen Geneke was tweede en Pauline Aaron derde.

Monrico het grootgeword op Wellington, maar woon deesdae in Karlsruhe in Duitsland. Hy is so begeesterd om by die vertoning op te tree dat hy spesiaal van Duitsland na Suid-Afrika reis! Die twee naaswenners is net so opgewonde en sien baie uit na die geleentheid om die verhoog met ander topkomediante te deel. 

Monrico van Wyk

Wat is vir jou, as vervaardiger, die hoogtepunt van hierdie proses om die vertoning op die been te bring?

Ek sal ruiterlik erken dat die admin en papierwerk nie vir my ’n hoogtepunt is nie, maar dit is iets wat geen vervaardiger kan ontsnap nie. Wat vir my lekker is van hierdie tipe werk, is om saam met ’n dinamiese span soos die Suidoosterfees se bestuur – Jana Hattingh, Faren Esau en Francois Abrahams – te werk. Hulle is baie gaaf en absoluut verbind tot die ontwikkeling van nuwe talent en die bevordering van sosiale kohesie.

Solomon Cupido

Verder is dit vir my heerlik om die program saam te stel en met al die komediante te korrespondeer. Hulle is baie tegemoetkomend en dankbaar vir die geleentheid om ’n inkomste te verdien. Dikwels is hulle agter die skerms ewe snaaks as op die verhoog.

En met hierdie vertoning is ek veral opgewonde oor die drie finaliste wat vir die eerste keer voor ’n groot gehoor gaan optree. Dit is ’n voorreg om by so ’n ontwikkelingsprojek betrokke te wees en te sien hoe almal – op die verhoog en in hulle voertuie – dit geniet. 

Wayne McKay

Besoek die Suidoosterfees se webtuiste vir meer inligting.

  • Foto's: verskaf
Lees ook:

Persvrystelling: Suidoosterfees-inryteater

Persvrystelling: Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees | Press release: Special treat for booklovers at Suidoosterfees

Persvrystelling: NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater 2020)

Francois van Coke vir die Suidoosterfees-inryteater

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top