
Tuin van Digters vind plaas in Wellington op 13 en 14 September 2024 by die Breytenbachsentrum in Wellington. Die tema vanjaar is saamsaam en Ingrid Jonker is die digter wat postuum gehuldig gaan word.
Hier is meer inligting oor die kunsuitstallings wat tydens die Tuin van Digters open:
Elizabeth Gunter: STR[A]Y (saam-nie-saam-saam)
saam. 1. By mekaar. 2. Met mekaar, byeen, ineen, mee.
(Verklarend Afrikaanse Woordeboek; F.J. Labuschagne, L.C. Eksteen)
“Ek berus my by ’n hersenskim van saamheid met die dier, en soek deur teken ’n wisseling sonder woorde, ’n gedeelde wete van wording, altyd wagtend op ’n enkele gebaar wat die innighede van my en die dier se eerste tot laaste asemteue sou verraai. Ek leer in die stilte waarmee tekentaal vloei en woed om die stomheid van dierlike bewustheid te ken en merk só beide die andersheid en eendersheid van diere-wete-en-wording. Saam uiter ons geen woord wat met die klaarheid van vreemdelinge sou weerklink nie.” – Elizabeth Gunter

Illustrasies © Elizabeth Gunter
Gerhard Van Eck: Tuinbeelde
Gerhard se forté is die vasvang van energie, beweging en emosie in die uitbeelding van sy beeldhouwerke. Hy werk in talle mediums, maar in hierdie beeldwerke ter viering van die Tuin van Digters 2024 en veral Ingrid Jonker, is die medium polymer resin, met ’n marmer-basis en met die hand geverf .
Sy beelde weerspieël die speelsheid en ligterkant van Ingrid, asook die peinsende poësieskepper, wat soms, al lyk dit nie so nie, die donker beleef.

Rendezvous deur Gerhard van Eck by die Toyota US Woordfees 2020 (Foto: Remona Voges)
Paul Alberts: In die skeppende oomblik – portrette van kunstenaars
Die fotograaf Paul Alberts. wat in 2010 oorlede is, het hom daaraan toegewy om die groot geeste van Suid-Afrikaanse kuns in hul skeppende oomblikke in die sewentiger- en tagtigerjare te dokumenteer. Dis tyd om sy kuns weer te besoek.
H ierdie tentoonstelling is saamgestel deur sy weduwee,Charmainé Alberts, en gee ’n dinamiese oorsig van die kultuurbedryf destyds. Talle foto’s het in sy 1979-boek In kamera verskyn.
In die skeppende oomblik verwys enersyds na Alberts se talent om presies die foto-moment van “openbaring” vas te vang: die klassieke self-opdrag van die groot fotograaf. Dit dui wel ook op sy persoonlike omgang met hierdie unieke klomp kunstenaars wat voor sy lens gekom het. Die skeppende talent van die portretmaker asook dié van sy onderwerp.

Portrette van skrywers Uys Krige (links) en Antjie Krog (regs) deur Paul Alberts. (Foto’s verskaf: Charmainé Alberts)
Lees ook:
Persverklaring: Tuin van digters vind plaas in Wellington op 13 en 14 September 2024

