Daar word binnekort ’n illustrasiekursus deur Elizabeth Gunter en Mia Oosthuizen by die Breytenbach Galery aangebied.
Elizabeth Gunter, ’n kunstenaar, praat met Naomi Meyer daaroor.
Elizabeth, jy is ’n kunstenaar en ek sit en kyk na van jou prente op die internet by jou uitstalling getiteld Last. Die lewe in die hiënas se manier van staan! Vertel my iets van jou agtergrond, asseblief.
Naomi, dit is nie hiënas nie, maar wel wilde honde, een van die mees bedreigde spesies in Afrika. 😉 Ek is nou afgetree, maar het as kunslektor by verskeie instansies gewerk, waarvan die laaste 22 jaar by Stellenbosch-universiteit. Diere, hul weerloosheid te midde die brutaliteite van ons huidige bestaan in Suid-Afrika en die res van die kontinent, dien as kernonderwerp in my kuns. Vir meer inligting hieromtrent heg ek die katalogus van my mees onlangse tentoonstelling hierby aan. Dit verskaf meer besonderhede omtrent my werk en intensie daarmee.
.......
Visuele taal, soos dié van illustrasie, word onderskei van gesproke of geskrewe taal, maar dit ontspring vanuit dieselfde bron en vervul dieselfde behoeftes as woordetaal.
........
Hoekom is dit belangrik dat kinder- of jeugboeke (’n boek vir die regte mark) illustrasies moet bevat?
Illustrasie is leesbare teks, en net soos geskrewe teks beskik dit oor dieselfde en bykomende magte om inligting op alle moontlike wyses en in alle moontlike paradigmas of skemata oor te dra. Dit spreek beide deur middel van beeld en in beeld – vandaar die term beeldspraak, wat ook omvattend funksioneer as effektiewe taal. Visuele taal, soos dié van illustrasie, word onderskei van gesproke of geskrewe taal, maar dit ontspring vanuit dieselfde bron en vervul dieselfde behoeftes as woordetaal. Dit ontspring vanuit ons omgang met en ervaring van die om-wêreld. Ek sou ook so ver gaan om te beweer dat visuele taal ons gewaarwording meer raakvat as wat woordetaal dit kan doen, want terwyl dit betekenis met dieselfde skoonheid, grasie en welsprekendheid kan omvat om dan ’n enorme veld van perseptualisering en konseptualisering na vore te bring, kan dit boonop die onsegbare blootstel. Hierdie eienskappe plaas die belang van illustrasie as onomwonde.
Hoe weet mens watter illustrasie hoort by watter storieboek?
Die verhouding tussen woord en beeld is dinamies, lewend(ig), buigbaar en veelvlakkig ten opsigte van die betekenis wat binne en deur middel van daardie samekoms geskep word. Dit is soms misplaaste konteks, doelbewuste teenstelling of weerspreking wat net so hard spreek soos die gemaklike vloei van wedersydse getroue nakoming tussen beeld en woord. Die moontlikhede is oneindig en daar is geen formule vir ’n volmaakte of foutlose verband tussen illustrasie en storie nie. Illustrasie kan informatief (objektief) wees; dit kan subjektief ondersoekend wees: krities bevraagtekenend, bloot dokumenterend, en toereikend kommunikerend van enige woordeteks waarmee dit moet saamwerk. As die illustreerder die kerninhoud van die woordeteks lees, vorm die beeldetaal dienooreenkomstig (en omgekeerd).
Wat is jou gunstelingmediums om mee te werk - en watter hulp gaan julle vir voornemende kunstenaars aanbied as hulle boeke wil illustreer?
My gunstelingmedium is houtskool en houtskoolstof, maar ek is bedrewe in olieverf, waterverf, kleurpotlood, en veel meer. Ek dink die meeste voornemende inskrywers vir hierdie kursus is reeds vaardige en gevestigde kunstenaars. Omdat media se agentskap of stem in die illustrasieproses onvermydelik is, en omdat media soveel bydra tot die kommunikeringsfunksies van illustrasie, sal ek beslis die studente se voorkeure in media respekteer, soos wat ek ook ’n begeerte om nuwe tegnieke in ander media as die gewone te ontdek sal probeer lei en ondersteun.
........
Die beste kunstenaars en illustreerders vind ’n persoonlike idiolek, ’n stem wat skyn.
........
Hoe ding mens mee as jy ’n illustreerder wil wees? Ding mens mee met kunsmatige intelligensie, met ander kunstenaars wat reeds ’n voet in die deur het, met almal wat in die boekebedryf werk? Of is dit die verkeerde vraag? Hoe vind mense hul eie kuns-vingerafdruk soos skrywers hul eie stem moet vind?
Die beste kunstenaars en illustreerders vind ’n persoonlike idiolek, ’n stem wat skyn. Jy is reg – soos die skrywer sy stem vind, so vind die kunstenaar sy stem. Daardie stem ontlok mededinging net soveel as wat dit daarin deelneem.
Lees ook:
Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington