Daar word binnekort ’n illustrasiekursus deur Elizabeth Gunter en Mia Oosthuizen by die Breytenbach Galery aangebied.
Mia Oosthuizen, ouduitgewer en kenner van kinderboeke, praat met Naomi Meyer daaroor.
Mia, jy is ’n kundige op die gebied van kinder- en jeugboeke en jy is betrokke by die aanbieding van die illustrasiekursus wat by die Breytenbach Galery aangebied gaan word. Vertel asseblief eerste iets van jou en jou betrokkenheid by boeke met illustrasies (toe jy in die uitgewersbedryf gewerk het)?
Kinderliteratuur is iets wat ek nooit ontgroei het nie. Om ’n kinderboek vandag te lees is net so lekker as toe ek jonk was. Soos ek ouer geword het, het ek ook meer in die werking van die kinderboek begin belangstel en het uiteindelik my doktoraal in kinder- en jeugliteratuur gedoen. Ek het veral gespesialiseer in die parateks (alles wat by ’n teks kom om dit ’n boek te maak), en ’n uiters belangrike onderafdeling hiervan is illustrasies.
As uitgewer is ’n mens vir elke boek ook die kreatiewe direkteur wat die voorkoms en kuns betrokke by die boek bestuur. Die uitgewer besluit dus watter illustrasiestyl en illustreerder die beste gaan werk saam met ’n gegewe teks. Tot onlangs toe was daar amper geen samewerking tussen die skrywer en die illustreerder nie, maar deesdae bring uitgewers tog die twee by mekaar uit. Die uitgewer moet ook seker maak dat teks en prent met mekaar gesels en moet ook afteken op al die fynere besonderhede (byvoorbeeld konsekwentheid van karakter; nievoorskriftelikheid) van illustrasies voor dit gepubliseer kan word. Die uitgewer moet dus hul teikenmark, genres, style en tendense ken ten einde hierdie keuses te maak.
........
Die uitstekende illustreerders wat ons het, is so vol bespreek dat ’n mens dikwels baie lank moet wag voor jy kan voortgaan met ’n projek.
........
Die een ding waarvan daar egter altyd te min is in die uitgewersbedryf, is tyd. Wanneer jy ’n illustreerder aanstel, soek jy iemand wat die boekmaakproses en teksinterpretasie vir ’n sekere teikenmark verstaan. In hierdie opsig is dit gereeld ’n probleem om die regte persoon op te spoor. Die uitstekende illustreerders wat ons het, is so vol bespreek dat ’n mens dikwels baie lank moet wag voor jy kan voortgaan met ’n projek.
Tydens my studies en werk as uitgewer, konsultantuitgewer en manuskripontwikkelaar is hierdie die een probleem wat my elke keer in die gesig kom staar. Dit is om hierdie rede dat ek die illustrasiekursus ontwikkel het. Die uitdaging was om die regte kunstenaar te kry om dit saam met my aan te bied. Elizabeth Gunter is absoluut perfek vir hierdie kursus. Ons werk baie goed saam en sy bring kundigheid na die kursus wat in alle eerlikheid nie ‘n prys het nie.
Watter soort voorleggings ontvang uitgewers as dit by illustrasie kom? Hoe verskil hierdie soort voorleggings van wat die uitgewers in gedagte het?
Oor die algemeen vra uitgewers vir skrywers om nie illustrasies te laat doen nie, want hulle sal dit bestuur en betaal indien die teks aanvaar word. Ongelukkig is daar baie mense wat iemand óf betaal vir illustrasies óf iemand ken wat dit vir hulle doen, maar dit is selde reg vir die mark. Die uitsondering op die reël vir die voorlegging van teks en illustrasie is as die skrywer self ook die illustreerder is.
Die voorleggings wat ’n mens van kunstenaars kry, is dikwels portefeuljes waarin hulle die verskillende style en projekte aandui waarmee hulle al gewerk het. ’n Mens raak dikwels baie opgewonde en sal dan vir ’n voorbeeld verwant aan ’n spesifieke teks vra. Oor die algemeen is dit waar ’n mens agterkom dat die illustreerders nie boeke, uitleg of die teikenmark verstaan nie. En ongelukkig is daar nie tyd vir die uitgewer om al hierdie kunstenaars in die proses te begelei nie.
Uitgewers soek voorleggings van illustreerders wat kennis het van die veld en van dit wat van hulle gevra word. Illustreerders wat ’n ware belangstelling in illustrasiekuns het en woorde met die visuele lewendig maak.
Hoekom is illustrasies in ’n boek belangrik? Handgeïllustreerde prente, bedoel ek. Is daar nie baie alternatiewe wat baie goedkoper is nie? Wat van rekenaars en digitale prente; wat van kunsmatige intelligensie?
Die illustreerder is in alle opsigte die tweede skrywer van ’n boek. En hoe meer illustrasies daar is, hoe belangriker is die rol van hierdie tweede skrywer. Die illustreerder se visuele teks gee lewe aan woorde wat die jong kind nog nie alles verstaan nie, aan gebeure en emosies waarmee hulle nog kennis maak. Kinders leer eers visueel lees, en dus is woorde sonder prente selde baie geslaagd. KI het nie ’n siel, denke van sy eie of ’n gewete nie. KI kan ongelooflike goed doen en dit is soms uiters skrikwekkend, maar die kunstenaar sal nie vervang word nie. Dit is vir hierdie unieke aspek van die illustreerder dat ’n mens geld uit jou sak haal.
........
Die illustreerder se visuele teks gee lewe aan woorde wat die jong kind nog nie alles verstaan nie, aan gebeure en emosies waarmee hulle nog kennis maak.
........
Kunstenaars wat hand op papier werk, werk natuurlik digitaal ook. Dit is goedkoper as die kunstenaar hul finale kuns digitaal kan lewer met die opsie om veranderinge te maak. Daar is dus nie duur skanderingswerk of tydsame veranderinge wat ingereken hoef te word nie. Hoewel dit ook nie só ’n reuse finansiële verskil maak nie. Tydsgewys is dit wel duurder.
Hoe weet mens wat is pasmaats – dit gaan tog oor die storie ook. Watter prent en storie hoort saam?
Die storie van die eerste skrywer, die skrywer van woorde, is uiters belangrik. Dit is die teks wat visueel geïnterpreteer word. Dit is dikwels die begin van die stories wat ons op ons boekrakke sien. Elke storie bring iets uniek, ’n tipe karakter, storiegegewe, humor, selfs galgehumor, beweging en ’n boodskap wat ’n mens wil hê die illustreerder moet vasvang en selfs visueel versterk. Elke kunstenaar het sy/haar sterk punte en styl wat van hierdie elemente visueel kan verwoord soos die skrywer van woorde se visie ook is. Dit is hoe ’n mens die regte kunstenaar by die regte storie kry. Dit gaan in die eerste plek oor die illustreerder wat jy vir ’n storie kies. En juis om hierdie rede is dit bitter belangrik dat ons meer illustreerders kry wat hierdie rol kan vervul.
Dit is natuurlik so dat daar tipes stories en teks is wat sterk riglyne het, soos opvoedkundige boeke. Hier soek jy die illustreerder wat weet hoe om saam met uitgewers te werk en opdragwerk te doen.
Is hierdie kursus iets wat die illustreerders sal help om die regte prente te teken vir die regte soort boeke en dit voor te lê om dalk selfs geld daaruit te kan verdien?
Absoluut. Die doel is vir seker op die ontwikkeling van die kunstenaars met die nodige kennis van die teikenmarkte en bedryf en natuurlik die ontwikkeling van hul eie style en stem om in die bedryf te werk.
Hiernaas is ek ook ’n groot voorstander van woordelose prenteboeke. Kunstenaars het ook wonderlike stories wat hulle self wil vertel, maar is nie altyd gemaklik met die woorde wat dit moet vergesel nie. Beelde vertel wel so baie en spreek tot ’n baie groter teikenmark as ’n gewone prenteboek. Ons doel is om die illustreerders wat so iets wil doen, by te staan en hierdie boeke op boekrakke te kry.
........
Die doel is vir seker op die ontwikkeling van die kunstenaars met die nodige kennis van die teikenmarkte en bedryf en natuurlik die ontwikkeling van hul eie style en stem om in die bedryf te werk.
........
Die terrein van illustrasiekuns is natuurlik ook baie groter as net prenteboeke. Daar is illustrasies vir ouer kinders, vir grootmense, grafiese romans en tekenprente, om maar net ’n paar te noem. In die illustrasiekursus verwelkom ons almal wat in ’n aspek van illustrasiekuns belangstel.
Laastens wil ek my innige dank aan wyle Niki Daly betoon. Dit is hy wat my deur illustrasies by Anne-Ghrett Erasmus van die Breytenbach Galery uitgebring het. Van daar het die skryfskool ontstaan, en nou die illustrasiekursus. Hy was my belangrike gespreksvennoot in die ontwikkeling van hierdie kursus. Hy was, en ek glo is, ook een van my grootste aanmoedigers om hierdie kursus te laat gebeur. Ek dra die kursus aan hom op. Die sagte reus in die bedryf wat my en talle ander mense se lewens verander het.
Lees ook:
Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington
Kommentaar
Boeke wat ek illustreer, wag vir publikasie. Dus vra ek hulp met publisering en bemarking.
Ek sal wel in elk geval graag die kursus wil bywoon.