Persverklaring: Illustrasiekursus by die Breytenbach Galery op Wellington

  • 0

Prent: https://breytenbachsentrum.co.za/

Gemotiveer deur die feit dat daar ruimte is vir heelwat meer illustreerders, veral in SA, wat die boek-, storie- en boekmaakproses ken; word die eerste omvattende en onafhanklike Illustrasiekursus word hierdie jaar in Suid-Afrika aangebied. Die kursus begin Saterdag 6 April 2024, duur 12 maande en bied aan kunstenaars die unieke geleentheid om aan die hand van gespesialiseerde hulp hul illustrasiedrome te bewaarheid.

Die aanbieders:

  • Mia Oosthuizen het al meer as 15 jaar ervaring in kinder- en jeugliteratuur en het ’n deeglike akademiese en professionele verstaan van die ingrypende rol wat illustrasies speel. Hiernaas het sy ook gespesialiseer in die illustreerder as tweede skrywer en die noodsaak van die samewerking tussen uitgewer, illustreerder en skrywer.
  • Elizabeth Gunter is een van ons land se top kunstenaars wat plaaslik en internasionaal erkenning geniet. Sy was vir meer as 20 jaar die hoof van Stellenbosch se Kunsdepartement waar sy leraar, mentor en studieleier van talle kunstenaars was. Sy is meesterlik in haar vermoë om kunstenaars nie net tegnies, konseptueel en prakties se begelei nie, maar om kunstenaars ook te begelei in die verstaan van kuns as medium waarin jy jou eie stem, betekenis en narratief kan weergee.
  • Die Breytenbach Galery op Wellington is ’n kunsgalery met wonderlike fasiliteite. Onder leiding van Anne-Ghrett Erasmus, is die Galery ’n bymekaarkomplek van kunstenaars, met fokus op die bevordering en ontwikkeling van plaaslike talent.

Elke kontaksessie fokus op kinder- en jeugliteratuur, kreatiwiteitsoefeninge, tegniese opleiding en tegniese oefeninge. Elke maand kry die kunstenaars ’n opdrag om te voltooi waarop hul individuele terugvoer vanaf Dr Mia Oosthuizen en Prof Elizabeth Gunter sal kry. Elke opdrag werk mee tot ’n finale produk wat byvoorbeeld ’n woordelose prenteboek of ’n portefeulje kan wees.

Indien jy nie vir jong kinders wil illustreer nie, is dit nie ’n probleem nie. Die illustrasies waarna gekyk word, sluit onder meer ook in jeugliteratuur en grafiese romans.

Die kostes is R2000/maand en sluit in:

  • Kursusmateriaal;
  • Een kontaksessie per maand op ’n Saterdag by die Breytenbach Galery op Wellington.
  • Koffie, tee en middagete;
  • Persoonlike en deurlopende raad en terugvoer op werk.

Kunstenaars is wel verantwoordelik vir hul eie kunsmateriaal.

Daar is plek vir 10 kunstenaars, so moenie wag nie. Stuur drie voorbeelde van jou kuns voor of op 29 Maart 2024 na Mia Oosthuizen (miaoosthuizen@gmail.com).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top