Persverklaring: kykNET-Rapport-boekpryse 2024

  • 0

Die skrywer SJ Naudé is vir sy roman Van vaders en vlugtelinge vir die tweede keer met die kykNET-Rapportprys vir fiksie bekroon.

Naudé het die prys ook in 2018 gewen vir sy roman Die derde spoel. Slegs een ander skrywer, Willem Anker, kon nog dié tweekuns vermag sedert die kykNET-Rapport-boekpryse in 2014 ingestel is.

Die kykNET-Rapportpryse, wat altesaam R1 miljoen bedra, is op Saterdagaand 21 September 2024 in Kaapstad oorhandig. Met dié pryse word jaarliks erkenning gegee aan uitnemende Afrikaanse boeke en resensies wat die vorige kalenderjaar verskyn het. Benewens die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans) is die volgende pryse toegeken: die kykNET-Rapportprys vir niefiksie, die kykNET-Rapport Herman Binge-prys vir ’n fiksie- of niefiksiewerk met filmpotensiaal, die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke, en twee pryse vir resensies van Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik.

Die niefiksieboekprys is gewen deur Dana Snyman vir Die binneland in, wat by Tafelberg verskyn het; die filmprys deur Elmarie Viljoen-Massyn vir haar debuutroman Vuurvoël, wat deur Human & Rousseau gepubliseer is; en die Jan Rabie-Rapportprys deur Pieter Marais vir Konkel, uitgegee deur Protea Boekhuis.

kykNET-Rapportprys vir fiksie

Die fiksiekeurders het Van vaders en vlugtelinge, wat deur Human & Rousseau uitgegee is, beskryf as ’n meesterklas in hoe sinskonstruksie, paragraaflengte en woordkeuse aangewend kan word om ritme en tempo, en daarmee saam, emosie te beheer. “Die mooiste oomblikke in die boek sleur mee, en die hartverskeurendstes sny regdeur die been, tot by die murg,” sê die keurders.

Van vaders en vlugtelinge is vroeër vanjaar ook met die UJ-letterkundeprys vir Afrikaans vereer.

Saam met Naudé op die fiksiekortlys was Etienne van Heerden met Gebeente (Tafelberg) en Eben Venter met Decima (Penguin Random House). Tussen dié drie romansiers het hulle reeds elke moontlike literêre prys in Suid-Afrika ontvang, van die ATKV-prys tot die Hertzogprys, soms meer as een keer. Saam sorg hulle dat plaaslike romans in feitlik elke denkbare taal gelees word – van Russies en Grieks tot Fins en Hebreeus. Met vanjaar se kortlys het dié drie skrywers weer eens uitgetroon met boeke wat lesers nie net laat dink nie, maar ook emosioneel betrek.

Lees Ryan Pedro se commendatio van SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge hier.

kykNET-Rapportprys vir niefiksie

By niefiksie is Dana Snyman se skerpsinnige sketse oor Suid-Afrika en sy mense deur die keurders beskryf as “’n Nissan 1400-bakkie van ’n boek: klein, onopgesmuk, ’n bekende en betroubare werkesel, maar sy eenvoud is bedrieglik. Lig die kap, en jy vind ’n enjin wat deur modder en water verswelg kon word, uit ’n kuil gesleep kon word en, nadat die olie en water uitgetap is en die plugs losgemaak is sodat alles kon lug kry, steeds kon aanhou loop. Hy het ’n kragtigheid wat jy nooit mag vlak kyk nie; die knaendheid van ’n basterbrak wat weier om te gaan lê.”

Ander boeke op die niefiksiekortlys was Diensplig deur Anelia Heese (Tafelberg) en Dan sien ons mekaar deur James Scott (Protea Boekhuis).

Lees Lindie Koorts se commendatio van Dana Snyman se Die binneland in hier.

kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys

Die keurders vir die filmprys was van mening dat Vuurvoël die soort materiaal is waaroor enige filmmaker droom. “Dit benut ’n verskeidenheid groot temas, maar waar dit werklik uitstyg, is in die aanwending van 'n deurweekte en skalkse humorsin wat, soos met enige chemiese verbinding, in baie presiese mates bygevoeg moet word om te werk.”

Ook op die kortlys vir die filmprys was Ons skulde deur PP Fourie (Queillerie) en Maalkolk deur Marie Lotz (Human & Rousseau).

Lees Beer Adriaanse se commendatio van Elmarie Viljoen-Massyn se Vuurvoël hier.

Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke

Pieter Marais se satiriese debuutroman, Konkel, is ’n boek vir die fynproewer, veral vir die liefhebber van burleske humor, sê die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys. “Dit is nogal seldsaam dat ’n wildvreemde nuweling op die literêre toneel met soveel beheer en trefsekerheid skryf, met so ’n vaste greep op komplekse verteltegnieke dat die storie veerlig voel, asof dit geheel en al moeiteloos geskryf is.”

Ook benoem vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke was PP Fourie vir Ons skulde (Queillerie) en Elmarie Dercksen vir Die gawe van groen (Lapa Uitgewers).

Lees Francois Smith se commendatio van Pieter Marais se Konkel hier.

kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar 2023

Vanjaar se wenners van die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is:

Nathan Trantraal se resensie is die eerste een in Kaapse Afrikaans wat met ’n kykNET-Rapportprys bekroon word.

Lees Bibi Slippers se commendatio’s van die wenresensies hier.

***

Die individuele pryse bedra R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie en niefiksie, R155 000 elk vir die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R45 000 elk vir die kykNET-Rapport-resensieprys vir fiksie en niefiksie onderskeidelik.

Die keurpanele vir die onderskeie boekpryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Frederik de Jager, Bibi Slippers, Ryan Pedro en Beer Adriaanse; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Lindie Koorts, Bill Nasson, Kerneels Breytenbach en Andries Bezuidenhout; kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys: Beer Adriaanse, Wikus du Toit en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys: Anastasia de Vries, Willie Burger en Francois Smith; kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar: Bibi Slippers (sameroeper), Azille Coetzee en Ashwin Arendse.  

Inligting oor deelname aan die pryse vir 2025 word binnekort bekend gemaak.

Lees ook:

Persverklaring: Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024 bekend

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top