
Wenner: Dana Snyman vir Die binneland in: Nog stories en reise (Tafelberg)
Commendatio: Lindie Koorts
Die binneland in is ’n Nissan 1400-bakkie van ’n boek: klein, onopgesmuk, ’n bekende en betroubare werkesel, maar sy eenvoud is bedrieglik. Lig die kap, en jy vind ’n enjin wat deur modder en water verswelg kon word, uit ’n kuil gesleep kon word en, nadat die olie en water uitgetap is en die plugs losgemaak is sodat alles kon lug kry, steeds kon aanhou loop. Hy het ’n kragtigheid wat jy nooit mag vlak kyk nie; die knaendheid van ’n basterbrak wat weier om te gaan lê.
Op sy reis na die binneland – sy eie innerlike Groot Trek – is dit die Nissan 1400-bakkies wat telkens Dana Snyman se oog vang. Sommiges oorlaai en klaend, soos Bileam se donkie; ander dreunend met opgezoepte enjin en gesakte bakwerk. Elke bakkie en sy baas het hul eie verhaal. Hulle karwei slangvangers, satellietskottels en vars vis. Hulle ry mense aan om hul Sassa-geld te gaan haal en gaan op soek na vergifnis. Hulle vind die kroeë vol en die kerke leeg.
Op die spoor van die Nissan 1400-bakkie karteer Snyman die verval en vergetelheid van die platteland. Waar hy gaan, kom hy die randfigure teë. Hy belig hul kwesbaarheid en maak hulle rond. Hy kap genadeloos met sy vlymskerp pen na die rykes, die skynheiliges en die onnadenkendes. Hy skroom nie om teenstrydighede uit te lig nie en hou daardeur ’n spieël op wat die seer en die morsigheid van beide ons verlede en ons hede na ons toe terugkaats.
Hy ontsien homself nie – sy eie teenstrydighede, kwesbaarheid, vertwyfeling en verlies word aan die leser uitgestal. Deur sy aandadigheid en tekortkominge lei hy lesers om ook húl aandadigheid en tekortkominge onder die loep te neem. Die reisiger wat op soek wil gaan na wit Suid-Afrika se postapartheid tydsgees sal nêrens Dana Snyman se gelyke vind nie – hy is die Herman Charles Bosman van ons tyd. Sy verhale is empaties en getuig van ’n fyn waarnemingsvermoë wat nie maklik geëwenaar kan word nie. Saggies dryf hy die spot, trefseker is sy kommentaar.
Dit is die digter Roy Campbell wat in 1928 verwys het na “South Africa, renowned both far and wide. For politics and little else beside.” Dit weerspieël ons geneigdheid om ons verhale te wil vertel deur middel van groot figure en groot gebeurtenisse en ons onvermoë om wyer as ons politiek te dink. In teenstelling hiermee skep Dana Snyman ’n eietydse geskiedenis waarin die alledaagse die praatwerk doen, en waar eenvoud en menslikheid deernisvol uitgelig word. Hy wys vir ons: Politiek is oral aanwesig, maar ons en ons verhale strek soveel wyer en is soveel meer. Wat David Goldblatt in beeld kon vermag, vermag Dana Snyman in woord.
Die binneland in kan beskou word as klassieke Dana, nóg ’n paaiement in sy welbekende oeuvre. ’n Oeuvre wat herinner aan ’n voos gevatte lappieskombers, waarin die patrone van ons hedendaagse samelewing en ons omgang met die verlede tot ’n bont geheel saamgestik is. ’n Oeuvre waardeur Snyman volksbesit geword het – maar ook die volksprofeet. Die stem roepend in die woestyn, wat ons tot introspeksie dwing. Die Bybel stel dit duidelik: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en gesin.” Tog wil ons vanaand die teendeel doen, deur aan die volksprofeet en sy oeuvre, as ’n waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir niefiksie, die erkenning te gee wat hom toekom.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024.
Lees ook:
FMR-resensies: Die binneland in deur Dana Snyman en Hierdie land, ’n bundel deur verskeie skrywers

