
Media24 Boeke kondig met trots die kortlyste aan vir die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2020. Dié pryse word in ses kategorieë toegeken en het ’n gesamentlike prysgeld van R210 000.
Met hierdie pryse word jaarliks erkenning gegee aan die beste boeke wat in die voorafgaande jaar deur boekuitgewerye in die Media24-groep gepubliseer is. Dié uitgewerye sluit NB-Uitgewers (met drukname soos Human & Rousseau, Tafelberg, Kwela en Queillerie) en Jonathan Ball Publishers in.
Onafhanklike keurpanele het die kortlyste saamgestel uit meer as 80 titels wat voorgelê is. Die kortlyste bestaan uit drie titels elk, afgesien van die Elisabeth Eybers-prys waar al vier inskrywings in aanmerking kom, en die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke. Vir laasgenoemde prys word skrywers en illustreerders van vanjaar af afsonderlik gekortlys. Op dié manier kan illustreerders wat nuwe lewe gee aan heruitgawes en verhaalbundels, wat op sigself nie kwalifiseer vir inskrywing nie, nou ook in aanmerking kom vir erkenning.
Die kortlyste, in alfabetiese volgorde volgens skrywer of illustreerder, is soos volg:
WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie (romans, kortverhale, drama)
- Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach (Human & Rousseau)
- Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
- Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Tafelberg)
LitNet Akademies-resensie-essay: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach
Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie (romans, kortverhale, drama)
- Okay, Okay, Okay deur Finuala Dowling (Kwela)
- Yellowbone deur Ekow Duker (Kwela)
- Lucky Packet deur Trevor Sacks (Kwela)
Recht Malan-prys vir niefiksie
- Rebels and Rage deur Adam Habib (Jonathan Ball Publishers)
- Lawfare deur Michelle le Roux en Dennis Davis (Jonathan Ball Publishers)
- One Day in Bethlehem deur Jonny Steinberg (Jonathan Ball Publishers)
Elisabeth Eybers-prys vir digbundels
- Chinatown: Gedigte deur Ronelda Kamfer (Kwela)
- Jan, Piet, Koos en Jakob deur Loftus Marais (Human & Rousseau)
- Kryt deur Hennie Nortjé (Queillerie)
- Sikhahlel’ u-OR: A Praise Poem for Oliver Tambo deur Mongane Serote (Kwela)
MER-prys vir jeugverhale
- The Choice Between Us deur Edyth Bulbring (Tafelberg)
- Toring van Jasmyn deur Derick van der Walt (Tafelberg)
- Brand deur Fanie Viljoen (Tafelberg)
MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Skrywer
- Bella en Sebastiaan deur Mari Grobler (Tafelberg)
- Die legendariese Lua Verwey 2: ’n Plaas se geraas deur Dihanna Taute (Human & Rousseau)
- Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies deur Fanie Viljoen (Human & Rousseau)
MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Illustreerder
- Die hasie van fluweel deur Margery Williams, vertaal en verwerk deur Linda Rode en geïllustreer deur Theodore Key (Human & Rousseau)
- Liewe Heksie en die pampoene deur Verna Vels, geïllustreer deur Vian Oelofsen (Human & Rousseau)
- Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies deur Fanie Viljoen, geïllustreer deur Tumi K Steyn (Human & Rousseau)
Die wenner in elke kategorie ontvang R35 000. By die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke word die prysgeld verdeel tussen die skrywer en illustreerder(s).
Die pryse word op Donderdag 18 Junie 2020 aanlyn toegeken. Meer inligting hieroor word binnekort bekend gemaak.

