Persoonlike besinnings oor die voorbereiding vir my oudag

  • 1

Aftrede (Foto: Pixabay)

Daar verskyn dikwels LitNet Akademies-artikels oor aktuele sake en navorsing deur jong akademici. Soms verskyn daar artikels oor onderwerpe wat ons ouer lesers sal interesseer. Hier is twee artikels wat in LitNet Akademies verskyn het en oor bejaardheid, die ouderdom of aftrede handel: Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van ’n “pneumatiese liggaam” binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood en Die bestuur van interne kommunikasie by ’n Suid-Afrikaanse aftreeoord: uitdagings en moontlike oplossings.

Hier onder bepeins Estelle Kruger die ouderdom, bejaardheid en die vele fasette van aftrede.

Agtergrond

Terwyl ek in Pietermaritzburg – en weer in Kaapstad – die Life Line-kursus bygewoon het, het ek onder die indruk gekom van die verskeie lewensfases en spesifiek besef dat die aftrede nie vanself kom nie. Dit het eie uitdagings waarop ’n mens jou behoort voor te berei. Een daarvan is dat ’n mens iets nodig het om jou besig te hou en jou verstand wakker te hou.

Dit was vir my duidelik dat mans in ’n sekere sin makliker aftree, omdat hulle meestal stokperdjies beoefen en gewoon daarmee kan voortgaan. ’n Vrou wat nie spesifiek stokperdjies het nie, gaan gewoonlik aan om kos voor te berei en die huishouding te bestuur.

Die probleem is vir afgetrede akademici – waaronder ek toenemend geval het as beroepsvrou – dat hulle nie gewoonlik stokperdjies het nie en baie in hulle werk opgaan, omdat dit baie van hulle tyd en energie verg.

Ek het in 2009 afgetree, maar was nog vir twee jaar betrokke by die universiteit, eers net om ’n MEd-student te begelei in haar studie en later voltyds as kontrakwerker om in te staan vir my kollega Richard Stanley wat ’n ernstige breinbesering opgedoen het. Op ’n manier was dit die beste jaar van my lewe, want ek het allerlei nuwe planne gehad wat ek gerealiseer het met die studente.

Gedurende 2009 het ek in my vrye tyd saam met Olga Sema deur die land getoer om tweedetaalonderwysers te bemagtig met Afrikaans. Ons het nie spesifieke portefeuljes gehad nie en kon meestal doen wat ons wou. Omdat ek tot onlangs voltyds klasgegee het, my doktorsgraad behaal het en verskeie artikels in geakkrediteerde tydskrifte gepubliseer het, was daar nie tyd vir stokperdjies nie.

Ek het gekies om die onderwysers te leer van kreatiewe skryf. As deel van my plan, het ek gebruik wat ek met studente gebruik het, en my akroniem KLASKENADES het ontstaan. Ek kan nie onthou hoe ek dit ingevul het nie, maar ek vermoed dit was net die naam van my kreatiefskryfprogram met die onderwysers. Hoofsaaklik het die akroniem ontstaan omdat ek wou beklemtoon dat die onderrig van Afrikaans ook pret kan wees – vandaar die pret wat ’n ruk gelede op die TV met “water- en suikerkaskenades” ’n program was. Olga het ruiterlik erken dat sy nie eintlik weet wat my titel beteken nie ...

In 2012 het ’n vriendin, wat ook ’n vakadviseur vir Afrikaans in die noorde van Kaapstad by Malmesbury (Maryna de Lange) is, my uitgedaag om ’n kursus vir haar onderwysers saam te stel wat hulle kan leer hoe om gedigte te onderrig. Sy het die een Saterdag my sessie by die Taalmonument bygewoon, waar ek juis dit gedoen het. Dit het haar so baie geraak dat sy die hele naweek net haikoes geskryf het uit haar eie. Dit was wat sy in gedagte gehad het vir haar onderwysers – sy wou hê iemand moet dit doen en sy het geweet wie kan dit doen!

Omdat daar 150 onderwysers in haar distrik is wat die sessie sou bywoon, moes ek mooi dink hoe ek dit gaan organiseer. Ek het naamlik besluit om van vyf fasiliteerders gebruik te maak, wat elkeen ’n tafel met 10 onderwysers sou beman. Dit was so ’n reusesukses dat ’n ander vakadviseur – van die suidelike distrikte in die Wes-Kaap – spoedig die een na die ander ook dit vir hulle mense georganiseer wou hê. Selfs die Engels as tweedetaal se vakadviseur het geskakel om te weet of ek daarvoor kans sien. Natuurlik, ja! Ek het een van my oudstudente as fasiliteerder gehad (Renera Ferreira) en sy het onmiddellik ingestem om my program te vertaal.

Ek wil terugkom by my hooftema van dit waarvan ek bewus geword het by Life Line en hoe dit op my van toepassing was: Ek het steeds uitdagings gekry sonder dat ek doelwitte gestel het vir hoe om vir aftrede voor te berei. Ek was dus positief voorberei vir my oudag, of in elk geval hierdie gedeelte van my oudag, naamlik direk na aftrede.

-o0o-

Wat ek in die volgende paragrawe wil uiteensit, is in watter mate ek nie voorbereid was vir my oudag nie.

Iets waarvoor ek nie voorbereid was nie, trouens, ek het nooit eers daaraan gedink nie, en waaroor ek nou ween, is dat ek nooit in my lewe wedersydse ewige liefde vir en van ’n man ervaar het en sal ervaar nie.

Ek sing in my gedigte daaroor, meer spesifiek onder andere my “Lament van ’n meermin”:

Kyk!
Hier is my skatkis:
Maak dit oop en
verlustig jou
in my juwele,
goud en sierstene,
saffiere en robyne,
diamante en smaragde

Dekades lank het ek dit ingewin
vanuit skeepswrakke,
tussen diep en gevaarlike rotse deur
in vlaktes onder die see
het ek geswem,
waar haaie my wou verskeur;
nader aan die oppervlak
het ek vasgehaak
in seewier het my eens goue hare
ontsier geraak

Ver paaie het ek geswem
om ’n maat te vind
met wie ek my skat kon deel
wat ek kon bekoor
met my seeliedere
met wie ek liefde
kon deel
en speel
van lag kon skater
bo of onder water
met wie ek
as geliefde prinses
samesyn kon koester

Verby het hulle gevaar – verby
op die see bokant my:
seerowers, skeepskaptein
op skeepskaptein
het almal oorkant die horison
verdwyn

Lees ook:

Die bestuur van interne kommunikasie by ’n Suid-Afrikaanse aftreeoord: uitdagings en moontlike oplossings

Kommunikasie binne aftreeoorde en boeke oor aftreeoordbewoners: ’n gesprek met Rudie van Rensburg

Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van ’n “pneumatiese liggaam” binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood

kammawaarwêreld: ’n onderhoud met Estelle Kruger

Kammawaarwêreld deur Estelle Kruger: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top