https://www.litnet.co.za/hans-steek-die-rubicon-oor-deur-rudie-van-rensburg/
Daar het onlangs ’n artikel rondom die bestuur van aftreeoorde in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn. Rudie van Rensburg, skrywer van die Hans-reeks wat oor die ouderdom en die wel en wee van bejaardes in aftreeoorde handel, praat met Naomi Meyer oor die gevorderde ouderdom, uitdagings en grysheid met die wysheid.
Rudie, jy is bekend as skrywer van die Hans-reeks, en daar is ook al een van hierdie boeke verfilm. Waarom het jy, bekend as skrywer van spanningsromans, besluit om ’n boek oor aftreeoorde te skryf? Wat het jou die idee gegee?
Toe my kortverhaal oor ’n koppige oom wat weier om na ’n aftreeoord te gaan, in die Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word, het dit my laat glo dat die storie die potensiaal het vir ’n boek. In ’n mate was my ma die vonk vir die verhaal. Soms net so koppig soos Hans, bly sy nou op 100-jarige ouderdom steeds in haar meenthuis en oorweeg nie ’n aftreeoord nie.
.........
In ’n mate was my ma die vonk vir die verhaal. Soms net so koppig soos Hans, bly sy nou op 100-jarige ouderdom steeds in haar meenthuis en oorweeg nie ’n aftreeoord nie.
............
Nog ’n rede vir dié besluit was my liefde vir ou Afrikaanse uitdrukkings en spreekwoorde, wat ek nie regtig in my spanningsromans kon inspan nie. Die Hans-boeke het my die geleentheid gegee om dit mildelik te gebruik, wat my groot bevrediging gegee het.
Daar het onlangs ’n artikel in LitNet Akademies verskyn wat spesifiek handel oor eiesoortige kommunikasie wat binne aftreeoorde moet plaasvind, en die artikel verwys ook na bejaardes se uitdagings ten opsigte van tegnologie. Wat is jou persoonlike ervaring as dit kom by ouerwordende mense en hulle vaardighede met betrekking tot enigiets waar tegnologie ter sprake is?
My ma weier om ’n selfoon te kry, en ’n paar van haar vriende en vriendinne, nou al oorlede, het ook ’n streep in die grond daaroor getrek. Ek dink dit is uiters moeilik om op ’n gevorderde ouderdom dinge soos selfone en rekenaars baas te raak. Dit is nuwe tegnologie waaroor hulle onseker is en eenvoudig nie die vaardighede aangeleer het om te bemeester nie.
.........
Ek dink dit is uiters moeilik om op ’n gevorderde ouderdom dinge soos selfone en rekenaars baas te raak. Dit is nuwe tegnologie waaroor hulle onseker is en eenvoudig nie die vaardighede aangeleer het om te bemeester nie.
...........
Ek onthou goed hoe traumaties dit vir my was om van ’n tikmasjien na ’n rekenaar oor te skakel, en toe was ek maar in my veertigs. Soveel te meer vir ouer mense.
Mens kan lag en baie grappe maak oor ouer mense se tegnologiese onkunde. In dieselfde asem is ouer mense in die samelewing algaande ook meer onsigbaar. Jonger mense skuif ouer mense verder en verder weg, stel nie belang om hul kennis en ervaring aan te hoor nie, en verpak hulle veilig in aftreeoorde. Wat is jou gedagtes oor hierdie ander kant van die muntstuk?
Dit is ongelukkig so dat baie ouer mense geriefshalwe deur hulle kinders in aftreeoorde gesit word. Soms is van hierdie mense nog gesond en selfstandig genoeg om in hulle bestaande blyplekke te woon, maar word hulle in aftreeoorde ingeboender omdat dit hulle kinders beter pas. Die tragiese sy daarvan is dat kinders hulle dan ook nie gereeld besoek nie. Ek het juis iewers gelees van ’n vrou wat naweke permanent op die tehuis se stoep sit en wag vir haar kinders, wat nooit opdaag nie. Deesdae bly baie ouer mense se kinders ook in die buiteland. Verlange na hulle en die kleinkinders takel die ouers mense geestelik en fisiek af. En omdat hulle nie rekenaarvaardig is nie, is iets soos gereelde Zoom-gesprekke ook nie moontlik nie. Om op ’n bejaarde ouderdom eensaam, vergete en verstote te voel, moet bitter pynlik vir die psige wees.
Aftreeoorde is wel ’n belangrike soort instansie, beslis nie net ’n ruimte waarheen ouer mense geskuif moet word om enige ander rede as dat hulle spesiale en gespesialiseerde sorg benodig nie. Ouer mense word sieklik, hulle liggame het ondersteuning nodig, en mense van hul eie ouderdomme verstaan mekaar se leefwêrelde en geskiedenisse. Ek dink die kompleksiteit van aftreeoorde is wel dat ouer mense nie soos kinders hanteer wil word nie. Hulle het ligjare se ondervinding en kundigheid wat baie van die versorgers nié het nie, en wil self agentskap oor hulle lewens behou. Soms raak ouer mense wel ook rigied en voel hulle sterk oor dinge wat op hulle manier uitgevoer moet word. Nie alles maanskyn en rose nie! Wat dink jy – wil jy iets sê oor aftreeoorde en al die kante van die saak?
Aftreeoorde is beslis belangrike instansies, waar mense geliefd en veilig behoort te voel en waar hulle versorg moet word. Dit gebeur ongelukkig nie altyd in die praktyk nie. Daar is gereeld in die media berigte van hoe ouer mense in tehuise afgeskeep en selfs mishandel word. En al is ’n aftreeoord hoe uitnemend, leef die inwoners tog in ’n effens neerdrukkende atmosfeer, waar vriende om hulle siek word en hulle gereeld begrafnisdienste moet bywoon. Hulle boet terselfdertyd hulle vryheid en onafhanklikheid in en word voorgesê wanneer om te eet en te gaan slaap.
..............
Daar is gereeld in die media berigte van hoe ouer mense in tehuise afgeskeep en selfs mishandel word. En al is ’n aftreeoord hoe uitnemend, leef die inwoners tog in ’n effens neerdrukkende atmosfeer, waar vriende om hulle siek word en hulle gereeld begrafnisdienste moet bywoon. Hulle boet terselfdertyd hulle vryheid en onafhanklikheid in en word voorgesê wanneer om te eet en te gaan slaap.
...............
Baie belangrik dat aftreeoorde se personeel daarop ingestel moet wees om ouer mense nie soos kinders te behandel nie. Om in verkleinwoordjies met hulle te praat asof hulle peuters is, is niks anders as vernederend nie. Behandel hulle met respek en waardigheid en skep ruimte vir elkeen se unieke behoeftes. En sien tog af van rigiede reëls en regulasies wat mense se welsyn net verder ondermyn.
Laastens: Wat het jy al by ouer mense geleer of by hulle wys geword? En wat kan jongmense in die algemeen van ouer mense raaksien en by hulle leer?
My ma het een belangrike ingesteldheid waarvolgens sy lewe, geskoei op haar gesegde: “Hou jouself besig, want ledigheid maak dood.” Op 100 bly sy op hoogte van die nuus, is nog ’n ywerige leser van papierkoerante (dié wat nog bestaan), tydskrifte en boeke, vul blokkiesraaisels vinniger in as ek en bak nog skons en melktert. My kinders is altyd in verwondering oor die goeie raad wat sy kan uitdeel. My boodskap aan jonger mense is om die ouer garde nie op hul plooie en grys hare te takseer nie, maar om eerder hulle lewenservaring en wysheid te benut.
Watter boeke kan jy vir lesers in aftreeoorde aanbeveel (en is die boeke in groot druk of op tablette beskikbaar – tablette net sodat die skriftipe self vergroot kan word)? Jy mag jou eie boeke aanbeveel. Trouens: Sál jy asseblief? Gee sommer ’n kort opsomming van elkeen van die boeke sodat die kinders of die mense in die aftreeoorde self hierso die aanbevelings kan lees en vir die boeke op die uitkyk kan wees.
Ek het ongelukkig nie kennis van watter boeke in groot druk beskikbaar is nie, maar weet dit help baie om die leeservaring vir ouer mense aansienlik lekkerder te maak.
Die een boek wat ek gereeld vir ouer mense aanbeveel, is Elsa Joubert se Spertyd (Tafelberg, 2017), waarin sy in ryke besonderhede en sonder enige sentimentaliteit oor die oudwordproses skryf. Dit is ’n boek wat elke leser diep sal laat nadink oor sy eie bestaan.
Naomi, jy het my gevra om my eie boeke aan te beveel. Dit voel vir my effe voorbarig om dit te doen, maar ek het seker nie ’n keuse nie. Die Hans-reeks handel hoofsaaklik oor Hans se wel en wee in Huis Madeliefie. Dadelik moet ek noem dat hierdie boeke in die oortreffende trap en tong-in-die-kies geskryf is, en nie altyd die werklikheid in aftreeoorde weerspieël nie. Hans, ’n kêrel wat op sy eie voorwaardes oud word, probeer van sy verblyf daar ’n plesierervaring te maak, waar hy glo dat “inwoners vrye teuels moet hê om ’n laaste bandelose genotsgalop te beleef voor hulle ter ruste gelê word”.
Vyf Hans-boeke het reeds verskyn:
In Hans steek die Rubicon oor (Queillerie, 2017) lei Hans ’n paleisrevolusie teen die drakoniese regime van matrone Van Dussen.
Hans gee Herklaas horings (2020) handel oor Hans se pogings om Vasie se neef, Herklaas, te help oorleef teen Grond Graaffwater, die Overstrand se rykste skobbejak.
Hans bars die bioborrel (2021) speel in die vlak 5-inperkingstydperk af, waar Hans hard spook om sy regmatige plek as die tehuis se leier te behou.
In Hans hou sy lyf Sherlock (2022) vaar Hans en sy vriende die Weskus in agter Javel Davel aan, ’n glibberige kêrel wat hulle uit hul spaargeld geswendel het.
In Hans kry troukoors (2023) raak Hans smoorverlief op die verleidelike Liefiediefie met haar Marilyn Monroe-gesiggie en Jane Fonda-lyfie.
Vanjaar verskyn die laaste in die reeks Hans-boeke in Oktober. In Hans hou bruilof maak Hans die lewe van ’n baie vername troubeplanner hel, wat dié arme man verskeie geestesinploffings laat beleef, soos Hans dit stel.
Lees ook:

