PEN Afrikaans Nuusbrief: Maart 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Februarie was van SONA 2016 tot Swart Maandag by UP ’n wilde, besige maand. Hier is die sake wat ons as skrywers en bestuur die besigste gehou het:

Afrikaans in die spervuur op kampusse

Die druk op voormalige Afrikaanse universiteite om volledig te verengels is dié afgelope maand op die spits gedryf en het tot tragiese insidente by die Universiteite van Pretoria en Vrystaat gelei.

Die pad vorentoe vir Afrikaans lyk radikaal onseker, maar een ding is wel seker: Geen Afrikaanse skrywer of taalpraktisyn kan dit bekostig om onverskillig teenoor die huidige woelinge op ons kampusse te staan nie.

In hierdie verband is die nugter lesing van Theodorus du Plessis, “Ongelykhede in taal en onderwys – perspektiewe op moedertaalonderring in Suid-Afrika”, wat ter herdenking van Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) by UNISA gelewer is, insiggewende leesstof: http://www.litnet.co.za/ongelykhede-in-taal-en-onderwys-perspektiewe-op-moedertaalonderrig-in-suid-afrika/

Du Plessis beklemtoon wat tragies verswyg word in die taaldebat wat tans op en om kampusse woed:

Een van die besonder ontstellende aspekte omtrent die huidige vlaag van bykans Engels-besetenheid aan Suid-Afrikaanse kampusse is die feit dat die beheptheid met die verwydering van Afrikaans as voertaal ons aandag aflei van ’n veel groter nasionale krisis. Hierdie krisis het te make met die onvoorstelbare onderprestasie op skool van Suid-Afrikaanse leerders. Volgens die Children’s Institute aan die Universiteit van Kaapstad se jongste Child Gauge-verslag (Volksblad het in 2015 ’n berig hieroor gedra) is die onderprestasie van veral swart skoolgangers so groot dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hulle “bevoorregte” eweknieë is. Ons praat dus hier van ’n soort sistemiese ongelykheid wat universiteite in werklikheid erf.

Hy wys uit dat Engels, ironies genoeg, vir ’n ontstemmende aantal studente die grootste struikelblok tot sukses op tersiêre vlak is:

… dit blyk uit navorsingsverslae waarna verwys word dat 77% van studente wat by universiteite uitval, probleme met Engels as taal van onderrig en leer uitwys as die hoofrede waarom hulle hul studies staak. Ook gebrekkige vaardighede om tekste analities te kan lees, ’n hoë-orde-vaardigheid waarby tersiêre onderrig staan en val, dra volgens ander navorsers na wie hulle verwys by tot studente se mislukking in bepaalde kursusse. Die korpus studies in hierdie verband bly jaarliks groei.

Du Plessis se slotsom is duidelik:

Teen hierdie agtergrond kan ’n mens nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die huidige opwelling oor die magiese voordele van Engels as enigste voertaal aan Suid-Afrikaanse universiteite te wyte is aan ideologiese verblinding.     

’n Ander artikel wat ’n breë oorsig van die huidige taalsituasie verskaf, is dié van prof. Theuns Eloff – “Die universiteitswese in Suid Afrika: 'n toekomsperspektief vir Afrikaanse instellings”: http://www.litnet.co.za/die-universiteitswese-in-suid-afrika-n-toekomsperspektief-vir-afrikaanse-instellings/

Prof. Eloff, wie se nuwe boek, Wat nou, Suid-Afrika, pas by Tafelberg verskyn het, kom tot ’n paar interessante gevolgtrekkings in sy artikel oor die universiteitswese. Hy sê, onder meer, die volgende:

• Intussen sal Afrikaanse organisasies en individue wat oor Afrikaans by universiteite bekommerd is, nogmaals die grondwetlike beginsels oor Afrikaans in die onderwys moet bevestig – ook op die politieke vlak. Dit sal egter politieke gewig dra eers as die Grondwethof (soos met die openbare beskermer onlangs) uitspraak gee. Natuurlik maak die huidige politieke klimaat dit riskant om na die hoogste hof te gaan, maar dit mag dalk die laaste uitweg wees.

• Goedbedoelende lede van universiteitsbesture en -rade, asook akademici en studenteleiers, sal hulleself moet vergewis van die werklike kwessies waaroor dit gaan. Ons kan nie langer politieke en ideologiese ongeletterdheid bekostig nie. Hierdie saak gaan op die slagveld van idees gewen of verloor word. Daar moet byvoorbeeld met goeie argumente uitgewys word dat die sirkelredenasie van toegang en gewaande rassisme nie logies of aanvaarbaar is nie, en op onverdraagsaamheid en omgekeerde rassisme neerkom. Politieke korrektheid is kos vir diegene wat swart dominasie in die laaste histories Afrikaanse universiteite wil bewerkstellig.

• Kollegas, hiermee propageer ek nie ’n eendimensionele aktivistiese strategie nie. Afrikaanse organisasies en leiers sal, terwyl hulle al die bogenoemde aksies onderneem, terselfdertyd moet begin om parallel daaraan meer platforms te skep vir dialoog tussen wit en swart, en veral wit en swart jongmense. Want in die post-Zuma era sal ons weer moet handevat en vorentoe gaan om ’n land te bou wat ons kan hê en wat ons verdien.

In ’n post-Zuma era moet die moontlikheid van ’n nuwe politieke skikking oor Afrikaans ernstig oorweeg word. Daarsonder kan ’n blywende oplossing en pad vorentoe nie gevind word nie. Hierin moet ons meer met die idee van minderhede en minderheidstale werk, sodat ons argumente ook internasionale weerklank kan vind.

Ons sal graag wil weet hoe ons lede oor hierdie ingewikkelde aangeleenthede en die menings van die kommentators wat hierbo aangehaal word, dink. Meen jy dis tyd vir Afrikaans om te vergeet van openbare, tersiêre instellings en liewer tyd, geld en energie in die skep van ’n privaat Afrikaanse universiteit te belê? Is die taalstryd ’n onbekostigbare luukse binne die groter Suid-Afrikaanse konteks van ekonomiese ongelykheid en die sosiale onstabiliteit wat daarmee gepaard gaan? Watter rol behoort die Afrikaanse skrywer, taalpraktisyn en/of joernalis te speel? Is taalpolitiek deel van die lees waarby hy/sy hom behoort te bepaal? Hoe meen jy vergelyk die Afrikaanse taalfamilie met ander minderhede wat elders sukkel om hul taalregte te verwesenlik?

Laat ons weet wat jy dink na penafrikaans@gmail.com en lees gerus ander menings in LitNet se seminaarkamer  oor dié onderwerp: (http://www.litnet.co.za/category/universitysa/). Hier vind jy onder meer ’n ope brief van Johann Rossouw aan die rektor van UP oor hul beoogde taalbeleidwysiging (http://www.litnet.co.za/ope-brief-aan-die-rektor-van-die-universiteit-van-pretoria/) asook ’n ope brief van Andrew le Roux aan die rektor van die US, waarin hy (“'n wit, Afrikaanssprekende, middeljarige, welgestelde Christenman” en oud-Matie) prof. Wim de Villiers gelukwens met die vernuwende rigting wat hy inslaan: http://www.litnet.co.za/ope-brief-aan-die-prof-wim-de-villiers/

Wat die Universiteit van Stellenbosch betref, wys ons graag daarop dat twee van ons lede kandidate in die US-raadsverkiesing is: die digter-akademikus prof. Joan Hambidge, en PEN Afrikaans se onder-voorsitter, Bettina Wyngaard.

Alumni van die US kan tot om 12:00 op 10 Maart 2016 hier stem: http://www.sun.ac.za/afrikaans/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3394

Die reaksie van boekeredakteurs op die onlangse gesprek rondom die stand van Afrikaanse resensies

Soos in ons vurige nuusbrief beloof is, het ons na aanleiding van die debat wat ná ’n gewraakte resensie van Chanette Paul se Offerlam ontstaan het, Jo Prins (redakteur van Boeke24) en Nelia Richter (redakteur van Rapport-Boeke), genader met ’n aantal vrae rondom resensiepraktyk en die stand van ons Afrikaanse boekkritiek.

Jo Prins het ons daarop gewys dat hy reeds oor die werking van sy blaaie geskryf het: http://www.litnet.co.za/poolshoogte-terugvoering-uit-die-kolonie/

Prins het ook ingestem om vrae rondom hierdie kwessie te antwoord in gesprek met Ilse Salzwedel op RSG. Klik hier om na hul gesprek in Skrywers en boeke te luister: http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20160210_SKRYWERS_EN_BOEKE.mp3

Nelia Richter het laat weet dat hy sy haar ten volle met Prins se antwoorde in die laasgenoemde onderhoud kan vereenselwig en niks het om daartoe by te voeg nie.

Het Jo Prins hiermee ook al jou vrae beantwoord? Indien nie, laat ons weet wat steeds krap of waaroor jy nog wonder: penafrikaans@gmail.com

Een van ons lede, Francois Verster, het reeds sy mening onderhoudend oor dié saak op LitNet gegee: http://www.litnet.co.za/oor-resensiekuns-n-stuiwer/

Baie geluk ook aan Francois met sy boek, Omega, oor en uit, wat pas verskyn het.

Die Trippel 7-projek

Op Internasionale Moedertaaldag, 21 Februarie, het PEN International die kollig geplaas op verskeie projekte wat PEN-sentrums dwars oor die wêreld aanpak ter bevordering van taalregte en moedertaalonderrig:

http://www.pen-international.org/newsitems/mother-language-education-on-the-frontline/

Ons is trots daarop om te sê dat een van hierdie projekte PEN Afrikaans se Trippel 7-projek onder leiding van Bettina Wyngaard is, wie se breinkind dié inisiatief ook was. Ons is dus nou amptelik op die map, oftewel die PEN International-wêreldkaart:

trippel7

Klik op die illustrasie om dit te vergroot

As jy meer wil weet van Trippel 7, kan jy hier klik en lees of jy kan kyk en luister hoe Bettina self meer oor haar baba gesels. Hier is die onderhoud wat Kabous Meiring met haar op Prontuit gevoer het – oor Trippel 7 en Bettina se splinternuwe roman, Slaafs, wat eersdaags verskyn:

Baie geluk en alle sukses met Trippel 7 en jou nuwe boek, Bettina.

Ns. Lede wat graag op hoogte wil bly met ander aktiwiteite van die PEN-moederorganisasie kan ons Facebook-blad en Twitter-rekening dophou. Ons ondersteun gereeld op hierdie sosiale-media-platforms PEN International-veldtogte vir meningsvryheid en die bevordering van letterkunde. Teken ook gerus onderaan PEN International se tuisblad in op hul nuusbrief: http://www.pen-international.org/

Verwikkelinge rondom die beoogde nuwe kopieregwetgewing

PEN Afrikaans het sy lede verlede jaar gewaarsku dat ’n onrusbarende wysiging van die Suid-Afrikaanse kopieregwetgewing beplan word, wat ons met hand en tand saam met ander belanghebbendes sal beveg.

Catrina Wessels, NB-uitgewers se bestuurder van kontrakte en regte, verduidelik die agtergrond en die huidige stand van sake as volg:

’n Wetsontwerp wat ingrypende veranderinge aan die bestaande Wet op Outeursreg (98 van 1978) voorstel, is op 27 Julie verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer. Indien die wetsontwerp in werking gestel sou word, kon dit katastrofiese gevolge vir outeurs en uitgewers inhou. Sekere van die bepalings wyk radikaal af van die basiese beginsels rakende outeursreg soos ons dit ken, en soos dit in die res van die wêreld verstaan en toegepas word. Hier volg van die maatreëls wat deur die wetsontwerp in die vooruitsig gestel is en wat spesifiek op skrywers van toepassing sou wees: 

  • Outeursreg in sogenaamde “orphan works” word aan die staat oorgedra en die duur van daardie outeursreg word onbepaald verleng. Die staat sal dus tot in lengte van dae die outeursreg in hierdie werke bestuur en tantième daarvoor invorder. “Orphan works” verwys tipies na kopieregwerke waarvan die outeur onbekend is of nie opgespoor kan word nie, maar in hierdie wetsontwerp sien ons dat werke van outeurs wat afgesterf het, ook hierby betrek word. Indien die wetsontwerp bekragtig word, sal outeurs se outeursreg dus nie meer kan vererf (sodat hul aangewese erfgename tot 50 jaar ná hul dood die kopiereg besit nie). Dit blyk dat outeursreg outomaties aan die staat oorgedra sal word en ewigdurend sal geld. Die wetsontwerp skryf ’n ingewikkelde en duur proses voor om toestemming te verkry om “orphan works” te gebruik – wat waarskynlik sal beteken dat gebruik van hierdie werke in die praktyk sover moontlik vermy sal word. 

  • Billike gebruik vir opvoedkundige doeleindes word ingestel. In die regte omstandighede mag kopiereg-materiaal dus vrylik gebruik word vir opvoedkundige doeleindes sonder dat toestemming aangevra word of die outeursregeienaar vergoed hoef te word. Volledige handboeke mag vir hierdie doel gekopieer word. 

  • Groter staatsbetrokkenheid word in die visier gestel. Die staat beoog byvoorbeeld om standaard kontraksterme voor te skryf wat in ooreenkomste oor outeursreg ingesluit moet word. Verder word ’n verpligte lisensiëringsmeganisme op die been gebring. Hiervolgens mag die staat onder sekere omstandighede outeursregwerke aan belangstellendes lisensieer sonder om die kopieregeienaar by die proses te betrek. Die stomme kopiereg-eienaar kan in hierdie gevalle darem reken op “just compensation” wat deur die staat bepaal sal word.

Die publiek is tot 16 September 2015 kans gegee om op die inhoud van die wetsontwerp te reageer. Verskeie instansies het teen die sperdatum voorleggings by die Departement Handel en Nywerheid ingedien en sterk standpunt ingeneem teen van die voorgenome veranderinge. PASA het namens die plaaslike uitgewersbedryf kommentaar gelewer, en verskeie ander belanghebbendes het ook hul stem laat hoor. Dit sluit in DALRO, ANFASA en die regsfakulteite van verskeie universiteite.

Sedert September 2015 het ons niks amptelik verneem oor die wysigingswet nie, maar ons het by DALRO se regsverteenwoordigers verneem dat dié spesifieke wetsontwerp iets van die verlede is. Dit gaan hersien word deur iemand anders, maar ons weet nie wie vir die hersiening verantwoordelik sal wees nie

In memoriam: Leon Rousseau en Anton Prinsloo

Ons moes die afgelope maand met swaar harte afskeid neem van twee groot en geliefde figure in die wêreld van Afrikaanse lettere.

Die taalkundige, omroeper en woordeboekmaker dr. Anton Prinsloo, wat 11 boeke oor taalkundige onderwerpe, van spreekwoorde tot bygelowe, die lig laat sien het, is op 23 Februarie op 77 ná ’n lang siekbed oorlede.

Die nuusleser Riaan Cruywagen, ’n jare lange boesemvriend van Prinsloo, het sy “verbysterende taalkennis” en humorsin as sy uitstaande kenmerke uitgesonder. Volgens Cruywagen was hy “ ’n blymoedige lewensgenieter met ’n lied in sy hart.”

Lees hier wat Ernst Kotzé, Frikkie Lombard enTom McLachlan – drie oud-Taalkommissiekollegas van Prinsloo – oor hul ontslape vriend skryf.

Ook die oud-uitgewer en literêre reus Leon Rousseau het ons in Februarie 2016 ontval.

Rousseau was ’n oud-redaksielid van Die Burger, wat in die jare vyftig die Uniale Persdiens bedryf het. Hy en Koos Human het Human & Rousseau in 1959 gestig, en hul groot deurbraak in 1962 gemaak met die publikasie van vier klassieke werke: Tristia van N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers se Balans, André P. Brink se Lobola vir die lewe en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins.

Geïllustreerde kinderboeke is al vantevore op groot skaal deur JL van Schaik en die Nasionale Boekhandeling gepubliseer. Rousseau se balangstelling in daardie veld het egter gesorg dat H&R groot vernuwing op dié gebied in die sestigs en sewentigs gebring het. 

Leon had ’n groot en wye belangstelling, veral in wetenskap en wetenskapsfiksie. Dit is hoekom hy met sy gewilde Fritz Deelman-reeks soveel wetenskaplike uitvindings vooruit kon loop.

Sy biografie van Eugène Marais, Die groot verlange, is een van die grootste treffers wat H&R ooit gepubliseer het, en dit het in 1975 die gesogte CNA-prys ontvang.

Toe die Nasionale Pers in 1977 vir H&R oorneem, het Rousseau besluit om liewer op sy eie voort te gaan. Hy het kortstondige welslae behaal met sy Storieman-reeks, maar dié reeks het uiteindelik gelei tot die ondergang van Rubicon, die uitgewery wat Rousseau ná sy vertrek by H&R begin het. Dit is wel later herdruk, met baie groot en durende welslae.

Leon was ’n baie verbeeldingryke, vindingryke mens. Hy het jare lank ’n veldtog gevoer, via Die Burger se briewe-kolomme en elders, vir die verkorting van talle Afrikaanse woorde volgens die manier waarop die woorde uitgespreek word.

Verlede week het Rousseau geval in die tehuis vir bejaardes in Jeffreysbaai waar hy gewoon het. Hy is hospitaal toe geneem, waar hy in ’n koma verval en nooit weer sy bewussyn herwin het nie.

Ek het nie die voorreg gehad om Leon goed te ken nie, maar ek het by drie geleenthede onderhoude met hom gevoer en hy het ’n onuitwisbare indruk gemaak. Om soveel aansteeklike verwondering en nuuskierigheid oor die lewe en die wêreld by ’n man in sy 80’s teë te kom, is ’n besonderse ervaring.

Ek het hom die eerste keer behoorlik ontmoet toe hy sy 81ste verjaardag by die 2012 Woordfees gevier het, waar hy met ’n profiel gehuldig is. “Agtien en 81 het seker albei hul voor- en nadele,” het hy geskerts en ek moes dink aan die woorde van die Poolse digter en kinderboekskrywer Anna Kamienska, wat op gevorderde leeftyd in haar dagboek geskryf het: “Ek loop op straat vermom as ’n ou vrou.”  

Leon Rousseau het ons helaas op 84 verlaat, maar ’n ou man was hy nooit nie.

’n Nuwe Afrikaanse prys vir resensente

En ten slotte, die goeie nuus: Die kykNET-Rapport Boekpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, kry vanjaar twee opwindende nuwe pryse by vir Boekresensent van die Jaar. Met dié pryse, vir fiksie en niefiksie onderskeidelik, word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en leesgenot bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf. 

Resensente word genooi om in te skryf in twee kategorieë:

  • Uitnemende resensie: Afrikaanse fiksie

  • Uitnemende resensie: Afrikaanse niefiksie

Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.

Die pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2015 en 31 Desember 2015 in die drukmedia en hoofstroom-aanlynmedia of op onafhanklike webwerwe en derdeparty-blogs verskyn het. Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie sal oorweeg word. ’n Resensent mag ’n maksimum van tien resensies per kategorie inskryf.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Maart 2016.

Die beoordelaarspaneel vir die 2016-pryse is Yvonne Beyers, assistentredakteur by Huisgenoot; Jomarié Botha, senior joernalis en taalpraktisyn; Piet Matipa, bekroonde joernalis en rubriekskrywer; en Bibi Slippers, digter, skrywer en joernalis.

Vir verdere inligting oor die prys en inskrywings, sien: http://www.litnet.co.za/boekresensent-van-die-jaar/

Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2016

Verdere rede tot vreugde is ’n hele rits nuwe boeke wat in Maart die rakke tref. Baie geluk en alle sukses aan ons lede wat in Maart nuwe boeke die lig laat sien – laai hier 'n lys af van al die nuwe Afrikaanse publikasies af. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top