Oor resensiekuns, 'n stuiwer

  • 10

Die koskritikus van die animasiefilm Ratatouille sit hier langs die omslag van Offerlam.

Dié stuk is gebaseer op ‘n Facebook-kommentaar van die skrywer, hier vir ‘n meer ingeligte leserskorps aangepas.

Lees ook:
Boekresensie: Offerlam deur Chanette Paul
Crito oor die Offerlam-resensie

Die herrie wat oor 'n resensie van Chanette Paul se Offerlam losgebars het, het tot gesprekke tussen lesers gelei en so ook tussen skrywers. Ewewigtige kommentaar is vir almal belangrik, al weet almal dit skynbaar nie. Nee, nie "skynbaar" nie, blýkbaar, want die onsinnige uitsprake en persoonlike aanvalle wat voorkom, bewys dat onkunde by sommiges en subjektiwiteit by sekeres en albei by die meeste hoogty vier.

Oor resensiekuns, 'n stuiwer: dit val my op dat so min mense in ag neem dat onpartydigheid die kernprobleem van so baie daaglikse kwessies is. Kyk maar na die tipiese gebulk en geblêr op sosiale media – outydse tee gooi en teersmeer is niks daarteen nie, terwyl sekere joernaliste (let tog wel: sékere) die mantra verkondig dat objektiwiteit ‘n mite is. So, jy hoef nie te probeer nie, dis tog futiel – what a “cop-out”, en verder lei dit tot allerhande verdere absurde houdings, soos een student wat aan my openbaar het dat Jesus reeds vir ons sondes gesterf het, so ons kan nou maak soos ons wil. Ai, as iemand my dit al 30 jaar gelede vertel het ... laat waai meraai, daar’s geen reperkussies nie. Ek kan sê wat ek wil, ek kan skryf wat ek wil, dis alles veroorloof.

Maar terug na resensies: o ja, daar is beslis dinge wat resensente kan verbeter. Een skrywer het aan my voorgestel dat voornemende resensente eers ’n kursus moet loop, dalk ’n resensiekundemodule by ’n kollege of universiteit (nie so vergesog nie; daar bestaan sulkes), of ‘n CV aan ‘n redakteur moet stuur alvorens so iemand op die publiek losgelaat word – en natuurlik ook die velle van sensitiewe skrywers onverdunde vitrioelbesproeiing spaar.

Ek laat dit aan die beleërde redakteurs oor om hulle hieroor te verknies.

Maar wat kan resensente wel doen om literêre ekskresiestorms te verhoed?  

Wel, daar is die bloedsonde van vervelig skryf – sulke lang Sishen-na-Saldanha-treine van feit, fffeit, ffflipen fffeit, klieketiekak, saksarelsak ... of erger: die ewige aanhalings van halfvergete en lankreedsdood filosowe, of om obskure terme soos “cisgender” te gebruik wanneer doodgewone Afrikaanse woorde algar in dieselfde kraaltjie kan lok en ververs, eerder as verjaag en verwar.

Ons het sekerlik almal sulke dooie broertjies, en in my geval, ter wille van illustrasie: onder andere irriteer dit my mateloos wanneer ‘n resensent die hele plot aan die leser openbaar maak en die karakters se name noem (asof jy die boek al gelees het en elkeen van hulle soos familie ken) en hulle binnewerke begin uitryg – al wat nog moet gebeur is om die einde uit te blaker. Ek betaal nie R200 vir ‘n boek as ek reeds 80% van die storie gehoor/gelees het nie. En ek weet daar is skrywers wat met my saamstem, so hoe sal die lesers nie voel nie? Hou daai uiteensettings gerus vir die blokboekmense, maar bied hier steeds relevante inligting aan: Is daar iets in die storie wat uit die skrywer se eie lewe kom? Wat is sy/haar agtergrond? Hoe pas die nuwe boek in die skrywer se bestaande oeuvre of vergelyk dit met ander skrywers se werk? Konteks asseblief, en wys gerus jou superieure kennis op dié manier.

Ook is dit skynbaar moeilik verstaanbaar dat verskillende publikasies verskillende lesersgroepe het en verskillende tipes resensies verwag. In ‘n vakkundige tydskrif sal die leser meer tegniese en indringende uiteensettings verwag as in ‘n streekskoerant. Ditto aangaande die genre wat ter sake is – jou populêre misdaadtipe roman hoef nie diep karakterontwikkelings te hê nie, terwyl jou sg literêre roman soos Marlene van Niekerk dit skryf, juis noukeurige ontleding verdien.

Ook het verskillende publikasies, soos Rapport se destydse Boekeblad, sekere reëls wat aan resensente voorgehou word (die uitgesproke, selfaangestelde hoofskeidsregter van resensente, Crito, is blykbaar daarvan onbewus en het my daaroor aangevat toe ek Sleigh se Afstande volgens voorskrifte moes resenseer), met die gevolg dat ‘n resensent immers ‘n resensie tog anders aanpak as byvoorbeeld vir LitNet. Ook die aantal woorde tot die resensent se beskikking, byvoorbeeld 800 vir die streekskoerant Bolander, teenoor feitlik onbeperk vir LitNet, is ter sake.

Om tot ’n punt te kom: oor JB Roux se resensie van Chanette Paul se nuwe boek: die skrywer wen selde 'n geveg met 'n resensent (nes dit my verstom dat 'n speler met 'n skeidsregter stry), en alle skrywers – ek het ook al – loop een of ander tyd deur onder onsinnige kommentaar van resensente wat nie weet wat “ewewigtigheid” beteken nie, of te lui is om die selfs die voorwoord te lees, of een wat dalk ’n gefrustreerde ongepubliseerde (Facebook-) skrywer is en kwylend op lam én leeu toesak. Geblikte leeus, bygesê.

En dis seker die skrywer se reg om te vra vir voorbeelde van foute wat resensente noem, maar kielhaal my gerus as ek verkeerd is: ek dink nie dis gesond vir die bedryf om lofsangers en “rent-a-crowds” te mobiliseer teen diegene wat jou kritiseer nie. As hierdie strategie mode sou word, sal resensente heeltemal sikofanties begin optree of sal redakteurs eenvoudig te bang wees om kritiese resensies te plaas (dit het immers al gebeur); en dan? Watter prul sal verkoop word aan die lesers, wat dan eerder sal TV kyk as om geld uit te haal vir swak boeke? Perdevye word nie skielik Krugerponde nie.

Dis mos nie so moeilik om dit interessant te hou, die leser te interesseer en te stimuleer om die boek, as dit verdienstelik is, te wil koop nie?

Ja, ons maak almal foute; ek het een maal ’n resensie afgesluit met die wens dat ek die debutant se volgende boek sal kan lees, onwetend dat hy enkele weke tevore oorlede is. Ek dink darem nie hy was geaffronteer nie, maar soos my ou biologie-onnie altyd gelamenteer het: “Give me roses while I’m living.” ’n Bietjie te min, ‘n bietjie te laat, dus, liewe salige skrywer.

Resensente, sal julle asseblief die arme skrywers regverdig behandel, en skrywers, weerhou julle daarvan om wanneer jy dalk een uit 40 maal slae kry, ’n rebellie te ontketen? Want gebrek aan balans lei tot swart kolke en vakuums, waarin jy gesuig kan word of in die buitenste duisternis uitgespoeg kan word. Met die ganse boekbedryf saam met jou, uiteindelik.

Behalwe as jy jou by my wil kom aansluit. Dis koelerig hier buite, maar dis lekker stil en die uitsig is “to die for”.

  • 10

Kommentaar

  • Herman Lategan

    Interessante artikel en ek stem heelhartig saam met jou. Tog wil ek vra wat is so obskuur aan die woord “cisgender”? Dis 'n woord wat gereeld in die oorsese pers gebruik word. Dit is ook 'n woord wat ek al baie raakgehoor het in gesprekke, debatte en by verskeie forums. As ek nie 'n woord ken nie, gaan soek ek hom op. Of in 'n woordeboek, of op Google. Gaan Google "cisgender", dis glad nie obskuur nie. Ons moet oppas om parogiaal te raak. Maar dankie vir die res, ek het jou skrywe geniet.

    • francois verster

      Hallo Herman, 'n skrywer het 'n e-pos aan my gestuur en gevra wat die woord beteken - ek erken ruiterlik: never heard of it. Maar nou dink ek, weet 'n HELE paar mense ook.

  • Koos Holtzhausen

    Die kommentaar geld nie net vir boeke nie, maar ook van opvoerings van enige soort. Ons het die afgelope naweek die verkorte opera Die Entührung aus dem Serail van Mozart in Darling bygewoon en dit baie geniet. Die sang was in Duits en baie goed. Die resitatief is nie aangebied nie en vervang met komiese eietydse dialoog in Engels. Die gehoor het gedink dit was skreeusnaaks.
    In die resensie in Die Burger word toegegee dat die sang goed was, maar die karakters was vlak en daar was nie "karakterontwikkeling" nie. Die dialoog is immers as 'n klug aangebied.
    Resensente is in 'n magtige posisie en kan 'n goeie aanbieding kelder deur ontoepaslike kommentaar.
    Die geheim is dalk om sulke negatiewe kommentaar as 'n opinie te gee en dit nie soos 'n algemene waarheid te laat klink nie.

  • francois verster

    Koos, boeke en doeke (die sort op esels, nie aan babas nie) ken ek, maar ek sal my naam Kimberley maak as ek oor opera kommentaaar lewer - daarom sal ek nooit. Ek stem saam met jou en ek hoop kenners word gevra om oor genres kommentaar te lewer wat hulle goed verstaan. Jy ken seker die anekdote oor Rykie van Reenen en die operastuk ...

  • Carla van der Spuy

    Baie interessant en insiggewend en 'n goeie gedagte dat voornemende resensente kursusse en dus riglyne volg.
    Vir my is dit 'n teken van luiheid as hulle hoofsaaklik 'n opsomming van die inhoud gee. Ek het selfs al gesien dat die uitgewer se opsomming op die buiteblad net so herhaal word.

    • francois verster

      Mense vat wilde kanse, en dis oneties - bowenal sleg vir die bedryf. Ons moet saamwerk om 'n leeskultuur te ontwikkel, nie slaplê, dwarstrek en rugsteek nie. Tog, darem meestal gaan dit goed.

  • De Wet Theron

    Met betrekking tot die mobilisering van lofsangers en "rent-a-crowds" (regtig?) moet ek darem net daarop wys dat dit in die JB Roux geval nie die skrywer was wat mense gevra of "gemobiliseer" het om vir haar in die bresse te tree nie - dit was lesers self. Chanette Paul se houding, sover ek kon agterkom van haar interaksies oor die resensie op Facebook, was grotendeels een van "water op 'n eend se rug".

    Enigiemand het die reg om 'n boek te kritiseer - ek dink beide lesers en skrywers verstaan dit so. Dit was die ongevraagde nydigheid (en in daardie bra oppervlakkige resensie is dit omtrent al wat uitgestaan het) wat mense ongelukkig gemaak het.

    As jy op 'n nasionale platform wil resenseer en jy wil nie 'n hewige teenreaksie hê nie, sorg dat jy 'n weldeurdagte resensie met goed gemotiveerde en regverdige kritiek skryf. Baie min mense gaan daarmee 'n probleem hê.

    • francois verster

      Hallo De Wet, sien asb. my kommentaar op Sophia se stellings, veral i.v.m. die lofsange. Persepsie is alles. Die reaksie van sommige van Paul se ondersteuners het vir my erg melodramaties oorgekom. Soos Black Forest en kaaskoek-vriendinne wat om 'n hartseer maatjie kloek - ek het niks van Paul gesê nie. Oor Roux se kommentaar - hy het gedink die boek is vervelig. Dis sy persoonlike mening. Ander resensente, soos Me. Saltzwedel weer, het 'n oorwegend positiewe mening gelewer, en sy vir een, word as gesaghebbend beskou (ekself het 'n hoe dunk van haar insig). Hopelik kanselleer die positiewes die negatiewe uit.

  • Hallo Francois

    Dankie vir die artikel, dit was interessant en nodig. Maar ek moet tog vir jou sê, dit laat my so 'n bietjie met die idee dat daar 'n gefladder in die hoenderhok is en ek verkneukel my so 'n bietjie daarin.

    Dekades lank het resensente die reg gehad om skrywers en hulle produkte in openbare media aan flarde te trek. Ons ken almal die ou storietjie dat argitekte hulle flaters met klimop kan kamoefleer en dokters hulle s'n kan begrawe; 'n skrywer is aan openbare teregstelling onderwerp sonder enige vermoë om terug te praat. Resensente (en ek verwys hier na die plaaslike en internasionale boekewêreld) is toegelaat om terreurveldtogte te voer, om persoonlike agendas te bevorder, om mededingende skrywers te ondermyn en is as't ware deur die boekeblaaie 'n megafoon in die hand gestop waarmee hulle elke teenstem doodgeskree het. Noudat daar ander platforms is waarop skrywers en lesers kan reageer, en dit wel gebeur, is daar skielik 'n herrie. Hoekom? Wanneer en deur wie is daar bepaal dat 'n skrywer by verstek die submissive in hierdie skeefgetrekte verhouding moet wees?

    Die uitnodiging om jou te kielhaal oor jou uitspraak dat skrywers "lofsangers en 'rent-a-crowds' mobiliseer teen diegene wat [hulle] kritiseer" gaan ek ook nie van die hand wys nie. Dit is nie korrek om te aanvaar dat lesers soos 'n spul gillende groupies gebreinspoel kan word om enige saak te dien nie. Hulle het menings van hulle eie en spreek dit uit. Hulle mag. Hulle gaan weer. Nie ek of jy gaan hulle keer nie. So eenvoudig.

    Om hierdie hele saak en die skade wat dit die bedryf kan berokken voor ontevrede lesers en skrywers se deur te wil lê, is gewoon onbillik. (En die vakuum en buitenste literêre duisternis is nou ook nie meer 'n dreigement waarvoor ek skrik nie; ek is lankal daar en dit skeel my niks.) As mense vir jou sê daar is 'n probleem, help dit nie jy maak hulle stil en dink jy het die situasie opgelos nie. Die probleem is die probleem, nie mense se reaksie daarop nie. Los die probleem op, dan hoef jy nie die reaksie te probeer onderdruk nie.

    Ek stem saam met jou: balans is nodig. Miskien is ons, ná hierdie kantelpunt, uiteindelik op pad daarheen.

    Groetnis

    Sophia Kapp

  • francois verster

    Hallo Sophia, soos jy sê, hoop ons dit kan beter gaan vorentoe. Kuns gaan immers hoofsaaklik oor persepsie, en reaksies is meestal erg subjektief - jy weet mos - en dit kan maklik gebeur dat die reputasie van die skrywer geskaad word, en niks positief daaruit kom nie - dis basies wat ek bedoel het. En ek het ook nie die resensent se kant gekies nie, my simpatie neig altyd na die skrywer se kant, met die oorheersende gedagte van die diens aan die leser. Wanneer ek van juigkommandos en rent-a-crowds praat, praat ek juis van persepsie - watter gevolgtrekking maak die publiek? Ek ken nie vir Roux of Paul nie, ek gee ook nie om of een spesifieke skrywer 'n miljoen boeke verkoop nie, en dink aan die bedryf in sy geheel. Ek glo ons almal moet en wil waak oor Afrikaanse boekebedryf, wat steeds besonder goed vaar onder omstandighede, maar juis omdat so baie mense dit aktief wil bevorder - ons lesers verdien ook niks minder nie, want hulle is relatief min, maar haal steeds baie geld uit om ons boeke te koop Ons weet hierdie min lesers koop elkeen baie boeke en hulle moet opmaak vir al die TV-verslaafdes en rekenaarspeletjie-aanhangers. Groete, F

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top