In memoriam: Anton Prinsloo

  • 2

Anton Prinsloo (foto: WAT)

Ons drie, almal oud-Taalkommissiekollegas van Anton, betreur die heengaan van ons vriend en kollega.

Ernst Kotzé

Frikkie Lombard

Tom McLachlan


  • Ernst Kotzé skryf:

Anton Prinsloo se afsterwe is ʼn terugslag vir die Afrikaanse taalgemeenskap, wat oor baie jare die voordeel van sy kundigheid kon benut. Ons taalpad saam het begin in Junie 1992, toe hy reeds lid was van die Taalkommissie, en ek as groentjie my eerste TK-sitting in die Raadskantoor van die SAUK bygewoon het. Où sont les neiges d’antan? Nadat Johan Combrink, die taalreus van sy tyd, ons ontval het, het hy met onderskeiding as voorsitter leiding geneem, en ʼn kleurryke tradisie voortgesit, onder andere ook deur doelbewus beslag te gee aan die diversiteit van taalmense in die Afrikaanse taalgemeenskap, in sowel die teorie as die praktyk. Daar sal nog veel oor Anton se reusebydrae tot die optekening van die ryke verskeidenheid van Afrikaans gesê (kan) word, maar hier wil ek maar eers net my hoed lig vir ʼn grote wat verbygaan. Sy nalatenskap is kosbaar vir almal wat die taal liefhet en erns maak daarmee.

  • Frikkie Lombard reageer so, ook namens die WAT:

Ek en die personeel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) betreur die afsterwe van Anton Prinsloo. Anton het ’n paar jaar lank by die WAT gewerk voordat hy landwyd as hooftaaladviseur van die SAUK, omroeper en radioman bekend geword het.

Anton is op 1 April 1985 as senior mederedakteur by die WAT aangestel en het die pos tot 31 Augustus 1987 beklee. Tydens sy jare in Stellenbosch het hy sy doktorsgraad aan Unisa verwerf. As kollega het ’n mens algaande bewus geword van sy breë algemene kennis, sy suiwer taalaanvoeling en sy kenmerkende sin vir humor. Anton was baie goed onderlê in die teoretiese en toegepaste taalkunde. Hy het ook die WAT se taalnavrae gehanteer en het gesaghebbende taalvoorligting aan navraers gegee. Anton het ook skakelwerk vir die WAT gedoen, en met sy afgeronde menslikheid en gemaklike omgang het hy baie vriende vir die WAT gewen.

Nadat Anton by die SAUK begin werk het, het hy die Afrikaanse taal op ’n wye front gedien. Die ervaring wat hy as leksikograaf opgedoen het, was duidelik sigbaar in baie publikasies wat oor die jare verskyn het, onder andere die grootse werk Annerlike Afrikaans. Anton was ook as outeur betrokke by een van die WAT se satellietpublikasies, die Etimologiewoordeboek van Afrikaans Supplement, en het tot sy afsterwe opgetree as redakteur van die nuwe, bygewerkte Etimologiewoordeboek, wat binnekort sou verskyn. Daarbenewens het ook boeke soos Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom; Sleng: Woorde, uitdrukkings en hul herkoms; ʼn Dief aan die kers: Skelm woorde deur die eeue; Die aap in jou koffie: Afrikaanse eponieme van A tot Z en Feite, flaters en fiksie: ʼn Opgaaf van die ware, die onware en die onwaarskynlike uit sy pen verskyn, asook die outobiografiese 13 klutse kwyt: Van Saambou tot die SAUK.

Ek, en ons, eer sy gedagtenis en onthou hom as ’n wonderlike kollega en ’n groot gees. Ons gedagtes en gebede is by Fieda en die kinders.

  • Tom McLachlan skryf:

My oud-TK-kollega en, bowenal, my vriend Anton Prinsloo sou geweet het hoekom ek sê hy’t geaf, hy’t witbeentjies gemaak, hy’t losgegespe, hy’t afgegespe, want danksy sy ondernemingsgees is hierdie annerlik Afrikaanse juweeltjies vir die nageslag te boek gestel – ʼn klein deeltjie van hierdie merkwaardige mens se nalatenskap.

Ek het die groot voorreg gehad om baie jare saam met Anton in die Taalkommissie te dien. Hy was reeds ʼn senior lid toe ek as groentjie ingekom het; later was hy ondervoorsitter en toe voorsitter. Daar het nie een sitting verbygegaan waarop ek my nie verstom het aan die breedte van die man se kennis nie, veral van Afrikaans in al sy vorme, maar ook sy verstommende algemene kennis. Daarvan getuig ook die publikasies wat uit sy pen verskyn het.

Anton het ʼn mens nooit laat voel dat jy sy mindere is nie, maar ek kon nie anders as om ietwat klein te voel voor wat die man alles geweet het nie. Hy was taalpraktisyn, radioman, leksikograaf, optekenaar van die vreemde en die eienaardige, etimoloog, delwer in die taalgeskiedenis, kenner van die letterkunde, die kunste, die musiek. En by dit alles ʼn raconteur van formaat. En so vlymskerp soos ʼn goedgeslypte Josef Rooigjert. Hy kon nie net oor omtrent enige onderwerp sinvol saampraat nie, maar kon ook ʼn geselskap ure lank ophelder met sy stories.

Anton was, by my wete, die eerste Taalkommissie-voorsitter wat nie voltyds in die akademie gestaan het nie. Ná Johan Combrink se ontydige dood het Anton naatloos oorgeneem en onder sy leiding het die 9de uitgawe van die AWS – wat ons die Bont Boek genoem het – verskyn, ʼn uitgawe wat vele vernuwings ingevoer het. Dit was ʼn voorreg om onder sy voorsitterskap te werk.

Ek hoop nie ouderdom of Alzheimers ontneem my ooit die herinneringe aan Anton nie, want my lewe is breed verryk deur sy kollegialiteit en kennis, sy vriendskap – trouens, sy hele menswees. Hy kon waarlik mooi Afrikaans praat.

Requiem aeternam dona ei, Domine, et lux perpetua luceat ei.

  • 2

Kommentaar

  • Celesté Fritze

    Die biblioteek van dr Anton Prinsloo se aardse bestaan het gesluit, maar sy nagedagtenis sal op taalpraktisyns se boekrakke bly voortleef. Afrikaans was jou erns. RIV.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top