Ope brief aan die rektor van die Universiteit van Pretoria

  • 29

Geagte professor De la Rey

Ons het mekaar nog nie ontmoet nie. Volgens alle getuienis is u ’n goeie luisteraar wat onder groot druk daarna streef om my alma mater, die Universiteit van Pretoria, op ’n inklusiewe basis te lei. Ek neem dus die vrymoedigheid om hierdie brief aan u te rig.

Professor, as u my dit sal veroorloof: ek was in 1989 ’n eerstejaar aan die UP. Feitlik op die dag vandag, op ’n Saterdag einde Februarie 1989, was ek in die eerste ry toe die musikante van die Voëlvry-beweging die Masker-teater gerock het in Afrikaans uit protes teen die verwerplike apartheidsbestel. Danksy Johannes Kerkorrel en die ander musikante op die verhoog het die woorde “kultuur” en “Afrikaner” daardie aand die eerste keer vir my iets beteken. Ook Afrikaans was nooit weer daarna vir my dieselfde nie. Ek moes enkele dae later op die verhoog van ’n stampvol Aula by ’n massavergadering praat teen ’n mosie wat die organiseerders van die Voëlvrykonsert, Studente vir ’n Demokratiese Samelewing, van die kampus wou verban.

Twee jaar later was ek meters van die verhoog af in die Amfiteater om te luister hoe ’n vrygelate Nelson Mandela ons kom toespreek. Dit het nooit gebeur nie, want belhamels van buite die universiteit het met ’n uitgewerkte plan die verhoog bestorm en Mandela verjaag. ’n Paar dae later moes ek by ’n massavergadering in die LC de Villiers-sentrum praat ten gunste van ’n mosie om die regse studenteorganisasies agter die insident van die kampus te skors – dit terwyl die destydse Perdeby-redakteur, wat vir my gesê het “Ons gaan hierdie regses opf**”, op die massavergadering omgeswaai en die regse organisasies verdedig het. Later is op kampus geskinder dat hy dalk lid van die Nasionale Intelligensiediens was, maar dit kon nie gestaaf word nie.

U sien dus, Professor, dat my band met die UP gesmee is in tye van soortgelyke onstuimigheid as wat u as rektor tans trotseer. Destyds was die grootste bron van onstuimigheid op Tuks die onderdrukking van my geslag deur die regering wat in ons naam gehandel het, terwyl die groeiende koor van ’n verdrukte land buite ons kampus al hoe duideliker gehoor kon word. So, Professor, moes vele van ons ook onder moeilike omstandighede opstaan teen bestuurslede van die UP wat nie werklik na ons geluister het nie, en sodoende die instelling in groter konflik gedompel het.

Professor, ek het tot ’n week gelede nie gedink sulke tonele sou hulle weer by my alma mater afspeel nie. Ongelukkig het dit nou gebeur. En nou, Professor, moes ’n mens in die media verneem van aantygings dat voorgestelde wysigings deur die taakspan wat Tuks se taalbeleid hersien, “wat deur die rektor deurgegee is asof dit die voorstelle van die taakspan is, ʼn wanvoorstelling [is]”. So lees ek ook: “Prof Norman Duncan, die UP se viserektor: akademies, het in ’n e-pos erken dat die senaat die taakgroep se aanbevelings gewysig het tot Engels as me­dium.”

Professor, as hierdie ernstige aantygings waar is, is u en u bestuurspan besig om u goeie reputasie as inklusiewe luisteraar te ondermyn. Dit kan u en die UP tog net enorme skade berokken.

Ek verneem ook dat u gister in die media erken het dat die moontlikheid van elemente van ’n derde mag wat agter van die betogings aan die UP sit, nie uitgesluit kan word nie. Professor, wat u so diplomaties stel, kan ons seker maar reguit hier vir mekaar sê: Almal weet gerugte doen sedert verlede November die ronde dat die EFF beplan om ons land in aanloop tot die munisipale verkiesing op verskeie terreine te destabiliseer – die parlement, banke, universiteite. Volgens my inligting, Professor, voer die EFF by Tuks letterlik bendes oproeriges van arm gebiede na Tuks in om te kom betoog. Ook volgens my inligting is die EFF-tak op Tuks maar ’n handjievol mense.

Professor, ewe min as wat belhamels van buite die kampus in my derde jaar toegelaat kon word om Mandela en enigiemand anders se stem aan die UP stil te maak, net so min kan u vandag toelaat dat ’n nuwe geslag belhamels Afrikaans stil maak en tot sondebok maak vir hulle eie woede teen ’n nuwe bedeling wat hulle en hul ondersteuners in die steek gelaat het. Dat hulle in die steek gelaat is, is ’n skandvlek op die nuwe bedeling, en die woede van die uitgeslotenes behoort ons almal se uitdaging te wees.

Maar Professor, deur Afrikaanse studente uit te sluit kan u tog nie hoop om die woedende uitgeslotenes tegemoet te kom nie? Soveel as wat ek met hulle woede simpatiseer, soveel is dit tog duidelik dat ons hier te doen het met ’n fascistiese beweging wat met klassieke revolusionêre metodes probeer om die burgery in ’n staat van paniek te dompel. Almal van ons wat mense van die middelgrond is, almal van ons wat brûe probeer bou, Professor, moet nou die ruggraat hê om die opstokers wat die uitgeslotenes se geldige woede probeer misbruik om op ondemokratiese wyse beheer van instellings te neem, teen te staan. Dit is ons plig, want ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die meerderheid gematigde mense van ons land wat weet dat net as ons mekaar erken, kan ons saam oorleef.

Daarom doen ek hiermee ’n beroep op u en die Raad van Tuks, wat môre vergader oor die UP se taalbeleid, om die nodige stappe te doen om die hersiening van die taalbeleid weer op die regte pad te plaas. Verseker asseblief dat die Afrikaans waarvoor die Voëlvrymusikante gestaan het, die Afrikaans wat ek lief het saam met die ander tale van ons land, haar rol as opvoeder en brugbouer aan Tuks kan bly speel. Gebeur dit nie, sal die boodskap hard en duidelik wees: Afrikaans as akademiese taal het nie ’n plek aan die universiteite van die Suid-Afrika wat apartheid vervang het nie.

Waarheen sal ons dan met Afrikaans? En watter soort land sal dit wees wat nie haar Afrikaanse burgers wil toelaat om in hulle taal voorberei te word om as burgers ons land die diverse wonder te help maak wat sy kan wees nie?

Met vriendelike groete

Johann Rossouw

Bloemfontein

Vrydag 26 Februarie 2016

  • 29

Kommentaar

  • Johann, is dit nie ironies dat dit wat die "verkrampte" regses destyds voorspel het sal gebeur onder meerderheidsregering nou juis besig is om gestalte te kry nie? Daar is baie goeie en gematigde swart mense en studente wat sekerlik nie hierdie optredes op kampusse steun nie, maar tog is hulle onheilspellend stil. Mnr, jou argumente gaan op dowe ore val, want jy is wit. Jou liberale verlede dra ongelukkig ook maar weinig gewig. Ons weet mos nou al lankal dat dit in die Afrika-kultuur as swakheid beskou word. In plaas daarvan dat die heilige Mnr Mandela en vele ander klem moes plaas op die individualiteit van SA se volke en kulture sonder om rassisme agter elke bos te sien skuil het hulle ons in n reënboog probeer inforseer. En hoe klaaglik misluk dit darem nie nou nie.

  • Johann jy verwoord op 'n sinvolle en elegante wyse die waarheid van wat ons tans in die land ervaar. Waarom die universiteitsowerhede so gretig is om Afrikaans af te skaf op die aandrang van 'n relatiewe klein groepie oproerige vandaliste gaan my verstand te bowe.

  • Avatar
    Hennie van Deventer

    Onderskryf graag veral die slotsin: "En watter soort land sal dit wees wat nie haar Afrikaanse burgers wil toelaat om in hulle taal voorberei te word om as burgers ons land die diverse wonder te help maak wat sy kan wees nie?" Dankie, Johann Rossouw, van ouer oud-Tukkie (eerstejaar in 1958).

  • Avatar
    ben van bruggen

    Johan is reg. Dis die EFF wat in ’n verkiesingsjaar vuil/slim opereer, maar in stede daarvan dat slim Afrikaners soos Johan terugstaan en al die feite oorweeg, kom hy ook met n emosionele agenda. "Waar sal ons dan wees as Afrikaners nie toegelaat word om hulself in Afrikaans voor te berei om hierdie wonderlike land te dien nie?" is ’n poging om met die EFF mee te ding oor wie is die grootse slagoffer. Me, the victim. Dit gaan nie oor Afrikaanse studente wat nie die mas sal opkom as hulle nie in hul moedertaal onderrig word nie. Swart studente het ’n hengse akademiese agterstand. Hulle gaan nie die mas opkom nie. Hulle soek verskonings. Afrikaners moenie hulself as die sondebok aanbied nie. Malema lag al die pad. ’n Groter rol is sy voorland, want teenoor Malema is Johan ’n beginner. Moet professor de la Rey die EFF met private sekuriteit moker? Dis net wat die EFF kort om ’n heldhaftige, martelaarsbeeld te bou. Johan wil die Afrikaner terugplaas in die muishondstatus van 1980's.

  • Avatar
    Anton Van Zyl

    Liewe lesers. Neem enigiemand kennis dat Tuks met Engelse geld gestig is? Dit staan vir Transvaal University College. Anyway. Afrikaans sal nooit verdwyn as taal nie, ten Minste 500 000 praat dit in Engeland, en miljoene in SA. Meeste van my swattings was in Engels, dit het baie gehelp waar ek nou bly, en soos julle kan sien is my Afrikaans nog goed. Die wat aandring op net Engels doen hulself skade aan. Go Prof de la Rey.

  • Avatar
    Naòmi Morgan

    Daar is baie wat die gebrek aan leierskap op alle vlakke by Suid-Afrikaanse universiteite betreur. Dit is daarom verblydend dat daar denkers van die kaliber van Johann Rossouw is wat besef hierdie is ons Parys 1968 en dat akademici moet standpunt inneem, ook om die leierloses hoop te gee.

  • Wat 'n mondvol van 'n man wat die stryd help stry het. Ek wil ook net 'n stuiwer ingooi. Ons kan nie toelaat dat groepe van buite universiteite hul wil afdruk op studente wat hulself wil ophef nie.

  • Jou punt goed gestel Johann. Of die tannie sal luister weet ek egter nie." Volstruis -in- die- grond- houding as dinge nie hul agenda pas nie.

  • Avatar
    Marietjie Luyt

    Hier is my brief wat ek vanoggend vroeg aan prof De la Rey gerig het. In Engels, want dalkies verstaan sy nie Afrikaans nie.
    Dear Prof de la Rey
    The University of Pretoria cannot simply acquiesce to the aggressive demands of the EFF to have Afrikaans abolished as a language of instruction at UP. Or to get rid of all vestiges of Afrikaners and their language at Tuks. (Of course, more people of colour than whites speak Afrikaans at home, but that seems to be besides the point, nowadays.)
    Doing so - ie obeying the demands and commands of the "Brownshirts" of the EFF - would make the University no different from the German universities in the 1930s, who enthusiastically collaborated in ejecting Jews and other 'undesirables' from their campuses.
    What on earth happened to the ideals of multiculturalism, of diversity, of language rights? In terms of our Constitution, English is NOT the only official language of South Africa.
    What would Neville Alexander, that South African prophet of multilingualism, have had to say about the University's decision to kill a language of learning and science?
    Are you in fact familiar with Alexander's ideas? Here is a start: http://www.scielo.org.za/scielo.php
    Does the University still believe in academic freedom? Or has it ceded that long-standing principle to the Honourable Minister of Higher Education following the ‪#‎feesmustfall‬ debacle?
    Prejudice, fear and the urge to conform are not really admirable qualities. Be admirable.
    Yours sincerely
    Marie Luyt

  • As ek nou twak gelees het, dan is hierdie dit. Ou vriend, hier by ons in Namibië is Engels die amptelike landstaal en prakties die beste opsie want Engels is die internasionale taal, die een waarin besigheid gedoen word. Waarom iemand dwing om in Afrikaans te studeer en in sy werkplek moet hy oorskakel na Engels toe? Onafgesien ons Engelse landstaal, staan Afrikaans as gebruikstaal onder die mense al sterker en sterker.

  • Is die Universiteit Pretoria nie verbind om studente se klasse aan te bied in die taal toe hulle geregistreer het en ons juis Tukkies gekies het omdat die kursus in Afrikaans aangebied word nie? Kan 'n taalbeleid verander word in 'n student se derde of honeursjaar.

  • Avatar
    Zondra Hoffmann

    Absoluut op die man af. Die EFF, ANCYL, PAC, SASCO en AZAPO het almal 'n bydrae wat hier gemaak word, en hoe daar arrogant vernietig en gebrand word, is baie duidelik wat hulle in die mou voer. So dis nie 'n "onbekende 3de mag" nie - dis lokaal onder ons neuse, en ons weet waar dit begin het.

  • Avatar
    estelle labuschagne

    Ek stem saan met Johan Rossouw. Dis onaanvaarbaar dat daar 'n proses plaasvind waar die rektor stilletjies probeer om 'n groep wat duidelik daarop uit is om konflik aan te blaas en revolusionêre oogmerke het, te paai om Afrikaans uit te skakel. Dis myns insiens net die eerste stap in 'n reeks eise waaraan niemand later sal kan voldoen nie. Dit is nodig dat die universiteite NOU hul voet neersit en dat Min Nzimande hulle ondersteun.

  • Avatar
    Beulah Jacobs

    Ek glo Johann Rossouw dat jou brief die woorde en sugtinge van die meerderheid van ons Afrikaanssprekende mense is. Beter sou ek dit self nie kon stel nie. Ons kan net bid dat daar ag geslaan sal word op jou brief en reg en geregtigheid sal geskied vir ons land, bestaansreg van Afrikaans en ons studente (ons toekoms) en Opvoedkunde se behoud. Dankie vir jou skrywe.

  • Avatar
    Bessie de Kock

    My goeie genade
    Ek het gedink slim mense soos die Professor en sy mede-kolegas het breins. Baie daarvan.
    Maar nou maak hulle soos laerskoolkinders. Jy is nie aan my kant nie, dan speel ek nie met jou nie.
    Ons noem dit klieks.
    My St5 onderwyser het klieks aan boord by Worcester-Noord Laerskool verban. Summier verban.
    Almal staan saam en speel met mekaar, of daar word streng opgetree.
    R I V Mnr Appel.

  • Avatar
    Susan Du Toit

    Om op te staan vir Afrikaans beteken nie ons is bang dit sal uitsterf nie. Dit sal nie. Dit gaan oor mense, die ontsluiting van kennis vaardighede ,die bereiking van lewensideale en kweking van goeie landsburgers wat ekonomiese bydraes kan lewer. Vir baie is dit net moontlik as hulle dit in hul moedertaal kan doen. Sien daagliks hoe swart leerders sukkel om skriftelike insigvrae te verwoord in Engels. Dis hartverskeurend om te weet soveel jongmense loop werkloos rond omdat hulle net nie die mas kon opkom in hul tweede taal.

  • Avatar
    Marius Coetser

    Dit kan nie beter gestel word nie, die beheerliggame praat self Afrikaans. Kom hulle die kwaadstokers tegemoet om hulle self en hul poste te beskerm? Ek skaam my. Klink soos nog 'n Kodesa.

  • Avatar
    Marietjie Luyt

    Skrap maar die vorige brief. Volgens berigte in vandag se Rapport, het prof De la Rey inderdaad aangedui dat UP tog nie aan die eise van die EFF ten aansien van die taalbeleid gaan voldoen nie.

    Baie dankie

    Marietjie Luyt

  • Avatar
    Marietjie Luyt

    Aag, watwo. Plaas maar. Het nog nie die analogie met die Duitse universiteite van die 1930's elders gesien nie.
    Groete,
    Marietjie Luyt

  • Avatar
    Heinie Heydenrych

    Ek stem volmondig saam. Daar word te veel deur univesteitsbesture gehensop voor geweldadige proteste van mense wat soms in busvragte van elders ingery word en van die onredelike en aanmatigende eise van Open Stellenbosch. Ons het in die verlede gefouteer ja, maar moenie dat ons nou na die teenoorgestelde kant foute maak nie. Afrikaans se skat van literatuur kan nie nou sommer oorboord gegooi word nie, want dan is ons almal armer, ook diegene wat nou geweldadig protesteer.

  • Avatar
    Johannes Dippenaar

    Soos altyd skryf Johann ’n goed beredeneerde betoog. Ek is is bevrees op die lange duur is dit alles verniet. Die oormag teen Afrikaans is te groot en daar speel baie Afrikaanssprekendes ,soos in een van bg skrywes gesien kan word, ’n baie groot rol. Daar is net een uitweg vir die behoud van Afrikaans: ’n Afrikaanse privaat-universiteit (moontlik twee, een in die noorde en een in die Wes-Kaap) moet gestig word. Baie Afrikaners redeneer ook dat die taal se voortbestaan nie daarvan afhang of daar Afrikaanse skole en universiteite is of nie. Ek is bevrees die tyd sal hulle verkeerd bewys. Dit is onmoontlik vir ’n taal om voort te bestaan sonder ’n hoër funksie.

  • Avatar
    Hendrik Slabbert

    Akademia in Centurion is alreeds 'n private Afrikaanse universiteit. Net jammer Afrikaans word nie as vak aangebied nie; met verkieslik 'n tweesemester Nederlandse taal- en-literatuur been, asook een termyn aanleer van Deens (helpende handjie vir diegene wat oorsee "au pair", of ernstiger studie oorweeg).
    En waar is die ryk Afrikaner-sakemanne dat hul nie hul beursie skud vir 'n Afrikaans-leerstoel by Akademia en ook om nog verdere private Afrikaansonderrig-medium instansies tot stand te bring? Hoeveel private universiteite is nie in Turkye deur sakemanne gestig nie! En ons moes lankal ook Turkse studente gewerf het om Afrikaans in Suid-Afrika te kom leer. Hulle taal het al die klanke, is foneties, engebaseer op letter-vir-letteruitspraak. Gevolglik is Afrikaans-aanleer 'n maklike vaardigheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top