Ongelykhede in taal en onderwys – perspektiewe op moedertaalonderrig in Suid-Afrika

  • 9

Verkorte en aangepaste weergawe van ʼn Engelstalige lesing aan Unisa gelewer op 18 Februarie 2016 ter herdenking van Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie 2016)

theoduplessis_oplitnetDie bykans anglomaniese gees wat sommige voormalige Afrikaanstalige universiteite beetgepak het, word deur verbete veldtogvoerders, gedweë meelopers en oorweldigde simpatiseerders voorgehou as ʼn noodsaaklike stap om ʼn ongelyke bestel in tersiêre onderwys reg te stel. Hulle voer aan dat hierdie ongelykheid grootliks teweeggebring word deur die gebruik van Afrikaans as alternatiewe onderwystaal waardeur die “bevoorregting” van Afrikaanssprekendes (hulle bedoel natuurlik die Afrikanerminderheid) “onregmatig” voortgesit word.

Vereenvoudig gestel, hou hulle argument in dat Afrikanerstudente “bevoordeel” word deur onderrig in hulle moedertaal (meestal deur moedertaaldosente) te ontvang wat meebring dat hulle derhalwe oorwegend beter aan universiteit presteer as swart studente wat deur medium van Engels, meestal hulle tweede of derde taal, onderrig word. Om hierdie ongelykheid reg te stel, dring onse Slegs Engels-aktiviste aan op “gelykmaking” wat volgens hulle teweeggebring kan word deur Afrikaans as voertaal aan universiteite te verwyder.

Omdat van die beter ingeligtes onder diesulkes die belaglikheid van hierdie voorstel insien – die afskaffing van Afrikaans verander vanselfsprekend nie ʼn duit aan die onderprestasie van swart studente nie – voeg hulle dan allerlei moraliteitsargumente tot die gelykmakingsvoorstel toe. Ons het oor die afgelope jaar of so gereeld moes aanhoor dat ʼn Afrikaanse voertaalbaan eintlik ʼn voortsetting is van apartheid, dat dit rassisme vertroetel en aanwakker en “wit” bevoorregting bly aanmoedig.

Vergete is die feit dat ʼn taalskikking in wese deel vorm van die grondwetlike skikking van 1993 waardeur Suid-Afrika nasionale vrede in die land bewerkstellig het. Hierdie taalskikking hou in dat Afrikaans nie as ampstaal verwyder sal word nie en dat Afrikaans steeds as voertaal aan skole en universiteite gebruik sal bly word, uiteraard onderhewig aan ʼn aantal “nuwe” en regstellende voorwaardes.

Vergete is die feit dat die meertalige taalbeleidsraamwerk vir universiteite wat in 2002 van krag geraak het, hierdie sentimente eggo en daarom Afrikaans as alternatiewe voertaal (naas Engels) aan universiteite bekragtig tot tyd en wyl die land se ander ampstale tot op hierdie vlak ontwikkel is.

Vergete is die feit dat die groeiende aantal Engelsmoedertaalstudente aan “stabieler” voormalige Afrikaanstalige universiteite al die pad deur die Slegs Engels-veldtog bevoordeel word, wat by implikasie impliseer dat hulle oor ʼn paar jaar die nuwe teiken van die argwaan van ontevrede en benadeelde swart studente gaan word. (Engelstalige studente vorm al meer as 20% van die studentebevolking aan van die voormalige Afrikaanse universiteite, ʼn noemenswaardige minderheid.)

Vergete is ook die feit dat reëlings omtrent taalminderhede, veral wat betref die onderrigsituasie, ʼn internasionale verskynsel is en tekenend is van verdraagsame samelewings, soos ons sien in Switserland (met die Romaanse taalminderheid), België (met die Duitse taalminderheid), in Israel (met die Arabiese minderheid) ens.

In gevalle waar aksies teen taalminderhede gevoer word, min of meer op die trant wat tans by ons in Suid-Afrika voorkom, het ons te make met onverdraagsame samelewings en kry ons selfs taalverdrukking en taaldwang. Dit sien ons daagliks gebeur in die Baltiese state, waar die Russiese minderheid (en voormalige heerser) ʼn intense stryd moet voer om voorregte en regte vir hulle taal te bly behou, en in Turkye, waar die Koerdiese minderheid selfs na die wapen moet gryp om hulle taalregte op te eis.

Een van die besonder ontstellende aspekte omtrent die huidige vlaag van bykans Engels-besetenheid aan Suid-Afrikaanse kampusse is die feit dat die beheptheid met die verwydering van Afrikaans as voertaal ons aandag aflei van ʼn veel groter nasionale krisis. Hierdie krisis het te make met die onvoorstelbare onderprestasie op skool van Suid-Afrikaanse leerders. Volgens die Children’s Institute aan die Universiteit van Kaapstad se jongste Child Gauge-verslag (Volksblad het in 2015 ʼn berig hieroor gedra) is die onderprestasie van veral swart skoolgangers so groot dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hulle “bevoorregte” eweknieë is. Ons praat dus hier van ʼn soort sistemiese ongelykheid wat universiteite in werklikheid erf.

Eenvoudig gestel, ʼn gemiddelde swart student en ʼn gemiddelde Afrikanerstudent spring reeds in hulle eerste jaar aan universiteit nie gelyk weg nie.

Dit illustreer my punt waarom die verwydering van Afrikaans uit die prentjie niks aan die situasie van die swart student verander nie. Hoe maak dit die vyfjaaragterstand van die swart student op?

Een of ander “voorgee”-stelsel sou meer van pas gewees het, maar natuurlik gaan dit ons nie help om akademiese uitnemendheid te bevorder nie.

Ikeys se Child Gauge-verslag wys op basis van beskikbare internasionale inligting verder daarop dat 41% van plattelandse leerders in Suid-Afrika funksioneel ongeletterd is en dat ons graad 6-leerders (swart leerders ontvang moedertaalonderrig tot graad 4) swakker presteer wat geletterdheid betref as dié van hulle eweknieë in armer lande in Afrika. Ofskoon moedertaalonderrig hierin ʼn rol speel, wys die betrokke onderprestasie ook op ander sistemiese tekortkominge.

Die verslag herinner ons egter aan ander internasionale toetse waarin Suid-Afrikaanse leerders uiters swak presteer. So toon die 2011-uitslae van die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) dat 50% van die sprekers van Tsonga, Venda en Pedi byvoorbeeld teen die einde van graad 4 nie kan lees nie, teenoor 11% van Engelse en Afrikaanse kinders wat dan ook nie kan lees nie. Hierdie kinders, wys die Child Gauge-verslag uit, kan dus nie op ʼn sinvolle wyse met die skoolkurrikulum omgaan nie.

Suid-Afrika se uitslae in Pirls groepeer ons onder die laaste vyf lande, saam met (maar steeds onder) lande soos Botswana en Colombië (Volksblad het ook hieroor al berig.)

Hierdie soort inligting dui op kognitiewe ongelykhede wat voorkom onder Suid-Afrikaanse kinders wat, hoe skrikwekkend dit mag klink, byna op ʼn rassebasis omlyn word. Dit gaan dus oor ongelykhede wat betref kritieke kennis en vaardighede in taal, wiskunde en wetenskap. Die feit dat bykans 30% van onderskeidings in wiskunde in die 2015-eindeksamen deur die nagenoeg 5% Afrikaanstalige hoërskole geregistreer is, beklemtoon hierdie ongelykheid net verder. Dit bevestig verder die verband tussen moedertaalonderrig en skoolprestasie, maar ook die nadelige rol van Engels as taal van onderrig en leer.

Reeds sedert die sewentigerjare van die vorige eeu wys gesiene internasionale navorsers op twee belangrike aspekte omtrent taal in die onderwys, te wete (i) die belang van die behoud van die moedertaal (of eerste taal; in Suid-Afrika praat ons onderwysdepartement van huistaal) vir so lank as moontlik binne die onderwyssituasie en (ii) die belang van twee- of meertalige vaardighede. Jim Cummins, ‘n Kanadese wêreldleier op die terrein van tweetalige onderwys, het hoeka die kritieke verband tussen tweetaligheid en kognitiewe ontwikkeling vasgelê. Kinders het die moedertaal broodnodig om kognitiewe ontwikkeling te verseker, veral kinders wat aan verskillende vorme van benadeling blootgestel word of wat uit minderheidstaalgroepe kom. Hy en ʼn swetterjoel ander navorsers het al lankal bo alle twyfel vasgestel dat die te vroeë oorskakeling na ʼn onderrigmedium wat nie die moedertaal is nie, en sonder die behoud van die moedertaal in die onderwyssituasie (soos wat met swart skoliere by ons gebeur), eintlik katastrofiese gevolge vir die kognitiewe ontwikkeling van sulke kinders inhou. Hierdie kinders kan uiteindelik intellektueel en akademies gesproke gewoon nie kers vashou by kinders wat die voorreg van langdurige moedertaalgebaseerde onderwys geniet het nie.

Vergelyk nou die Suid-Afrikaanse situasie teen die agtergrond van hierdie bewese navorsing en dit verras ʼn mens nie dat swart studente gefrustreerd begin raak met die feit dat hulle eenvoudig nie op gelyke voet kan meeding met Afrikaanse en Engelse studente wat hulle skoolloopbaan in die moedertaal voltooi nie. Ongelukkig kanaliseer hulle nou hierdie frustrasie na Afrikaners en sogenaamde wit bevoorregting sonder om dieper te delf en na die werklike bron van hulle agterstand te soek.

Daarby moet ons ook nog in berekening bring die soms haglike omstandighede waaronder die meeste swart kinders daagliks moet skoolgaan en die mislukking van die onderwysowerhede om na meer as 20 jaar enigiets aan die lot van hierdie studente te verander.

Ironies genoeg erken die onderwysowerhede die ingeboude agterstand van leerders met ander tale as Afrikaans en Engels as moedertale deur die 5%-kompensasie (eintlik “voorgee”) wat aan hulle verleen word vir elke eksamenvak wat in hulle in een van hierdie twee tale moet skryf. Nogtans help selfs hierdie toegewing nie om die kritieke agterstande van swart leerders te oorbrug nie, omdat die werklike probleem nie onder die loep geneem word nie.

Heelwat studies oor die swak prestasie van swart studente op universiteit en oor die hoë uitvalkoers onder hierdie studente het al nader aan die kern van die probleem begin beweeg. ʼn 2013-oorsigartikel deur Nelda Mouton, Gabriel Louw en Gert Strydom verbonde aan die Noordwes-Universiteit identifiseer op basis van bestaande navorsing taal (spesifiek gebrekkige kennis van Engels as voertaal) as een van die belangrike faktore wat sukses aan universiteit beïnvloed. Trouens, dit blyk uit navorsingsverslae waarna verwys word dat 77% van studente wat by universiteite uitval, probleme met Engels as taal van onderrig en leer uitwys as die hoofrede waarom hulle hul studies staak. Ook gebrekkige vaardighede om tekste analities te kan lees, ʼn hoë-orde-vaardigheid waarby tersiêre onderrig staan en val, dra volgens ander navorsers na wie hulle verwys by tot studente se mislukking in bepaalde kursusse. Die korpus studies in hierdie verband bly jaarliks groei.

Teen hierdie agtergrond kan ʼn mens nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die huidige opwelling oor die magiese voordele van Engels as enigste voertaal aan Suid-Afrikaanse universiteite te wyte is aan ideologiese verblinding. Dit wil amper lyk asof die betrokke veldtogvoerders se haat vir Afrikaans en Afrikaners so oorweldigend is dat hulle bereid is om hul oë te sluit vir die feit dat ʼn Slegs Engels-beleid op geen manier bydra tot die uitwissing van die agterstande van die meerderheid swart studente nie. Om die waarheid te sê, hulle veldtog vererger net die benarde situasie van hierdie studente.

Al sal Afrikaanstalige studente dalk aanvanklik ʼn bietjie sukkel met die gedwonge oorgang na Engels as voertaal aan universiteit, gaan hulle kort voor lank nietemin steeds oor die algemeen beter studeer as hulle swart eweknieë, bloot omdat hulle steeds die moedertaalbasis as voordeel behou. Die Slegs Engels-veldtog bring dalk op die oog af “gelykheid” – en ʼn mens moet tog so ʼn klein bietjie naïef wees om dit te kan insien – omdat “almal” (die Engelstaliges word altyd verswyg) nou in Engels as ʼn niemoedertaal studeer. Maar dit verg geen groot wetenskaplike insig meer om nou reeds te voorspel dat dit beslis nie taalgelykheid sal bewerkstellig nie. Daarvoor is die agterstande van swart studente eenvoudig net te groot en hulle pre-universitêre situasie te haglik om met die swaai van ʼn Engelse towerstaffie te kan oplos.

Ek sou selfs wou beweer dat ʼn volharding met die Slegs Engels-veldtog grootliks valse verwagtinge onder swart studente skep en hulle in werklikheid mislei om te dink dat die verwydering van Afrikaans hulle situasie gaan beredder. Dit sou hiervolgens nie onvanpas wees nie om so ʼn eenogige veldtog as immoreel te bestempel.

Soos met ander kragtige ideologies-geïnspireerde bewegings gaan dit moeilik wees om die huidige Engelse tsunami te stuit. By die Suid-Afrikaans Akademie se spitsberaad oor die universiteitswese verlede week in Pretoria het dit begin deurskemer dat die spreekwoordelike koeël eintlik deur die kerk is vir die meeste voormalige Afrikaanstalige universiteite om Afrikaans as voertaal te behou. Trouens, vanweë ʼn ongunstige getalleverhouding is dit in baie gevalle selfs nie eens meer die moeite werd om nog ʼn stryd vir taalbehoud te probeer voer nie.

Nogtans is die situasie steeds nie hopeloos nie.

Afrikaanssprekende ouers kan gerus hulle kinders steeds na moedertaalskole bly stuur en so nie net verseker dat hierdie waardevolle skole in stand gehou word nie, maar ook dat hulle kinders die bewese moedertaalvoordeel bly behou. Hierdie voordeel moet nie onderskat word in ʼn mark waar die meerderheid studente nie so ʼn voordeel geniet of wil geniet nie. Dit is dus nie nodig om jou kinders na ʼn Engelstalige skool te stuur (en onthou, daar loop maar min Engelse in die land rond) om Engels onder die knie te kry nie. Groot name in die Afrikaanse wêreld het sukses behaal, en doen dit steeds, al het hulle in Afrikaans skoolgegaan. Danksy die Engelse aktiviste word ons deesdae soveel aan Engels blootgestel dat dit vir die meeste Afrikaanstaliges nie meer ʼn vreemde taal is nie. Die aanleer van Engels het eintlik vanselfsprekend geword, met die gevolg dat daar nou liefs aandag geskenk kan word aan die onskatbare waarde van Afrikaans as moedertaal, ook met die oog op internasionale mededinging.

Wie weet, dalk kan Afrikaanstaliges op die lang duur ander moedertaalsprekers in die land inspireer om hulle voorbeeld te volg. Wanneer daardie dag aanbreek, kan ons vir die eerste keer sedert 1994 sukses in die onderwys begin behaal en sal ons investering beslis dividende begin oplewer.

ʼn Mens kan dus uitkyk na so ʼn dag; ʼn dag waarop universiteite wit en swart studente kan ontvang wat waarlik op meer gelyke voet met hulle tersiêre studies kan wegspring!

 

  • Theodorus du Plessis is direkteur van die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging, Universiteit van die Vrystaat
  • 9

Kommentaar

  • Avatar
    Cilliers van Niekerk

    Ek sou graag dié toonbeeld van helder dink en reguit praat tussen al die twak met nie-Afrikaanse vriende wou deel. Waar kry ek die oorspronklike Engelse weergawe?

    (Ek neem aan Prof du Plessis het self vertaal - dankie daarvoor, uit verskeie oogpunte!)

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Wanneer ideologie, oordrewe emosie en ander soortgelyke faktore uit die taaldebat verwyder word, spreek die feite (gebaseer op wetenskaplike navorsing!) vir sigself! Dis insiggewende bydraes soos die (lees ook Breyten Breytenbach en andere) wat aan die groot klok gehang en gepromoveer moet word. Prof Du Plessis lê hier boustene vir rasioneel en sinvolle debat en bemagtig Afrikaanses om met FEITE om te gaan. Welgedaan ...
    Diegene wat nie hiervan hou nie sal die voordrag natuurlik verpolitiseer en as beledigend, meerderwaardig, verkleinerend en selfs rassisties afmaak - die maklikste manier om simpatie te probeer wek en martelaar te speel. Hul voortgesette pogings is om Afrikaans doelbewus, dog subtiel, met "sonde" gelyk te stel deur dit bloot aan die apartheidsideologie te koppel. Sodoende word gehoop dat Afrikaans ad infinitum die verdoemende Kainsmerk sal dra wat natuurlik net kan werk as draers van die taal self so voel. Ek twyfel of dit die geval sal wees. Die onus is op ons!

  • Avatar
    francois verster

    Hoe enigeen kan dink moedertaalonderrig is NIE noodsaaklik nie (en dat BYKOMENDE tale ook nie nodig is nie), is onbegryplik. Die fokus behoort op skole te wees om 'n goeie fondament te lê. Nou, met die haglike toestande in soveel skole, wil jong mense uit sulke skole na universiteite gaan - heeltemal onrealisties. Die sinneloosheid van so iets word doelbewus geïgnoreer om politieke redes, soos om nie te erken dat enorme agterstande bestaan en dit noodsaaklik is om dit reg te stel om universiteitsgeskiktheid te verbeter nie. Verder is daar ander politieke agendas, onkunde, frustrasie, blaamverskuiwing, agitasie - alles wat die land nie kan bekostig nie. Die huidige regime wat uiteraard slegs nog daar is weens hulle etniese getalle-meerderheid en nie bevoegdheid nie - Zuma is simbolies hiervan - sal nie van hierdie noodlottige pad afwyk nie, en nie doen wat die land benodig nie. Om dit eens te verwag is ewe onrealisties as om met Graad 3-"toerusting" na 'n universiteit te gaan. Die ANC het reeds bewys dat hulle nie die leierskap en kapasiteit het nie. Inderwaarheid ontneem hulle die jeug van 'n basiese reg, opvoeding, en die moontlikhede om 'n toekoms te bou vir hulle en die land. Dit is in een woord tragies.

  • Avatar
    Marinus wijnbeek

    'n Baie goeie analise wat die Unesco-bevindings tot 'n groot mate onderskryf. My tegnikon-ervaring het aangetoon dat die swart studente se vaardighede met Engels meesal laer was as die van blankes op laerskoolvlak. Ons het 'n redelike sukses gehad met 'n leeslaboratorium plus minstens twee jaar ekstra studie gemeet teen 'n driejaarkursus vir die gemiddelde student. Moedertaal-onderrig vir moderne tegnologie-studierigtings is uiters moeilik. Dit het alles te make met konsepvorming. Daar is 'n praktiese grens aan moedertaal onderrig. Dit lê ongeveer by die agste skooljaar waarna 'n tweede (Westerse taal) ingevoer behoort te word in Afrika. Dit het alles te make met konsepvorming. Op tersiêre vlak het Engels by verre die voordeel. Afrikaanssprekende studente beskik oor die noodsaaklike konsepte en kan maklik aanpas. Dit geld nie vir Afrikataalsprekers nie. Ook hulle agterstand in Engels is dikwels baie groot. Leer Afrikane eers die konsepte in Engels deur veral praktykgerigte 'hands-on” gerigte ervaring. Vervolgens moet die waarde van moedertaalonderwys nie oordryf word deur dit noodwendig op universiteite van toepassing te maak nie. Die agterstand onder Afrikane (swart) moet doelmatig aangepak word en dit is nie alleen maar onderrig in Engels nie. (Sien tegnikon-voorbeeld hierbo).

  • Avatar
    André Badenhorst

    Dit is interessant dat die protagoniste (akademies nogal) vir Engels as onderrigmedium, polities korrek en kognitief-emosioneel gestroom op die holrug geryde verlepte storie tokkel sonder om ag te slaan op deeglik gefundeerde betoë en redevoering (as grondslag van die akademiese gesprek) soos hierdie en van die ander oorweldigende meerderheid nugtere meningsvormers. Du Plessis trek die regte snare harmonieus en ek sal graag my hand wou lê op die oorspronklike teks. My waardering aan die vorige kommentator asook die LitNet-engele.

    • Avatar
      Theo du Plessis

      Dankie André, ek waardeer jou taksering. Ongelukkig bestaan die oorspronklike Engelse teks net in PowerPoint-formaat. Die Afrikaanse teks hierbo geplaas is tans die engiste volledige geskrewe teks. Maar indien julle dit nodig vind, kan ek reël dat die teks na Engels vertaal word.

  • Avatar
    Hannamarie Bezuidenhout

    Groot waardering vir sulke goed beredeneerde argumente - hoe kry 'n mens dit onder die aandag van die UV-topbestuur en -Raadslede? Maar nog belangriker - hoe kry 'n mens ons swarttaalsprekers, veral die ouers, en dan uiteindelik die onderwysowerhede om aandag te skenk?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top