Die universiteitswese in Suid Afrika: 'n toekomsperspektief vir Afrikaanse instellings

  • 12

1. Inleidend

Niemand sal vandag ontken dat apartheid ’n ideologie was nie: ’n denkraamwerk wat alles met net een bril, naamlik ras, gesien het, en die werklikheid verskraal het tot letterlik wit en swart. Die fondament van apartheid was die Bevolkingsregistrasiewet van 1950. En die wet op sigself was nie boos nie – wie kan nou boosheid sien as mens bloot volgens ras geregistreer word? Dis tog uiterlik duidelik … Die boosheid van apartheid en die onreg daarvan het na vore gekom met ’n reeks ander wette wat op grond van ras gediskrimineer het. Burgerskap, woonplek, huwelik, vryheid van beweging en dies meer het elke Suid-Afrikaner se toekoms bepaal – alles op grond van jou rasseklassifikasie. Dis nie die boom se wortels nie, maar die vrugte wat giftig was. Maar die wortels het die boom laat groei en vrugte laat dra.

Waarmee die Nasionale Party baie suksesvol was, was om hierdie ideologie “aanvaarbaar” te maak. Die kerke is gebruik om die moraliteit daarvan te verdedig, die meerderheid van die wit (en veral die Afrikaanse) bevolking is wysgemaak dat dit die enigste manier is om in Afrika te oorleef. Die swart bevolking is vertel van afsonderlike ontwikkeling en selfbeskikking vir volke. Selfs dele van die swart bevolking het apartheid gelate aanvaar of vir onafhanklikheid van hulle tuislande gekies.

Die Grondwet van Suid-Afrika neem op ’n hele paar plekke as vertrekpunt die beginsel van regstelling van die onreg van die verlede. En geen regdenkende Suid-Afrikaner het hiermee ’n probleem nie – dit moet tog gedoen word. Die ANC neem dit ook as vertrekpunt vir baie van hulle beleide die afgelope 22 jaar. En baie wette het hieruit voortgevloei: regstellende aksie in die werkplek, Swart Ekonomiese Bemagtiging, grondhervorming, en dies meer.

Maar baie soos die ou NP het ook die ANC ’n sambreelideologie ontwikkel, ’n begrip wat nie in naam of beskrywing in die Grondwet voorkom nie. Op die grondwetlike wortel van regstelling en geregtigheid het die boom van transformasie gegroei. En die boom met sy baie vertakkings het ’n ideologie geword. En die ideologie is gebaseer op demografiese verteenwoordigendheid in alle dele van die Suid-Afrikaanse samelewing, op grond van die rasseformule van 80-9-9-2. En ironies genoeg is ons weer terug by ’n regering wat die werklikheid verskraal tot ras. Soos apartheid, is die doel van hierdie verskraling die oorheersing van een ras oor ander. Die ANC se “Strategy and Tactics”-dokument sê duidelik dat die doel van transformasie “African hegemony” is. Swart dominasie. Oor alle ander rasse en minderhede. En dit is nie die eertydse ANC-siening van nierassigheid nie. Of dalk is nierassigheid die “afsonderlike ontwikkeling”, die “separate but equal” van die ANC ... die mooi kant van transformasie.

Die vrugte van hierdie ideologiese boom word vandag al duideliker gesien. Op grond van die rasformule 80-9-9-2 is mense in die staatsdiens aangestel wat nie bevoeg is nie, is daar duisende poste vakant met dienslewering wat daaronder ly, word minderhede in die spreekwoordelike hoeke ingedruk en word die hele samelewing verrassig.

En die ironie is dat die ANC, wat op baie ander terreine misluk het, net so suksesvol is soos die ou NP was om hulle ideologie van transformasie aanvaarbaar te maak vir bykans die hele Suid-Afrikaanse bevolking. ’n Mens sou nog verwag dat die swart bevolking, wat hieruit voordeel trek, dit sou aanvaar. Maar ook die slagoffers van hierdie ideologie, alle nie-Afrikane, het dit grootliks aanvaar as die “nasionale norm” ... terug by ras. En dis nie wat die Grondwet sê of bedoel nie!

Terloops, daar is nog verder ’n spieëlbeeld in die bullebakkery van die destydse AWB in dié van die hedendaagse EFF.

2. Wat is die konteks waarbinne ons na Afrikaans by openbare universiteite kyk?

Hierdie effe lang inleiding bring ons by die konteks van vandag se spitsberaad. Die breë konteks moet verstaan word voor na die toekoms gekyk word.

Ons as Afrikaanssprekende leiers en intellektuele moet vandag die vraag: “Waarheen met universiteite en met Afrikaans in universiteite?” vra as gevolg van ’n paar faktore:

  • Die eerste is die oorkoepelende ideologie van transformasie, met sy demografiese verteenwoordigendheid en rassekwotas van 80-9-9-2 en sy beleide van regstellende aksie en indiensnemingsgelykheid. Soos apartheid, het dit oor die afgelope 22 jaar, maar veral in die laaste tien, vernietigende gevolge vir die land en al sy mense, en ook sy minderhede, gehad.
  • Tweedens, en gekoppel hieraan, is die mislukking van die staat op vele terreine om aan minstens sommige van die meerderheid se aspirasies te voldoen. En dit sluit in die onvermoë om na 2009 noemenswaardige ekonomiese groei te behaal. Dit sluit ook ’n grootskaalse mislukking met basiese onderwys in, die mees bemagtigende (en transformerende) meganisme tot die regering se beskikking.
  • Derdens is daar in reaksie op die vorige twee die voorheen benadeelde meerderheid wat die ANC-regering begin verwyt, en die regering en die ANC intellektuele wat weer op hulle beurt die vorige maghebbers (lees wit en/of Afrikaanse mense) verwyt dat hulle nie genoeg gedoen het nie en ’n struikelblok vir transformasie is.
  • Vierdens, en miskien die mees onrusbarende, is die opkoms van ’n nuwe swartbewussynsgevoel by jonger en professionele swart Suid-Afrikaners. Dié wat meer hiervan wil weet, lees gerus Ferial Haffajee se boek What if there were no whites in South Africa? Hierdie groep, wat nie noodwendig aan een politieke party gebind is nie, bevraagteken en verwerp die kompromie van 1994 en die werk van die Waarheid-en-versoeningskommissie – en veral die gebrek aan restitusie en werklike apologie deur wit Suid-Afrikaners. Hulle wil “oor begin”. Hulle bevraagteken kardinale aspekte van die Grondwet. Volgens Haffajee wil hulle hulle eie (swart) ruimtes hê en in alle ander ruimtes domineer. Dit spruit onder andere voort uit ’n reaksie op die Amerikaanse konsep van ’n “culture of whiteness”, breedweg ’n Westerse denkraamwerk. Hierdie denke het reeds beduidende invloed gehad in die #RhodesMustFall- en Open Stellenbosch-veldtogte.

Een ander interessantheid: Haffajee skryf dat toe sy vir hierdie jong professionele mense gevra het hoeveel wit mense hulle dink daar in Suid-Afrika is, hulle antwoorde gewissel het van 15 tot 20 miljoen. Só sterk is die persepsie van wit mag nog.

Kollegas, die punt is dat ons universiteite in hierdie konteks werk. En hierdie konteks het ons by ’n punt gebring waar die politieke debat en klimaat skynbaar ligjare verwyder is van die kompromie van 1994 en die versoening en verdraagsaamheid van die Mandelajare. Dit voel asof artikel 29(2) van die Grondwet reeds geskrap is en of die huidige maghebbers en sommige van hulle ondersteuners nie sal rus voordat Afrikaans by alle openbare skole en universiteite iets van die verlede is nie. En sommige van hulle sal dalk nie ongeneë wees om ons op ’n ander plek in die wêreld te sien nie!

3. Wat is die impak van hierdie omgewing op “Afrikaanse instellings”?

Maar kom ons kyk ’n bietjie meer in besonderhede wat die impak hiervan is op universiteite waar Afrikaans as onderrig- en administrasietaal nog ’n plek het. Terloops, in die openbare universiteitswese is daar nie meer “Afrikaanse instellings” oor nie, hoogstens instellings waar Afrikaans nog die taal van administrasie en/of onderrig is.

Die eerste impak is dat die ideologie van transformasie die hele universiteitswese oorgeneem het – nie net die vier universiteite waar Afrikaans nog gebruik word nie. En dis nie in die eerste plek die korrekte en mooiklinkende regstelling nie. Dit is in die eerste plek – soos in die hele openbare en private sektor – die spel van koppetelling. Dis demografiese verteenwoordigendheid met die 80-9-9-2-rassekwota. En alhoewel universiteite nie staatsdiensdepartemente is nie, word dit vir rassekwotas as deel daarvan beskou. En alhoewel die Grondwet dit stel dat die staatsdiens (slegs) “in die breë verteenwoordigend” moet wees, word dit in die universiteitswese, soos in die staatsdiens, toegepas sodat nie die sektor as geheel nie, maar elke afsonderlike universiteit en elke afsonderlike afdeling (hoe klein ook al), aan die kwotaformule van 80-9-9-2 moet voldoen. Behalwe natuurlik by histories swart universiteite, waar 95% swart as getransformeerd genoeg beskou word.

Hierdie transformasiedruk vind plaas terwyl die breë universiteitsektor reeds byna 80% swart (African) studente het. En die aantal swart akademici in die land stadig maar seker styg.

Deur die rassekwotas só toe te pas, word diversiteit in werklikheid op die agtergrond geskuif. Want dit gaan nie meer oor verskeidenheid nie, maar oor (swart) enersheid. En nader aan ons tema vandag, word die belangrike konsep van veeltaligheid ook hierdeur op die agtergrond geskuif. Dit is slegs die Universiteit van KwaZulu-Natal wat erns maak met ’n Afrikataal as medium van onderrig.

Tweedens is die impak dat die sirkelredenasie van toegang, onwelkom voel, uitsluiting en uiteindelik rassisme al hoe meer gebruik en populêr gemaak word. Dit word soos volg geartikuleer: al kry ek formeel toegang tot ’n histories Afrikaanse universiteit, laat julle my nie welkom voel nie, want ek verstaan nie die (Westerse) institusionele kultuur van hierdie plek nie. Dit word vererger omdat ek nie Afrikaans verstaan nie. Ten spyte van die feit dat my klasse meestal in Engels is, of na Engels getolk word, voel ek dus uitgesluit. Omdat ek uitgesluit voel, is julle skuldig aan rassisme. En daar is twee maniere waarop ek gaan tuis voel: verander die taal van die instelling na net Engels (ja, geen verdraagsaamheid vir tweetaligheid hier nie) en maak seker dat mense wat soos ek lyk (lees swart African) die meerderheid is.

Kollegas, dis nie my oordrywing nie – dis presies die standpunt van Open Stellenbosch.

En ironies genoeg word Engels dus die taal van toegang, welkom voel, insluiting en bevryding. Praat van gebrek aan ’n historiese bewussyn. En al steun die maghebbers nie hierdie standpunte openlik nie, laat hulle dit gemaklik toe, want dit strook presies met hulle ideologie van transformasie en die uiteindelike doel van swart dominasie.

Daar was nie voor minister Blade Nzimande enige druk deur ministers op histories Afrikaanse universiteite oor Afrikaans spesifiek nie, maar wel algemene druk vir transformasie. Met die politieke klimaat van vandag word ’n anti-Afrikaanse sentiment by regeringsleiers al hoe duideliker.

4. Wat is ons Afrikaanssprekendes se aandeel hierin?

As dit so is dat wat spesifiek universiteite betref, die regering sover nog min direkte politieke druk uitgeoefen het om van Afrikaans ontslae te raak, moet die vraag gevra geword: Wat is ons eie aandeel hierin?

Die eerste faktor is die historiese bagasie van Afrikaans as die taal waarin apartheid gepleeg is. Dié bagasie het al ligter geword, maar nie genoeg nie. En ongelukkig moet ons ook erken dat ’n sekere reaksie uit Afrikanergeledere nie help nie. Hiervan is die T-hemp met die woorde “Praat Afrikaans of hou jou bek” ’n voorbeeld.

Daar is tweedens onder lede van universiteitsrade, universiteitsbesture en akademici soms ’n totale onbegrip van die groter politieke en ideologiese prentjie. Hulle verstaan dit nie en wil nie deel van die “politiekery” word nie. Veral akademici wil “tog net asseblief hulle werk doen”. Die uiteinde is die weg van die minste weerstand, wat omtrent altyd tot Afrikaans se ernstige nadeel is.

Daar is egter ook, derdens, ’n groeiende mate van politieke korrektheid by al ons universiteite, en ook die historiese Afrikaanse universiteite. Ons is tog so bang dat ons aanstoot sal gee oor Afrikaans. En dat ons standpunte dalk verkeerd vertolk kan word. Wat sal ons nie-Afrikaanse kollegas dink? Wat sal my mederaadslede sê? Of die Minister of die portefeuljekomitee vir hoër onderwys? En dan word dit baie vinnig politieke gedienstigheid.

Sommiges stel dit sterker: my werk is kennisoordrag – die taal is irrelevant. Of soos daardie berugte Engelssprekende dosent by die US gesê het: “English is after all the language people communicate in.” Baie akademici sê openlik dat hulle, eerder as ’n groter werkslading om Afrikaans te behou, Engels as enigste onderrigtaal sal ondersteun.

Terloops: ek het nuus vir hierdie polities korrekte kollegas: julle poste is volgende op die agenda van die transformasiedrywers. Want jy mag dalk jou taal kan verander, maar nie jou velkleur nie ...

Ons moet vierdens erken dat ons Afrikaanssprekendes se bittere binnegevegte nie die saak van Afrikaans op universitêre vlak gehelp het nie. Na dekades is die ou noord-suid-vetes steeds daar. Soms is ons aanvalle op mekaar giftiger as die ANC-onverdraagsames s’n. Daar is van liberale verdraagsaamheid geen sprake nie, selfs, en soms veral, by diegene wat hoog daaroor opgee.

’n Deel van die spanning tussen Afrikaanssprekendes is die breuk tussen wit en bruin. Sommige voel dat as daar groter samehorigheid oor die waarde van Afrikaans by al haar sprekers is, die regering sal moet luister. Die bruin reaksie hierop is soms skerp: “Julle het ons tydens apartheid benadeel, en noudat julle taal in gevaar is, is ons goed genoeg?” Of: “Ons kan nie oor taal baklei terwyl ons mense sosio-ekonomies swaarkry nie.” Dis nie maklike kritiek om op te antwoord nie. Maar ek meen dat beide die taal en die sosio-ekonomiese omstandighede aandag moet kry. In hierdie verband is daar ’n paar inisiatiewe waar ’n welkome verandering te bespeur is.

5. Hoekom behoort daar vir Afrikaans ’n plek op kampus te wees?

Ter wille van volledigheid wil ek graag kortliks (weer) die redes hoekom Afrikaans ’n plek op universiteitskampusse behoort te hê, aandui:

  • Die eerste en belangrikste argument is die grondwetlike een. Dis baie duidelik dat artikel 29(2) die sentrum daarvan vorm.
  • Die politieke argument bly ’n belangrike een. Afrikaans is ’n minderheidstaal, maar selfs in terme van die regering se eie ideologie van transformasie en die 80-9-9-2-formule behoort daar vir 9% (as jy die helfte van die wit en die helfte van die bruin sprekers van Afrikaans as uitgangspunt neem) van die bevolking ’n universiteit (of twee) te wees waar hulle tuis voel – sonder om eksklusief vir hulle geoormerk te wees.
  • Die pedagogiese argument moet ter wille van prestasie in moedertaal in ag geneem word. En hierdie argument berus op internasionale navorsing wat nie deur Afrikaanses gedoen is nie.
  • Die kultuurargument neem as vertrekpunt dat alhoewel universiteite nie in die eerste plek kultuurorganisasies is nie, kultuur tog ’n belangrike rol in universiteite oor die wêreld heen speel. Daar behoort vir die Afrikaanse kultuur plek in die openbare universitêre sektor wees.
  • Die toegangsargument sluit hierby aan. As ek graag wil tuis voel, moet ek toegang hê tot minstens een universiteit waar ek tuis sal voel en my sal kan uitleef en bekwaam.
  • Die akademiese argument fokus op die historiese feit dat Afrikaanse studente (waarskynlik as gevolg van ’n moedertaalvoordeel) as ’n groep akademies uitstekend presteer, en dat geen universiteit kan bekostig om hulle te verloor nie.
  • Die finansiële argument neem in ag dat Afrikaanssprekende studente as ’n groep ook goeie betalers van klasgelde is – iets wat geen universiteit in hierdie dae van finansiële probleme kan minag nie.

6. Die huidige stand van Afrikaans op vier histories Afrikaanse universiteite

Voordat ek vinnig na die stand van Afrikaans by die vier histories Afrikaanse universiteite kyk, ’n opmerking oor die rol van universiteitsrade, besture en akademici.

Volgens die Hoër Onderwyswet is die bepaling van ’n taalbeleid die raad van ’n universiteit se verantwoordelikheid met instemming of op aanbeveling van die senaat, en behoudens die minister se beleid. Die bestuur (en spesifiek die rektor) word deur die raad aangestel om die universiteit te bestuur, in ooreenstemming met beleide wat die raad bepaal, insluitend die taalbeleid.

Die raad het dus ’n belangrike taak, maar dis beperk deur die aard van die verantwoordelikheid, naamlik oorsig (Engels governance). Dit kan nie sy eie beleide uitvoer nie en is afhanklik van die verslae van bestuur om te oordeel of dit gedoen word. As daar ’n vertrouensbreuk tussen raad en rektor (en die bestuur) ontstaan, is dit ’n ernstige saak. In hierdie opsig het die rektor en bestuur dus ook ’n groot verantwoordelikheid. Die senaat van ’n universiteit moet as die hoogste akademiese liggaam die raad adviseer oor taalbeleid. Indien daar permanent ’n botsing van sienings oor ’n taalbeleid tussen die raad aan die een kant en die bestuur en senaat aan die ander kant kom, kan dit enige universiteit lamlê. Maar uiteindelik sal die raad net twee opsies hê: aanvaar die aanbevelings van die bestuur en senaat of vervang die bestuur.

• Wat die Universiteit van Pretoria betref, was daar tot onlangs redelike stabiliteit in ’n taalbeleid wat ten minste formeel die rol van Afrikaans as onderrigtaal erken het – en hier en daar kon studente in Afrikaans onderrig ontvang. Die huidige politieke klimaat gaan waarskynlik daartoe lei dat die hersiening van die taalbeleid uitloop op Engels as hooftaal, met Afrikaans en Sesotho as tweede tale. Daar is reeds hierdie jaar berigte van minstens een akademiese personeellid wat Afrikaanse studente (wat hulle reg op Afrikaanse onderrig wil uitoefen) intimideer om hulle “apartheidsdenke” te verander en by die Engelse klasse in te val. Met ’n rektor wat op ’n transformasiemissie is, dink ek mens moet aanvaar dat Afrikaanse onderrig by die UP iets van die verlede is.

• Die Universiteit van die Vrystaat het onder leiding van sy omstrede rektor stadig maar seker van Afrikaans ontslae geraak. Met Afrikaanssprekende studente nou duidelik in die minderheid, is hulle teenkanting teen die bestuur se voorstel dat Engels die hooftaal word, in die wind geslaan en selfs die raad het toegegee dat Kovsies van 2017 af net in Engels onderrig sal ontvang. Akademici sal waarskynlik die weg van die minste weerstand volg.

• Wat sal mens oor Stellenbosch sê? Met Afrikaanssprekende studente slegs ongeveer 50% van voorgraadse studente, is die kantelpunt reeds ’n paar jaar gelede bereik. Die bestuur sê dat slegs 30% studente in Afrikaans wil klas draf. Die hele bestuur en die meerderheid akademici is negatief oor Afrikaans en fakulteitsrade besluit links en regs om slegs Engels as onderrigtaal te gebruik – direk teenstrydig met universiteitsbeleid. En die skikking met Afriforum bevestig dit. ’n Mens moet dankbaar wees dat die raad nog sterk oor die saak van gelykberegtiging van Afrikaans voel, maar die vraag knaag: Hoe lank kan ’n raad teen bestuur en senaat uithou? Open Stellenbosch het verder ’n binnebaan na die bestuur. Daarby ly Stellenbosch aan ontsettende politieke korrektheid, soos wat die persgesigfiasko onlangs gewys het. Dit kan nie vir Afrikaans goed wees nie. Benewens hierdie politieke korrektheid lyk dit asof die meerderheid Afrikaanse studente passief of inskiklik is ... Ek vermoed dat daar onder die huidige omstandighede nog vir slegs vyf jaar Afrikaanse onderrig by die US sal wees.

• Wat die NWU Potchefstroom betref, is dit duidelik dat die huidige universiteitsbestuur meer bekommerd oor sentralisasie en transformasiegetalle is, en daarom is die taalbeleid op die Potch-kampus nog nie verander nie. Afrikaanssprekende studente (wit, bruin en swart) maak steeds ongeveer 80% van die kampus se studente uit. Die oorhoofse institusionele bestuur is sover neutraal oor taal en die beleid is vir die huidige onveranderd gelaat – veral met die besef dat die kampus en die universiteit nie die finansiële verlies van grootskaalse verengelsing sal kan oorleef nie. Die kampusbestuur is steeds positief oor Afrikaans as administratiewe en onderrigtaal en opvoedkundige tolking word in meer as 30% modules effektief gebruik – ten spyte van die visekanselier se openbare pogings om die tegnologie verdag te maak. By verre die meerderheid van studente is steeds positief en plek-plek selfs aktivisties oor Afrikaans. Maar daar is ook ’n beduidende aantal (maar steeds die minderheid) akademici wat tekens van “Stellenboschitis” toon. En die feit dat die raad onlangs ’n teiken van 51% swart studente vir die kampus teen 2025 goedgekeur het, is onrusbarend – as dit bereik word, sal taaldemografiese druk Afrikaans uiteindelik laat val. Maar Potchefstroom se afgesonderdheid as plattelandse dorp kan in Afrikaans se guns tel. Ek vermoed dat onder die huidige omstandighede NWU-Potchefstroom nog vir tien jaar Afrikaanse onderrig sal behou.

7. Hoe lyk die toekoms en waarvan hang dit af?

Die toekoms van Afrikaans by hierdie vier universiteite word deur verskillende faktore beïnvloed:

• Soos wat grondwetkenners al telkemale aangetoon het, vestig die regte van artikel 29(2) nie in universiteite of samelewingsorganisasies nie, maar in studente (en as hulle minderjarig is, per verlenging dalk in hulle ouers). As Afrikaanssprekende studente bereid is om vir Afrikaans op te staan en hulle grondwetlike regte op te eis, is daar hoop. Op grond van regsadvies dink ek dat ’n klasaksie deur studente in die Grondwethof ’n goeie kans het om te slaag – veral waar hulle regte effektief deur die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat weggeneem is toe onderrig in sekere vakke en kursusse tot Engels verskraal is. Stellenbosch loop dieselfde gevaar. Hiervan sal rade en besture in hulle besluite oor Afrikaans moet kennis neem.

• Die vraag is natuurlik: Sál Afrikaanse studente – wit en bruin en swart – bereid wees om dit te doen? Sal hulle uit hulle gemaksones kan kom? Of is die politieke korrektheid (veral in die suide) te groot? Die tyd sal leer. Maar hulle kan weet dat fondse vir sulke aksies nie ’n probleem sal wees nie.

• Intussen sal Afrikaanse organisasies en individue wat oor Afrikaans by universiteite bekommerd is, nogmaals die grondwetlike beginsels oor Afrikaans in die onderwys moet bevestig – ook op die politieke vlak. Dit sal egter politieke gewig dra eers as die Grondwethof (soos met die openbare beskermer onlangs) uitspraak gee. Natuurlik maak die huidige politieke klimaat dit riskant om na die hoogste hof te gaan, maar dit mag dalk die laaste uitweg wees.

• Goedbedoelende lede van universiteitsbesture en -rade, asook akademici en studenteleiers, sal hulleself moet vergewis van die werklike kwessies waaroor dit gaan. Ons kan nie langer politieke en ideologiese ongeletterdheid bekostig nie. Hierdie saak gaan op die slagveld van idees gewen of verloor word. Daar moet byvoorbeeld met goeie argumente uitgewys word dat die sirkelredenasie van toegang en gewaande rassisme nie logies of aanvaarbaar is nie, en op onverdraagsaamheid en omgekeerde rassisme neerkom. Politieke korrektheid is kos vir diegene wat swart dominasie in die laaste histories Afrikaanse universiteite wil bewerkstellig.

• Kollegas, hiermee propageer ek nie ’n eendimensionele aktivistiese strategie nie. Afrikaanse organisasies en leiers sal, terwyl hulle al die bogenoemde aksies onderneem, terselfdertyd moet begin om parallel daaraan meer platforms te skep vir dialoog tussen wit en swart, en veral wit en swart jongmense. Want in die post-Zuma era sal ons weer moet handevat en vorentoe gaan om ’n land te bou wat ons kan hê en wat ons verdien.

In ’n post-Zuma era moet die moontlikheid van ’n nuwe politieke skikking oor Afrikaans ernstig oorweeg word. Daarsonder kan ’n blywende oplossing en pad vorentoe nie gevind word nie. Hierin moet ons meer met die idee van minderhede en minderheidstale werk, sodat ons argumente ook internasionale weerklank kan vind.

Die Den Haagse aanbevelingsi ten opsigte van die opvoedkundige regte van nasionale minderhede van 1996 sê byvoorbeeld:

17. Persons belonging to national minorities should have access to tertiary education in their own language when they have demonstrated the need for it and when their numerical strength justifies it. Minority language tertiary education can be legitimately made available to national minorities by establishing the required facilities within existing educational structures provided these can adequately serve the needs of the national minorities in question. Persons belonging to national minorities may also seek ways and means to establish their own educational institutions at tertiary level.

18. In situations where a national minority has, in recent history, maintained and controlled its own institutions of higher learning, this fact should be recognised in determining future patterns of provision.

8. Ter afsluiting

Terwyl ons hard veg vir Afrikaans op openbare universiteitsvlak, sal ons dom wees om nie ook die moontlikhede van private inisiatiewe te ontwikkel nie. Akademia van die Solidariteit-beweging is een moontlikheid. Akademia wil ’n oop en Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit wees met ’n Christelike onderbou.

Akademia het in die afgelope drie jaar goed gevorder om deur middel van tegnologiese vernuwing ’n kwaliteitdiens aan werkende jongmense te lewer, met grade in die ekonomiese en bestuurswetenskappe. Dit word na regte en verpleegkunde uitgebrei. Maar om Afrikaans werklik as universiteitstaal te behou en te vestig, sal daar oor die volgende klompie jare ’n residensiële komponent moet bykom. Finansies bly ’n uitdaging, maar al hoe meer steun kom uit soms onverwagte oorde, soos wat die alumni van sommige historiese Afrikaanse universiteite ontgogel raak deur hulle alma maters. Baie goeie universiteite wêreldwyd het klein begin. Wat nodig is, is ’n visie en wil. Dit gaan lank neem, maar as daar nie nou begin word nie, gaan dit nog langer neem..

Die Fransman Julian sê in Engels: “A language that one does not teach, is a language that one kills.”

Ek wil dit effe aanpas: “’n Taal waarin mens nie leer nie, is ’n taal wat jy doodmaak.”

Theuns Eloff
Voorsitter: Trust vir Afrikaanse Onderwys

i The Hague Recommendations regarding the Education Rights of National Minorities. OSCE High Commissioner on Natuionakl Minorities. 1996. http://osce/item/2931.html.

Hierdie artikel spruit voort uit die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Spitsberaad: Studente-onluste en die implikasies vir Afrikaans aan hoëronderwysinstellings 

Lees ook:

’n Strategiese ontleding van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing en die implikasies vir universiteite in Suid-Afrika

André Duvenhage

"Met Afrikaanse universiteite wat op ’n nierassige grondslag funksioneer, kan groot waarde toegevoeg word en kan dit ironies genoeg bydrae tot die ANC-ideaal van ’n verenigde nierassige en nieseksistiese samelewing."

#Feesmustfall: perspektiewe op Afrikaans as 'n taal vir universiteite

Hennie van Coller

"Té gou word ook vergeet dat meertaligheid oënskynlik duur is, maar dat mensepotensiaal wat deur eentaligheid verlore gaan, 'n veel groter prys impliseer."

  • 12

Kommentaar

  • Avatar
    ben van bruggen

    Baklei eerder vir die behoud van standaarde. Die opheffing van alle minderheidstale is onhaalbaar en onnodig . Afrikaans is 'n minderheidstaal. Veg eenogig vir Afrikaans, en jy bemoeilik die toegang van Afrikaanssprekendes tot geleenthede hier en wêreldwyd.

  • Die groot vraag is: op grond waarvan kan Afrikaners aandring op Afrikaans as 'n onderrigtaal in 'n openbare staatsgesteunde Universiteit? Ek praat nie van oorgangsmaatreëls nie. Dit kan onderhandel word. Dit gaan oor die bevoorregting van 'n taal (van die onderdrukker) 21 jaar nadat die Afrikanerregime die politieke mag, wat hy nooit moes gehad het nie, prysgegee het. Ek het op die Puk studeer (saam met Theuns Eloff). Daarna kursusse aan vier Engelse en een Duitse universiteit gedoen. Ek is steeds so Afrikaans as wat kan kom. My drie kinders het meer as die helfte van hulle tersiêre onderrig in Engels ontvang. My dogter 'n groot deel in Duits. Ons is almal steeds so Afrikaans as wat kan kom. As ons Afrikaans as tersiêre onderrig as belangrik sien, dan moet dit via privaatinrigtings geskied.

    • Douw, ons gee jou groot gelyk. Hulle speel totaal die verkeerde bal. In Theuns se lesing is daar groot waarheidsmomente.
      Wat hulle nie raaksien nie is dat die swartmense nie vra vir onderrig in hulle eie taal nie, maar dat die gemeenskaplike taal Engels gebruik moet word op Universiteit wat almal kan gebruik. Dit bespaar natuurlik ook koste. Hier is 'n politieke geveg aan die gang, daarom hou die swartmense aan om telkens met 'n nuwe strategie aan te val. As die een probleem miskien opgelos is, kom die volgende want hulle wil die geveg om mag aan die gang hou en vernietig wat ruik na Apartheid. Hulle hou Apartheid aan die lewe soos die Jode die holocaust lewendig hou en die Duitsers steeds met die albatros om sy nek sit. Dis hartseer, maar die swart oogmerk is swart mag. Groete. Annatjie.

  • Dr Eloff, ek is nie 'n akademikus nie, maar het 'n paar vrae vir jou:
    1. Deur ons hele Suid-Afrikaanse geskiedenis was daar swart tale waarin nie geleer is nie en hierdie swart tale het gegroei en ontwikkel en voortbestaan.
    2. By heelwat skole in die pre-apartheid onbevoorregte areas was die voertaal Engels en selfs ook Afrikaans (vorige Kleurlingskole). Elke jaar stroom duisende jong kinders wie se moedertaal nie Afrikaans of Engels is nie, na hierdie skole. Hierdie verskrikte kleintjies moet dan in 'n tweede taal heeltemal buite hul verwysingsraamwerk en kultuur leer spel, lees en skryf. Jy is seker bewus daarvan dat dit die heel swakste fundamentele onderrigvorm is. Hierdie kinders begin met 'n groot agterstand, want niemand baklei vir hulle grondwetlike reg nie. Ek blameer die ANC vir die (oorgeerfde) swak skole struktuur, maar nou is dit die tyd dat ons saamstaan en eerder na die kleintjies omsien sodat hulle in hul eie moedertaal die fundamentele onderrig kry, dan 'n tweede taal aanleer (soos ons destyds Engels op skool geleer het) en ophou veg vir 'n eie studietaal vir 18-jariges. Indien ons geld en energie belê in die heel jongstes, Engels as voertaal aanbied vir jong volwassenes by tersiêre inrigtings het ons 'n baie beter kans om hoër studiestandaarde te handhaaf en 'n toekomstige geslag in hierdie land in te stuur wat 'n werklik gelyke kans gehad het heel van die begin af.
    3. Dit voel nou asof ons alle sentiment en tradisie moet opoffer (veral nou, wanneer daar swak leierskap is), maar wees verseker Afrikaans sal nie uitsterf nie, vra maar vir die duisende Afrikaners wat oorsee woon. Al wat nodig is vir 'n taal se voortbestaan is dat hy/sy/dit gepraat word en dat mense vry is om hulself kreatief uit te leef in hulle taal - sing, skryf, maak films en dans. Ons Afrikaners het hope talent. Kyk na die Namibiërs ... daar groei Afrikaans heerlik en selfs Duits ook!
    4. Konstitusioneel is daar altyd die private opsie sover ek weet - private skole, universiteite ens. Laat ons weer dink ... so soort van met die 'pay it forward' gesindheid.

    • Avatar
      George Bekker

      Ria, jou punt 2 is 100% reg - swart kinders se aanvangsonderrig moet in hulle moedertale wees en noodwendig sal hulle mettertyd na Engels oorskakel. Dit beteken nie dat Afrikaanssprendes op dieselfde pad gedwing moet word nie.
      4. Konstitusioneel het ons die reg op hoër onderrig in Afrikaans. Dit is verkeerd om nie daarop aan te dring nie. As ons van hierdie reg afsien is die volgende slagoffer Afrikaanse skole en dit sal nog nie die einde wees nie, maar ook ander regte. Die probleem met die 11 tale (en onthou die doel van die 11 tale was om Afrikaans te benadeel) is dat slegs Afrikaans en Engels die vlak bereik het om in alle vakgebiede aangewend te word. Niemand sien kans om swart tale tov die wetenskappe aan te wend nie. Erken dit dan en berus daarby maar moet nie op grond daarvan aandring dat hoër opleiding slegs in Engels mag geskied nie. Dis boos en skree teen geregtigheid en die grondwet.

    • Vra maar vir die duisende wat oorsee woon? Ja, hulle praat miskien nou nog Afrikaans, want hulle het maar onlangs geëmigreer. Oor 'n honderd jaar sal hulle nie meer Afrikaans praat nie, vra maar die nageslagte van die Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog in Argentinië gaan woon het. En daar het hulle taamlik afgeleë geleef, waarskynlik sal die duisende wat nou oorsee woon se Afrikaans nog vinniger verdwyn.

  • Avatar
    Dr Gerrit Jooste

    Na die afbrand van die Mafikeng Kampus wonder n mens of dit regtig oor Afrikaans per se gaan. Word dit nie as slaansak gebruik om te verdoesel dat baie van hierdie "studente"(?) Afrikaans as slaansak gebruik omdat hul nie die vermoë het om tersiêr die mas op te kom nie?

  • Ria , ek kan nou nie namens Theuns Eloff praat nie en ek is ook nie 'n akademikus nie.
    Die feit dat daar nie in swart tale op tersiêre vlak geleer is nie, moet betreur word eerder as om dit as verskoning te gebruik om Afrikaans, wat al amper vir 'n 100 jaar 'n akademiese taal is, nou af te gradeer tot dieselfde minderwaardige vlak van bloot net nog 'n nuttelose huistaal. Die afskaffing van Afrikaans as akademiese taal sal die eerste voorbeeld wees in die wêreldgeskiedenis waar 'n akademiese taal doelbewus nek omgedraai word, terwyl daar 'n bewese behoefte daarvoor bestaan. Ek stem saam met jou fokus op moedertaal-onderrig op skool , maar waarom wil jy ongeveer 13% van die land se bevolking van hul Grondwetlike reg ontneem om te kies of hul wel by een of twee universiteite uit 24 in hul moedertaal wil studeer?
    Deur alle universiteite Engels te maak het slegs 9% studente die keuse om in hul eerste taal op universiteit te studeer. As jy by 2 universiteite die opsie van Afrikaans gee verhoog jy dit na 22%. Gaan dit vir jou oor gelyke geleenthede vir almal of oor beter geleenthede vir soveel as moontlik? Al skaf ons more Afrikaans af, gaan dit nie aan swart studente beter geleenthede of selfs gelyke geleenthede (met Engels eerstetaalsprekers) gee nie.
    Deur Afrikaans te verban sluit jy die Afrikaanssprekende uit van 'n bestaande geleentheid - jy vat iets van hulle weg. Jy laat hom en sy kultuur en sy taal baie onwelkom voel en hierdie verwerping gaan beslis nie nasiebou bevorder nie.
    Die natuurlike gevolg gaan privatisering wees ,wat tot verdere rasse- en taalskeiding aanleiding gaan gee. Dan gaan ons seker weer van laer trek beskuldig word - maar julle gee ons geen ander keuse nie, omdat julle ons nie eers marginaal in die hoofstroom wil akkommodeer nie.
    Apartheid het mense gedwing om apart te wees, met tragiese gevolge. Nou wil die regering ons bymekaar dwing met minagting van ons taal en kultuurverskille - dit gaan ook nie werk nie. Vreedsame naasbestaan moet natuurlik en met verdraagsaamheid ontstaan om volhoubaar te wees. Ons moet die vrye keuse hê of ons wil meng of apart wees sonder benadeling van enige groep. Ja, ’n hond en ’n kat kan baie goeie maats wees, solank jy nie elkeen in sy eie hok of albei in een streepsak toesluit nie.
    As jy met swak leierskap sentiment en tradisie opoffer, sal daar juis van jou kultuur niks oorbly nie. Daardie swak leier sal dit ten volle uitbuit.
    As jy glo dat al wat Afrikaans nodig het vir voortbestaan is dat dit gepraat moet word, glo jy seker ook dat al wat renosters en olifante nodig het vir oorlewing is dat hul in dieretuine aangehou moet word.
    Die private opsie bly slegs as enigste alternatief oor nadat jy weens politieke korrektheid jou grondwetlike reg van akademiese opleiding in jou moedertaal vir 'n pot lensiesop verkoop het.
    Nee Ria , kom ons gee elkeen die reg om op sy eie manier, met behoud van sy taal en kultuur, en veral met verdraagsaamheid van ons verskille, by te dra tot nasiebou, solank ons nie mekaar se grondwetlike regte in die proses vertrap nie.

    • Marius, net 'n paar punte na aanleiding van jou antwoord: indien Afrikaans 'n akademiese taal vir 'n 100 jaar is, is dit een van die direkte gevolge van apartheid. Voor daardie tyd was dit ook gesien as nuttelose huistaal, soos jy nou die 'minderwaardige' swart tale noem. Sover ek weet word Afrikaans nêrens in die wêreld erken as akademiese taal nie.
      Verder laat ons 'n paar somme doen (nie my beste punt nie en ek sal jou statistieke aanvaar): indien 13% van die land se jongmense in Afrikaans universiteitsopleiding kry, is daar nog steeds 87% wat nie die geleentheid het nie. Tel die 9% Engelstaliges by het jy 'n groep van 22% jongmense wat in hulle moedertaal universiteitsopleiding kry (die Afrikaners in elk geval net gedeeltelik aangesien handboeke in alle geval in Engels is).
      Ek onthou die studiegidse in Afrikaans vir my graad by UNISA en hoe ek deurgeswoeg en gesukkel het met die Engelse handboeke, MAAR die Afrikaanse gidse het my studiemateriaal en werkopdragte definitief makliker gemaak, anders sou ek nie deurgekom het nie.
      Nou sit jy met die 78% andertaliges (met die minderwaardige huistaal) wat verseker deel is van die minderwaardige agtergeblewe skoolstelsel waaroor ons saamgestem het. Niemand maak niks vir hulle makliker nie - behalwe as die standaard val en val en dit wil ons ook nie hê nie! Tragies, nè - waar is die gelyk regte? Engelssprekende kinders is die beste af en dit is bloot geluk want hulle praat 'n universele taal.
      Ja, Afrikaans sal uitsterf as dit nie gepraat word nie, soos baie ander tale in die wêreldgeskiedenis. Geen mens kan die voortbestaan van 'n taal waarborg nie, maar dit sal beslis nie nou of more gebeur nie. Om te baklei vir 'n taal met verhewe regte bo ander tale is definitief nie die pad om te loop nie. Erger nog is die mense wat so swak Afrikaans praat en nou huil omdat hulle taal kastig 'verbied' is. Nooit in al die jare 'geworry' oor Afrikaans nie ... Ek sê steeds privatiseer Afrikaans of enige ander taal of godsdiens, en laat ons belastinggeld NIE gaan na korrupsie nie, maar na die vormingsjare van jong kinders in die onderwys. In hierdie land is meeste mense nog by die basis van Maslow se piramide; sommige van ons het so 'n illusie strip van self aktualisering, die kaartehuis is vinnig besig om te val en elkeen van ons is verantwoordelik om konstruktief te help, anders gaan die mense met die rooi klere regeer.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Hmm, ek wonder wat die Duitsers, Franse, Hollanders, Italianers, Spanjaarde, Russe en andere sal sê oor argumente dat akademiese voortreflikheid en uitkomssuksesse, die beste deur middel van Engels as onderrigtaal behaal en bereik word. Sover my kennis strek het hierdie lande top presteerders en Nobelpryswenners op feitlik elke denkbare lewensterrein opgelewer. Ek sou verder graag op meriete wou weet waar Eloff in sy voordrag, volgens die here Van Bruggen en Kruger, die "pot mis sit" - dis nou met permissie gesê.
    Ek vind Theuns Eloff se betoog weldeurdag, eerlik en op die keper beskou, 'n opregte poging om 'n soort vrede te bewerkstellig wat op die lang duur standhoudend kan wees. Ek sê dit omdat sy standpunte geensins gebaseer is op die ontneming van regte van enige ander kulturele groep nie. Indien mense soos Ben en Douw (sien hierbo) dit nie nodig ag of 'n behoefte het om in 'n taal van hulle keuse (in hierdie geval Afrikaans) onderrig te word nie, well; be my guest and don't do it, comrades. Maar indien julle, en die ander wat soos julle dink, dalk ook glo aan die "leef en laat leef" beginsel, knik tog asseblief net die koppe vir hulle wat dit wel wil doen. Wat gaan dit van julle wegvat? Die geskiedenis wemel tog immers van voorbeelde waar so 'n benadering ("leef en laat leef") as oplossing gedien het MAAR, eers na bloedige konflikte waar 'n resep van uitsluiting, eerder as insluiting gevolg is.
    Ek worstel tans met die vraag of die verwoesting wat deesdae waargeneem word, regtig oor taal gaan? Diegene wat in Engels onderrig wil word het verskeie opsies om dit te doen? Of is dit eerder 'n geval dat daar steeds 'n soort "verwyt of haat" bestaan wat deur vorige regerings se beleidsrigtings teweeggebring is en waaroor die huidige protesterende groepe nou maar eenmaal (of welke ander rede ook al) nie kan kom nie? Iets wat ek in elk geval moeilik vind om te aanvaar aangesien hulle juis die geslag is wat na apartheid die lewenslig gesien het.
    En vir diegene wat die ekonomiese argument van onbekostigbaarheid wil gebruik net die volgende: Dinge wat vir volkere en groepe emosioneel kosbaar en belangrik is, is 'n werklikheid en daarop kan nie 'n "PRYS" geplaas word nie. Die lesse hiervan sien ons daagliks op ons TV skerms waar gewelddadige konflikte gevoer word. Ek hanteer en werk dus eerder met die probleme en uitdagings wat GELD mag bring as wat ek werk met die probleme waar die ontneming van kulturele regte, potensieel bloedige konflik bring ... En NEE, ek sê dit nie as soort van 'n dreigement nie! Inteendeel, ek sê dit juis omdat ek vrede en harmonie nastreef en waar daar niks mooier is as die diversiteit van groepe EN MENSE wat hulle op hulle manier wil uitleef nie. Die EENHEID vind ons in die beginsel van vrye assosiasie en in STAATKUNDIGE verband en dit is wat ons as 'n land sterk en patrioties maak. En hieraan sal almal werk as hulle weet en VOEL dat dit wat vir hulle belangrik is ook 'n staanplekkie in die groter Suid-Afrikaanse son bied.

  • Ria , ons verskil hemelsbreed oor 'n paar wesentlike aspekte rondom die geskiedenis, ontwikkelingsvlak, belangrikheid vir die kultuur(e) daarop gebou, sowel as die rol van Afrikaans in die toekoms van ons land.
    Dit is werklik hartseer vir my dat jy van mening is dat Afrikaans(wat in 1925 reeds 'n amptelike taal geword het) as akademiese taal ook "apartheid se skuld is" - so asof dit 'n misdaadrekord langs die pad opgetel het met 'n straf sonder einde. Dan is die feit dat Engels in SA 'n akademiese taal is mos "kolonialisme se skuld" en behoort dit daarom ewe onwelkom te wees - of hoe?
    Om verder te beweer dat Afrikaans nêrens in die wêreld as akademiese taal erken word nie, beskou ek as onsin en blatante minagting van wat Afrikaans sedert 1925 op akademiese gebied vermag het. Gaan doen gerus 'n bietjie navorsing oor wat in die moderne wêreld as 'n akademiese taal gesien word en hoe noodsaaklik die bemeestering daarvan is vir kwaliteit akademiese opleiding.
    Indien Afrikaans verdwyn by die laaste 3 of 4 universiteite waar dit tans doodgewurg word, sal dit sy nut en status as akademiese taal verloor. Hoekom maak ons dan nie sommer al ons skole ook net Engels nie? - sodat al ons kinders sodoende 'n gelyke kans op sukses as die Engelssprekendes het.
    Verder moet jy nooit vergeet dat die grootste persentasie van die 13% Afrikaans moedertaalsprekers ook bruin agtergeblewenes is - hoofsaaklik uit die Wes-en Noord-Kaap. Hoekom wil jy hulle straf deur baie van hul "uit te sluit van naskoolse opvoeding" met verpligte Engelse akademiese opleiding na skool? Is hul nie al genoeg gestraf nie? Hoe op dees aarde gaan jy dit regverdig om dit met slegs Engelse universiteite , "vir hulle so 'n bietjie moeiliker te maak" om uit te breek uit hul greep van armoede weens historiese benadeling?
    Ria, weet jy hoekom het jy destyds "gesukkel met Engelse handboeke by UNISA" en hoekom jy" nie sou deurgekom het as dit nie vir Afrikaanse gidse was nie"? Jy kon Engels praat maar jy was nie in akademiese Engels geletterd nie. Ja daar is 'n reuse verskil - gaan doen maar daai leeswerk wat ek aanbeveel het (gelukkig is die meeste in Engels).
    Deur Afrikaans by universiteite af te skaf, gaan absoluut niks makliker maak vir daardie 78% swarttaalsprekers waaroor ons so bekommerd is nie. Al wat jy gaan regkry, is om dit vir nog 16% van ons jeug in dieselfde gemors as daardie 78% te laat beland, deurdat hul nou ook geforseer gaan word om te studeer in Engels - 'n tweede taal wat hul min of meer kan praat, maar waarin hul nie akademies geletterd is nie. Anders as jy destyds by UNISA, moet hul nou nog sonder gidse in hul moedertaal ook klaarkom. Soos jyself ervaar het, sal jy dan sekerlik nie verbaas wees en wonder hoekom die meeste van hul vandag druip nie?
    Dit is dus nie Afrikaans wat tersiêre studie vir die agtergeblewe 78% swartmoedertaalsprekers moeilik en ontoeganklik maak nie - dit is juis Engels. Weens ons patetiese onderwysstandaarde op skool (veral in agtergeblewe gebiede), word kinders basiese, eenvoudige Engels as tweede taal geleer, deur onderwysers wat dit self skaars behoorlik kan praat. Volgens my navorsing, neem dit 5 tot 7 jaar se blootstelling aan akademiese Engels ( op Eerste-taal vlak) vir die gemiddelde persoon wat Engels as 'n tweede taal leer, om dit voldoende te bemeester as akademiese taal vir suksesvolle tersiêre studies in Engels. Tensy hierdie tekortkoming in ons opvoedingstelsel ingrypend aangespreek word, gaan verengelsing net een tragiese gevolg hê en dit is die onafwendbare, rampspoedige verlaging in standaarde. Dit gaan ook beteken dat ons moedertaalonderrig moet opoffer - wat tog net eenvoudig ondenkbaar is.
    Ria, jy maak 'n fout deur dit as negatief te sien dat Afrikaans op akademiese vlak verhewe bo die ander 9 swart tale is - nou wil jy die baba met die badwater uitgooi. Afrikaans het dit met klippe kou vermag om op gelyke voet met Engels mee te ding - maar sodoende bewys dat dit moontlik is vir 'n Afrikataal. Hoewel dit baie geld en tyd gaan neem , lê ons langtermynoplossing eerder in die ontwikkeling van ons ander 9 amptelike tale tot akademiese tale - ja ver eerder as om die toekoms in te gaan, wetend dat as Engels ons enigste akademiese taal gaan word ,verlaagde standaarde en geen moedertaalonderrig ons gekose voorland is. Dan gaan "die mense met die rooi klere" beslis regeer, want wie gaan vir ons werk skep en ons jeug oplei, met minderwaardige of selfs waardelose kwalifikasies (soos baie van ons matrieksertifikate tans)? As ons die verkeerde besluite neem, gaan ons ou universiteitsgeboue dalk ook eendag soos uitgediende moderne piramides hier in Afrika staan, as herinneringe van 'n tyd lank lank gelede, toe standaarde nog saak gemaak het.
    O ja Ria ,voor ek vergeet, natuurlik kan niemand die voortbestaan van 'n taal waarborg nie - net soos niemand iemand vir altyd aan die lewe kan hou nie. Maar net so maklik soos dit is vir iemand om 'n ander se lewe doelbewus te beëindig, net so maklik is dit om die voortbestaan van 'n taal doelbewus kort te knip, deur dit as akademiese taal te versmoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top