Inleidende opmerkings1
Middeleeuse universiteite, en dié wat uit die vroeë Renaissance dagteken, het baie gelyk op dit wat ’n paar jaar gelede nog as ’n tipiese voorstelling van dié instelling voorgehou sou kon word. Dit was enklaves van geleerdheid waar uitnemende geleerdes aan uitgesoekte studente gedoseer het. Die keuse vir die gebruik van Latyn as wetenskapstaal het reeds die elitêre aard van die universiteit as instelling bevestig: minder-ontwikkelde (volks)tale is uitgesluit en ook studente wat nie hierdie taal kon beheers nie. Terwyl hierdie soektog na ware kennis oënskynlik in relatiewe outonomiteit en vryheid kon geskied met marginale aandag aan die breë samelewing, was die mag van ’n doktrinêre Rooms-Katolieke Kerk voelbaar en kon die aanspraak op wetenskaplike integriteit kwalik totale vryheid waarborg.
In latere eeue het die wesensaard van die universiteit as ’n instelling waar kennis geproduseer en oorgedra word, nie drasties verander nie. Wel is die struktuur en inhoud daarvan (deur oa die insluiting van nuwe dissiplines) gewysig, veral in die 19de eeu.
Die stigting van die Universiteit van Berlyn (1809) word allerweë beskou as belangrik omdat dit as model gedien het vir verskeie moderne universiteite wat daarna hul beslag gekry het. Waar die Middeleeuse universiteit gedienstig was aan die kerk, was die moderne 19de-eeuse universiteit – ten spyte van die aandrang op akademiese vryheid – ’n produk van nasionale state en diensbaar daaraan (ook in die taalmedium daarvan). Daarom het die aanklag dikwels opgeklink dat die universiteit die lakei is van moderne regerings.2
Die ideaal van akademiese vryheid mag lofwaardig wees, maar is in die Suid-Afrikaanse universiteitsgeskiedenis selde of ooit verwesenlik. Akademiese vryheid word duidelik in die gedrang gebring wanneer inbreuk gemaak word op universiteite se selfbeskikking, en dit raak dikwels die vestigingsfase, befondsing én die toelatingsbeleid. Giliomee (2001:4) toon aan dat die aantasting van universitêre outonomie inderwaarheid strek tot by die vestigingsfase van ons Suid-Afrikaanse universiteite, omdat daar doelbewus getrag is om bestaande universiteite te angliseer en nuwe universiteite as eentalige Engelstalige instellings op te rig.
Die voor die hand liggende voorbeeld van die aantasting van akademiese vryheid is die vorige regering se miskenning van die outonomie van universiteite. Miskien die sigbaarste vergryp het die toelating van studente betref. Swart studente is in klein getalle toegelaat tot (Engelse) universiteite omdat daar deur sg etniese universiteite voorsiening gemaak is vir hul opleiding. Hoewel sommige van hierdie instellings (bv Fort Hare, Durban-Westville en Wes-Kaapland) dikwels akademies voortreflik was en omskep is tot bastions teen apartheid, het ander nooit legitimiteit verwerf nie en is hulle as “bush colleges” gesien. Inmiddels is onderwyskolleges opgedoek, het Vista en RAU gesneuwel onder andere weens samesmeltings, is technikons omskep in tegniese universiteite én is daar nuwe universiteite opgerig. Teen hierdie agtergrond van staatsinmenging is dit kwalik vreemd dat die regering in diverse verslae en wette duidelik te kenne gegee het dat die beplanning van hoër onderwys een van sy strategiese prioriteite is en dat dit voortdurend in samehang met politieke doelwitte geskied. Giliomee (2001:30) het al daarop gewys dat die National Plan for Education groot ooreenkomste getoon het met die aanbevelings van die Van Wyk de Vries-kommissie in 1975: beide is volgens hom verslae wat polities gedrewe is en geen afwykings of uitsonderings duld nie.
Die redes vir die opvallende ooreenkomste tussen die regeerstyl van die ou Nasionale Party en die regerende African National Congress is kompleks en behoef waarskynlik eerder verklaring deur ’n kenner van die politieke wetenskap of eietydse geskiedenis. Opvallend is egter die ooreenkomste wat betref die sentristiese, ideologies-gedrewe manier van regeer, gevoeligheid vir kritiek (veral uit die geledere van hul ondersteuners en van die pers) en ’n toenemende burokratisering in die sin dat elke terrein deur wetlike bepalings bereël moet word. ’n Ander nare gevolg van die uitsluitende aard van die apartheidsjare is dat die uitsluitingsbeginsel (selfs op billike gronde) met wantroue deur die huidige regering bejeën word en dat toeganklikheid/inklusiwiteit op die spits gedryf word.
Al hierdie faktore kom deeglik in die spel wanneer gepraat word oor die behoud van Afrikaans in opvoedkundige instellings soos universiteite én ook skole.
Wanneer die universiteit vandag bekyk word in Suid-Afrika, kom terme soos postmoderne universiteit, markgedrewenheid en globalisering dadelik na vore. Uit verskeie regeringsverslae en wetgewing oor die hoër onderwys blyk dit onomstootlik dat die huidige regering ’n veranderde standpunt nahou oor die universiteit as instelling. Dit sou onregverdig wees om hierdie veranderde persepsie bloot te wyt aan die ideologiese gedrewenheid van die ANC; wêreldwyd word daar tans anders na universiteite gekyk.
Toeganklikheid van universiteite
Universiteite word gesien as nasionale bates wat primêr in diens staan van die samelewing en uiteraard ook die doelwitte wat ’n bepaalde regering nastreef. Omdat universiteite in Suid-Afrika in hoë mate afhanklik is van staatsubsidie, kan hulle nie die regering vervreem nie en word hulle in feite beperk deur wetgewing oor die hoër onderwys. Die huidige regering is sterk ingestel op bemagtiging en emansipasie van mense – doelstellings wat dikwels aan demokratiese uitgangspunte gekoppel word. Dit word versigbaar in ’n aandrang daarop dat al hoe meer mense die geleentheid gegun moet word om aan instellings van hoër onderwys (en spesifiek ook universiteite) te studeer. Massifikasie van die onderwys vorm inderwaarheid skering en inslag van hoër onderwys in Suid-Afrika. Hierdie toestroming van studente – dikwels uit arm gemeenskappe – het ook aanleiding gegee tot ander probleme: voldoende (woon)ruimte op kampus, aandrang op beurse en selfs gratis onderwys, en roosterprobleme wat ook op byvoorbeeld parallelmediumonderrig 'n impak gehad het.
Wanneer die voertaalkwessie te berde gebring word, moet dit ook gesien word binne die konteks van 'n uiters onstabiele universiteitsomgewing in Suid-Afrika. Die hele #Rhodesmustfall-veldtog en die uitlopers daarvan, #feesmustfall en #Afrikaansmustgo, is nie maar nét af te maak as slagspreuke van heethoofde nie. Baie denkbeelde moet gesien word as reaksies op kolonialisme; jong swart mense ontdek hulle eie identiteit en soek na hulle eie wortels, ook filosofies en wetenskaplik. Geykte Westerse paradigmas en kanons word nie meer sito-sito aanvaar nie. Die Frans Fanons word op elke wetenskapsterrein (her)ontdek, met die gevolg dat reaksionêre optrede deels verklaarbaar is. Die militante optrede spruit ook dikwels uit armoede en die gepaardgaande ontnugtering dat politieke bevryding in baie gevalle geen ekonomiese bevryding gebring het nie: duisende jongmense (veral swart) kan nie die stygende koste vir universiteitsopleiding bekostig nie. Die regering staan in die beskuldigdebank omdat dit te min aan hoër onderwys bestee (Dickinson 2016), maar ook universiteitsbesture wat lustig geld bestee aan oorsese reise, mooi meubels en deftige toegangshekke.
In 'n sogenaamde ope brief spreek Adam Habib (2016), die visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, hom uiters krities uit oor die gewelddadigheid van betogers by sy universiteit en verduidelik hy sy besluit om die hulp in te roep van 'n privaat sekuriteitsmaatskappy om die orde op die kampus te handhaaf. Hy betwyfel die legitimiteit van die gebruik van geweld by universiteite en vra retories: "Have we truly considered the consequences of allowing violence to prevail within our community?" (bl 4).
Die stryd om gratis onderrig vir armes is legitiem, aldus Habib; selfs die gebruik daarvan vir die bereiking van politieke doelwitte. Maar dit mag nie die regte raak van diegene wat wil registreer en studeer nie en mag nie die taak van die universiteit as wetenskaplike instellings strem nie.
Uiteindelik is die slagoffers weer die armes wat met groot opoffering dit vermag het om toelating tot die universiteit te kry en boonop die geld daarvoor moeisaam gevind het.
Mobiliteit van studente
In ’n samelewing waar migrasie aan die orde van die dag is, is dit dikwels vir studente onmoontlik om hul studie aan een enkele universiteit te voltooi. Twee ander faktore is ook verantwoordelik vir die beweging van studente. Heel dikwels is studente nie in staat om te betaal vir hul hele studietydperk nie; studie word onderbreek en later (dikwels op ’n ander plek) voortgesit. ’n Student met ’n sertifikaat (of diploma) mag later besluit om (by ’n ander instelling) verder te studeer vir ’n graad. Ten einde mobiliteit van studente te vergemaklik moet programme nie net horisontale mobiliteit toelaat nie; studente moet ideaal gesproke ook in hul voorkeurtaal verder kan studeer. Omdat dit hier primêr oor swart studente gaan, word van regeringskringe hoë premie geplaas op onderrig deur middel van Engels. Dit is vergelykbaar met die Erasmusprogramme in Europa wat dieselfde probeer bereik en presies dieselfde gevolge het: Engels word nie net die voorkeurtaal nie, maar toenemend dié taal van onderrig.
Pragmatiese eise
Gekonfronteer met hoë werkloosheid (veral onder swart mense), en gestu deur die drang tot regstellende aksie, sien die regering die heil vir mense dikwels in die hoër onderwys. Vroeër het technikons, tegniese kolleges en onderwyskolleges primêr hierdie taak gehad om geskoolde mense pasklaar vir die beroepsmark te lewer. Tans val die plig op tegniese universiteite en tegniese kolleges, en die opdoek van onderwyskolleges het 'n ernstige leemte gelaat. Tog het universiteite ook nie die eis om beroepskoling vrygespring nie. Daar word toenemend klem geplaas op die leeruitkomste van akademiese programme met die verwagting dat daar naas kennis ook vaardighede by leerders bygebring moet word. “Implementeerbaarheid”, "toepassing" en “relevansie” hou nie net verband met die uitkomste van onderrigprogram nie; dit word toenemend toegepas op navorsing. Die implikasie is dat navorsers al hoe meer alliansies aangaan met die private sektor (industrie) en eksterne (internasionale) donateurs, wat dikwels ook die opdraggewers van navorsing is. Weens die oorheersende aard van Engels in die openbare sfeer en die feit dat regeringsinstansies vrywel net in Engels funksioneer, word navorsing toenemend (ook in die geesteswetenskappe) in Engels gedoen. Die eis om multidissiplinêre navorsing word al dringender, en veral die opleiding en begeleiding van swart navorsers. In beide gevalle impliseer dit gewoonlik dat die navorsing in Engels geskied. Implikasies vir die voertaal van universiteite (veral op nagraadse vlak) spreek vanself.
Internasionalisering en globalisering
Enersyds weens onkeerbare globaliserende tendense, andersyds vanweë die noodsaak wat daar vir universiteite bestaan vir internasionale deelname, erkenning en samewerking, raak wetenskapsbeoefening in Engels ’n noodsaak vir wetenskaplikes in kleiner tale. Salverda (2001) wys reeds 15 jaar gelede op die situasie in die tersiêre sektor in Nederland wat volgens hom kommer baar, omdat Nederlands binne die afsienbare toekoms daar as onderrigtaal mag verdwyn. Sy voorspelling het deels waar geword wat nagraadse opleiding betref. Rudi Botha (2015) wys wel daarop dat wat voorgraadse opleiding betref, ongeveer 90% van die programme steeds in Nederlands aangebied word. Van hierdie universiteite (soos Utrecht, Leiden en Groningen) is dikwels hoog gelys op internasionale ranglyste (onder die top 100 universiteite) en Botha wys daarop dat hulle hierdie posisies verwerf het "in weerwil van die feit dat hulle Nederlands vir die oorweldigende meerderheid van hul baccalaureus-programme gebruik". Dit is vir hom 'n genoegsame argument om die bewering te verwerp dat Stellenbosch voorgraads in Engels moet doseer ten einde internasionaal te presteer.
Betrokkenheid by die samelewing
Tradisioneel is universiteite gesien as kennissentra waar kennis geproduseer en oorgedra is. Daarin het ook hul primêre nut vir die samelewing gelê. Die bekende voorbeeld van Newton wat sy eksperimente met swaartekrag voortgesit het, skynbaar onbewus van, en onaangeraak deur, die pesepidemie elders in Engeland, is nog altyd gebruik om die begrip “nut vir die gemeenskap” te relativeer. Wie het dan die meeste tot voordeel van die gemeenskap bygedra, is altyd gevra: Newton of diegene wat aktief die pes bestry het?
Plek vir retoriese vrae is daar nie meer nie. Universiteite word toenemend gesien as diensbaar aan die gemeenskap en in Suid-Afrika word dit op vreemde wyse gesien as die totale gemeenskap. Daarom word toenemend daarop aangedring dat universiteite wat studente en studente betref die bevolkingsamestelling moet weerspieël. Dat die bevolkingsamestelling in die Wes-Kaap radikaal verskil van dié in byvoorbeeld KwaZulu-Natal word negeer.
Voorts is hier van 'n bykans skisofreniese situasie sprake: alle universiteite word gesien as internasionale rolspelers, met klem op internasionalisering van die wetenskap deur publikasies in internasionale vaktydskrifte en die aanstelling van internasionale akademici, al is dit net as eksterne eksaminatore. Terselfdertyd word egter verwag dat universiteite deur gemeenskapsdiens nasionaal moet funksioneer en die plaaslike gemeenskap moet dien. Die laasgenoemde standpunt impliseer egter (teenstrydig met die vorige) óók verrekening van plaaslike behoeftes deur byvoorbeeld plaaslike tale in berekening kan bring. So behoort die US in die Wes-Kaap in Afrikaans onderrig te gee.
Die universiteit as ekonomiese entiteit
Dat ’n universitêre opleiding altyd ’n sosiaal-ekonomiese voordeel ingehou het, naas ’n akademiese, behoef weinig bewyse. Omgekeerd is die universiteit natuurlik ook ’n ekonomiese bate vir die gemeenskap en die staat en kan baie van sy navorsingsprodukte (soos patente, uitvindings en prosesse) aangewend word tot direkte voordeel van die breëre gemeenskap. Goedopgeleide persone dra uiteraard ook by tot ekonomiese-welvaart-skepping.
Die hedendaagse universiteit word veelal bedryf as sosiaal-ekonomiese (eerder as akademiese) instelling en rig hom in baie opsigte na die markte en samelewingsbehoeftes/-probleme. Entrepreneuriese aksies van universiteite word nie net aangemoedig nie, maar selfs afgedwing deurdat staatsubsidies toenemend afgeskaal word. Om die sg derde geldstroom te tap, vra aksies wat veel verder gaan as tradisionele fondswerwing. Dit lei tot afhanklikheid van die privaatsektor wat veelal slegs in Engels sake doen: “Wiens brood men eet …”
In die afgelope jare het die studentetal van universiteite drasties verander. Daar was ’n enorme styging in studentegetalle (56 000 meer in 2003) by die histories Afrikaanse universiteite (HAU’s) en terselfdertyd ’n daling van studentegetalle (ongeveer 27 000 minder in dieselfde tydperk) by histories swart universiteite (HSU’s). Streng gesproke kan dit gesien word as ’n gesonde ekonomiese beginsel waar markkragte dikteer. Alle universiteite het egter nie dieselfde ontwikkelingsvlak bereik nie en kan nie op gelyke vlak meeding nie. Dit is daarom duidelik dat die hele proses deur ’n nasionalebeplanningsraamwerk gereguleer moet word, soos ook inderdaad gebeur het deur die voorgestelde nasionale plan vir hoër onderwys, wat ook ten doel het om meer gegradueerdes te lewer ten einde die ekonomie te laat groei.
Markkragte kan altyd gemanipuleer word. Dit is ook ’n waardevolle les vir almal (ook universiteitsrektore) wat hul so maklik daarop verlaat. Daar was 980 000 studente in 2013 aan openbare universiteite in Suid-Afrika. Indien Unisa (350 000 studente) en tegniese universiteite (160 000 studente) weggelaat word, beteken dit 470 000 studente, wat 'n verdubbeling is van die syfers in 1994 (Le Roux 2016).
Die universiteit en ideologie
Daar is vroeër reeds geredeneer dat universiteite selde totaal los van ideologiese paradigmas kon funksioneer; ook nie in die Suid-Afrikaanse verband nie. Ons huidige situasie is geen uitsondering nie. Binne die denke van die ANC-regering, wat toeganklikheid tot universiteite wil verhoog en ’n broertjie dood het aan enige vorm van uitsluiting, was die konsep van eksklusief Afrikaanse universiteite (en alle ander universiteite wat met in- en uitsluiting geëksperimenteer het, soos Vista) gou onaanvaarbaar. Nou begin dit lyk asof enige onderrig in Afrikaans gesien word as 'n doodsonde. Telkens word marginalisering en uitsluiting as redes vir hierdie afkeer aangevoer. Die UV-raad se besluit dat Engels in die toekoms die enigste onderrigtaal sal wees, is hiervan 'n voorbeeld en sal later as gevallestudie dien.
Die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys het al duidelike riglyne bevat ten aansien van “equity” en “redress”. Van die sterkste ideologiese ingrypings in die universiteitsoutonomie was die Wet op Hoër Onderwys (Higher Education Act), Wet 101 van 1997, wat bykans alle voorafgaande wetgewing vervang, en die Wet op Billike Indiensneming (Equity Act, Wet 55 van 1998). Eersgenoemde wou 'n enkele, gekoördineerde stelsel vir hoër onderwys vestig (oa programme herstruktureer, gelyke toegang verseker, 'n Raad vir Hoër Onderwys instel, openbare inrigtings en ook die registrasie van private inrigtings vir hoër onderwys beheer. Terwyl toelating van swart studente ’n hoë prioriteit was, geld die laasgenoemde wet die samestelling van die werkerskorps. Die getal mense uit die “aangewese groepe” (waar duidelik onderskei word tussen mense anders as blank, vroue en gestremdes) moet verhoog word om meer verteenwoordigend te raak. Gereelde terugvoer moet per kategorie geskied, planne tot verhoging van persentasies uit die aangewese groepe moet voorgelê word en kwalifikasies is nie meer die deurslaggewende faktor nie – potensiaal word ’n belangrike kriterium.
Hierdie wet was waarskynlik die enkele rede waarom Afrikaans orals by Suid-Afrikaanse universiteite die onderspit gedelf het: persone wat aangestel word uit die swart geledere is selde Afrikaans goed magtig. Ook in parallelmedium-universiteite veroorsaak hierdie wet ’n krisis, omdat eentalige swart dosente net aan Engelssprekende (oorwegend swart) studente kan klasgee, met die gepaardgaande verwyte van ghettovorming en die instandhouding van apartheidstrukture. Geen nuwe universiteit (bv Akademia) sal die verreikende gevolge hiervan kan ontsnap nie.
Waarom Afrikaanse universiteite?
’n Mens kan hierdie vraag uit minstens drie perspektiewe of fokushoeke bekyk: die reg van kulturele minderhede, of die demokratiese fokus; die belang wat dit inhou vir die taal en sy funksies self – die taalsosiologiese fokus; en die bydrae wat sodanige instellings vir die land kan inhou, maw die pragmatiese fokus.
Dit alles moet ook gesien word binne die demografiese realiteite van die snelgroeiende swart bevolking, veral die jeugdiges.
Wat die demokratiese vraagstelling betref, kan gekyk word na ’n omvattende korpus tekste oor liberaal-demokratiese beginsels. Ek verwys in hierdie verband na ’n verklaring, The Rights of Minorities (2001:13), wat deur die Friedrich-Naumann-Stiftung uitgereik is. Daarin word duidelik uiteengesit dat nasionale minderhede die reg het op onderwys en opleiding in hul eie taal tot op tersiêre vlak mits getalle dit regverdig. Gesien die getal Afrikaanssprekende matrikulante en studente, spreek dit vanself dat dit Afrikaansonderrig op ’n streeksbasis regverdig. Binne taalverspreidingspatrone beteken dit konkreet opleiding in die suide van die land (waar Afrikaans selfs in ’n meerderheidsposisie is), die Gauteng-gebied, waar Afrikaans sterk staan, en die sentrale landsdele soos die Vrystaat en Noord-Kaap, waar daar ’n oorheersend Afrikaanse taalvoorkeur bestaan, ten spyte daarvan dat moedertaalsprekers van Afrikaans min is.
Uit taalsosiologiese hoek kan aangevoer word dat ’n taal nooit volwaardige draer van die behoeftes van sy sprekers kan wees sonder dat dit alle funksies vervul nie. Die akademies-wetenskaplike funksies is in hierdie verband belangrik, soos om taal te wees van die politiek en landsbestuur, die regswese, die media en die universiteit. In die 20ste eeu is baie kundigheid en energie gewy aan juis die bereiking van hierdie ideaal vir Afrikaans. In dié verband kan terloops gewys word na akademici van wêreldgehalte wat hul lewens gewy het aan die uitbouing van Afrikaans met groot opofferings. Vir Afrikaans en sy funksies sou die verlies aan wetenskaplike funksies en status verreikende gevolge hê. Dit sou skole kon noop om verder te verengels en kan inderwaarheid die begin van die einde van Afrikaans se hoër funksies beteken. Gelukkig maar dat Afrikaanse skole se werksetos, uitstekende onderrig en puik matriekuitslae – én hulle ingebedheid binne gemeenskapsetiek, hulle voortbestaan kan verseker.
Dikwels word die ideale van Afrikaanssprekendes om hul taal se wetenskaplike funksies te behou, as selfsugtig getipeer. Selde word gekyk na die voordele wat dit ook vir Suid-Afrika as geheel inhou. Daar is van vroeg af (reeds sedert 1917) geleentheid gebied aan Afrikaanssprekendes om hul skoling in hul eie taal te ontvang of om wetenskaplik besig te kon wees in Afrikaans. Hierdie geleentheid is met albei hande aangegryp en Afrikaanssprekendes (en mense wat in dié taal gestudeer en gewerk het), het in die vorige eeu ’n enorme bydrae tot die land gelewer. Daar is bykans nie een terrein waar die bydraes gering was nie, maar sonder die bydraes in die besonder van ’n Hendrik van der Bijl, Anton Rupert, Elize Botha, Merwe Scholtz, Herman Giliomee, die Stokers en Wally Grant, om maar net enkeles te noem, sou Suid-Afrika oneindig armer gewees het. Té gou word ook vergeet dat meertaligheid oënskynlik duur is, maar dat mensepotensiaal wat deur eentaligheid verlore gaan, 'n veel groter prys impliseer.
Andreas van Wyk het gelyk gehad deur die gevare verbonde aan parallelmediumonderrig uit te wys (Van Wyk 2001:4).3 Dit is ook so dat dit maklik aanleiding kan gee tot twee verskillende universiteite op dieselfde kampus. Die aanklag van ghettovorming op die UV-kampus is al herhaaldelik gehoor. Ook die HEQC-verslag van 2006 beskuldig byvoorbeeld die UV van skeiding in koshuise en lesinglokale.
Van Wyk se destydse voorkeur vir dubbeltaligheid (bo parallelmedium) is egter onbegryplik, omdat dit totaal onprakties is waar dosente en studente nie albei tale kan gebruik nie (en dit is bykans orals in Suid-Afrika die geval). Wat in die praktyk gebeur, is dat daar oorgeslaan word in die taal wat deur almal begryp word. Dit sal nooit Afrikaans wees nie. Parallelmediumonderrig, onderhewig aan streng bepalings, is na my gevoel beter as dubbelmediumonderrig in dieselfde lokaal (soos skynbaar by Stellenbosch gebeur het), al geskied dit selektief wat betref 'n seleksie van vakke of kursusinhoude. Dié sisteem bied ook ’n maklike oorgang na eentalige onderrig, soos inderdaad aan die Universiteit van Port Elizabeth saliger gebeur het.
Die status quo wat Afrikaanse universiteite betref
In die lig van bostaande opmerkinge is dit duidelik dat eksklusief Afrikaanse universiteite na 1990 nooit ’n haalbare opsie was nie. Selfs as gedink word aan ’n virtuele of tegnologiese universiteit, sal eksklusiwiteit ten opsigte van taal nie oorweeg kan word nie. Daarvoor was die impak van globalisering te groot en raak universiteite wat hul studente nie kan oplei om internasionaal te kompeteer nie, irrelevant. Handboeke in bepaalde dissiplines (soos fisika) kan slegs in Engels voorgeskryf word, omdat nuwes om die ses maande verskyn en dit nie in Afrikaans op so ’n kort termyn bygewerk kan word nie. Dit sal dus nooit vir ’n Afrikaanssprekende student moontlik wees om (soos in die geval van sy Engelssprekende medelandsburger) sy opleiding in een taal te ontvang nie.
Giliomee (2001:29) wys al in 2001 daarop dat die Universiteit van Pretoria in sy voorleggings met die oog op die National Plan for Higher Education geen verbintenis ten opsigte van Afrikaans of parallelmediumonderrig aangedui het nie. In sy opmerkings aan Saleem Badat het die rektor van UP daarop gewys dat hulle die oorgang na “one predominant formal academic language” gretig afwag. Voeg daarby dat die UP ook “al universiteit (was) wat nie ’n respons op die Alexander-komitee se vraeboog oor veeltaligheid ingestuur het nie” (ibid 30), dan dui alles daarop dat daar reeds ’n keuse ten gunste van Engels gemaak is.
In ons besluitneming vorentoe oor ’n gesamentlike strategie vanuit die Afrikaanse gemeenskap sal ons deurgaans een feit moet beklemtoon: universitêre outonomie is nooit absoluut nie. Dit is nie net die prerogatief van die regering van die dag om hierdie outonomie te bepaal nie; ook daardie kultuurgemeenskap wat primêr deur ’n universiteit bedien word (of bedien is), het inspraak in die besluitneming van sodanige instelling. Die ondersteuning, energie én geld wat oor jare deur Afrikaanssprekendes gegee is aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, gee hulle ’n morele reg om (uiteraard op ingeligte en konstruktiewe wyse) saam te besluit oor die toekoms van hierdie instellings. Helaas staan hierdie aansprake teenoor dié van 'n meerderheid wat hulle eie regte opeis.
Die vraag moet dus liefs anders geformuleer word: Kan Afrikaanse onderrig nog behou word in die tersiêre-onderwyssektor, en veral dan aan universiteite?
Ek is onder andere by die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie in 2015 verkwalik dat ek in 'n artikel oor die UV (Van Coller 2015) gesê het dat die "doodsklok vir Afrikaans lankal gelui het" by dié universiteit. Jammer genoeg het my voorspelling gou waar geword. Op 'n vergadering van die UV-raad op 4 Desember is die volgende besluite geneem (hoe vaag en selfs ondeurdag sommige daarvan is):
Dat
- Engels die primêre medium van onderrig word in voorgraadse én nagraadse studie
- die UV 'n taalryke omgewing skep en bevorder wat tot veeltaligheid verbind is, met aandag veral aan Afrikaans, Sesotho, isiZulu en ander tale wat op die drie kampusse verteenwoordig word
- 'n uitgebreide tutoriaalsisteem beskikbaar sal wees veral vir Afrikaans, Sesotho, isiZulu en ander tale om die oorgang na onderrig in Engels te vergemaklik
- in spesifieke professionele programme, soos in opvoedkunde en landbouwetenskappe die parallelmediumonderrig voortgesit sal word in die lig van die duidelike Afrikaanse markte wat steeds sodanige taalspesifieke onderrig tans noodsaak
- die administratiewe taal Engels sal wees
- die Engelsmediumtaalbeleid met buigsaamheid in werking gestel moet word, eerder as op 'n onbuigbare wyse, sonder inagname van omstandighede.
Oor die UV-Talekomitee se verslag het ek reeds heelwat geskryf (Van Coller 2016a; Van Coller 2016b). Die wyse van redenering, die ideologiese vertrekpunte en die argumente kom voor by elke ander debat oor Afrikaans by Suid-Afrikaanse universiteite en kan daarom as gevallestudie hanteer word. Dit is byvoorbeeld duidelik dat die uitgangspunt van die komitee was dat Afrikaans nie as 'n neutrale taal beskou kan word nie, maar slegs binne die historiese verband van sy "rassistiese" verlede. Beoordeel aan die twee belangrikste rigtinggewende beginsels van die UV, dié van inklusiwiteit en veeltaligheid, is Afrikaans 'n hindernis. Dit verdeel studente rasgewys in lesinglokale, sluit hulle uit en wek die gevoel dat Afrikaanse studente bevoordeel word. Omdat swart studente in hulle tweede of derde taal onderrig ontvang, behoort Afrikaanse studente dit ook te doen. Binne 'n paradigma van skuld lyk "equal misery" die gewete te salf sonder dat die situasie van Engelse studente ooit aandag ontvang. Verder word gewag gemaak van demografiese verskuiwings wat Afrikaanse studente 'n klein minderheid maak (kwalik 25% aan die UV); selfs Afrikaanse studente verkies dikwels Engels vanweë die eise van 'n globale wêreld; en ten slotte is parallelmediumonderrig baie duur.
Die aanbevelings van die Talekomitee probeer 'n versoening teweeg bring tussen 'n voorkeur vir Engels en meertaligheid, soms op 'n besonder gevoellose wyse: Afrikaans mag wel nog gebruik word waar daar 'n groot aanvraag is (dán verval prinsipiële argumente) en ook om die oorgang na Engels te vergemaklik. Soms is van die aanbevelings ook gewoon vaag, pretensieus en selfs absurd. Daar moet byvoorbeeld kwansuis ondersteuning gebied word aan Afrikaanse akademiese tydskrifte. Terselfdertyd word akademiese onderrig in Afrikaans nekomgedraai. Waar gaan die persone vandaan kom wat nog in Afrikaans 'n akademiese diskoers kan voer?
As gekyk word na die Taalbeleide van Stellenbosch, Pretoria en Noordwes, blyk dit dat papier geduldig is: almal bely 'n verbintenis tot meertaligheid; daar word in Afrikaans en Engels onderrig – de jure kan daarmee min fout gevind word. De facto lyk dit egter anders: nagraadse opleiding geskied orals bykans net in Engels; selfs in voorgraadse lesings word dikwels net van Engels gebruik gemaak en hang Afrikaans inderwaarheid aan 'n draadjie. By Stellenbosch word daar tans, ten spyte van 'n US-raadsbesluit dat die taalaanbod "onverander sal bly" en dat steeds in Afrikaans en Engels gedoseer sal word, voortgegaan met verengelsing. Twee fakulteite (Ingenieurswese en Regte) het reeds besluit om klasse hoofsaaklik in Engels aan te bied. Op grond hiervan het Afriforum begin met regstappe om die besluite ter syde te stel. By die UV is reeds besluit dat Engels die onderrigtaal sal word en UP én die NWU se taalbeleide word skynbaar in die nabye toekoms hersien. Dalk is dit die beste gesteld met Afrikaans by Noordwes, omdat parallelmediumonderrig tans ingestel word op die Potchefstroom-kampus net by die vakke met groot getalle studente. Dit sal egter seer seker eskaleer en parallelmediumonderrig lei uiteindelik onafwendbaar tot eentalige onderrig, veral weens die toestroming van swart studente. Alles die gevolg van 'n bestuursmodel wat bestempel word as ondeurdag, maar wat vir my lyk na 'n berekende strategie om die Potchefstroom-kampus as Afrikaanse bastion te vernietig.
Uiteraard is dit noodsaaklik om te probeer red wat te redde is, want die Anton van Niekerks en Amanda Gouwse sal ons altyd by ons hê: gretig om ter wille van versoening (en ter salwing van die gewete) Afrikaans prys te gee. Maar as prominente taalmense eintlik al verengelsing gelate aanvaar, is die skrif aan die muur en sal alternatiewe maniere gevind moet word om Afrikaans se hoër funksies te red. Die onderhandeling vir die instel van kernprogramme in Afrikaans per fakulteit of studierigting by universiteite is 'n haalbare oplossing; ook standhoudende tutoriaalgeleenthede. Die skep van Afrikaanse akademiese diskoersruimtes is verder van die grootste belang: in tydskrifte, seminare, kongresse; selfs op eentalig-Engelse kampusse. Die inisiatiewe van die NP Van Wyk Louw-sentrum met hul Standpunte-aksie is 'n sprekende voorbeeld. (Kyk ook na die voorstelle van Eloff 2015, Buys 2015 en Grové 2015 by die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.)
Vir baie mense is Akademia die redding vir Afrikaans as universiteitstaal. Ja, mits staatsinmenging (oa deur wetgewing) minimaal is, die eise van globalisering en internasionalisering sinvol hanteer kan word, akkreditering moeiteloos geskied, uitnemendheid (wat die personeel op alle vlakke betref) die rigsnoer is en bly, en elke persoon op watter vlak ook al net so goed (of liefs beter) is as die mense op dieselfde vlak in die Suid-Afrikaanse akademiese wêreld. Les bes: indien daar genoeg geld gevind kan word om vinnige uitbreiding in die rigting van 'n omvattende universiteit moontlik maak.
Bibliografie
Botha, Rudi. 2015. Engels is nié voertaal in Nederland. Rapport, 28 November 2015, bl 33.
Buys, Flip. 2015. Universiteite en Afrikaans. Ongepubliseerde bydrae by die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2 Oktober 2015.
Dickinson, David. 2016. Report back from council: Events of "Fees must Fall". Terugvoering as die senaatsverteenwoordiger op die Raad van die Universiteit van die Witwatersrand.
Eloff, Theuns. 2015. Universiteite en Afrikaans. Ongepubliseerde bydrae by die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2 Oktober 2015.
Giliomee, Herman. 2001. Die taal- en kulturele uitdagings van die historiese Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika. Twintigste DF Malherbe-gedenklesing, 19 April 2001. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.
Goosen, Danie. 2000. Die postmoderne universiteit: enkele spekulatiewe notas. Fragmente. Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek, 5:21–30.
Grové, Niek. 2015. Universiteite en Afrikaans. Ongepubliseerde bydrae by die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2 Oktober 2015.
Habib, Adam. 2016. An open letter to colleagues critical of campus safety and security arrangements, 17 Januarie 2016.
Ijsseling, Samuel. 2000. Filosofie, politiek en universiteit. Fragmente. Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek, 5:11–9.
Le Roux, Piet. 2016. Vry van die staat. Beeld, 26 Januarie 2016, bl 17.
Rossouw, Hennie. 2000. Die toekoms van die universiteit. Fragmente. Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek, 5:56–76.
Salverda, Renier. 2001. Ons Erfdeel.
The Right of Minorities. A Declaration of Liberal Democratic Principles concerning Ethnocultural and National Minorities and Indigenous Peoples. Liberales Institut der Friedrich-Naumann-Stiftung.
Van Coller, HP. 2003. Die medium van onderrig aan Suid-Afrikaanse universiteite: die geval van Afrikaans. Koers, 68(1):87–105.
—. 2015. Doodsklok vir Afrikaans lui by UV. Volksblad, 15 Mei 2015, bl 9.
—. 2016a. “Foute in UV se hersiene Taalbeleid". Volksblad, 29 Januarie 2016, bl 7.
—. 2016b. Taalbeleid: 'n Objektiewe proses? Maroela Media, 2 Februarie 2016. http://maroelamedia.co.za/2016/02/02.
Van Wyk , Andreas. 2001. Afrikaans in ons hoër onderwys in die jaar 2001. Gesprek by KKNK, 9 April 2001.
Eindnotas
1 Ander instellings vir hoër onderwys kom slegs sydelings ter sprake.
2 In hierdie lesing maak ek dankbaar gebruik van ’n hele reeks artikels gebundel in Fragmente. Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek (5 van 2000) oor universiteite, oa Ijsseling 2000; Goosen 2000 en veral Rossouw 2000. Dit is ook ten dele op Van Coller (2003) gebaseer. Ek bedank ook persone wat dit krities gelees het, veral JC Steyn, EH van Coller en HCJ van Rensburg.
3 Herman Giliomee laat hom in Die Volksblad(20 Maart 2001, bl 12) nog sterker hieroor uit en hy noem tweetalige onderwys slegs ’n oorgangsfase “wat in die langer termyn die kleiner taal assimileer en as medium van onderrig uitwis”.
Hierdie artikel spruit voort uit die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Spitsberaad: Studente-onluste en die implikasies vir Afrikaans aan hoëronderwysinstellings
Kommentaar
Uiteindelik 'n weldeurdagte en omvattende reaksie op die afgelope maande en veral die laaste paar weke se onstuimigheid oral op Suid Afrikaanse universiteitskampusse. Die gesaghebbende komposisie op sigself het vir my 'n heenkome gebied ná die slagspreuk-tsunami, in die wyse waarop dit rasioneel die toegerustheid en relevantheid van akademiese Afrikaans demonstreer. Dankie daarvoor.