’n Strategiese ontleding van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing en die implikasies vir universiteite in Suid-Afrika

  • 4

Vir sommige politieke ontleders was 2015 ’n politieke waterskeidingsjaar. My oortuiging is egter dat 2016/7 ’n verdere hoogtepunt kan beteken en groter perspektief gaan verleen aan dit waarna Harold Macmillan destyds na verwys het as die uitspeel van die winde van verandering. Tans sien ons die uitspeel van ’n kompleks dinamiese politieke omgewing met kenmerke soos institusionele en politieke verval, ekonomiese en finansiële uitdagings, uiters hoë vlakke van politieke mobilisasie, ’n rekonfigurasie van die politieke spektrum, arbeidsonstabiliteit, korrupsie, skandale en nepotisme, asook ’n postkoloniale dinamika.

Onlangse uitsprake oor die stand van die Suid-Afrikaanse politiek sluit in:

  • “I can predict when South Africa’s ‘Tunisia Day’ will arrive.” – Moeletsi Mbeki
  • “Ticking time bomb waiting to explode.” – Zwelinzima Vavi
  • “Cry the beloved country” – The Economist
  • “South Africa can either have an ANC government or it can have a modern industrial economy. It cannot have both.” – RW Johnson.

Die postkoloniale dinamika met #Rhodesmustfall en #Feesmustfall het letterlik die relatiewe stabiliteit en kontinuïteit binne die universiteitsomgewings drasties versteur met verreikende implikasies vir die universiteitswese in Suid-Afrika. In die besonder is Afrikaanse universiteite geraak deur hierdie ontwikkeling en word daar tans wyd oor die toekoms van hierdie “Afrikaanse oorblyfsels” besin. Die toekoms van die universiteitswese in die algemeen (en ook Afrikaanse instellings in die besonder) kan egter slegs verstaan word wanneer die groter Suid-Afrikaanse politieke omgewing in perspektief geplaas word. Dit is dan ook die sentrale doelstelling van hierdie aanbieding.

Die groter politieke omgewing staan tans in ’n fase van dinamiese ekwilibrium (telkens disekwilibrium) en kan tans  voorgehou word as ’n vorm van “punctuation”, oftewel gebroke ekwilibrium. “Punctuations are unpredictable. They constitute unexpected breaks in the pattern; deviations from the norm. Punctuations are, by nature, abnormal events in history” (Human 1998:14). Hierdie verwysing is tans tegelyk van toepassing op die groter wêreldpolitiek, die Suid-Afrikaanse politiek en ook die universiteitswese in Suid-Afrika. Hierdie patroon van “onderbroke ekwilibrium” word gekenmerk aan die herdefiniëring van spelreëls of ’n behoefte hieraan (soos van toepassing op die spesifieke konteks); vloeibaarheid, dinamika en onvoorspelbaarheid; die verval van bestaande institusionele raamwerke; patrone van konflik, geweld en onstabiliteit; en ’n herbesinning oor waardes, norme en die geskiedenis. Die uitkoms van so ’n veranderingsproses beteken dikwels die herdefiniëring van ’n nuwe ekwilibrium en veronderstel ’n nuwe balans van kragte en magte binne ’n geïdentifiseerde konteks.

Bostaande kan as vertrekpunt geneem word vir die verstaan van die makrodinamika binne die Suid-Afrikaanse politieke konteks met verreikende implikasies vir onder meer  die universiteitswese in Suid-Afrika.

Daar is veral vier groot klusters (kontekste) van verandering wat tans die politieke omgewing in Suid-Afrika na ’n sogenaamde kantelpunt (“tipping point”) kan neem. Skematies kan hierdie makrodinamika soos volg voorgestel word (vergelyk Duvenhage 2014):

duvenhage

’n Kort beskrywing van elkeen van hierdie kontekste is noodsaaklik vir die groter argumentasielyn.

Partypolitieke dinamika

Belangrike veranderinge was op ’n regeringsfront sigbaar wat interessant genoeg heelwat ooreenkomste vertoon met dié van bevrydingsbewegings wat omtrent 20 jaar (na dekolonisasie) binne ’n Afrikakonteks aan bewind is. Hieronder tel sake soos eenpartydominansie; verlies aan politieke steun oor die langer termyn; hoë vlakke van politieke apatie; die vervlegting van die domeine van die staat, party (dikwels bevrydingsbeweging) en die regime; die radikalisering van beleid (soos wat in Zimbabwe die geval was); en eskalerende konflikte binne die regerende alliansie (soms na verwys as ’n “broad church”). (Vergelyk ook Duvenhage 2014a vir meer besonderhede oor bogenoemde.)

Ten opsigte van die regerende elite is dit dikwels die vervanging van politieke leierskap (veral die sogenaamde sterk manne van die politiek) wat tot patrone van politieke onstabiliteit kan aanleiding gee. Demokratiese verkiesings wat ’n bedreiging inhou vir die heersende elite dra heel dikwels tot konflik by, soos wat onlangs in verskeie Afrikastate waargeneem is, waaronder Kenia, Burundi en Lesotho.

Bostaande beskrywing kan bykans onveranderd vandag op die ANC-regering in Suid-Afrika van toepassing gemaak word. Met toenemende steunverliese onder veral die stedelike middelklas is die regerende ANC al hoe meer aangewese op landelike steun. Dit is interessant dat die landelike aard van die ANC toenemend gereflekteer word in lidmaatskapgetalle en dat die grootste opposisie teen die regering dikwels vanuit die stedelike middelklas kom, byvoorbeeld die Kaapse skiereiland, Gauteng en die Nelson Mandela-metropool. Die ANC lyk tans baie kwesbaar in sommige stedelike omgewings kort voor die uiters belangrike plaaslike verkiesings later vanjaar. Dit is nogal ironies dat Johnson (2015:135–7) verwys na “the ANC: party of the Bantustans” om die tradisionele identiteit wat die party deesdae ontwikkel te beklemtoon. Johnson (2015:56) beklemtoon dan ook die tradisionalisering van die ANC met die volgende stelling: "The Zuma system resembled a medieval state in which the king or mafia don was owed fealty by might barons who paid him tribute and gave him political and military support if needed. Within their own baronies, the barons were almost absolute rulers, exacting tribute from those beneath them and exercising powers of patronage over lower-level appointments."

Wat die groter politieke spektrum betref, is groot rekonfigurasies tans aan die orde, waaronder nuwe politieke akteurs, byvoorbeeld die EFF en die te stigte Werkersparty, terwyl partye soos die DA en die VF+ hul meer na die sentrum posisioneer met eersgenoemde na die linkerkant van die sentrum.

Dit is veral die linkerkant van die politieke spektrum wat by verre die grootse steunbasisse het wat aantreklik is vir politieke partye, maar ook ’n reuse-uitdaging bied vir die regerende ANC. Die uitkoms hiervan is heel dikwels meer radikale politiek en ’n ANC-regering wat toenemend kwesbaar voel en homself na links herposisioneer. ’n Meer radikale politieke aanslag is dikwels die uitkoms van hierdie politieke kompetisie, wat ook bydraend kan wees tot konflik en geweld. (Dink byvoorbeeld aan Colin Maine, die ANC-jeugleier, se onlangse dreigement teenoor die EFF dat ’n burgeroorlog moontlik kan wees.)

Hierdie omgewing(konteks) is tans uiters dinamies en onvoorspelbaar en ’n verlies aan politieke mag by die regerende elite is ’n faktor wat die totale politieke omgewing ernstig kan destabiliseer.

Sosiale dinamika

Oor die laaste sowat 20 jaar het die Suid-Afrikaanse demografie drasties verander. Nie net is die bevolking bykans twee maal meer as tydens die laaste jare van die vorige bewind nie, maar is ’n groot persentasie verstedelik of in die proses om te verstedelik. Verder het Suid-Afrika tans meer onwettige immigrante as die totale wit-Afrikaner-bevolking. Veranderende demografie beteken ’n nuwe omgewing met nuwe eise en verwagtinge wat polities geakkommodeer moet word. Patrone van armoede, werkloosheid, xenofobie en vigilantisme hou verband met veranderende demografiese patrone en skep omgewings waar konflik, geweld en onstabiliteit soms endemies geword het. Voeg hierby die diep verdeelde aard van die Suid-Afrikaanse samelewing in terme van ras, klas en kultuur en enige scenario-ontleder sal kan aandui dat die politieke omgewing vorentoe net meer polities onstabiel kan raak (vergelyk Cronjé 2014:1–17). Met sosiale kohesie wat tans ernstig verbrokkel (en ook die grondslag verskaf vir die huidige rasdebat) wil dit al hoe meer voorkom of die era van die reënboognasie onherroeplik tot die verlede behoort.

Demografiese veranderinge lê ten grondslag van patrone van eskalerende politieke onstabiliteit, waarvan diensleweringsproteste, #Feesmustfall-mobilisasies, arbeidsonstabiliteit en xenofobie belangrike simptome is. Hierdie omgewing dra uit eie reg by tot dit wat vroeër as ’n gebroke ekwilibrium voorgehou is.

Die polities-ekonomiese konteks

Een van die groot suksesverhale van die periode na 1994 was juis die hoë vlakke van ekonomiese groei van die middel- en laat negentigerjare, en dan veral die periode tussen 2004 en 2007. Hierdie groeitrajek het egter sedert 2008/9 drasties begin verander, met ’n ekonomiese groeikoers wat vir 2016 onder 1% geprojekteer word. Dit staan in skrille kontras met die steeds eskalerende politieke verwagtinge wat veral aan die linkerkant van die politieke spektrum waarneembaar is. (Cronjé 2014:1 verwys hierna as “the curse of rising expectations”.)

Kortom, die ekonomie presteer tans op so ’n lae vlak dat net die handhawing van die status quo al moeilik verseker kan word – om nie eens te praat van die akkommodering van eskalerende verwagtinge nie.

Die krisis manifesteer op verskeie terreine, waaronder eskalerende staatskuld; die inploffing van die mynbedryf en gepaardgaande werksverliese; arbeidsonstabiliteit en die demper wat dit plaas op ekonomiese groei en investering; die verslegtende wisselkoers; die krisis in die vervaardigingsektor en ’n onvermoë van die staats- en semistaatsinstellings om dienste te lewer soos veronderstel word. (Vergelyk Johnson 2015:146–74 vir besonderhede oor hierdie ekonomiese en finansiële uitdagings.)

Voeg hierby die landwye droogte en die impak hiervan op boerdery in die algemeen en die prentjie word nog meer ongunstig.

Hierbenewens is meer radikale beleidsrigtings (met as fokus eiendomsbesit en versnelde grondhervorming wat reeds deur die parlement aanvaar of in die pyplyn is) allermins ’n gunstige omgewing vir investering (binnelands en buitelands). Dit impliseer op sy beurt weer ’n lae plafon vir ekonomiese groei. In hierdie verband eggo die woorde van die ANC-veteraan Ben Turok as hy dit stel dat “It is consistent with revolutionary theory that people are inspired to struggle when their living standards improve”juis dit wat ook in Suid-Afrika oor die laaste sowat 20 jaar gebeur het. Hoë verwagtinge versus lae groei in ’n omgewing van staatkundige verval (soos wat tans die geval is) is bykans die perfekte omgewing vir politieke onstabiliteit en selfs revolusie.

’n Ekonomie wat letterlik op bykans elke terrein agteruit boer, maar wat buitensporige politieke verwagtinge moet akkommodeer is ’n resep vir konflik, geweld en politieke onstabiliteit.

Die staatkundige konteks

Verskeie indekse, waaronder die Failed State Index, Rainbow Index en Mo Ibrahim Index met ’n regeerkundige verwysing, beklemtoon die tendens van staatsverswakking of onderprestasie ten opsigte van geselekteerde kategorieë. Die bevinding van Greffrath in sy PhD-studie (2014:338–64) is dat staatkundige agteruitgang en verval wel aan die orde is in Suid-Afrika. Met staatsverswakking word bedoel ’n gebrek aan die nodige vermoë en ’n onvermoë om kernbesigheid suksesvol uit te voer. ’n Tendens van institusionele en politieke verval is wyd waarneembaar en bykans endemies aan die groter politieke stelsel of regime. Voorbeelde in hierdie verband is die stand van sake ten opsigte van plaaslike regering, waar diensleweringsproteste die hoogte ingeskiet het as gevolg van ’n onvermoë om noodsaaklike dienste te lewer. Wat tans aan die orde is by byvoorbeeld die Poskantoor, Eskom, SAL en Transnet (om net enkele voorbeelde te noem), is verdere getuienis in hierdie verband. Johnson (2015:169) verwys selfs na die “criminalisation of the state” as die uiterste waartoe politieke en staatkundige verval reeds ontwikkel het.

Groot kommer bestaan tans oor of ons nuwe demokrasie besig is om suksesvol te konsolideer en of ons onvermydelik die weg gaan loop wat so prominent aanwesig was by talle Afrikastate in die periode sedert dekolonisasie. Die politieke omgewing is tans nie bevorderlik vir die suksesvolle konsolidasie van demokratiese waardes nie, maar sake soos ’n vrye media (tans nog sonder die voorgestelde mediatribunaal) en die oppergesag van die reg (die konstitusionele hof en Nkandla) laat die hoop nie heeltemal vervaag nie. (Vergelyk Duvenhage 2014a vir vooruitsigte ten opsigte van demokratiese konsolidasie in Suid-Afrika.) ’n Kommerwekkende tendens en uitkoms van eskalerende politieke onstabiliteit is wel die sekurokratisering van die staat wat toenemend sigbaar word soos wat politieke leiers se mag en statusposisie bedreig word.1

Die groter staatkundige omgewing word gekenmerk aan patrone van politieke en institusionele verval wat groot uitdagings stel ten opsigte van noodsaaklike dienslewering en die konsolidasie van demokratiese waardes. In ’n politieke omgewing wat toenemend onstabiel raak, is die sekurokratisering van die staat deesdae ’n gevestigde patroon.

Huidige toestande binne die groter politieke omgewing in Suid-Afrika beklemtoon Huntington (1965:416) se beskrywing van ’n pretoriaanse samelewing, “a society which lacks law, authority and discipline and consensus, where private interests dominate public ones, where there is an absence of civic duty, where in short political institutions are weak and social forces strong”.

Uit die voorgaande beredenering is dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse politieke omgewing tans in ’n fase van gebroke ekwilibrium verkeer wat ’n herdefiniëring van spelreëls noodsaaklik maak en waarin weer besin moet word oor kernwaardes en -norme en die wyses waarop dit polities, ekonomies en sosiaal toepassing moet vind. ’n Nuwe stelselekwilibrium (soms na verwys as ’n opvolgskikking of ’n sosiale en ekonomiese Kodesa), waarin die magte en kragte binne die veranderende omgewing ’n nuwe ewewig moet vind, is tans uiters noodsaaklik. Johnson (2015:246) argumenteer in hierdie konteks dat “somewhere out ahead of us lies a regime change towards a form of governance which is closer to South Africa’s underlying realities.”

Maar wat beteken bostaande vir die universiteitswese in Suid-Afrika?

Universiteite in ’n veranderende politieke omgewing

Uit die voorgaande argumentasie behoort dit duidelik te wees dat ook universiteite binne hierdie veranderende omgewing hulself strategies sal moet herposisioneer en poog om binne ’n omgewing van dinamiese ekwilibrium hul voortbestaan te probeer waarborg (vergelyk ook Duvenhage 2015:22–6). Universiteite in Suid-Afrika word toenemend die verlengstuk van die groter politieke regime en weerspieël die politieke, ekonomiese en sosiale omstandighede van die groter samelewing. Universiteite kan en sal nooit weer eilande of ivoortorings wees binne die raamwerk van die groter samelewing nie. Die onstabiliteit op kampusse dwarsoor die land (gedurende 2015) is ’n bewys tot watter mate die politieke omgewing regstreeks ’n impak op die universiteitsomgewings het.

Ooreenkomstig regeringsbeleid en -doelstellings is die getransformeerde universiteit belyn met die politieke ideologie van transformasie; moet die sosiale demografie op alle vlakke van die groter samelewing reflekteer word; is universiteite bemagtigend en ondersteunend ten opsigte van die groter samelewing; is hulle eentalig Engels; en het hulle aanspraak op regerings- en staatsondersteuning (Duvenhage 2015:23–5). Die normatiewe raamwerk (nie gelyk aan die implementering hiervan nie) beklemtoon staatsgefinansierde hoër onderwys wat op alle vlakke (bestuur/akademici/studente/kurrikulum) demografies getransformeer is, en in diens van die samelewing en by implikasie die staat en regeringsideologie is; wat toegang vir almal bewerkstellig en bemagtigend en ondersteunend ten opsigte van alle vlakke van menswees is. Die postkoloniale konteks moet telkens verreken word met ’n sterk Afrikagerigte akademiese benadering en moet afsien van koloniale praktyke, filosofieë en teorieë. Die universiteit moet dus funksioneer binne ’n bevryde omgewing met ’n nuwe stel akademiese waardes, norme en prioriteite, ’n nuwe kliëntekorps, onderrig deur nuwe leermeesters en met navorsingsuitsette wat die belang van die onmiddellike samelewing vooropstel. Vandaar die politieke krete van “#Rhodes must fall” en “#Fees must fall” om uitdrukking aan bogenoemde te gee.

Universiteitsomgewings en -praktyke wat nie met bogenoemde raamwerk verbind kan word nie (en wat met die vorige politieke bedeling geassosieer word), moet op ’n intervensionistiese wyse verander word. Die werkswyse om hierdie verandering te bewerkstellig is dikwels ’n vorm van staats-/regerings- of ’n ander soort politieke ingryping, byvoorbeeld via die vakbonde of veiligheidsinstellings. Transformasieagente soos byvoorbeeld Open Stellenbosch en Reform Puk word gestig om progressiewe verandering te bewerkstellig. Druk vanaf die politieke meesters, ondersoekkommissies of finansiële beperkings is verdere voorbeelde van agente/inisiatiewe om versnelde (lees transformatiewe) verandering te bevorder. Vorme van politieke mobilisering deur byvoorbeeld studente-organisasies soos Sasco en ander om die klimaat vir transformatiewe verandering te bevorder, is ook telkens aan die orde. Insidente soos die Reitz4, Nazi-salute, verskeie rasvoorvalle en “black-facing”is telkens in die verlede aangewend om transformatiewe verandering te bewerkstellig of die noodsaak daarvoor op die voorgrond te stel. Hierdie normatiewe raamwerk en gepaardgaande strategieë (transformasie van universiteite) en die politieke toepassing hiervan, plaas tans groot beperkings op die outonomie van universiteite, hul finansiële volhoubaarheid, akademiese gehalte en ook veeltalige hoër onderwys. (’n Interessante aspek van die eksterne ingrypings is dat dit op die voetsoolvlak telkens ’n omgekeerde uitkoms gebring het, naamlik dat regeringsondersteunde organisasies soos Sasco dikwels hul politieke mag op kampusvlak moes prysgee vir ander konkurrente soos wat die geval was by verskeie universiteite en kampusse oor die laaste aantal jare.)

Die omgewing soos hier bo uiteengesit laat min, indien enige, beweegruimte vir staatsondersteunde Afrikaanse universiteite.

Afrikaanse universiteite – Quo vadis?

Bostaande omgewingsverkenning bevestig dat weinig (indien enige) ruimte vir ’n Afrikaanse universiteit tans polities gesproke en in terme van beleidstoepassing bestaan. Dit word geassosieer met die vorige bewind, apartheidspraktyke en selfs rassisme. In die huidige politieke omgewing, waar simboliek al hoe belangriker word, verteenwoordig Afrikaansgeoriënteerde instellings omgekeerde simboliek wat in alle opsigte getransformeer moet word. Dus, politieke (lees transformatiewe) norme word in alle opsigte vooropgestel.

Die probleem is egter dat hierdie transformatiewe norme soms in konflik staan met die wese van dit waarvoor akademiese instellings moet staan, onder meer akademiese prestasie en gehalte. Bogenoemde politieke omgewing definieer die grootste bedreiging vir universiteite in die algemeen en Afrikanerinstellings in die besonder sedert die ontstaan van hierdie instellings. Hierdie bedreiging kan voorgehou word as ’n kombinasie van politieke, ekonomiese en sosiale faktore (soos vroeër ontleed) wat transformatief en beleidsmatig verander moet word om politieke eerder as akademiese agendas te bevorder. In dié verband staan ANC-beheer en demografiese verteenwoordigendheid sentraal en skep ’n bykans revolusionêre omgewing (’n uitkoms van die nasionaal-demokratiese-revolusie-idee) waarbinne universitêre verandering moet plaasvind.

Dit is wel my oordeel dat daar tans selfs binne die raamwerk van demografiese verteenwoordigendheid en ’n uiters onsimpatieke politieke omgewing ruimte is vir meer as een Afrikaanse universiteitsinstelling in Suid-Afrika. Dit is nie net reg teenoor ’n groot persentasie burgers van die bevolking vir wie Afrikaans soms hul enigste taal is nie, maar ook vir duisende skoolverlaters wat vanuit Afrikaanse hoërskole graag in hul moedertaal verder wil studeer. Hierdie reg word dan ook grondwetlik beskerm. Met Afrikaanse universiteite wat op ’n nierassige grondslag funksioneer, kan groot waarde toegevoeg word en kan dit ironies genoeg bydra tot die ANC-ideaal van ’n verenigde nierassige en nieseksistiese samelewing.

Die opsies in hierdie verband is soos volg:

  • Onderhandelinge met die staat en ander rolspelers (nasionaal en internasionaal) ten opsigte van ’n taal-eksklusiewe, nierassige Afrikaanse universiteit. Hierdie argument kan gevoer word in terme van grondwetlike bepalings, demografiese en ook strategiese oorwegings. Die omgewing van gebroke ekwilibrium kan geleenthede in hierdie verband beteken wat proaktief ontgin kan word. Die vermoë om steunbasisse (polities, ekonomies en sosiaal – nasionaal en internasionaal) te ontsluit en ook te mobiliseer kan bepalend wees vir die oorlewing van Afrikaanse hoëronderwysinstellings.
  • Die ander alternatief is die totstandbrenging van private Afrikaanse hoëronderwysinstellings. Die inisiatief van Solidariteit, naamlik Akademia, is ’n voorbeeld in hierdie verband. Die sukses van hierdie inisiatief (en soortgelyke ander inisiatiewe) in ’n uiters onsimpatieke politieke omgewing gaan bepaal word deur die vermoë om getalle te mobiliseer, finansiele volhoubaarheid te bewerkstellig en gehalte en relevansie te verseker. Soos met die vorige opsie is ook hierdie een ’n groot uitdaging.

Die toekomspad vir Afrikaanse hoëronderwysinstellings is nie maklik nie en sal vorentoe ook nie makliker word nie. Ironies lê ’n belangrike gedeelte van die antwoord nie meer in akademiese debat nie, maar dalk by ’n uitspraak van Karl Marx: “The philosophers have only interpreted the world, in various ways. The point, however, is to change it.”

Bibliografie

Cronjé, F. 2014. A time traveller’s guide to our next ten years. Kaapstad: Tafelberg
Duvenhage, A. 2014. Die postverkiesingsomgewing: ’n perspektief vir die Afrikaner en die Afrikanerbond. Potchefstroom: Afrikanerbond.
—. 2014a. Suid-Afrika na 20 jaar van demokrasie: ideologiese vertrekpunte en demokratiese konsolidasie (grondwetlike krisis?). Potchefstroom: Afrikanerbond.
—. 2015. Transformasie in die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika. Woord en Daad, 54(427):22–6.
The Economist. 2012. Cry the beloved country/Over the rainbow. 20 Oktober 2012, ble 22–4.
Greffrath, W.N. 2015. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. PhD thesis. NWU, Potchefstroom.
Human, P. 1998. Yenza: A blueprint for transformation. Oxford: Oxford University Press.
Huntington, SP. 1965. Political development and political decay. World Politics, 17(2):386–430.
—. 1968. Political order in changing societies. Londen: Yale University Press.
Johnson, RW. 2015. How long will South Africa survive: The looming crisis. Kaapstad: Jonathan Ball.

1 ’n Artikel getiteld “Die sekurokratisering van die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel – ’n tendensbepaling” wat aanvaar is vir publikasie by LitNet, bespreek hierdie tendens volledig.

Hierdie artikel spruit voort uit die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Spitsberaad: Studente-onluste en die implikasies vir Afrikaans aan hoëronderwysinstellings 

 

  • 4

Kommentaar

  • Barry Saayman

    "Een van die groot suksesverhale van die periode na 1994 was juis die hoë vlakke van ekonomiese groei van die middel- en laat negentigerjare ... Kortom, die ekonomie presteer tans op so ’n lae vlak dat net die handhawing van die status quo al moeilik verseker kan word – om nie eens te praat van die akkommodering van eskalerende verwagtinge nie."
    Met erkenning aan Brett Nortje: Davies se "J kurwe" teorie voorspel rewolusie vir Suid Afrika.
    "Revolutions are most likely to occur when a prolonged period of objective economic and social development is followed by a short period of sharp reversal. People then subjectively fear that ground gained with great effort will be quite lost; their mood becomes revolutionary ..."

  • Johannes Dippenaar

    Dit is tyd dat ons Stellenbosch Universiteit vaarwel roep. Daar is geen kans dat Afrikaans op die lange duur daar geduld sal word nie. Ons mors op die oomblik kosbare tyd en kragte om vir 'n Afrikaanse universiteit te veg in die gewone staatsbestel. Die ANC ,die swart jeug en van die Afrikaanse akademici en nalopers sal sorg dat Afrikaans nie 'n kans staan nie. Van hierdie Afrikaanse geleerdes kan en wil nie verstaan dat geen taal kan voortbestaan sonder opvoedkundige instansies nie. Die enigste redding vir Afrikaans is om 'n privaat-universiteit te stig. Die plek natuurlik in die Wes-Kaap. Dis tyd dat Afrikaanssprekendes die moed van hul oortuiging aan die dag lê en werk daarvan maak.

  • Berend Schuitema

    Thanks Andre for opening this debate. I notice that you deal mainly from the institutional perspective, ie the university as such, the viability of a non-English university, etcetera. Could we see the development of language as something autonomous outside of a strict institutional framework? After all, as Breytenbach once opined, "Afrikaans is 'n bastertaal" - it took form as a language among people of different cultures, mainly Malays, and of course French (Huguenots), Dutch etcetera. What I am getting at is that Afrikaans was not created in academia, but rather cultured once it developed what I would like to call its own "energy". Look whatever happens to Afrikaans in the academic bakehouses, it will keep regenerating itself as a chosen medium of exchange of ideas at street and gut level. The "energy" of Afrikaans is maybe what Darwin called "hybrid vigour". Vra maar net.
    Your input is highly relevant, a good shove on the issue of developing an ideology of language struggle as such. This discussion is sorely needed and diverting itself into blind alleys of pure and mindless iconoclasm, destruction of art work, statues and soon probably book burnings.

  • AS du Plessis

    Uitstekende uiteensetting volgens sisteemteoretiese beginsels wat universeel aanvaar word.
    As ons gedink het SA het drasties verander na 1994, wag tot hierdie chaospunt uitgespeel is en die nuwe orde posgevat het.
    Ek stem saam met Johannes Dippenaar dat 'n privaat-universiteit die enigste moontlikheid is; nie net vir moedertaalonderrig nie, maar ook vir die behoud van Afrikaans as 'n hoërfunksie-taal.
    Zuma se gedrag baie helder verduidelik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top