PEN Afrikaans Nuusbrief: Februarie 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Dié jaar het afgeskop met ’n taalskrum op Stellenbosch, gerugte van reën in die noorde en bergbrande in die suide. Alle tekens dui daarop dat 2016 ’n taai stryd gaan wees, maar PEN Afrikaans het beslis begin op ’n positiewe noot: Baie dankie aan al ons lede wat so flink hulle ledegeld betaal het in die maer maand van Januarie. Dis ’n riem onder die hart.

Ledegeld en ’n aanlynregister vir PEN Afrikaans-lede

Vir diegene wat nog nie betaal het nie, onthou asseblief die keerdatum vir die betaling van ledegeld vir 2016 is 1 Junie. As jy nog nie dan jou ledegeld van R300 betaal het nie, sal ons jou van ons aktiewe lede- en e-posadreslys verwyder.

Die insameling van ledegeld wil ons vanjaar gebruik om ons ledelys te konsolideer en met die oog op die skep van ’n aanlyn-lederegister. Ons sal binne die volgende maand ’n vorm aan alle opbetaalde lede uitstuur. Met die inligting op hierdie vorms wil ons ’n aanlynregister en -profiel van al ons lede skep. ’n Mens sou dan hierdie profiel kan koppel aan jou eie blog, webwerf of ander sosiale media-platforms.

Die aangeleentheid is nog onder bespreking, maar ons dink daaraan om die volgende inligting aan te vra:

Naam en van:
Skrywersnaam:
Portretfoto:
Beskrywing van skryfwerk: Romansier, dramaturg, digter, liriekskrywers, draaiboekskrywer, vertaler, joernalis, blogger en/of uitgewer
Webwerf en/of blog:
Wikipedia-bladsy:
Twitter-rekening:
Facebook-bladsy:

Lys van publikasies as skrywer of mede-outeur in chronologiese volgorde  –  verskaf jaar, titel, uitgewer, jaar van eerste uitgawe:
Lys van publikasies as samesteller, mede-samesteller of redakteur in chronologiese volgorde – verskaf jaar, titel, uitgewer, jaar van eerste uitgawe: 
Dramas, hoorspele of andersoortige woordproduksies (as alleen- of mede-outeurswerke) opgevoer of uitgestal by een of meer van die erkende kunstefeeste of in teaters:
Plate, CD's of DVD's gemaak:
Film en TV: Titel(s) waarop die regte verkoop is of daar tans ’n opsie op die regte is; titels waarvan daar ’n vollengte-speelfilm of TV-reeks gemaak is; periode wat dit in teaters of op TV gewys is.
Vertalings: Lys die Afrikaanse titel(s) en titel(s) van die vertaalde werk, die taal en die uitgewer.
Vir joernaliste: posisie(s) beklee by watter publikasies (digitale en drukmedia) en/of gereelde bydraer tot watter publikasies (digitale en drukmedia):
Pryse of erkenings:
Skakel na ATKV-skrywersalbum, indien beskikbaar:

Indien jy graag iets tot so ’n aanlynprofiel bygevoeg wou sien, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com

Ons twee wenners/kandidate vir die 2016 PEN International New Voices-kompetisie

Ons het lewendige reaksie van jong skrywers tussen 18 en 30 gekry op ons uitnodiging om kortverhale in te skryf vir die 2016 PEN New Voices-kompetisie. (Vir meer inligting oor dié kompetisie, sien: http://www.litnet.co.za/jong-skrywers-wen-1000-en-kry-n-kans-om-opgeneem-te-word-in-die-us-woordfees-2016-kortverhaalbundel/)

Die drie keurders was almal lede van die PEN Afrikaans-bestuur: Danie Marais, ook die koördineerder van die kompetisie, het saam met Anzil Kulsen en Izak de Vries, wat die inskrywings anoniem gelees het, behoorlik kop gekrap oor die Groot Dae van 2015. Uiteindelik is daar ná entoesiastiese gesprek besluit om Lynné Schoeman en Frederick J. Botha as ons vroulike en manlike kandidaat vir New Voices 2016 aan te wys. Dié twee skrywers het ná terugvoer van die keurders hul verhale verder geslyp en ons het dit daarop voorgelê vir moontlike publikasie in die Woordfeesbundel 2016. Die samestellers van dié bundel – Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor – het egter laat weet dat Schoeman se "SkugterDigter" (sic) en Botha se "Thank you God bless" nog nie heeltemal op dieselfde peil is as die stories van gevestigde skrywers wat vanjaar opgeneem word in ’n bielie van ’n feesbundel nie. 

Omdat die drie keurders nietemin oortuig is dat ’n hele paar verhale met potensiaal ingeskryf is en PEN Afrikaans graag ontluikende stemme wil ondersteun, is besluit om ’n klein aanlyn-slypskool op ons webportaal aan te bied vir die mees verdienstelike inskrywings wat ons ontvang het. Die moontlikheid om ’n klein e-bundel van die mees suksesvol afgewerkte verhale te publiseer word ook tans bespreek. Ons verskaf binnekort meer besonderhede, maar ’n warm dankie solank aan die jong skrywers wat hul pennevrugte met ons gedeel het.

Die 2016 US-konvokasievergadering

Op 26 Januarie het die Universiteit Stellenbosch die grootste konvokasievergadering gehou wat die universiteit in meer as twee dekades gehad het. Die taalbeleid en transformasie was sentrale kwessies en Breyten Breytenbach, wat eintlik aan ’n poësiefees in Keulen moes deelneem daardie aand, het verkies om ’n toespraak in die warm Eikestad te lewer wat baie stof tot nadenke bied vir almal gemoeid met taal en transformasie. (Lees Breyten se volledige "Die koei in die bos"-toespraak hier.)  

Een van die ander sprekers by die konvokasievergadering wat eweneens die pruike laat lig en die tonge laat klap het met haar betoog vir ’n nuwe, oper Matieland, was die sjarmante jong Lovelyn Chidinma Ndaweyi. (Ndaweyi se volledige toespraak, "Courage, Compassion and Complexity – Reflections on the new Matieland and South Africa", kan hier gelees word.)

Uit die uiteenlopende reaksies op hierdie bydraes het dit nogmaals duidelik geblyk dat geen eenstemmigheid onder Afrikaanssprekende oor die taalbeleid op Stellenbosch bestaan nie. Daar is diegene wat meen Afrikaans kan voortbestaan en gedy sonder amptelike status aan ’n Suid-Afrikaanse tersiêre instelling. Om aan Afrikaanse as akademiese taal te klou is uit daardie oogpunt ’n remskoen vir voortuigang en transformasie aan ons land se universiteite. Ander meen die einde van Afrikaans se gelyke status aan die US sal ’n nekslag wees – nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir enige meertaligheid in Suid-Afrika wat meer as lippediens aan die taalregte in die grondwet bewys.

Hierdie is ’n twisappel wat die saad van groot bitterheid en konflik inhou, maar juis daarom moet ons nou met mekaar praat. Ons wil baie graag hoor hoe ons lede oor hierdie teer saak voel. Praat dus asseblief saam en sê vir ons hoe jy dink oor die verskillende perspektiewe wat op die US-konvokasievergadering gestel is. (Al die toesprake van die aand, asook foto's en ’n oorsigtelike artikel deur Jean Oosthuizen, vind jy hier. Lees gerus ook Hans Pienaar, een van ons lede, se baie insiggewende onderhoud oor die studente-opstande met prof Achille Mbembe hier.)

Baie geluk aan Sonja Loots, die voormalige voorsitter van PEN Afrikaans, wat op die US-konvokasievergadering van 26 Januarie tot addisionele lid van die konvokasie verkies is. Dis goed om te weet die stem van ’n skrywer, joernalis en dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad, sal ook in die konvokasie gehoor word.  

Hartlike gelukwense ook aan Bettina Wyngaard, PEN Afrikaans se onder-voorsitter, en prof Joan Hambidge, ’n lid van PEN Afrikaans, wat benoem is as kandidate vir die US-raad. 

Lede van die konvokasie kan hulle stemme vir die genomineerde kandidate per gewone posstem of elektroniese stemming van 26 Februarie 2016 tot 10 Maart 2016 om 12:00 uitbring. Stemgeregtigdes op die US se databasis wat nie e-posadresse verskaf het nie, sal inligting oor die kandidate en ’n stembrief per pos ontvang en die res sal die inligting en stemopsies per e-pos ontvang.

Rig navrae aan mnr Johann Aspeling of me Alfreda Coetzee by tel 021 808 4910 of e-pos konvokasie@sun.ac.za.

Die stand van Afrikaanse boekresensies

Dit het die afgelope week behoorlik onder skrywers gegons oor ’n resensie van Chanette Paul se roman Offerlam in Rapport Boeke. Verskeie lesers en skrywers het gevoel die resensent het homself vryhede veroorloof wat nie gesteun is deur behoorlike analise en omskrywing nie.

Die bestuur van PEN Afrikaans deel die besorgdheid van ons lede oor hierdie resensie. Ons sal binne die volgende maande ’n bespreking probeer reël met Jo Prins en Nelia Richter, die redakteurs van Boeke24en Rapport Boeke onderskeidelik, om hul siening van die saak te kry en ’n manier te vind waarop verdienstelike boeke op behoorlike wyse geresenseer word.

Die bestuur van PEN Afrikaans wil nie so ’n gesprek fasiliteer om vingers te wys nie. Ons wil saam met skrywers, lesers, uitgewers, boekeredakteurs en boekjoernaliste besin en vra: Hoe sorg ons vir ewewigtige boekbesprekings, ’n groter poel resensente en meer ruimte vir boekbesprekings in ’n tyd waar boekeblaaie krimp en die kunsjoermalistiek kwyn?

Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie

Elke nuwe boek verteenwoordig die stille hoop dat iemand nog sal luister, saamvoel en -dink. Daarom is daar ’n sprankie hoop op begrip selfs in die donkerste van desperate boeke.

Geluk en alle sukses aan al ons lede wat in Januarie en Februarie nuwe boeke die lig laat sien – laai hier ’n lys af van al die nuwe Afrikaanse publikasies in hierdie twee maande. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

*****

Die sluiting van Leserskring

Ná 35 jaar van diens aan Suid-Afrikaanse boekliefhebbers sluit Leserskring/Leisure Books hul deure einde Maart vanjaar. Dit is hartseer nuus vir mense wat op dié boekklubs aangewese was om boeke in die hande te kry. Eweseer ook vir uitgewers, wat in dié twee boekklubs waardevolle bykomende afsetpunte gehad het.

Daar sal sekerlik in die pers in die komende maande baie oor Leserskring geskryf word. Ek onthou hoe ek as jong joernalis in die vroeë tagtigs deur Koos Human na die Mount Nelson ontbied is om ’n historiese foto te neem: verteenwoordigers van die Duitse Bertelsmann-groep saam met Human en ander amptenare van die Nasionale Boekhandel. Onder hulle was ook Danie van Niekerk, hoof van Tafelberg-Uitgewers.

Hulle het in die sogenaamde Bloukamer van die Mount Nelson die saak beklink. Die Suid-Afrikaners het die reg verkry om onder lisensie en met organisatoriese steun van Bertelsmann ’n boekklub te begin.

Die klub het floreer. Onder leiding van Piet Botma en later Hannes van Zyl is daar flink vertaal aan Robert Ludlum en Wilbur Smith. Suid-Afrikaanse uitgewers het gewoel om die voorbereiding van kroonboeke toegesê te word.

Met die verloop van jare was daar verskeie skrywers wat beduidende getalle getroue lesers onder die lede van die klubs ontwikkel het. Marita van der Vyver en Deon Meyer is maar net twee skrywers wat oneindig baat gevind het by hierdie afsetpunt.

Leserskring het op ander maniere ook gesorg dat daar vir skrywers ’n nuwe stroom inkomste uit hul werk ontstaan. Bloemlesings soos Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigteVertellers en so meer het ontstaan danksy Leserskring se bereidwilligheid om hulle met groot aanvanklike bestellings te ondersteun.

Danksy Leserskring het subkategorieë van boeke skielik groot verkopers geword: massamark-kinderboeke, kookboeke, nutsboeke en dies meer. Ek sal nooit vergeet hoe Susan van der Schijff en Lana Barnett, destyds hoof-aankopers van Leserskring, in die middel- jare negentig ’n bestelling van meer as 100 000 eksemplare van een van die Huisgenoot Wenresepte-titels geplaas het nie.

Daardie groot boekjare het met die koms van die internet en die ontwikkeling van nuwe tegnologie amper onherhaalbaar geword. Die publiek se leesgierigheid het ander uitlaatkleppe gevind.

Bertelsmann se klubs in Europa en elders het begin kwyn, en baie moes hul deure sluit. Die sakemodel was verouderd. Leserskring/Leisure Books het die stryd bly voortstry, maar soos een van die ou Leserskring-staatmakers vandeesweek aan my sê, was dit geleende tyd. Om vandag ’n boekklub te bedryf, moet mens in gans ’n ander sleutel dink.

Die besluit om Leserskring te sluit, is sekerlik eers na deurtastende analise deur Media24 se finansiële mense geneem.

Terwyl mens dan namens Afrikaanse skrywers dankbaar is vir die steun wat ons deur die jare uit hierdie oord gekry het, dink mens ook daaraan dat die leespubliek se honger vir Afrikaanse boeke nie verdwyn het net omdat Leserskring se sakemodel verouderd geraak het nie. Trouens, Leserskring het sy taak so goed verrig dat die leespubliek vir Afrikaanse boeke oneindig groter is as wat dit sou gewees het as Leserskring nie bestaan het nie. Dit is iets waarop almal wat deur die jare aan Leserskring verbonde was, baie trots kan wees.

Ek is baie nuuskierig om te sien hoe die plaaslike boekebedryf daarop gaan reageer.

Met vriendelike groete
Kerneels Breytenbach
Voorsitter: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top