Terugvoering uit die kolonie

  • 3

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

“I am the Lorax. I speak for the trees.”Dr SeussThe Lorax

Ná amper twee jaar aan die stuur van Die Burger, Volksblad en Beeld se boekeblad sou ’n tipe bestekopname van lesse geleer en terugvoering waarskynlik nie onvanpas wees nie.

Koop The Lorax by Kalahari.com.

Steve Hofmeyr

Koop DF Malan and the Rise of Afrikaner Nationalism by Kalahari.com.

Deon Meyer

Koop Kobra by Kalahari.com.

Hiermee saam moet ek sê dat enigiets wat ’n mens oor dié blad sê, half gedoem is tot ’n "skiet-in-die-voet"-oefening, soos dit dikwels met die blad self gaan. Jy moet die mense aan wie jy jou steur, dus goed kies.

Ten eerste: ek praat vir die boeke (om Die Loraks hier bo se uitspraak te leen). Die boek as ding is vir my belangrik. Om mense, gewone lesers veral, sover te kry om in ’n boek belang te stel gee my ’n eindelose kick. Ek dink dikwels: ek wil nie net vir die gemeente preek nie. Dus, as ek Steve Hofmeyr kan kry om ’n boek (oor DF Malan) te resenseer, doen ek dit. As regter Bennie Griesel Deon Meyer se hoofkarakter Bennie Griessel in Kobra kan aanvat, doe ek so.

Maar die blad is ’n mengsel. Soms draf die blad saam met die nuus van die dag en soms is die blad juis nie deel van daardie diskoers nie – om die leser ’n bietjie asemhaalruimte te gee. Om iets anders as die Oscar-saak te bied terwyl dié hofsaak woed. Soms is die blad ’n bietjie highbrow en soms draai die spookasem. Daar is in die bekende heelal geen resep wat eenvoudig werk nie. Wat wél belangrik is, is goeie inhoud – en dit kry die blad meestal reg.

My aanslag die laaste jaar is dat die blad se look and feel maandeliks herhaal – ’n "vinnige" blad (met vyf resensies, ’n gedig en ’n kort vraag-en-antwoord-onderhoud), dikwels gevolg deur drie Maandae waar die blaaie elke keer anders lyk – "stadiger" blaaie dus. Die wisseling in tempo kan ook aangepas word na gelang van die nuusaanbod.

’n Terloopse nota: ’n interessante verwikkeling is dat Die Burger nou die boekeblad saam met sy naweekkoerant in By aanbied. Die ander twee dagblaaie behou hulle breëblad, maar dieselfde inhoud word vir die suiderlinge op twee tabloid-grootte bladsye verpak. Heelwat meer oë sien Die Burger se Saterdagkoerant en die lesers aan die kus is ’n heeltemal ander tipe verbruiker as die binnelanders.

Voortdurende uitdagings, soos ruimte (hiermee saam die aanlyn aanbod), die beursie, binne-politiek (waaraan jy jou kan steur, of nie), ens ís daar. Een van ’n hele paar lekker dinge van die blad is dat ek nog nooit deur enigiemand beveel of aangesê is ek móét ’n resensie oor dié of daai boek laat doen nie. As dit goed gaan op die blad, is die klop op die skouer myne. As die blad nie werk nie, is dit my probleem.

Dat die blad onafhanklik is – amper ’n tipe Switserland (soos ’n kollega al vir my gesê het) – is belangrik. Ja, daar word via, via, via gemor wanneer ’n resensent lelik praat oor Huisgenoot, maar dis die resensent se siening, nie myne nie. Dit sou in elk geval onsinnig wees om ’n blad uit te gee van net resensente van wie ek hou of met wie ek die heeltyd saamstem. Die blad is sy eie ding – ek probeer hom/haar net hier en daar ’n bietjie in toom hou ... solank jy niemand belaster nie en jou feite reg is. Die tipe kritiek en hóé mense kritiek uitdeel (en daarop reageer) sê dikwels ook meer oor hulself.

In die nuusomgewing leer ’n mens om ’n dik vel te kweek. Lesers is dikwels ongenaakbaar (gaan kyk maar na kommentare onderaan sekere nuusstories of rubrieke). Dit help nie jy is kleinserig nie. Dieselfde geld resensente en skrywers. Ek is al meer as een keer deur ’n skrywer op Facebook ge-"unfriend" oor ’n ongunstige resensie. ’n Resensie is tog net ’n eerste lesing? En boonop ’n subjektiewe een? Om ’n gesprek oor ’n boek se meriete aan die gang te kry sou ’n veel groter bydrae lewer.

Baie mense voel die blad is hulle s’n – en dis goed so! Ongelukkig is daar baie mense (skrywers én uitgewers) wat nooit die blad lees nie wat óók so voel. ’n Skrywer wat onlangs by my wou weet "Wanneer laat jy dan nou my boek resenseer?" het ek bloot geantwoord met: "Die resensie was ’n maand gelede in ..."

Nog uitskieters:

Die uitgewer wat daarop aandring dat ek ’n digbundel wat hy uitgee, laat resenseer, "want die meeste goed wat ek die laaste ruk laat resenseer het is in elk geval nie so goed nie". Dit was so ’n week of drie na die resensies van Kaar ...

My ander gunsteling is die digter wat sy akademikus-vriend kry om vir my ’n kant-en-klaar resensie van sy jongste bundel te stuur wat dit natuurlik ten hemele prys. Wanneer ek navraag doen of hy ten minste vir my ’n eksemplaar kan stuur dat ek nog ’n opinie kry, is daar dawerende stilte.

Resensente is ook ’n ander spesie ... Dalk is die veiligste om net dít te sê: die mense wat jy dink die meeste beneuk gaan wees, ís nie. Hulle is van die mees professionele mense wat nie vyf eiers lê wanneer jy 100 woorde uit hulle kopie durf sny nie. En hulle hou dikwels by die opdrag (hulle skryf byvoorbeeld nie 800 woorde wanneer jy vir 300 vra en kla dan as jy durf sny sonder hul insae nie).

Die digter wat ná ’n maand (sedert ek die boek vir hom gegee het) laat weet hy kan niks goeds oor die bundel sê nie en wil dus nie meer ’n resensie skryf nie / die skrywer is te na aan hom ...

’n Regsbrief van ’n skrywer wat met aksie dreig sou ek iets in ’n navraag publiseer (my regsadvies was dat ons als in die navraag en daaropvolgende regsbrief moet/kan skryf) – en boonop die skrywer se naam noem. Ek het op die ou einde daarteen besluit.

Die resensent(e) wat hul eksemplaar van die boek met die notas in op ’n vliegtuig laat lê – julle sal my vroeg graf toe stuur ...

Ten slotte: ek sou hierdie skrywe nie as ’n Poolshoogte-referaat beskryf nie, hoogstens ’n sinchroniese blik op ’n paar van die veranderlikes wat deel uitmaak van die werking/niewerking van die boekeblad.

In dié tyd, wanneer die hele bedryf onder druk is, wanneer ons moet wal gooi teen die groot vergeet, is dit ’n eindelose voorreg om my brood en botter met "die boek" te verdien.

My dank aan elke skrywer wat sy of haar hand op papier waag – hetsy resensent, digter of skrywer. Ja, selfs Crito.

Maar ook, en veral, heil die leser.

<< Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
LitNet Akademies-resensie-essay
Woordfees, resensies en mossels: ’n groen lig vir die lot!
– Francois Verster
2012-03-08
Essay
Afrikaans en die media op pad na 2020
– Waldimar Pelser
2013-10-22
Resensies
Boekresensies op LitNet
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die media, demokrasie en burgerlike deelname: ’n Etiek van luister
– Herman Wasserman
2013-07-09
Resensie
Kobra ’n riller soos min
– Jonathan Amid
2013-12-19
Blog
Resensie-resensent
– Crito
Webseminaar
Die minagting vir die boekeblad by Media24
– Willie Burger
2011-03-01
Briewe deur die lug
Die boek in Afrikaans
– Hannes van Zyl
2000

Young Voices Conference 2004
O
– Jo Prins
2004-11-02

Review
DF Malan and the Rise of Afrikaner Nationalism by Lindie Koorts
– Paul Murray
2014-04-22

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    'n Koerant het 'n voorbladsy en Jo Prins is die redakteur van 'n resensiebladsy. Dit is nodig om tussen 'n bladsy (page) met net een kant en 'n blad (leaf) met twee kante te onderskei. Dit bly my verbaas waarom 'n redakteur van resensies in Afrikaans so dikwels sy toevlug tot Engelse woorde en frases neem.

  • Uit Marlene van Niekerk se UJ-prys aanvaardingstoespraak:

     
    "Gelukkig is ons taal van die begin af gewoond aan gemengde partytjies, wilde entinge, rankerige lote. Indien Afrikaans in die toekoms sy veerkrag gaan behou deur middel van Engelse import, import waaroor vandag niemand en allermins die literatore (durf) kla, moet die toediening van 'n klein hoeveelheid poëtiese farmakon uit die infrekwent-Afrikaanse, die argaïese woordeskat van ons taal, of die Dietse taalomgewings  gewoon gesien word vir wat dit is: speletjies. Iets soos Parkour. Gaan kyk maar op youtube.
     
    Skadelik kan dit waaragtig nie wees nie.
     
    En indien wel, vir wie?"
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top