Woordfees, resensies en mossels: ’n groen lig vir die lot!

  • 0

Dis Dinsdagmiddag, skuins voor een; Stellenbosch bak alte lekker in die Maartsonnetjie, maar die strate bly bedrywig – die Woordfees–gees vloei oudergewoonte sterk en dis uit die middestroom waar ek glip, in by die groot hekke van die Universiteitsmuseum (die ou Bloemhof Meisieskool), eers op met die trap na die nessescarium, en daar loop ek kunskenner Helena le Roux raak, wat my sommer gou begin vertel oor wat skilder Paul Emsley gister oor sy verruklike monochroomskilderye aan haar verduidelik het ... Maar dis eintlik oor woordkuns en die skeidsregters daarvan wat ek hier is, en sy ook. Haar selfoon lui, sy wuif vir privaatheid ... Ons kry mekaar later onder by De Vette Mossel se tent. Agter bied groot sandkleurige tentdakke lafenis teen die son, maar die vure onder die pottestook die hittevan twee, drie kante af. Die kwyllekker geure vergoed egter duidelik daarvoor – niemand kla nie, sal dínk aan kla nie. Maar eers die gesels, dán eet. Eish, sulke keuses; dit verg erge dissipline.

Kerneels Breytenbach

Ons sien Kerneels Breytenbach, Marius Crous en Elmari Rautenbach neem plaas saam met die gespreksleier, Melt Myburgh – almal betrokke by skryf, oplei om te skryf en resensies. En weliswaar, die gedagtes oor kos vervaag sommer. 

Myburgh val weg, sy vraag aan Rautenbach gerig: “Hoe hanteer jy dit dat jy nou Media24 se nasionale boekeredakteur is?” By implikasie dus: Met al die dreigemente van boikotte deur groot name in die Afrikaanse skrywersgeledere, hoeveel stres jy, so op jou eentjie? Rautenbach antwoord dat sy simpatie het met skrywers en dat sy doen wat sy kan om steeds die meeste blootstelling aan boeke te gee. Hierdie vraag het sy al tevore beantwoord, en sy doen dit oortuigend: “Ek het stappe gedoen om op hoogte te bly met nuwe boeke en maniere om hulle te bemark” (soos die internet), en sy behou kontak met publisiteitsagentskappe – sy pes hulle gedurig oor nuwe boeke. Ook vra sy altyd twee resensies vir elke boek, waarvan een op die ’net kom en een in die gedrukte media, of soms albei in die betrokke koerant langs mekaar.

Kerneels Breytenbach sê hy (as skrywer) sal graag wil sien dat sy boeke ’n gelyke kans gebied word, veral as ’n gunstiger resensie meer blootstelling kan kry. Want as een resensent dalk baie positief reageer, en die resensie word “iewers in die kuberruim versteek” sal hy gebelg voel. Alle skrywers (digters inkluis) wil graag terugvoering hê, so hoe meer, hoe beter. Verder maak hy onderskeid tussen resensente: as iemand met meer aansien iets skryf, neem hy dit meer ter harte – en waarskynlik uitgewers en lesers ook. Hy het bygevoeg dat klein dingetjies groot vetes veroorsaak in die literêre wêreld, waarvan daar talle voorbeelde is. Resensente met agendas is veral gevaarlik – skrywers het dit al ontgeld omdat die resensent byvoorbeeld vir die betrokke uitgewer kwaad was.

Die naam Crito word kort–kort genoem – sy/hy is die onbekende, meesal onbeminde, “hoofskeidsregter” van resensente (Crous sê hy’s nogal lugtig vir dié Crito – as hy skryf, wonder hy soms wat Crito nou weer hiérvan sal sê). Breytenbach hou van die idee dat iemand ook die resensente in toom hou, maar hy het wel ’n probleem met die anonimiteit–ding. Aaha: Jêm vir daai bek!

Tog, die duiwel sy eer: Crito het wel ’n punt beet dat resensente meer onderhoudend kan skryf – niks verhoed hulle om resensies pittig en interessant aan te bied nie. Opvoeding mét vermaak is mos beter – so lok jy lesers om meer resensies te lees: “Jy het laas lekker geskryf, so ek lees nog een van jou se resensies.” Mense hou van stories, daarom lees hulle boeke; so, daarom kan resensies ook ’n storie wees – of ten minste meer soos ’n essay as ’n verslag. Dink ek. Rêrig.

Volgens Breytenbach behoort skrywers ook dankbaar wees vir negatiewe resensies, want hoe anders gaan hulle iets oor hulle werk leer – swak positiewe resensies is eintlik nutteloos in dié opsig. Melt Myburgh stem saam en noem ook dat borgskappe al onttrek is oor swak resensies.

O wee, die stories agter die stories, áltyd. Dit herinner mens aan die staaltjies deur Koos Human en andere, ook wyle John Kannemeyer tydens sy Culture vulture–toere. Ek vermoed nogal sommige skrywers is interessanter as hulle boeke!

Elmari Rautenbach en Marius Crous in diep gesprek.

Ja, stories is soos kragopwekkers: hulle genereer nóg stories. En van alles stories is skinderstories die sappigste. So word daar beweer dat sekere uitgewers vooraf besluit watter resensente lofsange sal sing en dan spesifiek boeke na hulle stuur – en wee hulle as hulle nie aan die verwagtinge voldoen nie. Hierdie soort druk op resensente is uiteraard ongewens, selfs al wonder mens of lesers regtig deur resensies beïnvloed word – is word of mouth dan nie steeds die beste verkoopshulp nie? Mense het al aan my gesê hulle het al boeke gekoop op aanbeveling van resensente (myselwers inkluis), maar steeds is daar ’n mate van eie oordeel aanwesig. Mens hoop tog so.

Myburgh vra toe aan Crous: “Behoort skrywers op resensies te reageer?”

“Jy kan, maar as jy dit doen, moet jy bereid wees om verdere kritiek te verduur,” kom die antwoord, lakoniek. Hy het ondervinding van dié soort ding! Maar, sê Crous, mens koel tog later af. Punt is: kreatiewe geeste se nerwe word dun geskaaf, jaar ná jaar, deur sekere bot onbegrypendes en dikwels agterdogtiges – dié wat jou kroon as jy triomfeer én jou kruisig as jy faal. En dan kom één resensent boonop en deel fatale kombinasie–steelhoue en snotklappe uit. Die skrywer kan net hoop daar is geen persoonlike of politieke agendas betrokke nie.

Die gevaar is natuurlik dat ’n resensie positief mag wees (dis immers net een persoon se mening, al is dit veronderstel om ’n ingeligte opinie te wees), maar die boek nie regtig so goed is nie. Mens verwag dat lesers mekaar dan in elke geval daaroor sal inlig: word of mouth. Boonop: die riemtelegram kan deesdae ook deur die kuberruim sweef. Of flits, of wat ook al.

En ja, sê Rautenbach, daar is markte vir boeke en markte vir byvoorbeeld koerante – mens skryf anders vir Jan en San wat ’n resensie in Rapport lees as vir Griet en Piet wat dit op LitNet lees. Wat mense, ook Crito, skynbaar nie weet nie, is dat koerante se boekeredakteurs by spesifieke riglyne moet hou, waarby resensente ook dan betrek word. LitNet, daarenteen, is heelwat ruimer van hart en gees.

Rautenbach gaan voort oor die teikenmark–kwessie: LitNet se oneindige kuberruimte is goed – langer besprekings, wat ook deur studente gevolg kan word, is die voordeel. Is waar ja, ek hou ook van hierdie voorreg, hoewel mens besef dat jy die gevaar loop om nie ekonomies met woorde om te gaan nie – eintlik ’n doodsonde vir skrywers, joernaliste – en resensente. Maar ai, jy voel soos ’n Husky wat uiteindelik oor daai agterplaas se muur gekom het.

Rautenbach verwag veral toeganklikheid by resensente – sy reken André Brink het die gawe om met gravitas én helderheid te skryf. Resensente moet goeie taalgebruik handhaaf, sonder dumbing down ter wille van “eenvoudiger” skryf vir middelmoot–markte.

Breytenbach dink sekere skrywers, soos Elsa Joubert, is só goed dat almal haar ken, uit haar werk, en resensies kan dus min verander aan lesers se siening daarvan. Hy voel ook resensente moet iets uniek opmerk in boeke, iets wat ander nie gesien en genoem het nie. Goeie punt! Die skrywer hoop egter dis die goeie punt wat ontbloot word, nie noodwendig die blinde kol wat elke mens, en dus skrywer, ook het nie. Maar Breytenbach sê dan skrywers wil leer uit resensies ... ja, solank dit opbouende kritiek is.

Melt Myburgh

Crous sê dan dat een gevolg van ’n negatiewe resensie, waaraan mense dalk nie dink nie, is dat wanneer die gekritiseerde skrywer daarna ’n manuskrip inlewer, hy ’n reaksie soos “jou vorige werk was nie gunstig ontvang nie” by die uitgewers kry. Inderdaad het resensente tóg baie mag, al is dit indirek. Om dié invloed teen te werk, moedig Breytenbach mense aan om aan LitNet te skryf en byvoorbeeld te sê: “Hierdie resensent was bevooroordeeld; hy het dit of dat misgekyk of geïgnoreer. Kan ek ’n resensie skryf oor dieselfde boek, om ’n ander perspektief te gee, dalk balans te bring?”

En daarmee verklaar Myburgh dat dit etenstyd is – die geure agter ons is nogal oorweldigend. Jy hoop dis mae wat so knor en nie Crito wat soos Hoggenheimer van ouds agter een van die plataanbome skuil nie!

Net voordat ons die brood, soetpatat, snoek en mossels gaan bydam, sê Elmari vir oulaas: “En onthou, resensies moet ook ’n element van pret behou – ons moenie alewig onsself so ernstig opneem nie!” En toe kry ons nóg waarde vir ons R80.

Die gesprek oor resensies het daarna aan tafel voortgegaan, en dit sal nog baie lank voortgaan. Hopelik, want as dit ’n uitgediende aksie raak, sal niemand meer bodder daaroor nie. Mens kan verwag dat solank daar boeke is, in papier én elektroniese formaat, sal daar menings daaroor wees; of jy dit resensies of besprekings of sommer plein ’n gekritikastreerdery wil noem, dit sal voortgaan. Want boeke is deur mense vir mense, oor mense, bo–oor en dwarsdeur mense ... menings word noodwendig deur meningsvormers gelewer: die resensent ís nodig – lank mag die Skoppensboer lewe in die hof van koning Boek!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top