Kobra ’n riller soos min

  • 0

Titel: Kobra
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798165044

Koop Kobra by Kalahari.com.
 

Met ’n reeks uiters suksesvolle misdaad-rillers as grondslag het Deon Meyer homself op beide die plaaslike as internasionale toneel gevestig as ’n skrywer wat lesers met eksaktheid en gesag vasgenael hou. Kyk, wanneer die groot honde soos Lee Child, Ian Rankin en Michael Connelly jou net die grootste lof toeswaai en jou werk in meer as twintig tale vertaal is dan mag die dryfkrag dalk nie meer wees wat dit eens was nie. Maar met Meyer blyk dit glad nie die geval te wees nie.

Na die eksperimentele Trackers, wat dalk net ’n tikkie té ambisieus was om heeltemal tot sy reg te kom, het Meyer dadelik weer ten sterkste op dreef gekom met 7 Dae, wat die snare van die “police procedural” so styf gespan het dat ’n mens skaars asem kon haal. In die aanloop tot Meyer se jongste roman, Kobra, het ek myself afgevra: Het Meyer na amper twintig jaar van spanningvolle, deernisvolle, besonder sterk karakter-gedrewe misdaadfiksie – en nou reeds ’n groeiende aantal films op sy kerfstok – steeds die vinger op die pols van wat sy aanhangers van sy skryfwerk verwag? Die antwoord is ’n dawerende ja.

Wat Meyer na my mening beter as enige ander van sy plaaslike misdaadfiksie-kamerade doen – hier dink ek onder andere aan die skrander skryfwerk van Karin Brynard, die aweregse speelsheid van Kerneels Breytenbach, die vindingrykheid van Francois Bloemhof en Leon van Nierop, en die senutergende maalkolk van boosheid en geregtigheid in die werk van Chris Karsten – is om nooit af te wyk van die ideaal van ’n beter Suid-Afrika nie.

Deurgaans word daar met die moeilikste van aktuele sosio-politieke kwessies omgegaan – die misbruik van vrouens en kinders, korrupsie in die staatsdiens en die polisie, die toekoms van die Afrikaner in Afrika en Suid-Afrika (sowel as die toekoms van Afrikaans), die eiesoortige brutaliteit van die misdrywe wat elke dag in ons samelewing plaasvind, kulturele oorbrugging en ubuntu tussen die land se verskeie rassegroepe en stamme. Die lys gaan aan. Hierdie onderwerpe word op so ’n ewewigtige, nugter wyse in die verhale ingeweef dat die genre eindelik ontgin word as ’n ideologiese wentelbaan vir dialoog tussen ’n menigte stemme. Daar word nie vir die leser gepreek nie, nog minder word sy intelligensie en vermoë om verwikkelde storielyne te vervolg onderskat, en met elke roman word die leser se vooropgestelde idees oor die status quo uitgedaag. Die leser gee ook altyd om vir die karakters waaroor geskryf word, en die verhale wat hulle uitleef.

Wat Meyer die leser met Kobra bied, is ’n veelvlakkige ondersoek in die duistere wêreld van internasionale intelligensie-dienste, die uitruil van inligting in ’n dawerende magspel tussen regerings en hul geheime organisasies. Les bes is daar ’n diepsnydende blik op die manier wat die misdaadgenre, moontlik beter as enige ander, ’n uiteenlopende somtotaal karakters op so ’n manier kan toevou onder omstandighede wat in die regte hande (soos Meyer s’n) nie dreig om geloofwaardigheid of leesbaarheid in te boet nie.

Meyer is lief daarvoor om sy net wyer as ’n enkele verhaallyn te span. In Kobra is daar hoofsaaklik twee spanningslyne wat eindelik op kenmerkende wyse met mekaar verbind word. Die eerste spanningslyn behels die ondersoek by ’n luukse gastehuis buite Franschoek op die sluipmoordagtige uitwissing van twee militêre manne en ’n derde slagoffer in ’n bloedige aanval wat die werk van ’n professionele laksman blyk te wees. Boonop is daar tekens dat ’n buitelander met allerlei interessante konneksies en moontlik gevaarlike inligting uit die gastehuis ontvoer is. Die enigste bruikbare leidraad is die spoegkobra wat op die drie koeëldoppies wat saam met die lyke gevind word gegraveer is.

Om so min as moontlik weg te gee van die eerste spanningslyn word die Kobra-simbool en karakter met die maksimum woema en adrenalien in die are ontgin. Daar is meer as net ’n tikkie Lee Child en Frederick Forsyth, dalk tog bietjie John Sandford, in die wyse wat die Kobra se agtergrond en duistere motiewe belig word.

Lanklaas, dalk nog met Meyer se eie 13 Uur en Feniks (met die verruklike Thobela ‘Tiny’ Mpayipeli aan die spits) het ek so die oorweldigende gevoel van lekkerkry ervaar, my so verkneukel in hoe Meyer sy boosdoeners so sterk teenoor die verteenwoordigers van geregtigheid laat opweeg.

Die tweede spanningslyn fokus op ’n fantastiese nuwe karakter, die sakkeroller Tyrone Kleinbooi, wat na sy slim sussie op universiteit omsien deur die (skelm) vindingrykheid van sy wyle oom te laat voortleef in verskeie ruimtes van die omliggende Bo-Kaap. Tyrone se storie is fassinerend, vars en onderhoudend. Dit wentel veral in die tweede helfte van die roman om sy stryd om oorlewing nadat hy in besit geplaas word van ’n geheueskyf met inligting wat die Kobra bitter graag in die hande wil kry.

Met hierdie verwikkeling is dit asof Meyer weer na Feniks se “road novel”-gevoel en briljante jaagtonele gaan loer het vir inspirasie – die gevolg is van die bes gechoreografeerde en spannende oomblikke in die roman, en selfs Hitchcock sou breed geglimlag het. Dis North by Northwest op die Kaapstad stasie, en dis asemrowend.

Meyer-aanhangers sal teen die tyd weet dat die geliefde kaptein Bennie Griessel van die Valke in Kobra terugkeer. Hy word in beheer van die ondersoeke gestel. Kyk, Bennie Griessel is al vantevore deur diep waters, maar in hierdie aflewering het hy elke bietjie ondersteuning wat hy kan kry van die stoïese grootbaas, Vaughn “Die Kameel” Cupido, spitsvondig en “quick on the draw” soos ons hom ken, en Mbali Kaleni, nog net so eerbaar en kostelik soos in 7 Dae en 13 Uur, nodig. Bennie het nie net nog die begeerte om weer met ’n bottle Jack vriende te maak nie, sy karnallie gee hom boonop ook nou probleme. En vir die sexy Alexa Barnard se mens eenvoudig nie nee nie, of hoe?

Die afwisseling tussen die twee spanningslyne sorg vir hope afwagting en senutergende oomblikke, met die pas wat deurgaans lekker flink is. Vir die getroue leser wag daar die verskyning van ’n paar ander karakters uit Meyer se vorige boeke. Die roman se sin vir humor, veral soos deur Vaughn Cupido vergestalt wanneer hy oor een van hierdie vroulike karakters praat, is kolskoot.

Humor en ironie is twee van die misdaad-riller se vernaamste wapens om die leser wakker te hou. In Kobra is daar ’n oorvloed van fynproewers-oomblikke wat humor en sosio-politieke kommentaar met mekaar versoen. Ek durf hulle nie hier verklap nie.

Soos wat die lees van die roman vorder het dit vir my duideliker geword dat dit wat op die spel is, laas met Infanta so groot gevoel het. Daar is, soos in daardie roman, nie net ’n kompleksiteit aan die morele en etiese kwessies wat hier ondersoek word en ’n soortgelyke balans tussen spanningslyne, verskillende stemme, aksie en pittige dialoog tussen karakters nie; daar word ook hier ooglopend aandag gegee aan die tipe frustrasies en alledaagse struikelblokke wat dieners van die gereg in ons land die hoof moet bied om betekenisvolle bydraes te kan maak.

Daar is ’n rede hoekom Meyer se karakters soos Griessel, Cupido, Mpayipheli, Lemmer, Mat Joubert en Zatopek van Heerden vir die leser aanbied, en hulle so getrou deur die leser ondersteun word in hul afsonderlike avonture. Soos die land waarin hul woonagtig is en met verskeie kwessies worstel, is daar ook met hierdie karakters fout, dalk groot fout. Maar ten spyte daarvan is elkeen deur hul grotendeels onselfsugtige aksies ’n simbool van hoop eerder as wanhopigheid.

Wat hulle in post-apartheid openbaar is die geloof dat die toekoms beter kan wees as die hede, al was daar erge trauma, al was dit hoe erg. Met Kobra word hierdie mantra voortgeleef, met ’n besonderse tableau van Vaughn Cupido in gesprek met die jong sakkeroller Tyrone van die Schotsche Kloof op die trein na Bellville wat die kroon span. Na alles kan die leser ook seker wees dat Bennie Griessel nooit weer dieselfde man sal wees nie.

Meyer lewer met Kobra die tipe vaartbelynde kragtoer wat die spanningsroman in Afrikaans tot groter hoogtes aanvoer. Dit staan ook na my mening met Margie Orford se Water Music, Michelle Rowe se What Hidden Lies en Mike Nicol se Of Cops and Robbers (in Afrikaans vertaal as Dieners en donners) aan die spits van 2013 se plaaslike krimi-aflewerings.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top