Padkos en Padlangs: ’n onderhoud met Yolandi Claassens

  • 0

Naomi Meyer praat met Yolandi Claassens oor die boeke wat Yolandi self publiseer.

Wat is jou agtergrond?

Ek is gebore en het grootgeraak op die plattelandse dorpie Beaufort-Wes. Dit is ook hier waar my liefde en passie vir skryf ontstaan het. Na skool het ek ’n jaar Diensjaar vir Christus gedoen by SCAS (Sport vir Christus Aksie Suid-Afrika) en dit was hier waar die Here vir my die opdrag gegee het om te skryf – kort inspirerende stories; lekkerleesstories met moontlik ’n tikkie humor in, maar altyd met ’n boodskap. Ek het ingeskryf vir ’n korrespondensiekursus in Joernalistiek en Kreatiewe Skryfwerk, maar het weens omstandighede nooit klaargemaak nie. Die lewe het gebeur ...

En toe trek ek Mosselbaai toe. Hier het die Here my weer aan daardie spesifieke droom en passie kom herinner. ’n Paar onafwendbare lewensdraaie het my nie net weer aan die skryf gekry nie, maar my ook by liefdadigheidswerk betrokke gekry. Vandag is ek nou betrokke by die Môreson ACVV Kinder- en Jeugsorgsentrum op George, waar ek jaarliks ’n dankseggingsprojek doen ten bate van die sentrum. Ek hou elke jaar ’n fondsinsameling om te help om die finansiële las vir die sentrum so bietjie te verlig, en dan reël ek ’n pretdag vir die kinders waar ons net so bietjie tyd saam met hulle gaan spandeer. Hierdie is ’n passie (en roeping) wat my baie na aan die hart lê en my menswees basies vorm. Baie van my getuienisse kom dan ook juis byvoorbeeld uit hierdie betrokke projekte uit, waar ek ’n projek met ’n nul rand begroting begin en eindig met goddelike voorsiening wat geen mens ooit sal kan betwyfel nie. Hierdie is maar net een voorbeeld van watter tipe getuienisse jy in my boeke sal kry.

Ek het ’n passie vir God wat ek deur my skryfwerk en liefdadigheidsprojekte uitleef. Ek is die skrywer van inspirasieliteratuur en het al twee boeke gepubliseer. Daar is nog drie boeke in die pyplyn.

Voltyds is ek egter ’n rekenkundige klerk van beroep.

Hoekom het jy hierdie boek geskryf – wat was jou inspirasie?

Eintlik het ek nooit ’n “boek” beplan nie. Ek het maar net hoofsaaklik my getuienisse neergepen en vir familie en vriende aangestuur, omdat ek dit met mense wou deel. Hierna het een van my vriendinne my aangemoedig om ’n blog te begin en gesê ek mors my Godgegewe talent om dit net vir familie en vriende te stuur, dat meer mense dit behoort te lees. Ek het, met haar aanmoediging, ’n aanlyn bedieningsblad oopgemaak om as platform te dien om hierdie skryfwerk op te deel, en so het my roete met Padlangs begin. En toe eendag nooi ’n ander vriendin, wat ’n grafiese ontwerper is en by ’n drukkersmaatskappy gewerk het, my vir koffie. Ek is effens laat en sy verseker my dat sy besig is om ’n baie oulike boek te sit en lees terwyl sy vir my wag, so daar is geen haas nie. Daar aangekom, druk sy die boek in my hand met die woorde: “Kyk net die oulike boek wat ek lees.” Ek het dit vinnig deurgeblaai en teruggegee, waarna sy dit weer terug in my hande gestop het, met die woorde: “Nee man, kyk ordentlik! En dan sê jy vir my of jy die skrywer ken?” Dis toe dat ek mý naam daarop sien. Sy het ’n geskenksakkie vir my gegee met 10 boeke in en vertel hoe sy al my getuienisse van my blog afgetrek het, deurgegaan en so bietjie geredigeer het en toe 10 boeke laat druk het. “Nou dat jy weet hoe dit kán lyk, is dit in jóú hande wat jy daarmee gaan maak ...” Hier het ek vir die eerste keer besef dat ’n boek ’n realiteit kan wees en dat ek ’n verantwoordelikheid het teenoor my vriendin wat soveel moeite gedoen het, om dit verder te vat. Ook ’n verantwoordelikheid teenoor myself en teenoor God. Ek het hierna, baie blindelings en naïef, die eerste beste en naaste uitgewer gekontak. Ek is goedgekeur en het dadelik die geld oorbetaal, net om later te ontdek dat hy eintlik ’n bedrieër is. My wêreld het vir ’n oomblik amper inmekaargetuimel. Dit het gevoel asof iemand my droom soos ’n ou stuk gebruikte papier opfrommel en in die drom weggooi. Ek het egter opgestaan, die stoffies van die teleurstelling en trauma afgeskud en weer probeer. Ek het hierna my manuskrip ingestuur na verskeie ander uitgewers, maar is orals afgekeur. Daarna het ’n uitgewer my genader wat my boeke tradisioneel sou uitgee, en ek was in die publikasieskedule vir daardie Desember, maar toe breek Covid daardie Maart uit. Ons almal weet wat toe gebeur het. Die uitgewer het daarna nooit weer sy voete gevind nie en die boeke het, na vele beloftes, nooit die lig gesien nie. ’n Ander uitgewer het hierna aangedui dat hy my boeke sal uitgee, maar die finansiële risiko sou 100% vir my rekening wees, en hoewel ek my oogtande sou gee om hul naam agter my te hê, was dit ongelukkig finansieel buite my bereik.

Maar ten spyte van al die terugslae oor die jare om hierdie droom te laat realiseer, was een ding duidelik – ek kon nie moed opgee nie. Ek het nie so ver gekom, deur al die trauma, spanning en stres gegaan, net om nou moed op te gee nie. Ek sou deurdruk, dit wat gebeur het, gebruik om ander te motiveer en inspireer. God het my deur alles gedra en ek sou dit deel. En eintlik is dit die kern van my skryfwerk: om dit wat met my gebeur en hoe die Here my daardeur dra, met mense te deel. Dít is my inspirasie om te skryf. Ek skryf nie net nie; ek skryf wanneer die Heilige Gees my inspireer. My diensstyle is dienend en getuigend, met interpersoonlik ’n kortkop agter. Ek is egter ook ’n ekstrovertiese introvert, wat getuigend ’n baie moeilike diensstyl maak, want ek praat glad nie so gemaklik voor ’n groep mense nie. Maar ek kan skryf en gebruik dus dít om dit wat ek wil oordra, te kan vertel. En glo my, daar is baie om te vertel! So met dit als in gedagte, het daar nou al ’n hele reeks boeke hul ontstaan gehad. My eerste boek se naam is Padlangs (want ons almal is op ’n lewensroete saam met God, een wat ons padlangs moet stap.) Die tweede een is Padkos, want op hierdie lewensroete het jy altyd geestelike padkos nodig. Die derde een is Kruispad, want ons almal kom iewers in ons lewens by ’n kruispad te staan waar jy moet besluit watter roete jy van hier af gaan stap (hy is tans by die uitgewer). Daarna sal Pitstop volg, want na so ’n kruispad het ons almal ’n pitstop by die Here se voete nodig, om die geestelike batterye weer te herlaai. En dan is ek tans besig om aan Spore te skryf, want ons almal laat spore in die lewe agter. Die vraag is egter watter tipe spore los jý agter? Elke boek se naam het natuurlik iets met ’n roete te doen, want dit gaan immers oor mý lewensroete saam met God.

Hoekom het jy dit self uitgegee en nie jou manuskrip aan ’n uitgewer voorgelê nie?

Ek het natuurlik eers my manuskripte voorgelê aan die groot uitgewers, ongelukkig is ek afgekeur as gevolg van vol publikasieskedules by die een; ’n ander het genoem dat hul baie meer manuskripte per maand ontvang as wat hul per jaar kan uitgee, en so gaan die lysie aan. Daar was wel een uitgewer wat bereid was om my boeke uit te gee, maar dit sou 100% finansiële risiko vir my beteken en hoewel ek my oogtande sou gee om hul naam agter my te hê, kon ek dit bloot net nie bekostig nie, veral nie aangesien ek twee boeke gelyktydig moes doen nie.

......
Ek het natuurlik eers my manuskripte voorgelê aan die groot uitgewers, ongelukkig is ek afgekeur as gevolg van vol publikasieskedules by die een; ’n ander het genoem dat hul baie meer manuskripte per maand ontvang as wat hul per jaar kan uitgee, en so gaan die lysie aan. Daar was wel een uitgewer wat bereid was om my boeke uit te gee, maar dit sou 100% finansiële risiko vir my beteken en hoewel ek my oogtande sou gee om hul naam agter my te hê, kon ek dit bloot net nie bekostig nie, veral nie aangesien ek twee boeke gelyktydig moes doen nie.
.........

My paaie het toe met Kersligmedia gekruis, wat ’n fasiliteringsdiens is. Hier is elke stap van elke boek deur ’n professionele kundige behartig en is die eindproduk dus ten volle uitgewerskwaliteit. By Kersligmedia word daar geen kortpaaie geneem nie. So, hoewel ek self publiseer, het ek steeds daardie ondersteuningsnetwerk van ’n “uitgewer” agter my.

Wie is jou teikenmark en jou ideale leser?

My teikenmark is enige persoon wat hoop en bemoediging nodig het. Daardie persoon wat waardering het vir al die wonderlike getuienisse van bekendes daar buite, maar ook nodig het om te hoor dat die Jan Alleman op straat ook ’n storie het om te vertel. Ek is natuurlik daardie Jan Alleman. En ek wil graag vir ander doodnormale mense soos ek wys dat óns stories ook belangrik is en dat God ook óns kan en wil gebruik om mense te bereik en te bemoedig. Mense wil kan vereenselwig, en dis moeilik wanneer dit nie iemand is soos jý nie. Ek poog dus om mense wat net bietjie hoop en bemoediging nodig het, of bloot net ’n goedvoelstorie wil lees, te bereik. Ek wil hê my leser moet my roete saam met God volg en daaruit ook sy eie roete kan identifiseer en waardeer. Ek wil hê die leser moet “ek ook”-oomblikke ervaar wanneer hy of sy kan identifiseer met ’n spesifieke getuienis. Ek wil hê die leser moet miskien antwoorde op die vrae oor hul eie worstelinge kan kry, of die nodige hoop en bemoediging kry om hul te help op hul eie pad. Ek wil vir mense die goedheid en guns van my hemelse Vader wys, en dat dit ons almal beskore is. Ziad K Abdelnour sê: “There’s no need to be perfect to inspire others. Let people get inspired by how you deal with your imperfections”, en dit is juis wat ek met my getuienisse probeer bereik.

Wat is jou gedagtes oor die Afrikaanse boekebedryf en sal jy ’n volgende keer ’n boek vir ’n uitgewer stuur sodat ’n objektiewe leser die boek kan beoordeel, daar ’n hekwag kan wees, ’n proefleser van buite, ’n redigeerder en buitelesers ... voordat die boek verskyn, en ook ’n bemarkingspan wat agterna kan help om die boek onder lesers se aandag te bring?

Die Afrikaanse boekebedryf maak my op ’n vreemde manier kinderlik opgewonde, maar ek is ook baie realisties daaroor. Christelike inspirasie (niefiksie) is ’n nisgenre. So, hoewel die droom maar altyd sal wees om deur ’n groot uitgewer raakgesien en gepubliseer te word, besef ek dit is nie altyd noodwendig vir my genre so maklik nie, omdat die veld soveel kleiner is. Tog voel ek in my hart dat ek ’n storie het om te vertel, mense het om te bereik en juis daarom weier ek om toe te laat dat hierdie faktor in my pad staan. Omdat ek deur ’n fasiliteerder gewerk het, weet ek met ’n geruste hart dat hy dit sou aanspreek as dit nie enige waarde of kwaliteit gedra het nie. Ek weet ook dat dit deur ’n onafhanklike redigeerder én ’n proefleser se hande was. En ja, somtyds was die redigeerder se voorstelle nie heeltemal in lyn met my “prentjie” nie, maar die veranderinge was ten beste vir die leser se ervaring. Ek sou natuurlik die ondersteuning van ’n bemarkingspan, wat agterna kon help om die boek onder lesers se aandag te bring, baie waardeer, want wanneer jy ’n fasiliteerder gebruik, rus daardie verantwoordelikheid van bemarking en verkope ten volle op jou as skrywer se skouers. En enige skrywer sal jou vertel dat die bemarkinggedeelte beslis nie maklik is nie! Nog minder as jy ’n voltydse werk ook het waaraan jy moet aandag gee. Maar soos hul sê: Elke sport het maar sy beserings. Ek probeer dus die beste maak van die kaarte wat aan my gedeel is. Ek glo wel stellig ek is op die oomblik waar ek móét wees. Die Here weet die beste en ek sal daarby berus. En wie weet, miskien is daar tog dalk iewers vorentoe ook vir mý ’n plekkie by een van ons groot uitgewers. Maar natuurlik op God se tyd ...

Waar kan mense jou boek koop of bestel en wat kos dit?

My boeke is direk by my beskikbaar en ek kan gekontak word by 066 216 3837, of hulle kan my kontak via my Facebook-skrywersblad, Yolandi Claassens – skrywersblad. Die boeke kos R230 per boek, en as jy direk by my koop, het ek ’n combo deal – R450 vir beide boeke, posgeld uitgesluit. Die boeke is ook by Kersligmedia beskikbaar (www.kersligmedia.co.za), asook plaaslik hier in Mosselbaai by Stunning (Hartenbos Seefront), Arts ’n Afrika (Langeberg Mall) en Book Addicts Anonymous (Die Wandelpad, Groot-Brakrivier). Hul het ook ’n aanlyn winkel waar die boeke bestel kan word (https://bookaddicts.co.za). Die boeke is verder ook by Exclusive Books in George beskikbaar.

Lees ook:

’n Manuskrip is nog nie ’n boek nie

Wat elke skrywer moet weet: selfpublikasie

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Annie Olivier

Alternatiewe Afrikaner-odyssey deur Ivan Kruger: ’n onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top