’n Manuskrip is nog nie ’n boek nie

  • 0

Skets deur José van Pixabay

...
Die vraag is nie bloot hoe ’n manuskrip die lig sien nie. Die vraag is hoe dit ontwikkel voordat dit die lig sien.
...

Ek het onlangs ’n onderhoud op LitNet met ’n selfgepubliseerde skrywer gelees. Een antwoord het by my vasgesteek: dat uitgewers nie in alternatiewe Afrikaans belangstel nie en dat redigering dikwels ’n skrywer se stem verander.

My onmiddellike reaksie was nie om die skrywer se ervaring te bevraagteken nie. Ek verstaan waarom baie skrywers uiteindelik selfpublikasie kies. Tog het die onderhoud my laat terugdink aan my eie jare in die boekebedryf. My betrokkenheid het gewissel van manuskripkeuring en boekresensies tot boekverkope en die reël van boekbekendstellings. Hoewel dit jare gelede was, het my liefde vir die boekebedryf nooit verdwyn nie. Inteendeel, dit het my weer laat besef hoeveel respek ek steeds vir die uitgeeproses het.

As iemand wat manuskripte beoordeel het, boekresensies geskryf het en aan verskillende kante van die boekebedryf blootgestel was, het ek nog altyd geglo dat ’n goeie redakteur nie ’n skrywer se stem stilmaak nie. Die beste redigering is juis dié wat die skrywer se stem helderder laat deurkom. Daarom dink ek dat die gesprek oor selfpublikasie minder behoort te gaan oor wie die boek uitgee en meer oor die proses wat ’n manuskrip deurloop voordat dit ’n boek word.

Wanneer ’n skrywer sy of haar eerste manuskrip voltooi, veral in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse mark, glo ek die droom is selde selfpublikasie. Die droom is ’n boek. ’n Boek wat uiteindelik op die rakke van boekwinkels beland, sy weg vind na mense se bedkassies en sitkamers, en gelees word. En as jy jeugverhale skryf, is daar seker min groter eer as om te hoor jou boek is op die Departement van Basiese Onderwys se voorgeskrewe leeslys opgeneem.

Maar daar is eenvoudig meer manuskripte as wat daar gepubliseerde boeke is.

Ek verstaan dus waarom al hoe meer skrywers self publiseer. Vir sommige is dit ’n doelbewuste keuse. Vir ander is dit finansieel die enigste haalbare opsie. Vir nog ander volg dit op teleurstelling nadat manuskripte afgekeur is. Selfpublikasie is ’n waardevolle en legitieme roete. Tog wonder ek of ons nie soms die verkeerde gesprek voer nie.

Die vraag is nie bloot hoe ’n manuskrip die lig sien nie. Die vraag is hoe dit ontwikkel voordat dit die lig sien.

Skrywers beskryf hul manuskripte dikwels as hul “babas”. Dis waarskynlik een van die akkuraatste metafore wat bestaan. Jy leef maande, soms jare, met hierdie verhaal. Teen die tyd dat die laaste punt geskryf is, is dit moeilik om nog objektief daarna te kyk.

En dalk is dit juis waar die verhouding tussen liefde en objektiwiteit begin.

’n Skrywer se eerste verantwoordelikheid is liefde – om aan te hou glo in ’n verhaal lank voordat enigiemand anders die potensiaal daarvan kan raaksien. ’n Redakteur se eerste verantwoordelikheid is objektiwiteit – om daardie potensiaal raak te sien, maar ook eerlik te wees oor waar die manuskrip nog kan groei. Hierdie twee rolle staan nie teenoor mekaar nie; hulle vul mekaar aan.

Die mense wat daagliks manuskripte lees, ontwikkel en publiseer, het al honderde sulke “geboortes” begelei. Hulle sien waar ’n verhaal nog asem nodig het, waar ’n karakter verder moet ontwikkel, of waar die skrywer se eie stem nog helderder kan deurkom. Daarom het ek nog altyd geglo dat goeie redigering nie ’n bedreiging vir kreatiewe vryheid is nie, maar juis ’n diens daaraan.

My perspektief word ook gevorm deur iets anders. Ek het nie net manuskripte gelees nie; ek was ook betrokke by boekverkope en die reël van boekbekendstellings. Dáár het ek besef dat die publikasie van ’n boek nie die eindpunt is nie – dit is eintlik die begin.

Teen die tyd dat ’n boek op ’n winkelrak beland, het ’n hele span reeds daaraan gewerk: redakteurs, proeflesers, ontwerpers, bemarkers, verkoopsmense en boekhandelaars. Daarna begin die volgende uitdaging: om lesers bewus te maak van die boek, hulle te oortuig dat hulle dit moet koop, en uiteindelik te sorg dat die boek lank ná die bekendstelling steeds gelees en bespreek word.

Die skrywer en die leser is immers onlosmaaklik aan mekaar verbind. Tog skep ’n skrywer nie sy lesers nie; hulle bestaan reeds. Die uitdaging is om ’n brug te bou sodat die leser die skrywer raaklees, en die skrywer uiteindelik die leser raakskryf.

Daarom dink ek dat die gesprek oor selfpublikasie en tradisionele publikasie nie ’n óf ... óf-gesprek hoef te wees nie. Albei het hul plek. Die belangriker vraag is of elke manuskrip die geleentheid kry om deur eerlike, kundige redaksionele gesprekvoering te groei. Want uiteindelik is dit nie net die skrywer wat by daardie proses baat nie. Dit is ook die leser.

’n Manuskrip word immers nie ’n boek wanneer dit gedruk word nie. Dit word ’n boek wanneer dit sy lesers vind.

Lees oook:

Alternatiewe Afrikaner-odyssey deur Ivan Kruger: ’n onderhoud

Leela Verity’s Spirit @ rest: an interview

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Jaco Adriaanse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top