PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Jaco Adriaanse

  • 0

Grafika (links): verskaf deur PEN Afrikaans. Foto van Jaco Adriaanse: ©2026 Jaco Adriaanse

PEN Afrikaans het onlangs hul lede en ander belangstellendes na aanlyn byeenkomste genooi waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel.

Jaco Adriaanse van Penguin Random House South Africa LAPA was een van die aanbieders (as uitgewer van fiksie) en hy beantwoord Naomi Meyer se vrae oor waarna uitgewers op soek is wanneer hulle fiksie publiseer.

Jaco, in ’n wêreld waar ons nie kunsmatige intelligensie kan ignoreer nie, hoe dink jy as uitgewer daaroor? Sal jy iets publiseer waarby kunsmatige intelligensie by die skeppingsproses betrokke was? Sal jy wil hê ’n skrywer moet dit minstens verklaar?

Volgens ons riglyne móét alle skrywers enige gebruik van kunsmatige intelligensie aanmeld sommer op die voorleggingsdokument wanneer hulle ’n manuskrip voorlê. My persoonlike opinie is ook dat daar tans daarbuite geweldig baie halwe waarhede en totale leuens oor KI is, en die deursnit persoon verstaan nie regtig wat dit is of wat dit doen nie. Large Language Models (LLM’s) is nie intelligente rekenaarprogramme nie; hulle verstaan nie die vrae wat jy vir hulle stel nie, en hulle verstaan ook nie die antwoorde wat hulle uitspoeg nie. LLM’s is bloot programme wat geleer is om voorspellings te maak op grond van patrone in ons taal.

........
Large Language Models (LLM’s) is nie intelligente rekenaarprogramme nie; hulle verstaan nie die vrae wat jy vir hulle stel nie, en hulle verstaan ook nie die antwoorde wat hulle uitspoeg nie. LLM’s is bloot programme wat geleer is om voorspellings te maak op grond van patrone in ons taal.
........

So hulle kyk na ’n string woorde en voorspel wat die mees gepaste antwoord sal wees op grond van die berge teks wat vir die program gevoer is. So ’n LLM kan eenvoudig nie regte oorspronklike, kreatiewe werk skep nie. Dit is slegs ’n nabootsing. Hierdie programme het ook nie menings, perspektiewe of drange nie; presies die tipe goed wat jy kort om sterk, oortuigende karakters en stories te skep.

Ek sal dus enige persoon wat wil skryf, ten sterkste aanbeveel om weg te bly van die gebruik van KI vir jou skryfwerk. As jy jouself wil voorgee as skrywer, maar nie bereid is om die moeilike, frustrerende, soms eensame proses van skryf self te doen nie, moet jy dalk eerder ’n ander rigting oorweeg. (Ek dink veral aan die siel wat vir my ’n manuskrip gestuur het, maar vergeet het om haar AI prompts uit haar dekbrief te verwyder. As jy nie eers die moeite wil doen om jou eie dekbrief te skryf nie, moet jy liefs nie jou manuskrip vir ons stuur nie.)

Op ’n regstegniese noot moet ek ook net noem dat dit tans nie moontlik is om enigiets wat KI geskryf het, met kopiereg te beskerm nie. So as jou manuskrip enige bydrae van KI bevat, het jy self nie eers kopiereg op daai skryfsel nie. Dit beteken dus dat ons as uitgewer niks met jou manuskrip kan doen nie.

Ek besef dinge beweeg vinnig en KI gaan waarskynlik vorentoe ’n groter rol in ons almal se lewens speel. Ek voel egter baie sterk dat boeke wat deur mense gelees moet word, met mense se harte moet praat, mense moet wegvoer en bekoor, eenvoudig deur ons ou feilbare mensies geskryf moet word.

Om boeke te publiseer, uit die oogpunt van ’n skrywer, gaan oor die storie. Is dit vir jou, as uitgewer, soos ’n weddenskap op perde – wie se boek gaan die resies wen en die meeste geld maak?

Nee, ek dink nie daai metafoor werk nie. Natuurlik moet ons as uitgewers enige boek benader as ’n kommersiële produk. Ons kan nie aanhou boeke uitgee as die boeke nie verkoop nie. Maar as redakteur of uitgewer stap jy vir maande, soms jare lank, ’n pad met ’n skrywer en ’n teks. Elke boek word realisties oorweeg en teen ons kennis van die mark getoets. Ons verwag byvoorbeeld nie dat ’n hoogs literêre boek miljoene moet verkoop nie. Nes ons nie verwag dat ’n lekkerlees spanningsverhaal enige belangrike literêre pryse moet wegdra nie. Sover moontlik probeer ons ’n diverse lys publikasies elke jaar op die rak sit, elkeen met sy eie mark en verwagtinge. Van my gunstelingboeke wat ek al uitgegee het, was nie topverkopers nie, en van ons topverkopers was nie noodwendig die beste boeke nie. Van ons kant af probeer ons egter om vir elke boek en skrywer die beste kans op sukses te gee, maar daar kom ’n punt waar dit eenvoudig die boek se tyd is om op sy eie voetjies daar buite te gaan staan, dan hoop ons vir die beste.

My tweede vraag was baie sinies, maar mens moet hieroor praat. ’n Goeie boek bestaan uit onweerstaanbare inhoud. En tog is daar briljante boeke wat nie so goed verkoop nie. Kan jy as uitgewer werklik vir ’n skrywer sê: Skryf waarvan jy weet, skryf met jouself as teikenleser en skryf oor enigiets onder die son?

Dis waarskynlik nie so eenvoudig nie. Sover moontlik probeer ons om nie vir skrywers voor te sê wat hulle moet skryf nie. Maar dit is ook waar dat ons die inhoud van elke boek meet teen dit wat ons van die plaaslike mark en wêreldtendense weet. As ’n boek erg nis of volksvreemd voel, al is dit hoe goed geskryf, is dit moontlik dat ons nie kan voorsien dat ons dit suksesvol na die mark toe kan neem nie. Ek moes al gevestigde skrywers afkeur, bloot omdat ons gevoel het dat die storie wat hulle gekies het om te vertel, nie aanklank gaan vind by Suid-Afrikaanse lesers nie. So ongelukkig is daar nie ’n direkte verband tussen die kwaliteit van ’n boek en die boek se uiteindelike verkope nie (maar dis waarskynlik so in alle kreatiewe velde).

Maar ek dink tog die raad van “skryf waarvan jy weet” is in die breë goed en geldig. Ek dink elke skrywer bring tog iets van hulle eie perspektief en wêreldbeeld na ’n boek toe en wat ’n boek regtig laat uitstaan, is wanneer lesers ’n interessante, volronde brein agter die boek kan optel. Hulle kan sien die skrywer ken die tipe karakter waaroor hulle skryf, of het ervaring van die milieu waarin die storie afspeel. Al is die karakters of hulle wêreld nie iets waaraan die leser gewoond is nie, kan lesers tog geweldige genot daaruit put as die skrywer universele waarhede in hulle spesifieke milieu na vore kan bring.

Ek moet ook net noem dat daar sekere genres is wat om die een of ander rede eenvoudig (nog) nie plaaslik werk nie. Ek dink byvoorbeeld aan die meeste genres van volwasse- spekulatiewe fiksie (fantasie, wetenskapfiksie, grillers, die meer onlangse Romtasy, ensovoorts). Al is dit van die mees gewilde genres wêreldwyd, is daar feitlik geen voorbeelde van plaaslike boeke in hierdie genres, Afrikaans of Engels, wat sukses op die mark behaal het nie. Dis ’n probleem wat ons nog probeer oplos, maar dit is ook ’n faktor in ons besluitnemingsproses.

Hoekom doen jy die werk wat jy doen? (En vertel vir ons lesers wie is ook betrokke by die bedryf – wie is almal saam met jou, besig om te kyk na die skeppingsproses en geboorteproses van ’n nuwe boek?)

Ek is werklik een van daai lewenslange lesers en boekliefhebbers. Ek het grootgeword met boeke in die huis en het as klein kind op lees verlief geraak. En so het dit aangegaan. Ander stokperdjies het gekom en gegaan, maar ek is vandag nog net so lief vir lees as toe ek ’n kind was. Toe ek op universiteit kom, het ek Regte geswot, maar teen my derdejaar het ek besef dat ek ’n uiters mismoedige prokureur sou word. Toe besluit ek, as ek nou vir die res van my lewe iets produktiefs moet doen om brood op die tafel te sit, dan sal ek dit eerder doen met iets wat ná aan my hart lê. Dit was nie altyd maklik nie, oor die algemeen dink ek nie mense verstaan wat ’n goeie taalpraktisyn doen nie en ons land is nie ’n nasie van lesers nie. Maar ek dink ek het uiteindelik by die regte plek uitgekom.

Ek werk meestal saam met mede-boekwurms. Feitlik almal by ons maatskappy, hetsy die redakteur, die ontvangsdame of die boekhouer, is lesers en boekliefhebbers. Dis hoe die meeste van ons ons weg na die uitgewery gevind het. Dis maar ’n klein bedryf, en met al die moderne afleidings, is die pad nie aldag gelyk of duidelik uitgemerk nie. Maar in ’n wêreld wat by die dag maller en maller raak, terwyl almal se aandag opgevreet word deur algoritmes wat geskep is om aandag te kaap, terwyl miljoene elke dag met mekaar baklei op sosiale media oor kwessies waarvan hulle niks weet nie, voel die taak van boeke uitgee en stories vertel soos een van die min beroepe wat nog onomwonde goedheid in die wêreld instuur.

........
En ek dink regtig boeklees is een van daai aktiwiteite wat op feitlik alle terreine vir die leser goed is. Dit ontwikkel jou woordeskat en jou vermoë om jouself uit te druk. Dit leer jou van wêrelde wat jy nog nooit gesien of ervaar het nie, en forseer jou om perspektiewe buite jou eie aan te neem en te oorweeg. Boeklees is dalk van die min wapens wat ons het teen die kaping van aandag, die verbrokkeling van ons gemoedstoestande en die algehele agteruitgang in medemenslikheid.
.........

En ek dink regtig boeklees is een van daai aktiwiteite wat op feitlik alle terreine vir die leser goed is. Dit ontwikkel jou woordeskat en jou vermoë om jouself uit te druk. Dit leer jou van wêrelde wat jy nog nooit gesien of ervaar het nie, en forseer jou om perspektiewe buite jou eie aan te neem en te oorweeg. Boeklees is dalk van die min wapens wat ons het teen die kaping van aandag, die verbrokkeling van ons gemoedstoestande en die algehele agteruitgang in medemenslikheid.

Wat is die beste raad wat jy vir enige skrywer kan gee?

Ek sal maar die eksperts aanhaal:

Max Hawthorne: “You can only write as well as you read.”

en

Cesar A Cruz: “Art should comfort the disturbed and disturb the comfortable.”

  • Nog gesprekke word binnekort aanlyn aangebied en belangstellendes word genooi om dit by te woon. Hier is nog besonderhede.

Lees ook:

Persverklaring: PEN Afrikaans nooi skrywers na aanlyn sessies met uitgewers

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top