Persverklaring: PEN Afrikaans nooi skrywers na aanlyn sessies met uitgewers

  • 1

PEN Afrikaans nooi graag ons lede en ander belangstellendes na drie aanlyn byeenkomste waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel.

Die sessies sal van 18:00 – 19:00 plaasvind op die volgende datums: 11 Junie (Fiksie), 9 Julie (Niefiksie) en 6 Augustus (Kinder- en jeugboeke).

In hierdie aanlyn sessies kan skrywers kom wenke kry oor hoe om hul kanse op ’n publikasie-aanbod te vergroot. Hoe lyk ’n goeie manuskripvoorlegging? Watter elemente moet dit bevat? Watter tendense of faktore speel tans ’n noemenswaardige rol in die onderskeie uitgewers se publikasiebesluite? Verskeie uitgewers sal kom saamgesels en daar sal tyd wees om aan hulle vrae te stel.

“Vir PEN Afrikaans is die skep van geleenthede vir ons lede en die wyer skrywersgemeenskap ’n fokuspunt. Ons het opgemerk dat skrywers dikwels vrae het oor manuskripvoorleggings en waarna uitgewers op soek is. Dit maak sin, want dit is ’n belangrike stap ná maande en jare se werk aan daardie manuskrip. Ons glo dus dat hierdie sessies met van ons land se voorste uitgewers baie waardevol sal wees,” sê Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans.

Lede van PEN Afrikaans kan hierdie sessies gratis bywoon, terwyl ander belangstellendes teen R100 per sessie kan inskakel. Om jou plek te bespreek by penafrikaans@gmail.com is in ieder geval belangrik. Die Zoom-skakel sal voor die sessie met bevestigde deelnemers gedeel word.

Nie-lede wat al drie sessies wil bywoon, kan teen dieselfde koste (R300) vir die jaar by PEN Afrikaans aansluit en by die sessies inskakel. Die aansoekvorm is hier beskikbaar: https://penafrikaans.org.za/aansoekvorm/.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top