
Foto’s: © 2026 Ivan Kruger, verskaf deur Ivan Kruger.
Ivan Kruger het onlangs ’n boek geskryf en selfgepubliseer. Hy praat met Naomi Meyer daaroor.
Ivan, wat is jou agtergrond?
My naam is Ivan Kruger. Ek is gebore in Pretoria. Ek het ook daar grootgeword.
Ek bly nou in die Kaap.
Ek is ’n onderwyser met ’n meestersgraad in Stadsbeplanning.
Ek is ook ’n toergids.
Ek speel musiek. Ek hou daarvan om op realiteitstelevisie-shows te gaan om geld te wen.
Hoekom het jy hierdie boek geskryf – wat was jou inspirasie?
Ek het in graad 10 begin gedigte skryf as ’n manier om my tieneremosies te probeer verstaan. Ek het oor 18 jaar baie gedigte geskryf. So ek het nou vir die afgelope twee jaar gewerk om my beste gedigte in ’n digbundel saam te stel.
My inspirasie strek van my alledaagse lewe as normale mens. My inspirasie kan diep wees soos eksistensiële krisis-stoïese-Christen-maarvloeklekker diep, of selfs oppervlakkig soos hoekom jy nie jou toonnaels moet knip wanneer jy babelas het nie.
Ek het hierdie boek geskryf, want ek wou nog altyd, en dis hoe ek my lewe leef: Ek doen waaroor ek droom.
So op ’n manier is my hoofinspirasie my eie besoedelde perspektief oor die lewe.
Hoekom het jy dit self uitgegee en nie jou manuskrip aan ’n uitgewer voorgelê nie?
Hulle stel nie belang aan alternatiewe Afrikaans nie. Ek het probeer. Die meeste van hul vra net geld vir druk, editing en typesetting, ensovoorts. Aangesien ek ’n proletariaat is, het ek nie geld om ’n uitgewer te betaal om my eie boek te publiseer nie.
......
Hulle stel nie belang aan alternatiewe Afrikaans nie. Ek het probeer.
.......
Wie is jou teikenmark en jou ideale leser?
Weird alternatiewe Afrikaners. Maar enige iemand is welkom om te lees. 😜
Hierdie boek is vir al die weird mense. Die alternatiewe Afrikaners wat voel asof hulle nêrens inpas nie. Vir die PlayStation-spelers; kerk-kollektegeld-stelers; Afrikaanse All Black-ondersteuners; flambojante, eksentrieke boere wat van punk en pienk hou; hierdie is vir die ANC-ondersteuners; vir die mense wat vir die DA gestem het en gedink het hulle gaan wen; die mense wie se pa hul haat en wat te lief is vir hul ma. Hierdie boek is vir mense wat te lief is vir hul pa en vir die mense wat nie hul ma ken nie. Hierdie boek is vir almal wat te skaam is om te praat oor hul gevoelens en dié wat te veel praat oor hul gevoelens. Die kitaarspelers wat nêrens kom nie; die kelners wat weed rook en na ’n lang skof ’n quart Black Label gaan drink en pool speel. Hierdie boek is vir die Christene wat weet dat hulle sondaars is en met babelas kerk toe gaan. Hierdie boek is vir die mense wat dink hulle is God’s favourite. Hierdie boek is ook vir die mense wat meer geld by SARS wil terugkry. Hierdie boek is vir die mense wat nie ’n mediese fonds het nie en vir dié wat bid vir Vrydag. Vir die mense wat cheap sigarette rook. Vir die mense wat gigs toe gaan om net vir 2 uur aan hul boring lewe te ontsnap. Hierdie boek is vir mans wat vroue wil wees en vroue wat mans wil wees; vir mans wat vroue is en vroue wat mans is; vir kinders wat grootmense wil wees en grootmense wat weer kinders wil wees. Hierdie boek is vir die mans met lang hare en die vrouens met kort hare. Die boek is vir al die weirdos.
Wat is jou gedagtes oor die Afrikaanse boekebedryf en sal jy ’n volgende keer ’n boek vir ’n uitgewer stuur sodat ’n objektiewe leser die boek kan beoordeel, daar ’n hekwag kan wees, ’n proefleser van buite, ’n redigeerder en buitelesers ... voordat die boek verskyn, en ook ’n bemarkingspan wat agterna kan help om die boek onder lesers se aandag te bring?
Almal het hul eie Afrikaans. Ek skryf in MY EIE Afrikaans. Een van die hoofredes waarom ek nie my boek deur ’n uitgewer gepubliseer het nie (behalwe finansiële redes), is omdat hulle juis die taal wil redigeer. Kuns is veronderstel om die vryheid van uitdrukking voor te stel. Die eerste hoofstuk in my boek is juis aspris verbatim so ingeplaas om die progressie van my taalgebruik en kunstigheid te dokumenteer.
Ander skrywers kan uitgewers kry om hul kuns te dokter sodat dit “inpas by die samelewing”, of sodat dit meer “lesersvriendelik” is.
Ek soek nie ’n taalpuris wat my gaan veroordeel gebaseer op my taalgebruik of grammatika nie. Nee, dankie.
Waar kan mense jou boek koop of bestel en wat kos dit?
Koop dit hier.
Die e-boek kos R120.

