
Grafika, links: verskaf; foto van Annie Olivier verskyn met toestemming van en erkenning aan: ©Antoine de Ras
........
Plak jou agterent op ’n stoel neer en begin net!
.........
PEN Afrikaans het onlangs hul lede en ander belangstellendes na aanlyn byeenkomste genooi waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel.
Annie Olivier, uitgewershoof van Jonathan Ball-uitgewers, was een van die aanbieders en sy beantwoord Naomi Meyer se vrae oor waarna uitgewers op soek is wanneer hulle niefiksie publiseer.
In ’n wêreld waar ons nie kunsmatige intelligensie kan ignoreer nie – al wil ons dit ook doen – hoe dink jy as uitgewer daaroor? Sal jy iets publiseer waar kunsmatige intelligensie by die skeppingsproses betrokke was? Sal jy wil hê ’n skrywer moet dit minstens verklaar?
Die een ding wat ons op dié tydstip oor KI weet, is dat dit ’n ontwrigtende mag is en dat die impak daarvan nie langer ontken kan word nie. Nog iets wat ons oor KI kan sê, is dat dit nie in swart of wit beskou kan word nie – dit is nie nét goed of nét sleg nie.
Ons kan kies om KI te ignoreer of ons kan besluit om dit reg van voor te konfronteer. Binne ons uitgewery wend ons dit byvoorbeeld reeds op verskeie maniere suksesvol aan om ons werkprosesse doeltreffender of makliker te maak.
Ons het die afgelope paar maande talle (niefiksie én fiksie) voorleggings ontvang wat met die hulp van KI geskryf is – in sommige gevalle verklaar die skrywers dit; in ander nie. Ons skrywerskontrak vereis wel dat skrywers moet verklaar as hulle KI gebruik het.
Ons gesels tans indringend oor die vraag of ons enige vorm van KI-betrokkenheid by die skeppingsproses moet toelaat. Op hierdie stadium laat ons slegs toe dat skrywers dit gebruik as deel van hul navorsing.
Waaroor dink jy behoort ’n goeie niefiksieboek te handel – wat is die belangrikste: die onderwerp wat nagevors word, die vertelstyl of die narratiewe storietrant daarvan?
All of the above! ’n Goed geskryfde niefiksiemanuskrip moet uitstekend nagevors wees (as dit gegrond is op navorsing); dit moet logies vloei en dus ’n sterk struktuur hê met ’n duidelike argument wat goed opgebou word; en dan moet dit ook toeganklik wees, dit wil sê lekker lees. Niemand van ons hou daarvan om toegegooi te wees onder feite of hoogdrawende taal nie.
........
’n Goed geskryfde niefiksiemanuskrip moet uitstekend nagevors wees (as dit gegrond is op navorsing); dit moet logies vloei en dus ’n sterk struktuur hê met ’n duidelike argument wat goed opgebou word; en dan moet dit ook toeganklik wees, dit wil sê lekker lees. Niemand van ons hou daarvan om toegegooi te wees onder feite of hoogdrawende taal nie.
...........
Die beste niefiksieboeke – en dit sluit alles van biografieë en politieke boeke tot militêre geskiedenis en reisverhale in – is geskryf op ’n manier wat die leser intrek en regdeur die boek boei. Narratiewe niefiksie, waar die tegnieke van fiksie gebruik word om ’n feitelike verhaal te vertel, is immer gewild. Dit beteken dat daar enkele sterk karakters moet wees; dat dialoog en helder beskrywings ingespan moet word; en natuurlik dat daar ’n spanningslyn moet wees.
Is die uitgee van boeke vir jou, as uitgewer, soos ’n weddenskap op perde – wie se boek gaan die resies wen en die meeste geld maak? Dit klink dalk baie sinies, maar mens moet hieroor praat. ’n Goeie boek kan bestaan uit onweerstaanbare inhoud. En tog is daar briljante boeke wat nie so goed verkoop nie. Kan jy as uitgewer werklik vir ’n skrywer sê: Skryf waarvan jy weet, skryf met jouself as teikenleser en skryf oor enigiets onder die son?
Ons gee om baie redes boeke uit, maar dis beslis nie net om geld te maak nie. Ons moet uiteraard verseker dat ons as uitgewery kan bly voortbestaan, en in moeilike markomstandighede soos wat ons tans beleef, is die druk groter om boeke uit te gee wat ons glo kommersieel suksesvol sal wees, maar jy het in elk geval nooit enige waarborge dat dit goed sal verkoop nie.
Enige uitgewer en uitgewery wat hul sout werd is, gee ook boeke uit omdat hulle byvoorbeeld ’n platform aan ’n opwindende nuwe stem wil gee, omdat hulle literêre grense wil uitdaag of glo in die boodskap of onderwerp van ’n bepaalde boek.
........
Enige uitgewer en uitgewery wat hul sout werd is, gee ook boeke uit omdat hulle byvoorbeeld ’n platform aan ’n opwindende nuwe stem wil gee, omdat hulle literêre grense wil uitdaag of glo in die boodskap of onderwerp van ’n bepaalde boek.
.........
Dit is altyd jammer as ’n boek wat baie goed geskryf is, nie goed verkoop nie, maar dit is deel van die risiko wat ons neem as uitgewers. In my ervaring was minstens twee van die 10 boeke wat ek gemiddeld jaarliks uitgegee het, nie kommersiële suksesse nie, maar dit maak my nie minder trots daarop nie.
Ek sal beslis nie vir ’n skrywer sê om oor enigiets onder die son te skryf nie, want daar is sekere temas wat ons weet meer algemeen byval sal vind en ander wat net op té ’n nismark gerig is. Dit is ook waarom ons as deel van ons riglyne vir manuskripvoorleggings vra dat skrywers aandui wie hulle dink die mark vir die boek sal wees (en dit kan ongelukkig nie net hulself wees nie!).
Hoekom doen jy die werk wat jy doen? (En vertel vir ons lesers wie is ook betrokke by die bedryf – wie is almal saam met jou, besig om te kyk na die skeppingsproses en geboorteproses van ’n nuwe boek?)
Dit hou my elke dag op my tone, want dit is nie net intellektueel uitdagend nie, maar ook baie kreatief. ’n Groot deel van ons werk as niefiksie-uitgewers behels om met boekkonsepte vorendag te kom en dan ’n skrywer te vind wat ewe passievol is daaroor en die boek sal skryf. Ek geniet dié hele proses en het al soveel fassinerende mense ontmoet wat my lewe op soveel maniere verryk.
Ek werk ook altyd nou saam met skrywers om die nodige manuskripontwikkeling te doen en vind dit uiters stimulerend. Om seker te maak ’n manuskrip se struktuur is reg, dat alle leemtes aangespreek is, dat alles logies vloei en die eerste hoofstukke die leser intrek, is soos om ’n ingewikkelde legkaart te bou. Ek hoop om in my aftrede net dit te doen.
Daar is soveel redes, maar die belangrikste is seker dat ek elke dag met idees en woorde kan werk.
Vanuit ’n produksie-oogpunt is ’n hele span medewerkers betrokke by die geboorteproses van ’n boek. Met elke boek werk ’n uitgewer saam met ’n span van minimum vier mense: die redigeerder/taalversorger, setter, proefleser en natuurlik die omslagontwerper. By niefiksie het ons dikwels ook ’n indekseerder en kartograaf wat bydra tot die eindproduk.
Binne die groter uitgewery kan ons natuurlik nie sonder ons verkopespan wat die boek aan boekwinkels voorlê en dit op die rakke kry nie. Ons publisiteit- en bemarkingspan speel eweneens ’n ontsettende groot rol om die nodige blootstelling vir elke boek te kry.
Wat is die beste raad wat jy vir enige skrywer kan gee? Een sin?
Plak jou agterent op ’n stoel neer en begin net!
Lees ook:
PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Jaco Adriaanse
PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Stevlyn Vermeulen

