PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Stevlyn Vermeulen

  • 0

PEN Afrikaans het onlangs hul lede en ander belangstellendes na aanlyn byeenkomste genooi waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel.

Stevlyn Vermeulen van Kwela, ’n druknaam van Jonathan Ball-uitgewers, was een van die aanbieders (as uitgewer van fiksie) en sy beantwoord Naomi Meyer se vrae oor waarna uitgewers op soek is wanneer hulle fiksie publiseer.

In ’n wêreld waar ons nie kunsmatige intelligensie kan ignoreer nie, hoe dink jy as uitgewer daaroor? Sal jy iets publiseer waar kunsmatige intelligensie by die skeppingsproses betrokke was? Sal jy wil hê ’n skrywer moet dit ten minste verklaar?

Almal het natuurlik hulle eie gevoelens en idees oor KI, maar die feite gee nie om oor  individuele gevoelens en opinies nie (en die wêreld staan nie stil nie). Die feit is dat baie mense (skrywers inkuis) nie enige voorbehoude het oor KI nie. Hierdie tegnologie is reeds deel van die meeste mense en maatskappye se daaglikse bedrywighede. As uitgewers moes ons dus die nodige riglyne daarstel.

Die standaardkontrak vir skrywers by Jonathan Ball Uitgewers en al die drukname wat daaronder val, is reeds gewysig om KI in ag te neem. Dit stipuleer dat die manuskrip die resultaat van (direkte) menslike inspanning en kreatiwiteit moet wees en dat geen deel daarvan deur KI geskep moes gewees het nie. Waar KI gebruik is vir navorsing, opsomming of taalversorging, moet die skrywer dit verklaar. Ons probeer ook met die kontrak om te verhoed dat skrywers hulle manuskripte met KI deel (om te verhoed dat die unieke skryfstyl van die outeur afgewater word, en ook om die ekonomiese waarde van ons stories te bewaar).

Dit is een ding om KI vir byvoorbeeld navorsingsdoeleindes te gebruik, maar die inhoud mag nie deur KI beplan/gegenereer/geskryf word nie. Omdat die meeste KI-programme toegang tot die internet het (en dus ander kopiereghouers se werk maklik kan skraap), hou die gebruik van KI-modelle tydens die skep van nuwe idees, asook die fisiese skryfproses, reuse kopieregimplikasies vir die skrywer en uitgewersmaatskappy in.

Dan is daar natuurlik ook die kwessie van etiek en integriteit rondom skryfwerk wat deur KI gegenereer is. KI is tans beslis (nog) nie in staat om menslike emosie en nuanses weer te gee nie. En die “human touch” is ’n belangrike faktor wanneer dit by kreatiewe kuns kom. Is dit nie juis die onderliggende menslike emosie en abstrakte denkproses wat kreatiewe mense in staat stel om treffende kuns te skep waarmee die leser of kunsliefhebber kan identifiseer en wat op ’n dieper vlak met hulle resoneer nie?    

.........
Hoe kan jy ’n skrywer wil wees, maar jy wil of kan nie skryf nie? ’n Potensiële skrywer se skryfvaardighede kan altyd verbeter word deur gereelde vingeroefeninge en manuskripontwikkeling.
...........

Hoe kan jy ’n skrywer wil wees, maar jy wil of kan nie skryf nie? ’n Potensiële skrywer se skryfvaardighede kan altyd verbeter word deur gereelde vingeroefeninge en manuskripontwikkeling. Neem dus eerder deel aan skryfskole of vra ’n reeds gepubliseerde of ervare manuskripontwikkelaar om jou te mentor. Daar is heelwat talentvolle mense wat voorheen binne die bedryf gewerk het of self gepubliseer het wat graag potensiële skrywers help ontwikkel.

Om boeke te publiseer, uit die oogpunt van ’n skrywer, gaan oor die storie. Is dit vir jou, as uitgewer, soos ’n weddenskap op perde – wie se boek gaan die resies wen en die meeste geld maak?

Ek hoor gereeld dat ek in ’n ideale wêreld leef, maar helaas.  Ek is nie iemand wat sommer dobbel nie, maar ek neem soms kanse ten opsigte van genre, taal en inhoud wanneer ek ’n publikasiebesluit neem. Kwela se publikasielys word deeglik deurdink en saamgestel. Daar is ’n rede vir en ’n doel met elke publikasiebesluit wat ons neem. Natuurlik hoop ek dat elke boek wat Kwela uitgee, baie lesers sal bereik en aanraak – en dat dit goeie verkope tot gevolg sal hê. Elke nuwe skrywer is ’n belegging: Soms is die eerste publikasie ’n groot sukses en ander kere begin die “belegging” eers by boek drie of vier ’n werklike deurbraak maak.  Mense vergeet maklik dat Deon Meyer nie net ná een boek Deon Meyer geword het nie.

My tweede vraag was baie sinies, maar mens moet hieroor praat. ’n Goeie boek kan uit onweerstaanbare inhoud bestaan. En tog is daar briljante boeke wat nie so goed verkoop nie. Kan jy as uitgewer werklik vir ’n skrywer sê: Skryf waarvan jy weet, skryf met jouself as teikenleser, en skryf oor enigiets onder die son?

Die mark ter plaatse is oor die algemeen moeilik, en nóg moeiliker vir plaaslike Engelse boeke wat met internasionale titels in die mark moet kompeteer.

As uitgewer kan ek die publikasieproses bestuur, maar ek het geen beheer oor die lesersmark nie. Die skrywer kan ’n briljante teks lewer en ons kan dit pragtig verpak, maar eindelik het ons nie beheer oor wat die leser optel en aankoop nie.

Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel: die ekonomiese klimaat, sigbaarheid op die rak aanlyn en in winkelsentrums; en natuurlik speel bemarking ook ’n groot rol om die regte lesers te teiken.

As jy as uitgewer besluit om nié ’n goeie boek uit te gee nie net omdat dit nie so goed gaan verkoop nie, gaan jy nie lank in hierdie bedryf uithou nie. Maar op stuk van sake is die uitgewerswese ’n besigheid en moet die finansiële aspekte ook in ag geneem word; as uitgewer moet ék ook die groter prentjie in ag neem.

Ek vra my gewoonlik die volgende vrae af wanneer ek moeilike publikasiebesluite moet neem: Is dit ’n skrywer in wie Kwela wil belê en kan ontwikkel oor jare heen? Is dit ’n boek wat dalk voorgeskryf kan word, of wat ’n belangrike sosiale impak mag hê – ’n boek wat mense aanraak en waaroor hulle nog lank sal praat?

As jy goed kan skryf en iets vernuwends het om te sê: Skryf! Indien jy wil ryk word uit jou skryfwerk: Hou liefs verby. In Suid-Afrika kan skrywers nie hulle waarde aan verkope koppel nie. Neem in ag ’n uitgewer moet minstens 12 tot 18 maande vooruit publikasiebesluite neem om seker te maak die jaarlikse begroting klop. Die plaaslike mark is klein, maar die enigste manier om dit te laat groei, is om aan te hou goeie skrywers en boeke uitgee. Dis ’n waardevolle belegging vir ons almal se toekoms.

Hoekom doen jy die werk wat jy doen? (En vertel vir ons lesers wie is ook betrokke by die bedryf – wie is almal saam met jou, besig om te kyk na die skeppingsproses en geboorteproses van ’n nuwe boek?)

Vandat ek onthou, wou ek nog altyd deel van die uitgewerswese wees. Op hoërskool het ek pouses in die skool se biblioteek gewerk. In my eerste jaar op universiteit het ek ook hierdie droom met een van my Afrikaans-dosente gedeel. Enkele jare later het ek haar by ’n boekprysfunksie raakgeloop en aan haar genoem dat een van die publikasies wat ek die vorige jaar by Kwela uitgegee het, op die kortlys is. Sy’t my nie onthou nie ... maar steeds.

Toe ek destyds Ronelda Kamfer se Noudat slapende honde ontdek het, het ek vir die eerste keer rêrig geweet dis moontlik vir my – as jong bruin vrou van Eersterivier – om deel te wees van ’n bedryf wat (nou nog) baie elitisties is. Vanjaar is ek reeds tien jaar by Kwela. Dis als vir my kismet. Ek weet wat my doel hier is en dis daardie rede en passie wat my in die bedryf bly hou.

Mense sal seker skrik om te hoor hoe klein die redaksiespan per druknaam is. Aanvanklik was ons twee by Kwela (’n uitgewer en redakteur). Toe ek oorneem as uitgewer in 2023, was ek vir die eerste amper drie jaar ’n one-man band. So ek het tien boeke per jaar uitgegee en al die daaglikse administratiewe sake en skrywersaangeleenthede self hanteer.

Laas jaar het dinge ’n klein bietjie verander. My verantwoordelikhede het nie, maar die Kwela-span het gegroei: Nèlleke de Jager is as hoof van die druknaam aangestel, Nkhensani Manabe het as niefiksieredakteur begin, en ons het Lelethu Sokwebu (Kwela se assistent) wat tans opgelei word om redakteurswerk te doen.

Elke lid het haar eie verantwoordelikhede, maar natuurlik is dit altyd lekker om te koukus en mekaar as klankbord te gebruik vir nuwe idees en redaksionele aangeleenthede. As uitgewer bestuur ek steeds die publikasieproses vir elkeen van my fiksietitels wat onder die Kwela-druknaam verskyn.

Die publikasieproses verloop min of meer as volg:

Eksterne lesers word genader vir leesverslae wanneer ’n nuwe voorlegging potensiaal toon. Die uitgewer stuur dan ook saam met die leesverslae terugvoer aan die skrywer om die manuskrip verder te help ontwikkel. Dit gebeur baie dikwels dat ’n finale publikasiebesluit geneem word eers wanneer ek die tweede weergawe van ’n manuskrip onder oë gehad het. 

Indien ek voel die manuskrip het die potensiaal om ’n boek te word, word die voorlegging tydens een van ons konsepvergaderings voorgelê. Ons hoofbestuurder en die verkope- en bemarkingspan word dan by die publikasiebesluit betrek. Dit is belangrik vir nuwe skrywers om te besef dat die finale publikasiebesluit nie noodwendig net by een persoon berus nie.

Sodra ’n besluit geneem is, word ’n kontrak met die skrywer onderhandel en gefinaliseer. Meestal – afhangende van die publikasiedatum – skop die produksieproses nou af. Vryskutwerkers word aangestel vir die verskillende prosesse: ’n eksterne redigeerder (persklaarmaker), ’n bladsyontwerpkunstenaar, omslagontwerper en proefleser. Die uitgewer of redakteur van die boek bestuur elke stap, koördineer en konsolideer elke proses tussen die vryskutwerker en die skrywer. Sodra die finale drukgereed pdf’s gelewer is, neem ons bekwame produksiespan die kommunikasie met die drukkers oor en begin met die verspreiding- en verkoopspanne koördineer. Enkele maande voor die publikasiedatum begin die bemarking- en publisiteitspanne reeds werk aan ’n reklameplan vir elke titel. En sodra die boek op die rakke is, neem die publisiteitspan oor.

Die publikasieproses neem ongeveer nege maande – en dit is ná die boek reeds vir publikasie aanvaar is.  Om ’n manuskrip publikasiegereed te kry, vereis heelwat herskryf en skaaf totdat dit gereed is om aan die res van die span voorgelê te word. Hierdie proses kan maande en soms selfs jare neem om te voltooi. 

Dit is dus van kardinale belang dat die dryfkrag wat jou motiveer, moet wees om te glo dat die plaaslike mark armer sal wees sonder jóú verhaal.

Wat is die beste raad wat jy vir enige skrywer kan gee?

Koop en lees plaaslike skrywers se boeke –  jy kan nie begin om deel te word van en mee te ding in ’n bedryf wat jy self nie ondersoek, ontgin en ondersteun nie.

  • Nog gesprekke word binnekort aanlyn aangebied en belangstellendes word genooi om dit by te woon. Hier is nog besonderhede.

Lees ook:

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Jaco Adriaanse

Persverklaring: PEN Afrikaans nooi skrywers na aanlyn sessies met uitgewers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top