Wat elke skrywer moet weet: selfpublikasie

  • 25

Jou vingers tik die laaste woorde: "Die einde". Jou manuskrip staar terug na jou toe. Die skryfproses, daardie vloei van woorde uit jou vingers, het maande en byna alles in beslag geneem. Jou oggende en aande is tipies in ’n koffie-geïnduseerde waas gespandeer, met vingers wat slaan op die toetsbord. Noudat die skryfwerk voltooi is, mag jy uit dié waas ontwaak en besef dat jy nog nie eers oor publikasiemoontlikhede gedink het nie.

Wat is die opsies?

Skrywers wat gereed is om te publiseer, kan uit drie hoofroetes kies:  

  1. “Ek wil hê iemand anders moet dit doen” oftewel tradisionele publikasie
    Hierdie proses behels dat jy jou manuskrip voorlê aan ’n gevestigde uitgewery met die hoop dat hulle sal besluit om daarin en in jou as skrywer te belê. Die skrywer wat by ’n gevestigde uitgewer teregkom, sal nie tipies enige geld tot die proses hoef by te dra nie. Die idee is dat jy tantième uit boekverkope sal verdien. Die uitgewer is die eienaar van materiaal wat hulle jou help skep het, soos die gedrukte uitgawe, die e-boek en oudio-weergawes van jou werk.  
  2. “Ek wil dit self uitgee” oftewel selfpublikasie
    Hierdie roete sit die outeur in volle beheer van die publikasieproses. Die stappe wat tydens selfpublikasie gevolg word, behoort identies te wees aan die stappe wat by ’n gevestigde uitgewery gevolg word. Die outeur wat selfpublikasie verkies, sal aanspreeklik wees vir alle kostes verbonde aan die publikasieproses, maar sal die eienaar van die volle outeursreg in die boek bly, en ook in enige ander materiaal wat in die proses geskep word.
  3. Skynuitgewers oftewel “vanity presses”
    Hierdie derde opsie is ’n kombinasie van die mees nadelige aspekte van die eerste twee opsies. Indien jy in die onbenydenswaardige posisie is om met ’n skynuitgewer te werk, sal jy nie net die publikasieproses finansieel subsidieer nie, maar ook die outeursreg in jou werk afstaan. Jy sal dan slegs ’n klein tantième-inkomste verdien uit ’n proses wat jy grotendeels befonds het! Vermy enige organisasie wat op hierdie wyse sake doen.

Waarom selfpublikasie?

Selfpublikasie plaas die skrywer agter die stuur van die publikasieproses. Die skrywer moet die relevante spesialiste vind om hulp te verleen tydens elke stap van die proses – van redigering na omslagontwerp na setwerk na verspreiding – en verseker dat dié kundiges se rekeninge betyds betaal word.

  • Is jy ’n beheervraat?
  • Werk jy teen ’n kwaai spertyd?
  • Is jy moeg daarvan om afgekeur te word deur gevestigde uitgewerye?
  • Wil jy volle eienaarskap van die outeursreg in jou werk behou?

As jy instemmend knik oor enige van hierdie punte, is selfpublikasie dalk net die ding vir jou. 

Die voordele

Die outeur besit alle materiaal en outeursreg. Van die omslagontwerp tot die drukgereed-lêers en die filmregte wat daardie lokettreffer tot gevolg gaan hê: dit behoort alles aan jou.

Die skrywer se tantième word vermeerder.  Selfgepubliseerde skrywers wat hul boeke op Amazon lys, kan tot 70% tantième verdien in vergelyking met die ongeveer 10% tot 15% via tradisionele uitgewers.  

Die skrywer is ten volle in beheer. Dit is ideaal as jy, soos ek, ’n beheervraat is.

Die tydlyn voor publikasie is aansienlik korter.

Niemand sal jou vertel dat jou werk nie goed genoeg is om te publiseer nie.  

Die nadele

Die grootste nadeel van selfpublikasie is dat jy as skrywer die finansiële koste van elke stap van die publikasieproses moet dra.  Skrywers wat in die eerste instansie in gedrukte formaat wil uitgee, sal bes moontlik in die proses ’n knou aan hul spaargeld toedien.

Selfpublikasie-wenk: waarom oorweeg jy dit nie om advertensieruimte in jou boeke te verkoop om die publikasiekoste te help subsidieer nie? Skrywers wat publikasiekoste verder wil beperk, kan oorweeg om eerstens in digitale formate uit te gee. Gebruik gerus Amazon se e-boekplatform om jou skryfwerk in nuwe gebiede bekend te stel – teen verlaagde koste.

Die bestuur van die publikasieproses kan intimiderend wees vir skrywers wat eintlik net wil skryf.

Jy kan nie reken op die bemarkingshulpbronne en -netwerke van ’n gevestigde uitgewery nie.   

Selfpublikasie het ’n slegte reputasie. Een van die grootste redes hiervoor is die kostebesparing wat tipies tydens die produksieproses gedoen word. Te veel skrywers verkies om nie vir ’n redigeringsproses te betaal nie omdat hulle onder die indruk is dat dit voldoende is om die teks self te redigeer. (Wenk: dit is nie.) 

Waar begin ek?            

Die selfpublikasieproses begin sodra jy ’n eerste weergawe van jou manuskrip in Microsoft Word voltooi het.  Die proses lyk gewoonlik so:

  1. Teksredigering
  2. Omslagontwerp vir beide die gedrukte en e-boekuitgawe
  3. Setwerk van die teks van die gedrukte uitgawe
  4. Die omskakel van die dokument in e-boekformate indien jy ’n digitale roete beoog
  5. Die uitgee van die e-boek op Amazon
  6. Die uitgee van die gedrukte boek op die Amazon-platform (dit staan as druk-op-aanvraag bekend)

Die skrywer kan kies om kundiges op te spoor vir elk van hierdie stappe of die skrywer kan ’n besigheid nader om bystand deur die hele proses te bied – en deurlopend te verduidelik wat verwag kan word en ’n seepgladde proses probeer verseker.

“Die einde”

Indien jy besluit dat die risiko (of koste) van die selfpublikasieproses jou nie aanstaan nie, kan jy gerus die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika se webblad raadpleeg om ’n tradisionele uitgewer te vind wat ’n goeie pasmaat vir jou boek of genre sal wees.

Indien jy selfpublikasie wil probeer, oorweeg om die digitale roete te gaan en jou Afrikaanse boek via Amazon te publiseer.  As jy die moeite wil vermy om vir elke stap van die publikasieproses individuele vryskutters te vind wat kan help, gaan ’n vennootskap aan met ’n plaaslike selfpublikasie-onderneming wat jou laat welkom voel vanaf die eerste interaksie. Doen jou huiswerk voordat jy enige geld spandeer.

Vrae en antwoord

V: Waar vind ek meer oor e-boekpublikasie uit?

A: Besoek kdp.amazon.com of lees ons toeganklike artikels oor verskeie onderwerpe wat met selfpublikasie te doen het: www.myebook.co.za

V: Is selfpublikasie ’n duur proses?

A: Dit kan wees as dit behoorlik gedoen word. Stappe soos redigering en omslagontwerp gaan met aansienlike koste gepaard. As ’n mens dit egter nie doen nie, mag jou e-boek as’t ware na die agterste rakke van ’n besige boekwinkel geskuif word – wat die kanse om gesogte topverkoper-status te bereik, verskraal.

V: Sal Amazon ’n Afrikaanse boek publiseer?

A: Ja, Amazon het reeds ’n groot Afrikaanse aanbod en verwelkom nuwe skrywers om verdere Afrikaanse inhoud te laai.  

V: Hoe betaal Amazon ons hier in Suid-Afrika?

A: Amazon maak nie oorbetalings direk in Suid-Afrikaanse bankrekenings nie. Oorweeg eerder om by ’n platform soos Payoneer te registreer om sodoende ’n internasionale bankrekening te open wat deur Amazon aanvaar word vir direkte betalings. 

V: Het e-boeke ’n ISBN-nommer nodig?

A: Nie as jy beplan om jou e-boek uitsluitlik op Amazon vry te stel nie. Sien meer inligting oor ISBN-nommers hier.  

’n Persoonlike nota

Aan die leser: baie dankie vir die lees van hierdie artikel wat meer op die onderwerp van selfpublikasie ingaan.  Die artikel is geskryf deur iemand wat begrip het vir die moeilike pad wat ’n skrywer soms loop en tyd afstaan om die skrywer se reis makliker te maak.  Om oop kaarte te speel: dit behoort duidelik te wees dat ek ’n vooroordeel ten gunste van die selfpublikasieproses het, maar elkeen moet besluit wat vir hom of haar werk.

Dave Henderson is die stigter en eienaar van www.myebook.co.za.

  • 25

Kommentaar

  • Baie dankie vir die interresante artikel! Verskoon my as ek in Engels skryf: As the owner of a small bookshop, I understand why local authors self-publish their works. However, in general, two areas can be improved:
    1. Editing - a work can go from mediocre to excellent, with a good editor.
    2.Book cover/jacket design - this makes a huge difference to the appeal of a book to the customer, many of whom do judge a book by it's cover.

  • David! Baie, baie dankie hiervoor! Ek skryf al 15+ jaar aan 'n simpel boek en ek wil dit net klaarkry omdat ek al te ver is om nou te stop. Jou raad het my sommer aangespoor om weer die ding aan te pak.
    Bly mooi!

  • Renette Vosloo

    Ek het my boek Die Rooitamatie Storie self uitgegee dmv borgskappe (advertensiespasie en logo's op die agterblad asook crowd funding.)
    My boek is professioneel geredigeer.
    My boek is professioneel uitgelê en ontwerp.
    Ek het verkies om in SA te druk en bind.
    Hardeband, 274 bladsye en 100 professionele foto's.
    ’n Verspreider het aan boord gekom, maar dit was ’n teleurstellende proses aangesien ek onder die indruk was dat daar vooraf met groot boekwinkels onderhandel word en die boek dan outomaties op elk van die besondere winkelgroep se rakke sou wees. Eers baie laat in die proses het ek agtergekom die winkels moet die boek uit keuse bestel vanaf die verspreider. My boek was op minder as ’n kwart van die groot winkelgroepe se rakke.
    Tweedens het Woolworths die boek afgekeur agv dat dit in Afrikaans is en tweedens die borgskap-handelsmerke.
    My boek se totale produksiekoste was R250K en herdruk kos my so R120 per boek.
    My 2c.
    Ek sal beslis weer self publiseer maar ook self versprei. Online werk die BESTE.

  • Die grootste struikelblok vir selfpubliseerders van gedrukte boeke is bemarking. Onthou die gevestigde uitgewers lewer grotendeels aan biblioteke, skole en kettingboekwinkels, wat vir die selfuitgewer ongelukkig onbekombare gebied is. Tweedehandse boekwinkels, markte en straatverkope is omtrent al opsies wat oorbly.
    Daarom dank baie skrywers die hemel vir Amazon, waarop almal welkom is.

  • Maar jy doen dan nou presies wat jy mense afraai om te doen? Hierdie is mos ook 'n vorm van vanity publishing?

  • Morning Trisa and thanks so much for your comment! It is great that you are curious and I totally understand your question. The copyright plus royalties are the two biggest differences between a SP business such as ours and a vanity press.
    Firstly, you will retain full ownership of anything we create for you (Covers, layout etc)
    Secondly, you earn ALL royalties with nothing taken by us for each sale of the book.
    I really do appreciate your question, anything else you might like to know please drop me an email: publish@myebook.co.za

  • By Groenheide Boeke word 'n goedgekeurde manuskrip gratis geredigeer, geformatteer, geproeflees en gedruk, asook op Amazon geplaas as e-boek. Die skrywer betaal slegs vir boeke wat hy/sy self wil verkoop en kry tantième op boeke wat deur die uitgewer verkoop word. http://www.groenheide.co.za

  • Dave dankie vir jou artikel. Dit laat mens moed skep. Ek het my manuskrip weggebêre nadat verskeie boekpubliseerders my manuskrip afgekeur het. Ek was ingelig, dat die tema buite die belangstelling van die algemene publiek val. Dit het gehandel oor traumatiese gebeure waaroor ook wyd in die pers berig was en waar breingestremdheid 'n groot rol gespeel het. (Daar is tog baie gesinne wat eensklaps in so 'n trauma kan beland.) Ek was aangeraai om eerder selfpublikasie te oorweeg, maar het net nie die geld beskikbaar nie.

  • C P M Du Toit

    Hallo Dave
    Ek het al `n stuk of twintig boeke op die rak. http://www.FishingForJesus.co.za
    Geweldige koste was redigering sowel as vertaling (Op aanvraag)
    Ek het pas my jongste boek voltooi. 416 bladsye
    Ek wil dit laat redigeer vir E-Books
    Wie kan jy aanbeveel en kan ek `n kwotasie daarvoor aanvra.

  • Dave Henderson

    Hey Mr Du Toit - I would happily give you advice on your options for self-publishing as an eBook (and publishing to a shop like Amazon...)

    Visit our website (www.myebook.online) and submit your details - we can have a chat about your publishing options asap.

  • Hi, is besig om my manuskrip (lovey-dovey storie!) te edit. Ek is van plan om dit self te publiseer. Sal dit graag op sekere winkelrakke wil sien. My grootste kopseer sover : Waar / hoe kry jy 'n prys barcode? En wat is die kostes? Finansies is skraps, so ek reken om 'n borg te kry. (Waar?!)

  • Alleycat, enigeiemand of besigheid wat jou laat betaal om jou boek te publiseer, is nie 'n uitgewer nie, maar 'n fasiliteerder, en van hulle is ongelukkig uitbuiters van die skrywer se hoopvolle verwagtinge. Hulle sal jou die onmoontlike beloof, soos winkelrakke en biblioteke, wat regtigwaar nie die meeste selfuitgewers beskore is nie. Gaan steek baie deeglik kers op by dié wat ondervinding het van selfpublikasie voordat jy jou beurs leegmaak. Daar is talle bekwame mense in die bedryf wat jou pad vir jou sal baan.

  • Wanneer 'n skrywer, ek, in my boek die stories (lewensverhale) van ander deel soos deur hulle aan my vertel, wat is die vrywaringsparagraaf wat ek moet insit? En moet die persoon wat die stories met my deel ook 'n vrywaringskontrak teken? Kan iemand my dalk help hiermee?

  • Goeie dag. Ek het 'n geestelike boek geskryf, 'Die Oestertjie', wat deur 'n selfpublikasieuitgewer gedruk is. Ek sal graag meer wil uitvind hoe moet ek te werk moet gaan om dit op Amazon of op myebook te bemark, asb.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top