
Oscar Pistorius – the big lie and the right to a fair trial
Chris Marnewick
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1997-476-44-3
Inleiding: Oscar Pistorius – the big lie and the right to a fair trial – of eerder “J’Accuse” – deur Chris Marnewick
In 1898 het die Franse skrywer Emile Zola ’n koerantartikel geskryf met die titel “J’Accuse” waarin hy verskeie instellings en individue beskuldig het van onder ander anti-Semitisme, maar ook ewe belangrik van regsfoute wat begaan is en die gebrek aan getuienis wat gehandel het oor die skuldigbevinding van die Franse Weermag-kaptein Alfred Dreyfus van verraad. Die geskrif het die Franse nasie erg verdeel en word as ’n seminale humanitêre gebeurtenis in wêreldgeskiedenis gesien. Behalwe vir die anti-Semitisme, is dit presies wat Marnewick ook in hierdie boek doen. Soos Zola se geskrif, is hierdie boek meer ’n ope brief as ’n boek, en is dit ’n ope brief aan alle Suid-Afrikaners wat vra of ons die regstelsel wat ons tans het, kan vertrou. Die boek is ’n baie belangrike (indien nie ’n essensiële) terugskouing wat ’n blik werp oor wat hofsake en spesifiek strafsake in Suid-Afrika regtig behels. Aangesien Suid-Afrikaners nie persoonlik blootgestel is aan die strafregstelsel soos ’n juriestelsel doen nie (behalwe dit wat hoofsaaklik in fiksie aan hulle opgedis word met die huidige Lindsay Clancy-verhoor die uitsondering), het die algemene Suid-Afrikaner ’n gebrekkige insig in hoe ’n strafverhoor werk. Hulle begin aanvaar dat dit wat hulle in die pers lees in ’n hofsaak gebeur, is outomaties die korrekte ding wat gebeur. Die boek wys ook die krake in die regstelsel uit wat tans manifesteer in die Madlanga-kommissie waar bisarre getuienis aan verstomde Suid-Afrikaners blootgelê word. Marnewick is redelik vreesloos in sy kritiek teenoor al die rolspelers, van wie die vernaamste Gerrie Nel en appèlregter Leach is. Die kritiek is egter deurgaans behoorlik gemotiveer en ondersteun.
Derhalwe is hierdie boek ’n aanklag en is die analogie van “J’Accuse” uiters gepas.
Inhoud
Om elke deel van die boek op te som en te behandel sal die lees daarvan oorbodig maak en daarom word dit nie gedoen nie. Marnewick, as regsgeleerde, se omskrywing en beskrywing van dinge is nie altyd so vanselfsprekend vir gewone lesers as wat dit vir regsgeleerdes is nie. In hierdie resensie probeer ek eerder om die konteks van dinge in ’n helderder perspektief te plaas – sonder om ’n spoiler resensie te wees. Met die Clancy-saak in die VSA vars in die geheue, sal daar ook hier en daar ter vergelyking na die Amerikaanse strafstelsel verwys word.
Die boek is in vyf dele – dalk voor die hand liggend – wat eerstens die staat se saak uitspel – getuie per getuie, dan tweedens die verdediging se saak, op dieselfde patroon. Ten derdens word die kruisondervraging van getuies apart hanteer, wat gevolg word deur die hofuitsprake en laastens ’n epiloog bevat. In die vyf dele behandel Marnewick deurgaans sy twee groot temas – naamlik die groot leuen en die reg op ’n regverdige verhoor, hoewel laasgenoemde die belangrikste weeg.
Deel I – die groot leuen
Soos in die boek se titel aangedui is, konsentreer die boek op twee groot temas: die groot leuen en die reg op ’n regverdige verhoor. Die groot leuen is, volgens Marnewick, die Gerrie Nel-narratief dat daar ’n ure lange stryery tussen Oscar en Reeva was voordat hy haar geskiet het. Die Groot Leuen-tema plaas dan die verteller van hierdie narratief – Gerrie Nel – in die kollig. Gerrie Nel is ’n staatsadvokaat, met ander woorde hy is in diens van die staat in die vorm van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en sy salaris word deur die belastingbetaler betaal. Sy pligte is om te sorg dat die verhoor wetlik reg verloop in terme van prosesse voor die hofsaak, soos die versameling van bewysmateriaal en dat wat ingesamel is, korrek ingesamel is. Om te sorg dat die verhoor regverdig is moet Gerrie Nel objektief wees en deur die feite gelei word na wat sy saak is. Gerrie Nel is nie Reeva of die Steenkamps se advokaat nie. Hy het nie ’n kliënt nie. Hy is deel van die staatsmasjinerie wat moet sorg dat daar ’n regverdige verhoor moet plaasvind. Aanklaers het nie die gerief van ’n eie opinie nie. As verteenwoordiger van die staat, moet sy opinie ondersteun word deur die getuienis wat hy aanbied, anders kan hy dit nie opper nie.
Wat Marnewick demonstreer, is dat Nel hom afvee hieraan. Hy opper verskillende teorieë oor wat gebeur het. 1) Daar was ’n ure lange bakleiery tussen Oscar en Reeva en daar was ’n vrou wat angsvol geskree het terwyl skote klap. 2) Later bied hy getuienis aan dat alles stil was by Oscar se huis ’n uur voor die skote geklap het en dat Reeva nie sou kon skree tydens die skietery nie, aangesien sy waarskynlik met die tweede skoot al reeds dood was. Dit skep twee groot probleme vir die reg op ’n regverdige verhoor. Eerstens, op watter weergawe moet Oscar dan antwoord? Tweedens, kan Nel Oscar kruisondervra oor die ure lange bakleiery as Nel se ander getuienis sê daar was nie ’n bakleiery nie?
Hierdie optrede van Nel is baie oneties en nie in lyn met die beginsels van ’n regverdige verhoor nie. Nel is sedert sy Skerpioene-dae ’n speler vir die gehoor en hy weet dat publieke persepsie baie belangrik is in enige saak. Dit is bekend dat die Skerpioene destyds opleiding van die FBI ontvang het1 en dat Nel baie by hulle sou leer rondom mediapersepsies. Nel, wat Selebi aangekla het, was deeglik bewus van die feit dat Oscar se verhoor internasionaal aandag sal kry – maar sy gesplete teorieë in Oscar se saak was bloot onderduims en oneties. Hoewel hierdie onetiese gedrag nie regter Masipa ontglip het nie, het dit wel vrugbare grond getref vir verdere uitbouing. Van oneties na oneerlik is ’n baie klein treetjie. Gerrie Nel se junior in die saak was Andrea Johnson – die nou gediskrediteerde hoof van IDAC wat voor die Madlanga-kommissie diep gewortelde onetiese en ook oneerlikheid erken het. Dit is duidelik by wie sy dit geleer het.
Hoewel die groot leuen ’n belangrike deel van die verhoor uitgemaak het, is ons regstelsel een wat deur ’n regsgeleerde aangehoor en besluit word. Regter Masipa het die groot leuen verwerp, en met reg. Derhalwe blyk dit dan ook ’n much ado about nothing te wees – of het dit ’n rol in die appèlsaak gespeel? Oordeel self.
Deel II – die reg op ’n regverdige verhoor
Buiten die groot leuen wat deel is van die feit dat Oscar nie ’n regverdige verhoor gekry het nie, is daar ook dit wat alles gebeur het tydens Gerrie Nel se kruisondervraging van Oscar, en die gewraakte zombie-video.
Voor ’n Amerikaanse hof sou Nel doodeenvoudig nie hiermee weggekom het nie. Die rede daarvoor is enige staatsaanklaer (in die VSA) se nagmerrie – ’n mistrial.2 Dit is wanneer die regter die saak stop, omdat daar iets gebeur het wat nie moes gebeur nie, wat die jurie verkeerdelik kon beïnvloed of as die jurie nie tot ’n finale besluit kon kom nie. Nel sou ’n waarskuwing of twee van die regter gekry het en indien hy aanhou met sy onbewese narratief, sou die regter kon bevind dat dit die jurie verkeerd sou beïnvloed en ’n mistrial beveel. In Suid-Afrika kan ’n mistrial nie gebeur nie – dus het Gerrie Nel geen risiko dat ’n mistrial kan plaasvind nie. Daar is dus geen sanksie wat Nel kon tref nie – hoewel hy duidelik die grondslag gelê het van die korrupte sisteem wat as sy nalatenskap gesien kan word.
Die Oscar-saak – weens sy wye en langdurige publisiteit – is waarskynlik die beste voorbeeld om te gebruik om aan te toon wat ’n regverdige verhoor behoort te behels, en wat dan die gevolge is indien ’n regverdige verhoor nie plaasgevind het nie. Dit is belangrike insae vir gewone mense, want op die ou end bevind die Oscar Pistoriuse hulleself weer in ons midde en ons moet met hulle klaarkom. Volgens ons regstelsel is Oscar Pistorius ’n moordenaar. Hierdie boek verduidelik – in regsterme – dat Oscar nie ’n moordenaar is nie. Menige Suid-Afrikaners het hulle eie opinie oor wat alles op daardie noodlottige dag gebeur het – maar dit is opinies. Wat was die getuienis?
Marnewick – as regsgeleerde en strafhofkenner – bewys duidelik en sistematies dat op die beskikbare getuies Oscar Pistorius nie ’n moordenaar is nie. Hy haal ook ander regsgeleerdes aan wat hom ondersteun en doen ’n deeglike vernietiging van appèlregter Leach se bevindinge in die saak op appèl.
Die inhoud van ’n regverdige verhoor is ’n baie meer ontwikkelde beginsel in die Amerikaanse reg en hoewel daar al baie kritiek teen die juriestelsel was, bied dit tog sekere belangrike wigte en teenwigte vir ’n regverdige verhoor. Een van die wigte is dat die regter se uitsluitlike taak is om te kyk of ’n regverdige verhoor plaasvind. Die regter hoef hom dus nie te bekommer oor ’n bevinding van skuldig of onskuldig nie – die jurie doen dit. Sy taak is om te sorg dat die verhoor regverdig is en dat die jurie die beskikbare getuienis hoor. ’n Aanklaer kan nie in die saak getuienis aanvoer wat ’n ander teorie oor die misdaad opper wat die aanklaer tot op daardie stadium voorgelê het nie. Daarteenoor hoef die jurie nie hulle te kwel hoe die getuienis by hulle uitkom en of dit wettig bekom is nie. Dit is al reeds voor die tyd deur die regter gedoen.3 Dus is die hooffunksie van ’n regter om toe te sien dat ’n regverdige verhoor plaasvind. Dit is baie anders as hier by ons waar ingewikkelde regsake ’n toepassing van die reg vereis. ’n Regverdige verhoor is eintlik ’n bysaak en die korrekte toepassing van die reg is die hoofsaak.
Nel is nie die enigste rolspeler in die strewe na ’n regverdige verhoor nie. Barry Roux SC, Oscar se advokaat, moes tydig besware gemaak het teen wat Nel doen, maar hy het nie oral en altyd nie. Marnewick is meer genadig teenoor Roux, want al kon Roux besware aanteken, is daar geen sanksie wat Nel kan tref nie – dus op ’n stadium kyk Roux maar net of dit die regter beïnvloed en Roux het duidelik die idee gekry dat Masipa nie beïndruk is met Nel se manewales nie.
Regter Masipa is eweneens nie sonder blaam nie, hoewel sy tydens haar uitspraak op die foute in Nel se aanbieding van die saak gewys het. Sy moes Nel vermaan het om nie getuienis aan te bied wat nie deur sy getuienis aangebied word nie.
Marnewick betoog wel dat die aanvanklike uitspraak van Masipa korrek was en dat dit die korrekte feite en reg toegepas is om tot ’n bevinding te kom. Dus – op ’n tegniese punt – het die feit dat Oscar nie ’n regverdige verhoor gekry het nie, hom nie wesenlik benadeel nie. Dit is egter wel te danke aan ’n regter wat helder en objektief was. Die gevare vir geregtigheid wanneer daar nie ’n regverdige verhoor was nie is egter wesenlik en duidelik.
Deel III – wat as regters dit verkeerd kry?
Soos met Dreyfus in sy herverhoor, het dinge vir Oscar met sy appèl net nie reg geloop nie. Dit is waarskynlik die mees onrusbarende aspek van die Oscar-verhoor – die skaal van die verskil. Die verhoorregter Masipa bevind Oscar skuldig aan strafbare manslag en onskuldig aan moord. Die Appèlhof bevind hom skuldig aan moord op grond van dolus eventualis. Die Appèlhof is vyf regters teenoor die een van die verhoorhof. Vir regsgeleerdes en leke gelyk is dit duidelik dat die alleenregter dit verkeerd het en dat die vyf appèlregters dit reg het. Dit bevestig die belangrikheid van die reg op appèl – wat natuurlik deel vorm van die reg op ’n regverdige verhoor.
Marnewick, in geen onsekere terme en met genoegsame bewyse en sonder sy eie opinie, bewys dat die Appèlhof dit verkeerd het. Hulle het nie al die elemente van dolus eventualis oorweeg nie – soos regter Masipa wel gedoen het.
Na die Appèlhof die bevinding na moord verander, word die saak na regter Masipa teruggestuur vir heroorweging van vonnis. Sy bevind dat daar genoegsame getuies is dat Oscar nie die maksimum vonnis van 15 jaar moet kry nie en lê ’n vonnis van ses jaar op – gebaseer op die bevinding van moord met dolus eventualis. Maar Gerrie Nel was nie tevrede nie en appelleer weer. Weer verander die Appèlhof die vonnis van ses jaar na 13 jaar en vyf maande toe – 19 maande minder as die maksimum en meer as dubbeld dié van die regter Masipa. Weer bewys Marnewick dat in al die sake waar iemand skuldig bevind is aan moord gebaseer op dolus eventualis, nog niemand langer as ses jaar tronkstraf gekry het nie – en soos ons in goeie Engels sou sê: “Let alone somebody walking on stumps.”
Wat hier ter sake was, weet ons nie, maar wat gebeur het, is duidelik nie reg nie. Dat die Appèlhof in beide gevalle verkeerd was – 10 verskillende regters – is nie bloot die opinie van Marnewick nie en lesers moet gaan lees wie en wat almal sê dat die Appèlhof verkeerd is. Om dit hier te verklap maak die lees van die boek onnodig, maar wat wel duidelik is, is dat dit wat Marnewick sê, is: J’Accuse ...
Die onrusbarende aspek is hoe die Appèlhof dit verkeerd kan kry en dit is die vraag wat die boek eintlik vra. Hoe kan die Appèlhof so fouteer, en dan – is daar gevolge as dit gebeur? Baie (wit) kommentators sal dit voor die deur van transformasie lê. Maar dit is juis ’n oorwinning vir transformasie – regter Masipa wat eers in 1998 begin praktiseer as ’n advokaat, is vinnig tot regter bevorder weens die behoefte vir vrouens op die regbank, teenoor regter Leach wat al reeds in 1993 as regter aangestel is.
Wat Marnewick deur middel van die Oscar Pistorius verhoor blootlê, is ’n tekortkoming van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Regters word aangestel deur ’n openbare proses, maar sodra hulle aangestel is, is hulle redelik immuun in hoe hulle die reg toepas. Om die reg verkeerd toe te pas is nie ’n grond om ’n regter te skors of te laat afdank nie – daarvoor is daar ander konkelwerk wat moet gebeur, soos oud- Wes-Kaapse regter-president Hlophe ons gewys het. Die openbare proses word gewoonlik ook oordonder deur politieke agendas en daar word min aandag aan bestee oor werklike grondige regskennis.
Marnewick verwys (p391 en verder) ook na ’n onlangse uitspraak deur einste regter Madlanga, waarin al 11 regters van die Konstitusionele Hof dit eens is dat die uitspraak van die Appèlhof in die Vodacom please call me-saga so verkeerd is dat dit nie as ’n uitspraak beskou word nie. Dit en ander foute deur die Appèlhof gaan ongesiens by die gewone publiek verby en die regsgeleerdes is tans te besig om kop of stert van onverstaanbare hofuitsprake te maak dat daar nie plek of tyd is om te besin dat Suid-Afrika met ’n baie ernstige judisiële krisis sit nie. As die land se hoogste hof sê dat die land se tweede hoogste hof onbekwaam is, is dit ’n krisis. Ons ys as ons begin dink aan moontlike korrupsie onder die regters, want Suid-Afrika se handelsmerk van kriminele sal definitief sorg dat hulle een op ander houvas op sekere regters verkry.
Is die VSA-stelsel waar regters in verkiesings verkies word beter?4 As die regter die reg nie reg toepas nie, word hy uitgestem. Dit is ook die sisteem vir staatsaanklaers (district attorneys) wat vir termyne verkies word. Indien hulle droogmaak, word hulle uitgestem. ’n Mens wonder of dit nie die oplossing is vir die probleme wat ons tans voor die Madlanga-kommissie sien afspeel nie. Sou appèlregter Leach en regter Masipa teenoor mekaar in ’n verkiesing staan, wonder ek wie sou dit gewen het. My geld sou op Masipa wees.
Ten slotte
Soos Zola se ope brief nie die einde van die Dreyfus-affairs was nie, so is hierdie boek van Marnewick nie die einde van die Oscar-saga nie. Soos die Dreyfus-affair nie om Dreyfus gegaan het nie, maar oor geregtigheid, gaan hierdie boek ook nie meer oor Oscar nie, maar oor die verantwoording van die regstelsel aan die breër publiek. Daarom moet die inhoud van hierdie boek nie aanvaar word as die laaste woord daaroor nie, maar eerder as die eerste woord daaroor. Die gesprek oor die verantwoording van die regstelsel aan die breër publiek is al lankal noodsaaklik, soos die absoluut skokkende gebeure hulle tans aan die Madlanga-kommissie ontbloot. Hierdie boek is van die eerste boeke wat hierdie aspek aanspreek en dit sal ook nodig wees om alles wat Marnewick aanspreek, in diepte te ontleed. Ons hoop dat dit wat hy wel sê, nie heeltemal korrek is nie, want dan is ons probleme baie groter as wat ons dink.
Eindnotas:
1 https://mg.co.za/news/south-africa/2000-03-19-fbi-to-train-scorpions/ (12 September 2026 geraadpleeg)
2 Die Suid-Afrikaanse reg het nie so ’n konsep nie en ek kan dus nie ’n Afrikaanse woord daarvoor skep of uitdink nie.
3 As ’n mens dink aan hoeveel tyd gemors is in die Senzo Meyiwa-saak om te bepaal of getuienis toelaatbaar is of nie, maak die Amerikaanse stelsel meer sin.
4 Die regter in die VSA word verkies, behalwe in die Supreme Court waar dit op ’n soortgelyke basis as hier in Suid-Afrika deur Amerikaanse politici aangewys word. Daardie regters is egter deurgaans eers regters gewees of het ander posisies beklee waartoe hulle verkies is.
Lees ook:
Oscar Pistorius: The big lie and the right to a fair trial deur Chris Marnewick – ’n lesersindruk
Oscar Pistorius: The big lie and the right to a fair trial – ’n onderhoud met Chris Marnewick

