Oscar Pistorius: The big lie and the right to a fair trial – ’n onderhoud met Chris Marnewick

  • 0

Foto van Chris Marnewick vir doeleindes van onderhoud verskaf; boekomslag: Naledi

Oscar Pistorius: The big lie and the right to a fair trial
Chris Marnewick
Naledi
ISBN: 9781997476443

Carla van der Spuy: Hy is uit die veld geslaan oor die opslae wat sy nuwe boek Oscar Pistorius: the big lie and the right to a fair trial gemaak het, vertel Chris Marnewick wat onlangs die Boekefees op Kaapsehoop bygewoon het. Hy het al die pad van Nieu-Seeland af gekom om sy boek in Suid-Afrika bekend te stel.

Dit was selfs voorbladnuus op Die Burger en wyd en syd op plakkate op straat uitgebasuin.

“Dis wonderlik,” sê hy.

Chris is ’n regsgeleerde wat op ’n stadium ’n advokaat en selfs ’n waarnemende regter was.

Hoekom het hy die boek in Engels geskryf?

Chris: “Die hele verhoor was in Engels. Ek was nie lus om alles te vertaal nie. Ek kan dit vertaal en het dit al met vorige boeke gedoen. Maar jy verloor iets van die presiese betekenis in ’n vertaling.”

Baie mense vra hom hoekom hy nóú juis die boek geskryf het.

........
Ek het met die uitspraak van die Appèlhof in 2016 dadelik besef daardie uitspraak is verkeerd. Dit was vir my duidelik.
.........

“Ek het met die uitspraak van die Appèlhof in 2016 dadelik besef daardie uitspraak is verkeerd. Dit was vir my duidelik.

“Ek was toevallig die nag met die gebeure in Pretoria, ook in ’n landgoed met sekuriteit.

“Toe is ek terug Nieu-Seeland toe en het toevallig iets op CNN gesien wat my tot in my siel geruk het as advokaat, een wat onder meer in etiek vir advokate en prokureurs opleiding gedoen het.

“Die kruisverhoor van Oscar sou volgens die advokaat op CNN nooit in ’n Amerikaanse hof toegelaat word nie. Dit sou lei tot wat ’n mistrial genoem word, wat beteken dat daar van voor af met die saak begin moes word.

“En later stuur iemand toe vir my ’n artikel wat ’n Kanadese advokaat geskryf het waarin hy dieselfde sê, maar die beginsels in baie meer detail beskryf. Dit het my in my eer gekrenk, want my teksboek Litigation skills for South-African lawyers was toe reeds ’n voorgeskrewe boek vir advokate en prokureurs waarin etiek behandel word. En dan kom hierdie ouens en sê dit word nie so gedoen nie.

“Ek het in 2019 ’n hartaanval gehad, maar teen die middel van 2020 was ek weer behoorlik op die been. Maar raai wat, toe het ons Covid en Nieu-Seeland was meer toe as Suid-Afrika.

“Maar ek is in elk geval ietwat van ’n kluisenaar, dus het dit my nie te veel gepla nie. Toe het ek ernstiger na die boek begin kyk. ’n Hele paar uitgewers het net hul koppe geskud en party het nie eers geantwoord nie. ’n Ander keurder het gesê sy hou daarvan, maar haar keurkomitee het dit weggewys.

“Met respek vir die bedryf, dink ek dit was alles verskonings. Naledi, aan die ander kant, het dadelik ingestem en van daar af tot die finale redigering het dit drie maande geduur en het die manuskrip deur drie prosesse gegaan.

“Die drie redigeerders Francois Bloemhof, Gustaf Pienaar en later Gert Claasen by Naledi het van my manuskrip ’n boek gemaak. Elkeen op ’n ander manier.”

Gevra oor die grafiese videomateriaal wat deur die staatsaanklaer Gerrie Nel aangebied is, sê hy die video moes aan die verdediging blootgelê word, maar was nie.

“Dit bots met geykte regsbeginsels wat so hoog as in die Konstitusionele Hof neergelê is.

“So kruisverhoor hulle vir Oscar met daardie video as aanvalmateriaal. Die Kanadese advokaat na wie ek voorheen verwys het, het hierdie optrede ten sterkste gekritiseer.

“Oscar se advokaat het beswaar teen die gebruik van die video gemaak.

“Nadat ooreengekom is dat die video nie as getuienis gebruik mag word nie, gebruik die aanklaers dit later tog as getuienis.

“In geheel was dit ’n onsmaaklike affêre wat daartoe gelei het dat ek die rekord ná die lees van die Kanadees se kommentaar met verskerpte aandag gelees het.

“Ek vind toe dat daar ook ander probleme tydens die verhoor was. Die staatsaanklaer vra hom soms vyf vrae in een sarsie en dan wil hy ’n antwoord hê. Hy het by meer as een geleentheid vir Oscar tot trane gedryf.”

Dit was volgens Chris ’n fout om daardie verhoor uit te saai.

“Ek dink regter Masipa was te versigtig om tussenbeide te tree om Oscar te beskerm en die advokate in toom te hou. Ek glo die twee advokate se sterk persoonlikhede het haar oorheers en haar optrede beïnvloed.

“Die getuies kon weier om te getuig, maar Oscar is nie toegelaat om nee te sê nie.”

Chris is daarvan oortuig dat Oscar eerder weens strafbare manslag skuldig bevind moes word. “Hy was op sy eie weergawe nalatig, selfs in ’n erge graad.” Hy is van mening dat Oscar se getuienis grootliks onder die mat ingevee is deur die Appèlhof.

Wat die staat se forensiese getuienis betref, is hy van mening dat dit op hoë standaard was, en dat daardie getuienis die volgorde van die gebeure finaal besleg het en daarop gewys het dat dit eenhonderd persent by Oscar se relaas van die gebeure inpas.

“Die staat het twee forensiese getuies gehad, kolonel Vermeulen en kaptein Mangena. Mangena het met behulp van die deur en die gate in die deur die trefmerke aan die agterkant van die toilet se muur kon uitwerk, wat Oscar se posisie relatief tot die deur en tot Reeva was. Die forensiese deskundiges het saamgestem dat die vuurwapen minstens 60 cm van die deur af was toe die skoot in ’n effens afwaartse trajek afgevuur is en die deur ’n meter van die vloer getref het, wat beteken dat ’n volwasse persoon wat agter die deur sou staan, in die heupe of bobene getref sou word.

“Vermeulen het getuig dat die skote eerste die deur getref het en dat die deur eers daarna deur die krieketkolf geslaan is.

“Dit beteken dat toe die getuies ’n geskree gehoor het, Reeva reeds oorlede was.”

Mediese deskundiges het saamgestem dat Reeva met een skoot in die heup getref is en inmekaargesak het toe ’n derde of ’n vierde skoot haar getref het.

“Volgens die aanklaer het haar brein ‘ontplof’ en sy is onmiddellik dood. Sy sou nie iets kon skree of enige willekeurige handeling doen nie. Sy het gevolglik nie gely nie, aangesien die skote kort op mekaar gevolg het.”

Die sentrale punt in die hele saak het oor dolus eventualis gegaan. “Die staat kon nooit direkte opset – dolus directus – bewys nie,” sê Chris, “en die verhoorhof het daardie teorie verwerp, aangesien daar geen steun daarvoor in die getuienis was nie. Dit laat dolus eventualis.

“Dolus eventualis het drie sub-elemente: (i) voorsienbaarheid; (ii) versoening met die gevolg wat moontlik kan intree; en (iii) bewustheid van die onregmatigheid van die beoogde optrede.”

Regter Masipa het die feite en die reg op daardie derde sub-element korrek toegepas, maar die Appèlhof het eerstens dolus eventualis verkeerd gedefinieer (sonder daardie derde sub-element) en dit toe verkeerd toegepas.

Wat kontak met Oscar se familie betref, sê Chris: “Ek het met opset geen kontak met die Pistorius- en Steenkamp-families gehad nie.

“Een van Oscar se tantes was wel saam met my op hoërskool. Ek het haar eers 10 jaar later ontmoet toe sy ons huisdokter se ontvangsdame was. Ek was destyds onbewus van Oscar se bestaan – dit was 1976 en hy is eers jare later gebore – en nog veel later toe ek van sy bestaan en die gebeure by sy huis geleer het, het ek eers nie besef dat die tante wat ek ken, familie van hom is nie.”

Chris het in die Bosveld grootgeword en het aanvanklik op Potchefstroom Universiteit geswot, later by Unisa en het LLM- en PhD-grade by Natal Universiteit voltooi. Hy is na sy eerste graad as staatsaanklaer Pinetown toe gestuur, waar hy sy vrou Ansie by die landdroshof ontmoet het.

Drie jaar later, nadat hy sy LLB-graad voltooi het, het hy besluit hy wil ’n advokaat wees en het in 1976 in Durban begin praktiseer; in 1991 het hy senior status bereik en by tye as regter waargeneem.

“Ons het nooit formeel Nieu-Seeland toe geëmigreer nie. Ons het net ons tasse gepak en daar gaan bly, maar toe sit ons daar vas. Ons een seun was daar op hoërskool en raak toe verlief op ’n meisie met wie hy nou getroud is en ons het drie kleinkinders by hulle.

“My ander seun, ’n mediese dokter, en sy vrou wat ook ’n mediese dokter is, het in 2007 getrek Nieu-Seeland toe, terwyl ek en my vrou Ansie nog hier gewoon het.

“Ek sê toe vir haar: ‘Gee net kans; ek het nog ’n bietjie tyd nodig om ons finansies in orde te kry.’ Toe is ons aan die einde van 2011 ook soontoe en nou woon ons almal daar.

“Maar as ek alleen was, sou ek net hier in Suid-Afrika gebly het.”

Lees ook:

Murder in Orania deur Onyeka Nwelue: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top