Murder in Orania deur Onyeka Nwelue: ’n resensie

  • 0

Titel: Murder in Orania
Skrywer: Onyeka Nwelue
ISBN: 9781919556598
Uitgewer: Bayan Street

Die uitdagend dreigende waarskuwing dat die reg van toegang voorbehou word, impliseer ’n siftingsproses en maatstawwe waaraan voldoen moet word. Afkeurenswaardige gedrag kan toekomstige toegang fnuik, die gebrek aan ’n uitnodiging of die versuim om vergoeding te betaal ewe bekende beletsels, maar wanneer onveranderbare faktore toegang belet, word vrae aangaande die regverdigbaarheid van die evaluasie uiteraard gestel.

Orania.

Die beelde wat deur die pleknaam in die verbeelding opgetower word, is uiteenlopend en wissel van khaki-gekledenes wat ’n reusekoeksister aanbid en te perd met wapperende vierkleure gesag afdwing, tot ’n vooruitstrewende boerderygemeenskap met funksionerende stelsels en ’n onafhanklike gemeenskap wat Standaardafrikaans as beide taal en kultuur onder die vaandel van die grondwetlike reg op selfbeskikking handhaaf.

Die implikasie is duidelik: Dis ’n geslote gemeenskap. Toegang word streng voorbehou.

Zuko Mbeki sou nie kwalifiseer vir toegang tot Orania nie, maar sou, bes moontlik, dit in ieder geval nie begeer het nie. Die afwesigheid van geregtigheid in ’n kriminele saak is die sneller tot ’n gemoedsommekeer. Twee persone na aan hom, een daarvan sy skoonsuster, Nomsa Dlamini, en ’n Zimbabwiese kollega, Rufaro Moyo, word grusaam vermoor; geskiet en vir varke gevoer om die getuienis te verdoesel.

Die vermeende moordenaars word vrygespreek weens beweerde nalatigheid aan die kant van die ondersoekers, en vrygelaat om hulle lewens met laggende arrogansie voort te sit. “It was a phrase designed to absorb outrage, to flatten it into something administrative” (15). Die vryspraak is nie die pyl wat die hart tref nie; die gelatenheid waarmee dit aanvaar word, wel. Zuko se pad na vergelding lei noodwendig deur Orania, ’n gemeenskap waarvan hy, as umXhosa, per definisie uitgesluit is.

Die uitspraak bereik Zuko deur middel van ’n televisie in ’n sjebien. Sy innerlike rebellie word aangevuur deur die wyse waarop die aankondiging ontvang word. Daar is ’n totale afwesigheid van skok en verontwaardiging; asof die uitkoms voorspelbaar en onafwendbaar was. “The room has absorbed the news with the efficiency of long practice” (17). Selfs die kortstondige videobeelde bevestig hierdie indruk; die moordenaars se gesigsuitdrukkings verklap bevestiging van die verwagte, eerder as verligting. Omstanders en sy broer, Thamsanqa, is dit eens: Sommige gebeurlikhede is onvermydelik, die betrokkenes onaantasbaar: “You can’t fight something like this. It will finish you” (29).

Die onaanvaarbaarheid van die status quo is Zuko se inspirasie om die aannames verkeerd te bewys. In ’n ironiese kinkel is dit nie Thamsanqa of Rufaro se eggenoot, Chenzira, wat die bal van vergelding aan die rol sit nie, maar wel Zuko wat die Dawidskleed aantrek om Goliat aan te durf.

Die parallelle tussen Zuko en die Bybelse Dawid is opvallend; beide is onwaarskynlike helde wat die herstel van ’n wanbalans, eerder as koelbloedige wraak, begeer. “I’m not trying to win... I’m trying not to accept it” (33). Beide word gewaarsku teen die onoorwinlikheid van hulle Goliats, beide verkies om nederig onopvallend, Zuko as messelaar op ’n bouperseel, die slagveld te betree, en beide is gedetermineerd om die gelate aanvaarding van die oënskynlik onvermydelike verkeerd te bewys en die algemene norme omver te werp.

Varke is ’n veeldoelige metafoor in die teks. Die individue verantwoordelik vir die ontoelaatbaarheid van getuienis in die strafverhoor weens nie-nakoming van bewysregtelike reëls, vervul dieselfde rol as die sus scrofa domesticus wat aangewend is om van die vermoordes se lyke ontslae te raak en sodoende te vermy dat dit as bewysstukke aangewend kan word.

Analoog aan William Golding se Lord of the flies, dien die vark, in Zuko se geval beide fisiese varke, asook hulle habitat, as simbool en toneel van aanspreeklikheidsbepaling. ’n Substansiële deel van die teks word afgestaan aan Zuko se voorbereiding vir hierdie toneel.

Die oënskynlik almagtige sisteem wat absorbeer en die vervangbares soos verbruikersitems deel van die geheel maak sodat alle individualiteit aan ’n einde kom, word eweneens vergelyk met die lewensiklus van varke. Betrokkenes is óf die vark, en dus die absorbeerder of deel daarvan, óf dit wat verbruik word – en dan op hierdie morbiede wyse uiteindelik tóg deel van die gewraakte struktuur. “Once you are inside, you are a part of it... you are either being consumed or you are part of the machine that consumes” (43).

Daarin lê die essensie van Zuko se selfopgelegde missie: om die sisteem binne te dring sonder om daaraan deelagtig te word of daardeur vernietig te word.

Die roman se fokus is deurgaans op die doelwit van die protagonis en die verwesenliking daarvan. Karakters skyn bloot middele tot ’n doel te wees. Die gedagtes en emosies van die karakters verdwyn in ’n maalkolk van dade. Selfs Zuko se kruistog word nie deur emosies aangevuur nie en daar is weinig sprake van subjektiewe rou, haat of woede by hom, bloot ’n kliniese, afstandelike beplanning en uitvoering. Die leser word geen ruimte gelaat om geloofwaardigheid en outensiteit te beoordeel nie; Zuko funksioneer in ’n emosielose vakuum van doelgerigtheid.

Die skerp fokus op doelgerigtheid, ideologie en filosofie veroorsaak ’n wanbalans ten opsigte van karakterontwikkeling. Wanneer Zuko as karakter voorgestel word, is hy nog onbewus van die hofuitspraak. Daar is egter geen verandering in sy gedagtegang of dialoog wanneer hy wel die nuus – wat verpletterend behoort te wees – ontvang nie. Dienooreenkomstig is daar geen aanduiding dat hy op ’n emosionele vlak die verlies van die oorledenes ervaar nie. Sy waarneming bly klinies en onbetrokke: ’n leë stoel aan die familietafel.

Dieselfde is waar van Pieter van Dyk, die enigste persoon in Orania met wie Zuko noemenswaardige interaksie het. Hy verbaliseer die motiewe agter sy dade op dieselfde strak wyse as Zuko en konstateer feite sonder om enige emosies daaraan te koppel. Die beoordeling van sy geloofwaardigheid is derhalwe ewe ontwykend. Dis veral problematies wanneer sy keuse om sy lewenstyl te verloën ter sprake kom. Sy redes is vaag en oortuig nie.

Die delikate samewerking tussen Pieter en Zuko is gebaseer op die teenstrydige bande wat hulle met dieselfde sisteem het; Zuko se betrokkenheid is geskoei op sy verliese, Pieter s’n op sy winste. Ook hier is die gebrek aan subjektiewe interaksie problematies; Zuko het, veral na aanleiding van die gewraakte hofuitspraak, geen rede om Pieter te vertrou nie. Tog doen hy dit. Onmiddellik en onvoorwaardelik.

Die versuim om emosies op die speelvlak toe te laat, word ook in die skryfstyl weerspieël. Beide dialoog en dade beweeg grootliks in negatiewe ruimtes en daar word selde aangedui wat iets of iemand werklik is, eerder dit wat hulle nie is nie. Bykans elke ruimtebeskrywing en karakterwaarneming word op hierdie wyse ingekleur, ingelei deur die verwysing na wat dit nie is nie. Enkele voorbeelde vanuit die teks, is die volgende: “Nomsa’s absence did not appear as an image. It existed as a space [...]” (121) en “It is not a problem of understanding, it’s a problem of distance from the consequences” (129).

Dienooreenkomstig is Zuko se oogmerk nie op wraak of vernietiging van die sisteem gemik nie, eerder om te bewys dat onaantasbaarheid ’n mite is en dat dade gevolge het. Dis geensins ’n tradisionele wraaksugtige-held-op-’n-kruistog-roman nie; daar is geen emosiebelaaide spanningslyn en geen dramatiese ontknoping nie. Die teks illustreer juis die futiliteit van totale vernietiging en die las van emosies wanneer ’n doel bereik moet word. Soos Dawid van ouds, gebruik Zuko ’n enkele spoelklippie om ’n enkele punt te maak. Orania, nes die Filistyne van weleer, bestaan voort, maar kan die nuutgevonde wete van kwesbaarheid nie langer ontken nie.

Die impak van die teks sou veel kragtiger gewees het indien emosies wel op die speelvlak toegelaat is. Die gebrek daaraan verhoed leserbetrokkenheid en vervlak die teks tot ’n abstrakte konsep eerder as die lewensveranderende gevolge van die euwels van korrupsie, magsmisbruik, onbevoegdheid, vooroordeel en rassisme.

Karaktergedrewe romans vereis oortuigende karakters wat voortdurend deur uitdagings groei toon, hetsy positief of negatief. Konflikgedrewe romans daarenteen, toon minder karakterontwikkeling, maar ’n vinniger tempo en ’n sterker ontwikkelende spanningslyn. Hierdie roman glip ongelukkig deur die krake daartussen en verstomp in die niemandsland waar nie die karakters of die konflik volle potensiaal bereik nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top