
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Oscar Pistorius: The big lie and the right to a fair trial
Chris Marnewick
Naledi
ISBN 9781997476443
Die Suid-Afrikaanse regstelsel is, soos die meerderheid op ’n internasionale skaal, op die legaliteitsbeginsel gebaseer. Magsbeperking om stabiliteit, voorspelbaarheid en regverdigheid te verseker volg daaruit. Praktiese voorbeelde is die reël teen terugwerkendheid van misdaadskepping, die vereiste van regsekerheid deur middel van duidelike definisies, die verbod teen ultra vires-optrede deur regeringsorgane en die navolging van die stare decisis-reël, beide op horisontale en vertikale vlakke.
Die relevantheid van foute wat die presedentstelsel beïnvloed, kan dus kwalik oorbeklemtoon word en is nie gebonde aan tydsverloop of onderworpe aan verjaring nie. ’n Onreg bly ’n onreg en, in die woorde van Marcus Aurelius: “You can also do injustice by doing nothing” (300).
Die reaksie op sosiale media en ander kommentare wat op die publikasie van hierdie boek gevolg het, was voorspelbaar. Die meerderheid was immers afkomstig van sleutelbordsoldate wat ook tydens die veelbesproke Pistorius-verhoor as kitsregsgeleerdes ontpop en die rol van koppe op die spreekwoordelike markplein geëis het, en het gewissel van “Hang hom!” tot “Dis afgesaag” en “Hy het reeds sy straf uitgedien, los dit nou.”
Ironies genoeg bewys dit juis die relevantheid en noodsaaklikheid van ’n publikasie soos hierdie, want opmerkings soos dié hier bo vermeld, dui op die ’n tropmentaliteit in die blinde navolging van getuienis wat inderwaarheid deur die hof getoets en verwerp is, onkunde aangaande die regstelsel, en volstruispolitiek met betrekking tot die aanspreek van onreg.
’n Ondersoek na die skrywer se agtergrond maak dit duidelik waarom hy geweier het om te swyg. Chris Marnewick beklee die status van senior advokaat en het die grade BJur, LLB, LLM en PhD verwerf. Tydens sy regsloopbaan het hy ook as regter waargeneem, litigasie en etiek gedoseer en, benewens etlike relevante romans, ook die gesaghebbende Litigation skills for South African lawyers gepubliseer.
Soos wat dit ’n juris betaam, het Marnewick hom dit ten doen gestel om die feite soos beliggaam deur die getranskribeerde notules en relevante regsuitsprake, niks meer en niks minder nie, aan die bestaande regsreëls en -vereistes te toets ten einde op ’n klinies-regswetenskaplike wyse vas te stel of die beskuldigde, Oscar Pistorius, die regverdige verhoor ontvang het waarop hy ingevolge die Grondwet geregtig was, en of die narratief dat die slagoffer, Reeva Steenkamp, inderdaad gesterf het in omstandighede wat as geslagsgebaseerde geweld beskryf kan word.
Die staatsaak het immers swaar op hierdie narratief geleun: dat die noodlottige skote gevolg het op ’n ure lange luidrugtige argument tussen die beskuldigde en die slagoffer. Enigeen wat die hofsaak selfs net in breë trekke gevolg het, sal weet dat hierdie narratief verwerp is. Die volledige redes hiervoor word in besonderhede deur die skrywer uiteengesit op ’n wyse wat dit ook vir die leek toeganklik sal maak, en sy verduideliking is allermins ’n persoonlike opinie; dis ’n bondige uiteensetting van die getuienis en die hof se formele bevindings daaromtrent wat, vry vertaal, lui dat daar nie ’n greintjie getuienis was om daardie scenario (geslagsgebaseerde geweld) te ondersteun nie. Die slotsom is derhalwe ’n objektiewe waarheid met geen ruimte vir emosionele afleidings en vooroordele nie.
Die ondersoek na die regverdigheid van die verhoor is gebaseer op ’n beginsel vervat in die legaliteitsbeginsel, naamlik dat staatsorgane, waarby howe en hofampsdraers ingesluit is, nie ultra vires mag optree nie, asook die stare decisis-reël, die Grondwet wat die reg op ’n regverdige verhoor neerlê, en die gedragskodes waaraan hofamptenare onderworpe is. Die volgorde is chronologies, neem ’n aanvang met die tragiese gebeure van die donker Valentynsdag, gevolg deur die borgaansoek, die verhoor, die vonnis en die appèl.
Die skrywer se bewese vernuf as skepper van fiksie manifesteer ook in hierdie vakkundige werk en verseker ’n toeganklike en boeiende teks. Die insluiting van doelmatige verduidelikings van terme soos culpa, dolus eventualis, putatiewe noodweer, error in objecto en error in persona, wederregtelikheidsbewussyn, toerekeningsvatbaarheid en geloofwaardigheid plaas die teks ook binne die veld van Jan Alleman; dis nie gemik op slegs ’n geslote groep lesers nie.
Lesers wat hoop op sensasie en bespiegelings, sal teleurgesteld wees. In teenstelling met die verhoor, waartydens grusame besonderhede, wat nie in geskil geplaas was en derhalwe geen getuieniswaarde gehad het nie, en bloot vir dramatiese effek deur middel van kameras aan die wêreld vertoon is, is die teks gestroop van sodanige beelde en behou deurgaans die waardigheid verskuldig aan alle partye.
Die besluit om te vervolg is die wegspringplek van kriminelehofverrigtinge. Volgens die voormalige direkteur van openbare vervolgings, Shamila Batohi, moet dit as volg geskied: “[O]ur decisions must be rational, consistent and evidence-based” (31). In die beoordeling van die nakoming al dan nie van hierdie vereiste moet die getuienis van die destydse ondersoekbeampte, Hilton Botha, tydens die borgaansoek in gedagte gehou word waar hy onomwonde verklaar het dat die staat oor geen getuienis beskik wat onversoenbaar is met die beskuldigde se weergawe (aangaande ’n vermoedelike inbreker) nie.
Nietemin.
Die reg op ’n regverdige verhoor word bepaal deur ’n kombinasie van faktore, vervat in regspraak, wetgewing en gedragskodes. Van belang in hierdie spesifieke geval is die verbod op beledigings, vernedering en bespotting, en die reg op voorafkennis van getuienis wat deur die staat aangewend gaan word.
Die sogenaamde Zombie-stopper regverdig vermelding, en word in besonderhede in die teks aangespreek. Die reël wat sogenaamde verrassings verbied, is duidelik uiteengesit in S v Ndlovu 2002 (6) SA 305 (SCA): “An accused cannot be ambushed by the late and unheralded admission of [...] evidence.” Tydens die staatsaak, gedurende die kruisondervraging van getuie Moller, het die staat beswaar gemaak toe die verdediging melding maak van ’n video-opname sonder om vooraf die regsbasis daarvoor te gelê het. Desnieteenstaande het die staat juis dit waarteen beswaar aangeteken is, self op die tafel geplaas tydens kruisondervraging. Hierdie tussenspel het sedertdien bekend geword as die Zombie-stopper en is die verpersoonliking van die nienakoming van hierdie prosedurele reël.
Gedrag soortgelyk hieraan is in Masoka and Another v S 2015 (2) SACR 268 (ECP) skerp deur Alkema, R gekritiseer: “I have no doubt that the prosecutor in this case is guilty of serious misconduct and she must be duly censured.”
Internasionale reaksie was soortgelyk, by monde van die Kanadees Scott K Fenton: “[T]he cross-examination of the shooting range video was spectacularly improper. It was a scandalous attempt by the prosecutor to sensationalise the record and inflame the trier of fact and the public against Pistorius” (192).
Die Nasionale Vervolgingsgesag se gedragskode vereis streng nakoming van hofprosedures en bewysregtelike reëls. Desnieteenstaande lui dieselfde gesag se mediaverklaring na afloop van die verhoor (22/09/2014) as volg: “[T]he NPA is satisfied with the manner in which the prosecution team prosecuted the case. They displayed the highest degree of professionalism, and their ethical conduct could not be faulted throughout the trial.”
Dis belangrik om te meld dat bostaande nie as ’n heksejag teenoor die vervolging geïnterpreteer moet word nie. Ook die verdediging loop deur onder gemotiveerde kritiek, onder andere met verwysing na ’n monoloog tydens die staatsaak waarvan die skrywer tereg opmerk dat dit ’n voorbeeld is van hoe kruisondervraging nié moet geskied nie (265).
’n Onskuldigbevinding word ook nie onderskryf nie; inteendeel. “It is an inescapable fact that Oscar, on his own version, had done a very irresponsible thing ... While that might exonerate him on a charge of murder, it would be no defence to culpable homicide” (149).
Tydens die evaluering van die vonnis en die vonnisverrigtinge word die leser verwys na ’n saak wat kwalik op die feite onderskeibaar is, naamlik S v Siyabonga Mdunge RC 777/12 (Pietermaritzburg Streekhof). Ook in hierdie geval is ’n geliefde as ’n inbreker aangesien en gedood, maar die vonnis is in die geheel opgeskort.
Heelwat ruimte word aan die appèlprosedures en -uitspraak afgestaan. Die regulerende wetgewing is artikel 319(1) van die Strafproseswet 51 van 1977. Die relevantheid van die beperkinge daarin vervat is die interpretasie van die vereiste dat die staat slegs op ’n regspunt mag appelleer, nie op feitebevindings nie. Die skrywer wys daarop dat daar inderdaad afgewyk is van die toonaangewende gesag soos omskryf in Magmoed v Janse van Rensburg and others 1993 (1) SA 777 (A), soos later bevestig in Director of Public Prosecutions, Western Cape v Schoeman and Another 2019 (2) SACR 1.
Indien die publikasie van ingeligte nabetragtings soos hierdie, waarby kritiek onvermydelik ingesluit sal word, onder die mat gevee word – soos wat die heersende opinie volgens sosialemediakommentare verkies – kan daar tereg gevra word: Quis custodiet ipsos custodes? En daarin lê die relevansie en belang van ondersoekende werke soos hierdie.
Lees ook:
Oscar Pistorius: The big lie and the right to a fair trial – ’n onderhoud met Chris Marnewick


