Die Staat versus Oscar Pistorius: ’n herbesinning – deel 1

  • 18

Foto van lemnaeler: Unsplash.com

Hoe gelukkig sal ek nie wees nie as ek maar net
’n bietjie lig op hierdie morsige affêre kan skyn.

– Henrik Ibsen (1828-1906) Rosmersholm

In hierdie bydrae bespreek ek in leketaal sover dit moontlik is, die getuienis oor die gebeure in en om Oscar Pistorius se huis die nag toe hy die skote gevuur het wat vir Reeva Steenkamp gedood het, en ook hoe die kruisverhoor deur die aanklaer en die verdedigingsadvokaat daardie getuienis aangevul of afgekraak het, met verwysing na die regs- en etiese-beginsels wat op die aanbieding van getuienis en die kruisverhoor van getuies van toepassing is. Die bespreking word beperk tot die getuienis wat in die saakrekord opgeneem is.  

In ’n volgende bydrae sal ek die uitsprake van die verhoorhof (regter Masipa en assessore me J Henzen-du Toit en mnr T Mazibuko), die Hoë Hof van Appèl (appèlregter Leach) en weereens die Hoë Hof van Appèl (appèlregter Seriti) ontleed en bespreek, en daarna by wyse van nabetragting, (i) Regsekerheid en die beslissings van ’n finale hof van appèl; (ii) Die kruisverhoor van Oscar Pistorius; en (iii) Vrees en die invloed daarvan op die gebeure.

Inleidende opmerkings

Die saak van Oscar Pistorius spook steeds by ons. Daar was sedert hy finaal gevonnis is verskeie uitsprake van die Konstitusionele Hof en die Hoë Hof van Appèl (hierna die appèlhof) wat vrae stel ten opsigte van Pistorius se skuldigbevinding aan moord en die vonnis wat hy daarvoor opgelê is. Die land se voorste strafregkenners is dit ook nie eens met die appèlhof se vertolking van die regsbeginsels wat op die bewese feite van toepassing was nie. Daarbenewens het beskuldigdes in soortgelyke sake slegs opgeskorte vonnisse ontvang.

Nou hoe dan?

I

Die getuienis

Die nag van 14 Februarie 2013 toe Oscar Pistorius met vier skote van sy pistool vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het waar sy agter die deur van die toilet in sy huis gestaan het, was daar net twee moontlike verduidelikings vir so ’n tragedie: ’n tragiese ongeluk of wat deesdae bekend staan as gender based violence. Op die toneel het Pistorius vir getuies gesê dat hy Reeva geskiet het denkende dat sy ’n inbreker was. Hy het sy optrede later die oggend, nog steeds op die toneel, ook so teenoor die polisie verduidelik.

Tydens die borgaansoek ’n week later het die vervolging op die volgende bewerings staatgemaak om borgtog te opponeer:

(i) Die staat is in besit van ’n verklaring dat daar ’n argument was. Ons het ’n getuie wat sê dat sy onverpoosde bakleiery gehoor het tussen 02:00 en 03:00. Ons het ’n getuieverklaring wat sê dat sy gehoor het wat na ’n bakleiery geklink het, luidrugtige gepraat van 02:00 tot 03:00.

(ii) Ons het ’n verklaring van ’n getuie wat gesê het die ligte by die huis aan was.

(iii) Pistorius het opgestaan, sy kunsbene aangesit, en sewe meter geloop om sy wapen af te vuur.

(Soos tydens die borgaansoek op www.news24.com se lewendige voer gerapporteer is. Vertalings van Engels na Afrikaans is deurgaans my eie.)

As die vervolging se aangehaalde bewerings waar was, sou dit met redelike oortuiging dui op ’n voorbedagte moord met Reeva Steenkamp as die teiken.

Maar wat as daardie bewerings vals was? Wat dan?

Die vervolging het vir sy teorie van ’n moord met voorbedagte rade op Reeva Steenkamp die volgorde van gebeure so voorgestel: Pistorius en Reeva raak betrokke in ’n argument – Pistorius het vir Reeva bedreig – Reeva vlug en sluit haarself in die toilet toe – Pistorius gespe sy kunsbene aan en loop tot by die toilet se deur – Reeva praat met hom van binne die toilet – hy weet sy is daar – hy vuur skote deur die deur wat haar noodlottig beseer. Pistorius, aan die ander kant, het tydens die verhoor gehou by die weergawe wat hy van meet af aan gelewer het, naamlik dat hy in die waan verkeer het dat daar ’n inbreker in die toilet was wat vir hom en Reeva bedreig het, die skote gevuur het wat haar gedood het.

Om uit te pluis wat dan daar gebeur het, is dit nodig om die direkte getuienis te oorweeg tesame met enige deskundige getuienis wat die direkte getuienis kan ophelder. Alhoewel ’n horde getuies aan weerskante van die saak geroep is om te getuig, het slegs ’n handjievol van hulle lig op die gebeure by Pistorius se huis kon werp. Daardie getuies val in twee groepe: Die eerste groep was bure van Pistorius en het getuig oor hulle eie waarnemings tydens die gebeure. Onder hulle tel Estelle van der Merwe, Johan Stipp en sy vrou Annette, Michelle Burger en haar man, Charl Johnson, en die bure aan weerskante van Pistorius se huis, Rika Motshuane en Michael en Hillary Hlengethwa. (Een van hierdie getuies – Annette Stipp – se getuienis word hier buite rekening gelaat omdat dit nie met ’n objektiewe feit versoen kon word nie en ook nie met haar man se getuienis gestrook het nie.) ’n Veiligheidswag, Peter Baba, se getuienis is ook van belang. Die tweede groep bestaan uit drie deskundiges, waaronder die patoloog, prof Saayman, en twee polisie-spesialiste, kolonel Vermeulen en kaptein Mangena.

Oscar Pistorius se getuienis word vir die doeleindes van die bespreking van die toereikendheid van die vervolging se getuienis voorlopig buite rekening gelaat.

Direkte getuienis is getuienis van ’n getuie se waarnemings wat met een of meer van ’n mens se vyf sintuie gemaak word: Dus: sig, gehoor, gevoel, smaak en reuk. Die vertolking van daardie waarnemings is in die domein van die hof wat die getuies se waarnemings in die konteks en totaliteit van al die getuienis moet oorweeg.

John Munkman in sy The Technique of Advocacy (Butterworths, 1991) bespreek die onderwerp soos volg:

Die eerlikste getuies gee dikwels getuienis wat onjuis is, maar wat hulle baie seker is dat dit korrek is. (18)

    • Foutiewe waarneming: foute van die sintuie

Buiten dokumentêre bewys, is alle getuienis in die hof gefundeer, direk of indirek, op die getuienis van die sintuie, dit wil sê op wat gesien, gehoor, geruik, geproe of gevoel is – maar hoofsaaklik op wat gesien of gehoor is.

Akkurate waarneming hang af van talle faktore, maar die mees fundamentele is die geleentheid om waar te neem – om in die regte posisie en op die regte afstand te wees ... (19)

Soms berus ’n saak op onsamehangende geluide, soos die geraas van ’n botsing, of die klank van ’n skoot of ’n gestoei. (24)

(ii)        Foutiewe vertolking

Blote waarneming met die oë en ander sintuie is slegs een stadium in die insameling-proses van kennis oor voorwerpe of gebeure. Daar is terselfdertyd ’n komplekse integrasie van verbeelding, gevolgtrekking en vorige ondervinding by wyse waarvan dit wat waargeneem is, vertolk word.

Foute kan maklik insluip in hierdie proses van vertolking – teorieë of feite verkeerdelik veronderstel, foutiewe gevolgtrekkings of foutiewe analogieë. (27)

Met die faktore wat Munkman genoem het in die oog kan die getuienis nou van nader beskou word.

II

Estelle van der Merwe

Die getuie wat moes getuig oor ’n onverpoosde bakleiery was Estelle van der Merwe. Sy was ongetwyfeld die persoon waarna verwys is by die borgaansoek. Alhoewel die aanklaer se bewering tydens die borgaansoek nie uitdruklik na Pistorius se huis verwys het nie, was die noodsaaklike implikasie dat die argument juis by daardie huis plaasgevind het. Hy het dit ook tydens die kruisverhoor van Pistorius onomwonde so gestel:

Nel: Terwyl Reeva wakker was en geëet het, het me Van der Merwe ’n argument gehoor, en dit is waarna sy verwys het, Reeva wat argumenteer.

Pistorius: U Edele, ’n argument is tussen twee persone. Me Van der Merwe het net een persoon gehoor, U Edele. (1939)(*)

(*) Die bladsynommers in die saakrekord word telkens in hakies aangedui.

(Gerrie Nel was die aanklaer en Barry Roux SC die advokaat vir die verdediging.)

Daar was geen ander getuie wat oor ’n argument of ’n bakleiery getuig het nie, en daar moet gevolglik in Van der Merwe se getuienis gesoek word vir stawing vir die aanklaer se teorie van ’n argument of bakleiery as katalise vir moord.

Van der Merwe se huis is 176 meter van Pistorius s’n en in dieselfde landgoed. Sy woon saam met haar man en seun en het die aand van 13 Februarie soos gewoonlik om ongeveer 21:00 gaan slaap. Sy het soos volg getuig:

U Edele, ek het ongeveer 01:56 die oggend wakker geword. Ek het geluide gehoor, dit het voorgekom asof iemand in ’n bakleiery betrokke was, en hierdie mense was besig om met luide stemme te praat, U Edele. Dit het omtrent ’n uur geduur. Ek kon nie hoor wat hierdie persoon sê nie. Ek kon ook nie verstaan watter taal hierdie persoon gepraat het nie.

U Edele, ek was daardeur geïrriteer want ek was veronderstel om te slaap, siende dat my seun kort daarna sy eksamens moes aflê.

Op ’n stadium het ek my kussing op my kop geplaas, in die hoop om weer aan die slaap te raak. Op ’n stadium het ek wakker geword, onder die indruk dat ek wou sien of daar iets was wat ek kon sien. (162)

Ek het uitgekyk na die ander kant van Farm Inn. Ek kon steeds niks sien nie, U Edele. Ek het toe teruggegaan bed toe.

Omtrent 03:00 die oggend het ek vier plofgeluide gehoor. (163)

Die persoon het gepraat, gestop, gepraat en dit was nie aaneenlopend nie. Vir my van waar ek geslaap het, het dit voorgekom asof twee persone in ’n argument betrokke was, maar ek kon nie die tweede persoon se stem hoor nie. (169)

Nel: Nou die eerste (vraag) is, afgesien van die vier geluide, klanke wat u gehoor het, het u enige ander gehoor? – Nee.

U het getuig oor die stem van ’n vrou wat u gehoor het. Het u enige geskree deur enige iemand gehoor? – Nee, glad nie. (170)

Onder kruisverhoor het sy verder getuig en ’n belangrike feit is so op rekord geplaas:

Roux: U het geen idee waarvandaan die stem gekom het nie. - Ek het net gaan kyk van die ander kant af. Ek was bang om na die ander kant toe om te gaan en my man wakker te maak.

En die Farm Inn kant is aan die suidekant van u huis. Dit is die teenoorgestelde kant as Oscar se huis. – Ja. (174)

Die prentjie wat deur Van der Merwe se getuienis geskep word, is dié van ’n vrou wat êrens in die rigting van Farm Inn besig was om op haar selfoon met iemand te argumenteer. Die verhoorhof het Van der Merwe se getuienis dan soos volg afgemaak:

Gevolglik is daar niks in mev Van der Merwe se getuienis wat dit wat vir haar soos ’n argument voorgekom het aan die gebeure by die beskuldigde se huis te koppel nie. Wat wel betekenisvol is, is dat Peter Baba, die veiligheidsbeampte, naby die beskuldigde se huis was om 02:20 tydens sy patrollie. Daar is geen getuienis dat Peter Baba toe enige iets onbehoorlik by die beskuldigde se huis gehoor of gesien het nie. (3305-6)

Dit is ook opmerklik dat Van der Merwe van die geskree en die gille en geroep om hulp wat wel by Pistorius se huis plaasgevind het, niks gehoor het nie.

III

Dr Johan Stipp

Die vervolging het ook tydens die borgaansoek na ’n tweede getuie verwys:

Ons het ook ’n verklaring van ’n persoon wat gesê het dat die huis se ligte aan was.

Hy het die skote gehoor en na sy balkon gegaan.

Hy het gesê dat hy ’n vrou hoor skree het, en toe nog ’n paar skote.

Daar is twee bewerings wat hier ter sake is. Die eerste gaan oor die volgorde van die getuie se waarnemings: Hy het gesien die ligte was aan en eers daarná die skote gehoor. Die tweede gaan oor die gebeure self: Die getuie het twee stelle “skote” gehoor, met ’n geskree tussenin. Die volgorde van die getuie se waarnemings wat deur die vervolging geskets is, is belangrik, en miskien deurslaggewend omdat dit die toneel van ’n opsetlike moord oproep:

  • Die getuie het gesien die huis se ligte was aan.
  • Daarna hoor hy die skote.
  • Toe gaan hy uit op sy balkon.
  • Hy hoor toe ’n vrou skree.
  • En hy hoor nog ’n paar skote.

Om die staat se saak op daardie aspek te bewys moes die aanklaers dus die beloofde getuie roep. Daardie getuie was dr Johan Stipp, ’n radioloog wat in dieselfde landgoed agter Pistorius gewoon het. Van die balkon aan die slaapkamer kant van sy huis af kon hy skuinsweg die agterkant en sykant van Pistorius se huis sien, en in die besonder, die vensters van die toilet en badkamer aan die sykant van sy huis.

Stipp het soos volg getuig:

Ek onthou dat ek deur drie luide plofgeluide (“bangs”) wakker gemaak is.

Ek het opgestaan en uitgeloop op die balkon.

Soos ek uitgekyk het, sodat ek kon vasstel vanwaar die skote, wat dit ook al was, vandaan kom, ek het ’n geskree gehoor.

Dit het vir my soos die stem van ’n vrou geklink en sy het drie of vier keer geskree.

Toe ek dit hoor, het ek geweet daar is groot probleme daar. Ek het teruggegaan in die kamer in. Ek het my foon geneem en sekuriteit gebel. (313)

...........

Nel: Kom ons gaan voort. U het na die balkon beweeg en ’n geskree gehoor.

Dr Stipp: Ja.

’n Vrou wat skree? Wat het u gedoen toe u daar staan? – Ek het die vrou hoor skree. Ek het probeer om vas te stel van plus minus waar die geskree kom. Dit het voorgekom dat dit van die ry huise oorkant ons was. Ek het opgemerk dat in een van die huise direk oorkant ons bykans al die ligte aan was.

Byna al die ligte? – Byna al die ligte was aan.

Oukei? – Ek het teruggegaan binne toe, my slaapkamer, en dit was toe ek die foon geneem en gebel het.

Toe u opmerk dat al die ligte aan was in die ander slaapkamer (???), kon u die badkamervensters van die beskuldigde se huis sien? – Die beskuldigde se huis was vlak links van die huis waarvan ek gesien het die ligte aan was, en die badkamervenster wat u my gewys het, die lig was aan, ja.

So toe u na die badkamervenster kyk, daardie lig was aan? – Ja. (315)

 ..........

Wat het... u het gesê, wat het u toe gedoen? – Ek het teruggegaan in die slaapkamer en ek het Silverwoods-sekuriteit gebel. Daar was geen antwoord nie. Ek dink die telefoon het ’n hele paar keer gelui. Hulle het nie geantwoord nie, toe bel ek 10111. Ek dink die nommer was buite orde. Ek het ’n ongewone skakeltoon gekry. Terwyl ek besig was op die telefoon, en wonder watter nommer om volgende te bel, het ek nog drie luide plofgeluide (“bangs”) gehoor.

Wat het u gedink was dit? – Wel, ek het gedink wie ook al die eerste keer geskiet het, het nou weer begin skiet en ek het my vrou aangesê om pad te gee van die venster af. (316)

 .........

Wat het toe gebeur? – Ek het uiteindelik deurgekom na ons sekuriteit toe... en ek het myself buite op die balkon gevind... Ek het uitgeloop op die balkon om te sien of ek enige beweging kon sien, so iets. Toe hoor ek ’n man se stem drie keer roep, help, help, help. Ek het teruggegaan in die kamer in en ons het vir die veiligheidswagte gewag om op te daag. (316)

 .........

Toe die veiligheidswagte opdaag, verduidelik Stipp vir hulle wat gebeur het.

En toe? – ... Ek het toe uitgegaan op die ander balkon en hulle dopgehou soos hulle gery het en ek het daar gestaan en weer gekyk in die rigting waar die ligte aan was en die geraas (“noises”),waar vandaan dit kom. Ek merk toe op dat iemand besig was om in die badkamer te beweeg, deur die venster van regs na links.

Watter badkamer venster was dit nou? – Dit was die badkamer van die beskuldigde se huis.

Die stand van die lig? – Wel, dit het dieselfde gelyk as voorheen. Daar was nie enige addisionele ligte aan nie... (317)

.........

Stipp het verder getuig dat hy na Pistorius se huis toe gery het, gesien het Reeva noodlottig beseer is, en dat Pistorius gesê het:

Ek het haar geskiet. Ek het gedink sy was ’n inbreker en ek het haar geskiet. (318)

Stipp se getuienis het Pistorius se weergawe in verskeie opsigte bevestig: Eerstens is daar die volgorde van die gebeure, wat van hier af aan die Stipp-volgorde genoem kan word-

  • Die skote wat Pistorius afgevuur het, gevolg deur
  • ’n periode van stilte waartydens hy na Reeva gesoek het, gevolg deur
  • ’n histeriese geskree deur hom, gevolg deur
  • die houe met die krieketkolf teen die toilet se deur

’n Meer subtiele bevestiging van Pistorius se weergawe verskyn in die getuienis dat-

wie ook al die eerste keer geskiet het, het nou weer begin skiet en ek het my vrou aangesê om pad te gee van die venster af. (316)

Dit dui daarop dat op Stipp se oor die houe met die krieketkolf teen die deur van die toilet tydens fase (iv) en die skote wat tydens fase (i) afgevuur is eenders geklink het; soveel so dat hy sy vrou aangesê het om van die venster af pad te gee omdat sy daar in gevaar sou wees. Dus, indien iemand anders slegs die gebeure in fases (iii) en (iv) van die Stipp-volgorde gehoor het en die houe met die krieketkolf teen die deur sou vertolk het as skote met ’n vuurwapen, sou daardie getuies verskoon kon word vir die foutiewe vertolking wat hulle aan daardie plofgeluide geheg het.

Daar was twee van hulle, dr Michelle Burger en haar man, Charl Johnson.

IV

Dr Michelle Burger (en Charl Johnson)

Die aanklaers was geregtig om die getuienis aan te bied in die volgorde wat na hulle oordeel die sterkste oortuigingskrag het. In ’n moordsaak is dit die praktyk om die patoloog wat die lykskouing gedoen het eerste te roep, en daarna die getuies wat die voorval waargeneem of beleef het, in kronologiese volgorde. ’n Mens sou dus verwag dat prof Saaiman eerste geroep word, gevolg deur Estelle van der Merwe, dan Johan Stipp, en dan Michelle Burger en Charl Johnson. Die aanklaers het egter anders besluit, waarskynlik omdat die impak van Burger se getuienis op sy eie ’n beeld kon skep van ’n koelbloedige moord.

Daar was vir die vervolging ook ’n taktiese voordeel in die aanbieding van Michelle Burger se dramatiese en emosionele getuienis heel aan die begin van die verhoor. Advokate wat in jurie-verhore optree is bekend met die fenomeen dat jurie-lede geneig is om die eerste weergawe van ’n voorval wat hulle hoor, te glo, en dat dit moeilik is om jurie-lede daarna met nuwe inligting of selfs onbetwisbare feite te oortuig om van hulle eerste indrukke af te sien. Nog meer so, met ’n leke publiek wat die verrigtinge op televisie of sosiale media volg.

Burger en haar man woon in die aangrensende landgoed, omtrent net so ver van Pistorius se huis af as Van der Merwe, so net oor 170 meter weg. Sy het haar waarnemings en die gebeure daarom heen as volg beskryf:

U Edele, net na drie die oggend het ek wakker geword van ’n vrou se verskriklike gille. Ek het regop gesit in die bed en my man het ook wakker geword van die gille. My man het opgespring en balkon toe gehardloop. Ek het nog in die bed bly sit. Ek het haar gille gehoor. En sy het om hulp geroep en toe na dit... U Edele sy het verskriklik gegil en toe het sy om hulp geroep.

U Edele en toe hoor ek ’n man ook om hulp roep, hy het drie keer ‘Help’ geskreeu. (28)

 ..........

U Edele, ek sê toe vir my man, ek skreeu vir hom dit help nie hy staan op die balkon nie, hy moet terugkom na die kamer toe dat ons die sekuriteit kan ontbied. U Edele my man het toe teruggekom en ek het ... my selfoon is langs die bed, ek het toe my selfoon gevat en ek het die security (sic) op die foon gedruk. (28-9)

 ..........

U Edele ek het dit toe vir my man gegee, dat hy kan praat met die sekuriteit, want ons is in Silverstream Estate en ek het gedink ek moet Silverstream sekuriteit bel sodat hulle Silverwoods kan ontbied en sê daar is ’n huis aanval, mense word aangeval in hulle huis, want dit is wat ons gedink het, as gevolg van die gille.

 ..........

U Edele, my man het toe op die foon gepraat en vir die sekuriteitspersoon wat aan die ander kant was, verduidelik dat mense word langsaan aangeval, hulle moet asseblief gaan kyk. U Edele, My man het toe die storie herhaal, want die sekuriteit op die foon, het toe die foon vir iemand anderster gegee en my man het die hele storie toe herhaal en gesê van die aanval in die huis. (29)

 Dit blyk toe dat sy die verkeerde nommer geskakel het, dié van Strubenkop sekuriteit waar hulle voorheen gewoon het.

U Edele, my man het toe terug gehardloop na die balkon toe. Ek sit nog steeds in die bed en toe hoor ek weer haar gille en dit was erger as voorheen, dit was meer intens. U Edele, sy was vreesbevange gewees. Dit was die ergste, dit was soos ’n klimaks. Ek het haar angs gehoor en geweet iets gaan aan, iets verskrikliks gebeur in daardie huis. (30)

 ........

U Edele, na haar gille, enkele oomblikke na dit, het die skote geklap. Daar was vier skote gewees. Die tyd tussen die eerste en die tweede skoot was ’n bietjie langer as tussen die tweede en die derde en die derde en die vierde skoot. (30)

 .........

U Edele, my man het toe teruggekom na die kamer toe. Ek was nog steeds in die bed waar ek gesit het. U Edele, ek sê toe vir my man ek hoop nie daardie vrou het nou net gesien hoe haar man voor haar doodgeskiet is nie, want ons het hom nie weer gehoor na hy ‘Help’ geskreeu het nie. So, ek het gedink hy is dalk geskiet. (31)

........ 

Om Burger se getuienis in konteks te plaas in verhouding met die Stipp-volgorde kan mens na haar eie getuienis verwys:

U Edele, ek weet net van vier skote wat daardie aand plaasgevind het en ek het vier skote gehoor. So, as daar ander skote was voor ek wakker geword het, dan weet ek nie daarvan nie... (74)

Toe sy Strubenkop se sekuriteit skakel was dit 03:16. Op daardie stadium het Stipp alreeds die sekuriteitskantoor om 03:15:51 geskakel en op sy balkon rondgeloop om te probeer uitvind wat aan die gebeur is. Volgens Burger het die geskree na haar oproep voortgeduur en in intensiteit toegeneem voordat, soos sy dit gestel het, die skote geklap het. Haar eerste vertolking was dat sy gehoor het hoe ’n paartjie in hulle huis aangeval word en hoe die man voor sy vrou doodgeskiet is.

U Edele, ek sê toe vir my man ek hoop nie daardie vrou het nou net gesien hoe haar man voor haar doodgeskiet is nie, want ons het hom nie weer gehoor na hy ‘Help’ geskreeu het nie. So, ek het gedink hy is dalk geskiet. (31)

Op die oog af lyk dit of Burger slegs die tweede deel van die Stipp-volgorde ervaar het, dws, die geskree en geroep om hulp en die skote wat daarop gevolg het. Soos sy self getuig het, as daar ander skote was voor sy wakker geword het, dan weet sy niks daarvan nie. Stipp, Burger en Johnson het daardie tweede deel van die gebeure vertolk as ’n vrou se geskree en skote met ’n vuurwapen terwyl dit Pistorius se weergawe was dat hy die een was wat geskree het, en dat wat soos skote geklink het inderdaad houe met ’n krieketkolf teen die deur was. Die verskil is dus een van vertolking, die eerste deur getuies wat op hulle gehoor en verbeelding moes staatmaak, en die tweede dié van Pistorius wat ’n ooggetuie was.

Alhoewel die tydlyn wat hierbo uiteengesit word alreeds die antwoord verskaf, is dit dienlik om na ’n deurslaggewende feit te soek wat die skaal na die een of die ander kant toe kan laat kantel sonder om die eerlikheid van die betrokke getuies te betwyfel. Daar was inderdaad so ’n deurslaggewende feit, en dit is herhaaldelik tydens die kruisverhoor van Burger uitgelig. Die betrokke feit is uitdruklik genoem in die verklarings wat kaptein van Aardt van haar en Johnson geneem het en selfs in ’n kontemporêre nota wat Johnson gemaak het. Nietemin, die aanklaer het Burger se getuienis so gelei dat daardie feit nie in haar getuienis-in-hoof uitgekom het nie. Slegs kundige kruisverhoor kon die volle waarheid na vore bring.

In die kruisverhoor van Michelle Burger het dit uitgekom dat sy dieselfde persoon hoor skree het voor die skote, terwyl die skote geklap het, en vir ’n kort rukkie daarna:

U Edele, soos ek reeds gesê het, nadat ek die oproep gemaak het en my man teruggegaan het na die balkon toe, het ek haar vreesbevange skreeue gehoor. Toe begin die skote. Terwyl die skote aan die gang was, daar was vier skote, het ek haar weer gehoor en die laaste keer wat ek die vrou se stem gehoor het was kort na die laaste skoot, wat vir my die vierde skoot was. (122)

........

Roux: Kan u sê dit was dieselfde persoon wat u gehoor het toe u wakker word? – Ja, U Edele, dit was dieselfde vrou wat geskree en gegil het.

Roux: U kon van daardie afstand af hoor dit is dieselfde stem? – Ja, U Edele. Ek kon hoor, dit was dieselfde vrou wat ek hoor skree het voor, en na, wel... (127)

 .........

Roux: Laat ek dit verstaan. U is ’n honderd persent seker dat u, nie dink nie, dat u kon hoor dit was dieselfde vrou wat geskree het? – Ja, U Edele, ek kon dieselfde vrou hoor skree. (128)

Volgens die mediese getuienis (prof Saayman) kon dit nie Reeva Steenkamp se stem gewees het wat Burger gehoor het nie want sy was reeds noodlottig beseer tot die mate dat sy nie sou kon skree nie.

Michelle Burger se getuienis is ook ’n teksboek-voorbeeld van die interne prosesse wat John Munkman beskryf. Eerstens is daar die primêre waarneming wat outomaties deur die brein verwerk word sodat die geluide wat op Burger se oor geval het ’n vrou se stem was en skote met ’n vuurwapen. Eers daarna het sy, presies soos Munkman voorstel, probeer om sin te maak van wat sy dink sy gehoor het. Met ander woorde, haar primêre waarnemings het sy toe aan ’n logiese en bewuste denkproses onderwerp en tot die gevolgtrekking geraak dat sy gehoor het hoe ’n paartjie in hulle huis aangeval word en hoe die man voor sy vrou geskiet word. Daardie vertolking was duidelik nie in ooreenstemming met wat gebeur het nie, wat demonstreer hoe maklik getuies eerlike, maar foutiewe, vertolkings aan hulle waarnemings kan heg.

Charl Johnson het sy vrou se getuienis in alle tersaaklike opsigte bevestig. Hy het selfs kort na die gebeure ’n aide memoire opgestel waarin hy sy waarnemings soos volg opgesom het:

“Ek is wakker gemaak deur ’n vrou se gille kort na 03:00 op 14 Februarie 2013. Ek het uitgehardloop op die balkon en terwyl ek daar gestaan het, het ek nog gille gehoor en ’n geroep om hulp deur dieselfde vrou. ’n Man het ook om hulp geroep, twee of drie keer in ’n ry. Ek het teruggegaan in die huis in en ’n oproep gemaak na die sekuriteits- wagkamer.

Ek het die oproep om 03:16vm op 14 Februarie 2013 gemaak en die oproep het 58 sekondes geduur.

Na die foon-oproep het ek teruggegaan op die balkon en toe hoor ek die vrou weer skree, oomblikke voor die eerste skoot gevuur is. Die vrou het aangehou skreeu terwyl die skote gevuur is.

Sy het steeds geskreeu vir ’n sekonde of twee nadat die laaste skoot afgevuur is.

Ek het nie enige ander geluide daarna vanaf  die rigting van die huis gehoor nie.” (309)

Daar is ’n tweede item van getuienis wat deur beide Michelle Burger en Charl Johnson gelewer is wat daarop dui dat hulle slegs die tweede deel van die Stipp-volgorde gehoor het. Volgens Burger en Johnson het hulle die gille en skreeue gehoor en ook ’n man wat om hulp roep, maar eers daarna die plofgeluide wat hulle as skote met ’n vuurwapen vertolk het. Dit is onwaarskynlik dat Pistorius om hulp sou roep voor hy die skote deur die toilet se deur gevuur het en dit volg dat wat Burger en Johnson gehoor het die houe met die krieketkolf teen die deur moes wees nadat Pistorius na buite om hulp geroep het toe hy agterkom Reeva moet agter die geslote toilet deur wees. Volgens Stipp het die geroep om hulp plaasgevind ná die eerste stel plofgeluide wat die skote moet wees.

Dat Burger en Johnson nie die skote gehoor het wat inderdaad vroeër gevuur is - item (i) in die Stipp-volgorde- is te verstane. Op daardie stadium was die skuifdeur tussen Pistorius se slaapkamer en balkon nog toe, met die gordyne ook toegetrek, en die skietery het aan die ander kant van sy huis plaasgevind, weg van die Burger/Johnson huis af. Dit was eers toe die skuifdeur aan die Burger/Johnson huis se kant oop was dat Burger en Johnson die geskree, die roepe om hulp en die plofgeluide gehoor het wat hulle moes vertolk om ’n beeld van wat aan’t gebeur was te vorm.

Die getuienis van kolonel Vermeulen, ’n staatsgetuie met wie die verdediging se deskundiges saamgestem het, kan nou hier bygewerk word. Hy is ’n forensiese deskundige in diens van die polisie. Volgens hom het die houe met die krieketkolf gevolg op die skote wat deur die toilet se deur gegaan het. Hy het tot daardie gevolgtrekking gekom toe hy vind dat by een van die gate in die deur wat deur ’n koeël veroorsaak is die punt van die krieketkolf daarna verdere skade op presies daardie plek aangerig het. (Die verdediging se deskundige getuies het daarmee saamgestem.)

Roux: Wanneer is die deur geslaan? Met die krieketkolf geslaan, voor of na die skote?

Vermeulen: U Edele, ek sou sê die deur is geslaan ná die skote. (656)

Hierdie volgorde – eers die skote in die deur, en daarna die houe met die krieketkolf - is in ooreenstemming met Pistorius se weergawe van die gebeure en ook met die Stipp-volgorde. Dit is ook later deur die verhoorhof aanvaar as gemene saak.

Op die getuienis wat tot dusver bespreek is, was daar dus onvoldoende steun vir die aanklaer se bewerings dat daar ’n onverpoosde argument of ’n bakleiery tussen Pistorius en Reeva was voordat hy haar geskiet het, en dat die ligte by Pistorius se huis aan was voordat hy die sneller getrek het. Die derde bewering-

Pistorius het opgestaan, sy kunsbene aangesit, en sewe meter geloop om sy wapen af te vuur ....

het die vervolging kort voor die aanvang van die verhoor laat vaar want kaptein Mangena het in sy verslag met vers en kapittel verduidelik waarom hy tot die gevolgtrekking gekom het dat Pistorius nie op sy kunsbene kon wees toe hy die skote afgevuur het nie.

Kaptein Mangena se afmetings het aangedui dat die skote van ’n afstand van ongeveer 60cm van die deur af in ’n effense afwaartse rigting gevuur is, en dat die onderskeie skote die deur op 93.5cm, 104.3cm, 99.4cm and 97.3cm bo die vloer getref het, dws, op min of meer heup-hoogte van ’n volwassene wat agter die deur sou staan. In sy verslag wat voor die hof gedien het, het kaptein Mangena die enkele belangrikste feit, sover dit Pistorius se weergawe aangaan, so uiteengesit:

Die skieter het heel waarskynlik nie sy prostetiese bene aangehad nie en het gevuur van ’n afstand nie groter as 60cm nie.

Die deskundige getuies het dan ook ooreengestem dat een van die skote Reeva in die heup getref het, dat sy toe inmekaargesak het, en dat die derde of vierde skoot haar toe noodlottig in die kop getref het.

V

Michael en Hillary Hlengethwa en Rika Motshuane

Die bure weerskante van Pistorius se huis het ook polisieverklarings afgelê, maar is nie geroep om namens die vervolging te getuig nie omdat hulle getuienis nie die aanklaers se teorie gepas het nie. Inteendeel; dit het die vervolging se teorie nog verder verongeluk en hulle moes deur die verdediging geroep word om te getuig.

Michael Hlengethwa is ’n bestekopnemer en ingenieur met sy eie besigheid. Sy huis is reg langs Pistorius s’n. Sy getuienis is nie deur die aanklaer tydens kruisverhoor betwis of as foutief of leuenagtig beskryf nie en was ook in ooreenstemming met die verklaring wat kaptein van Aardt van hom geneem het. Sy vrou het hom wakker gemaak en gesê dat sy ’n plofgeluid gehoor het, ’n “bang”. Hy het opgestaan en ondersoek ingestel (2208). Toe hoor hy:

’n Man het gehuil (geskree)... dit was baie luid.

Die gehuil/geskree wat ons gehoor het... was van ’n persoon wat desperaat was vir hulp.

Dit was baie luid.

Dit was in ’n baie hoë stemtoon (high-pitched) (2208)

Wat sê, “Nee, asseblief, asseblief, nee.” (2209)

Ons slaap met sommige van die ligte aan. (2214)

 .........

(Dit blyk dus dat die huis waar dr Stipp gesien het bykans al die ligte aan was die huis van die Hlengethwa gesin was.)

Hlengethwa se vrou, Hilary het soos volg getuig, in ooreenstemming met die verklaring wat sy voor kaptein van Aardt afgelê het:

Ek het iemand hoor sê, “Help! Help! Help!”

Dit het soos ’n manlike persoon geklink.

Ek hoor toe die klank van ’n manlike persoon wat huil/skree... iemand wat dringend hulp nodig het.

...’n hoë stemtoon (vibrato) (2236)

Ek het nooit ’n vrou hoor skree nie. (2241)

...........

Die buurvrou aan die ander kant van Pistorius se huis, Rika Motseki Motshuane, het soos volg getuig, weereens in ooreenstemming met die verklaring wat kaptein van Aardt geneem het:

Ek het ’n man hoor huil/skree en vir my was die skree, U Edele, ’n skree in pyn. (2249)

Dit was baie luid en baie naby.

Die geskree was aanhoudend. (2250)

Ek het net ’n man hoor skree. (2253)

...........

Hierdie getuies se getuienis is nie in kruisverhoor betwis nie. Die getuienis dui daarop dat die persone wat reg langs Pistorius gewoon het – die Hlengethwas en mev Motshuane – ’n geskree in ’n man se stem gehoor het terwyl die getuies wat verder weg was, in die geval van Michelle Burger en Charl Johnson, 175 meter ver, ’n geskree in ’n vrou se stem gehoor het. Die teenstrydige vertolkings van hierdie twee groepe getuies kan versoen word. Die getuienis van Michael en Hilary Hlengethwa verskaf die sleutel: ’n manlike persoon wat skree... ’n baie hoë stemtoon (high-pitched) (2208) en ...’n hoë stemtoon (vibrato) (2236). Dus, net soos die houe met die krieketkolf teen die toilet se deur vir getuies soos skote met ’n vuurwapen geklink het, so het Pistorius se geskree in ’n baie hoë stemtoon, vibrato vir eerlike getuies soos Johan Stipp, Michelle Burger en Charl Johnson, foutiewelik soos ’n vrou se stem geklink.

Die getuienis wat tot dusver aangehaal is, het die vervolging se teorie dat Pistorius vir Reeva geskiet het na ’n argument tussen hulle ernstig ondermyn; soveel so dat aangevoer kan word dat dit die vervolging se saak van ’n beplande moord gerig op Reeva Steenkamp fataal gekelder het.

VI

Die goeie-trou beginsel

Die verhoorhof het later Stipp, Burger en Johnson se getuienis oor die geskree en die laaste stel plofgeluide so afgemaak:

Dit het gedurende die verhoor duidelik geword dat sekere geluide wat die getuies vertolk het as geweerskote in werklikheid nie geweerskote was nie, maar die klank van ’n krieketkolf teen die deur van die toilet. Dit is ook nie betwis dat die skote eerste gevuur is en dat die houe teen die deur, met ’n krieketkolf, daarna gevolg het nie. (3290-1)

 ..........

Ek dink nie dat mnr Johnson en me Burger oneerlik was nie ... Hulle het eenvoudig oorgedra wat hulle gedink het hulle gehoor het. Hulle het hulle, nietemin, eerlik misgis met betrekking tot wat hulle gehoor het, soos die kronologie van die gebeure sal aandui. (3292)

 ..........

In sy beskrywing van die hoofbesering het Professor Saayman getuig dat dit ’n “onmiddellike onbevoeg-makende besering”[immediately incapacitating injury] was. ’n Persoon wat ’n wond van daardie aard opdoen sal feitlik onmiddellik onbevoeg wees om ’n vrywillige handeling van enige aard uit te voer. Hy of sy sal waarskynlik ook onmiddellik bewusteloos wees. (3295)

 ..........

Die skote was kort na mekaar gevuur. Na my mening, beteken dit dat die oorledene nie in staat sou wees om uit te roep of te skree nie, ten minste nie op die wyse beskryf deur die getuies wat oortuig was dat hulle ’n vrou herhaaldelik hoor skree het nie. Die enigste ander persoon wat kon skree is die beskuldigde. (3295)     

 ..........

Die Nasionale Vervolgingsgesag (die NVG) het op die beslissing van die verhoorhof (regter Masipa en haar assessore) gereageer deur ’n persverklaring uit te reik:

Die Nasionale Vervolgingsgesag van Suid-Afrika respekteer die bevindings van die hof vandag. Nietemin, dit is belangrik om te noem dat die aanklaers van meet af aan geglo het dat daar voldoende getuienis was om ’n suksesvolle vervolging op die klagtes wat teen die beskuldigde gelê is, te verseker...

...........

Die beginsel waarna die NVG se woordvoerder verwys het, is die goeie-trou beginsel. Daardie beginsel word in die Ontwerp Reëls van Professionele Gedrag van die Amerikaanse Balie-Genootskap soos volg beskryf:

Advokaat

Reël 3.1 Verdienstelike eise en betoë

’n Advokaat mag nie ’n regsproses instel of verdedig of ’n feit daartydens aanvoer of betwis nie, tensy daar ’n regs- of feitebasis bestaan om so te doen wat nie beuselagtig  is nie...

...........

Die  Gedragskode vir Lede van die Nasionale Vervolgingsgesag wat vanaf 18 Oktober 2010 geld (die NVG Gedragskode) behandel die goeie-trou beginsel soortgelyk:

    1. 1. Aanklaers moet hulle pligte regverdig, konsekwent en onverwyld uitvoer en –

(d) by die instelling van strafregtelike verrigtinge, optree wanneer ’n saak verantwoord is deur getuienis wat redelikerwys geglo word betroubaar en toelaatbaar is, en [moet] nie voortgaan met ’n vervolging in die afwesigheid van sodanige getuienis nie... 

Die vraag ontstaan of die vervolging oor die betroubare getuienis wat die NVG se Gedragskode voorsien beskik het om ’n klagte van moord met voorbedagte rade te regverdig, of om met so ’n klagte voort te gaan nadat Estelle van der Merwe, Peter Baba, Johan Stipp, Michelle Burger, Charl Johnson en kaptein Mangena getuig het.

In Van der Westhuizen v S 2011 (2) SACR 26 (SCA) het appèlregter Cloete met verwysing na uitsprake van die howe in Kanada, Suid-Afrika self, Engeland, Australië en Ierland die aanklaer se posisie soos volg opgesom:

[D]it is ’n aanklaer se plig om ’n saak ferm, maar regverdig, en sonder emosie op te stel en aan te bied, gebaseer op wat voorkom as geloofwaardige getuienis, en om die getuienis van die beskuldigde en verdedigingsgetuies in twyfel te trek met die doel om daardie getuienis onder verdenking te plaas, met die spesifieke oogmerk om ’n skuldigbevinding te bewerkstellig...

Dit kan nie oorbeklemtoon word nie dat die doel van ’n strafsaak nie is om ’n skuldigbevinding te verkry nie... Die rol van aanklaer sluit uit enige idee van “wen of verloor”... [Boucher v The Queen]

Die Verenigde State se Prokureur is die verteenwoordiger, nie van ’n gewone party tot ’n geding nie, maar van ’n soewerein... wie se belang, gevolglik, in ’n strafsaak vereis nie dat dit die saak moet wen nie, maar dat geregtigheid moet geskied... [Berger v US]

VII

Dit sou voortydig wees om op hierdie stadium die vraag wat hierbo gestel is te probeer antwoord.

Wat staan ’n aanklaer dan te doen wanneer hy of sy kan sien, of behoort te sien, dat die getuienis in die polisiedossier onvoldoende is om ’n spesifieke aanklag te regverdig? Daar kan selfs ’n situasie wees waar die aanklaer moet besluit om ’n besondere getuie te roep of nie te roep nie wanneer daar twyfel bestaan, of behoort te bestaan, oor die betroubaarheid van die getuie se waarnemings of die geloofwaardigheid (eerlikheid) van die getuie. Daar is ’n voorbeeld van die toepassing van hierdie beginsel in die saak van O.J. Simpson. Simpson is met bloed verbind met die moordtoneel waar sy eie bloed gevind is. ’n Balaklawa met hare wat met syne ooreengestem het, is ook op die toneel gevind, asook ’n handskoen met beide sy slagoffers se bloed. Sy slagoffers se bloed is in sy motor gevind, en op die tweede handskoen agter sy huis, en ook op een van sy sokkies wat onder sy bed gevind is. Dit was alles omstandigheidsgetuienis. Wat die aanklaers kortgekom het, was ’n ooggetuie wat Simpson op die moordtoneel kon plaas. Daar was wel so ’n persoon, ’n vrou wat kon getuig dat sy Simpson se Ford Bronco voor die huis waar die moorde plaasgevind het, gesien het, juis op die tydstip toe die moorde moes gebeur het.

Tydens ’n onderhoud met die polisie en die aanklaer het die getuie egter ’n leuen vertel oor ’n feit wat met die meriete van die saak (haar waarnemings) niks te doen gehad het nie, maar wat haar geloofwaardigheid aangetas het. In The Run of his Life: The People v. O. J. Simpson deur Jeffrey Toobin (Random House 1997) haal die skrywer die aanklaer (Marcia Clark) se voorlegging van die beskikbare getuienis voor die Grand Jury aan:

“Aangesien dit ons plig is as aanklaers om slegs daardie getuienis aan te bied ten opsigte waarin ons 110% vertroue het met betrekking tot die waarheid en betroubaarheid daarvan, moet ek u nou vra om die verklaring van [X] geheel en al te verontagsaam...” [128 - 2015 slapband uitgawe]

Toobin, self ’n ervare aanklaer, voeg sy eie kommentaar daarby, soos volg:

... Clark se veroordeling van [X] voor die groot jurie [grand jury] het ’n hoë graad van aanklaers-etiek ten toon gestel, want aanklaers behoort nooit getuienis aan te bied wat hulle minder as ten volle geloofwaardig vind nie. [128]

By Simpson se verhoor is daardie getuie nie geroep nie, en die aanklaers het geen melding gemaak van die inligting wat sy verskaf het nie.

Die vervolging se saak van ’n koelbloedige moord wat gevolg het op ’n rusie en ’n bakleiery tussen Pistorius en Reeva Steenkamp was aan flarde; teen die derde of vierde dag van die verhoor al, en die getuienis wat gelewer is, was volkome in ooreenstemming met wat daardie getuies ’n jaar tevore in hulle polisieverklarings gesê het.

Die vervolging was egter nie sonder addisionele ammunisie nie. Die aanklaers kon betoog vir ’n skuldigbevinding aan moord op ’n alternatiewe basis, naamlik dat Pistorius bedoel het om die gewaande inbreker te vermoor, en dat dit irrelevant was dat hy vir Reeva in plaas van ’n inbreker getref het. Die vervolging kon ook addisionele inligting tot sy beskikking gehad het wat nie uit die saakrekord blyk nie. Daar was ook die volgende items van indirekte oftewel omstandigheidsgetuienis:

(i) Die blote feit dat Pistorius 4 skote afgevuur het terwyl hy nie geweet het wie agter die deur was nie:

(ii) Die feit dat Pistorius nie eers seker gemaak het dat Reeva veilig was nie;

(iii) Sy gebruik van sogenaamde Black Talon ammunisie;

(iv) Sekere WhatsApp boodskappies wat tussen die paartjie gewissel het, wat daarop kon dui het dat Pistorius by tye ongeduldig en kortaf met Reeva was en dat sy ongelukkig was oor die manier waarop hy haar by tye behandel het;

(v) Onverteerde voedsel wat in Reeva se maag gevind is, wat op die patoloë se getuienis sou aandui dat sy ongeveer twee uur voor haar dood ’n maaltyd geniet het;

(vi) Die feit dat Reeva haar selfoon saam met haar in die toilet ingeneem het;

(vii) Daar was ’n verdere drie klagtes op die klagstaat wat, individueel en gesamentlik, sou aandui dat Pistorius nalatig en selfs roekeloos was in sy hantering van vuurwapens. Hy het na bewering ’n skoot deur die sondak van ’n motor afgevuur terwyl hy en vriende op die snelweg gery het; hy het ammunisie in sy kluis gehad vir ’n vuurwapen waarvoor hy nie ’n lisensie gehad het nie; en hy het ’n vuurwapen nalatiglik hanteer in ’n restaurant toe ’n skoot daar afgevuur is.

Of hierdie omstandighede, indien bewese, voldoende was om ’n klagte van moord met voorbedagte rade te regverdig, vereis dat die kruisverhoor van Oscar Pistorius onder oë geneem word want met kundige kruisverhoor kon die aanklaer dalk die leemtes in die vervolging se saak aanvul.

VIII

Die kruisverhoor van Oscar Pistorius

Toe Pistorius besluit om self te getuig het die vervolging die geleentheid gekry om met omsigtige en versigtige kruisverhoor addisionele feite voor die hof te plaas, en om twyfel te skep oor die egtheid van Pistorius se weergawe en sy geloofwaardigheid. Terwyl getuienis-in-hoof in kronologiese volgorde gelei word, is kruisverhoor tematies. Die kruisvraer ontgin een na die ander tema soos dit vir die advokaat se saak dienstig voorkom. Temas wat voor die hand liggend was in die kruisverhoor van Oscar Pistorius sluit die volgende in: (i) Die wapen- en ammunisie-klagtes dui daarop dat hy roekeloos was met vuurwapens; (ii) Sy apologie aan die Steenkamp familie kon voorgestel word as geveins; (iii) Die feit dat onverteerde voedsel in Reeva se maag gevind is, beteken dat sy so kort as twee uur voor haar dood iets geëet het, wat beteken dat sy wakker was (dit sou by Estelle van der Merwe se getuienis oor ’n argument inpas); (iv) Pistorius se eedsverklaring wat tydens die borgaansoek ingehandig is en sy pleitverduideliking wat tydens die pleitprosedure ingehandig is kon uitgebuit word om weersprekings te vind.

Effektiewe kruisverhoor vereis gehoorsaamheid aan die basiese tegnieke van kruisverhoor, m.a.w., die wyse waarop die kruisvraer die vrae stel, asook die regs- en etiese beginsels wat die perke vir toelaatbare kruisverhoor neerlê. Die “tien gebooie” van kruisverhoor van professor Irving Younger (The Advocate’s casebook: The essentials of trying a Case Prentice Hall 1988) word algemeen in die Engelssprekende wêreld gehoorsaam en het die volgende strekking:

Wees kort (van duur)

Gebruik kort vrae en eenvoudige woorde

Vra slegs leidende vrae

Vra slegs vrae waarop jy die antwoorde ken

Luister na die getuie se antwoorde

Moenie met die getuie stry nie [argumenteer]

Moenie die getuie toelaat om sy getuienis-in-hoof te herhaal nie

Moet nooit die getuie toelaat om enige iets te verduidelik nie

Vermy die “vraag te veel”

Weerhou die finale punt vir die slotbetoog

Pistorius se kruisverhoor het oor vyf dae met elf sessies en ’n tydsduur van meer as dertien uur gestrek. Die Kanadese advokaat, Scott K. Fenton, het Pistorius se kruisverhoor soos volg beskryf:

Nel het oor die volgende vyf dae ’n boosaardige kruisverhoor ontketen.

Nel was aggressief, neerhalend en het hom (Pistorius) dikwels getreiter om die vraag te antwoord.

Nel het op verskeie geleenthede sy (eie) mening uitgespreek oor Oscar se geloofwaardigheid en skuld, hom talle kere trompop as ’n leuenaar uitgekryt, en daarop aangedring dat Pistorius kommentaar moet lewer oor die korrektheid van die getuienis wat deur ander getuies gelewer is.

Nel het so ver gegaan om Pistorius te ondervra oor beskermde mededelings met sy eie advokaat en het daarop aangedring Pistorius moet verduidelik waarom sy verdediging-span nie sekere getuies geroep het nie of sekere vrae nie in die kruisverhoor aan staatsgetuies gestel het nie.

Volgens Kanadese standaarde was die kruisverhoor deur Nel met betrekking tot die skietbaan video opvallend onbehoorlik.

  • The Trial of Oscar Pistorius: Crossing the Line, Journal of the American College of Trial Lawyers, Issue 77, Winter-Spring 2015, 79

Die beginsels wat Fenton in gedagte gehad het, word universeel toegepas in regstelsels wat die Engelse bewys- en prosesreg geërf het, soos Suid-Afrika ook. Afgesien van algemene beginsels wat vir alle advokate geld, is daar spesiale beginsels wat op die kruisverhoor van ’n beskuldigde (en sy getuies) deur ’n aanklaer van toepassing is. Daardie beginsels is in S v Gidi and Another 1984 (4) SA 537 (C) uitgespel en in talle ander sake toegepas, sowel voor en na die Grondwet van 1996 in werking getree het. Daar is 10 Gidi-reëls:

  1. Die kruisondervraging van ’n beskuldigde moet altyd onpartydig wees en mag nie bevooroordeeld teenoor hom wees nie.
  2. Die aanklaer mag nie getuienis of feite wegsteek of weerhou wat die beskuldigde mag bevoordeel of as ’n versagtende omstandigheid mag dien nie.
  3. Die doel van kruisverhoor deur ’n aanklaer is om die hof by te staan in die ondersoek na die feite van die saak en die behoorlike uitvoer van geregtigheid.
  4. Behoorlike kruisondervraging laat nie die onnodige intimidasie van die beskuldigde toe nie. ’n Aanklaer behoort nie die beskuldigde te boelie deur hom te beledig of te oordonder of deur ’n dominerende houding in te neem wat geen teenspraak deur die beskuldigde toelaat nie.
  5. ’n Aanklaer mag nie ’n beskuldigde onnodig bespot of uittart nie.
  6. ’n Aanklaer mag nie ’n beskuldigde se gevoelens aantas om hom te provokeer om kwaad te word nie, of op sy emosies speel om ’n onregverdige voordeel te trek en hom te verhoed om vrae na die beste van sy vermoë te antwoord.
  7. ’n Beskuldigde moet ’n regverdige geleentheid gegee word om die vrae te antwoord wat aan hom gestel word. Sy antwoorde mag nie onderbreek word nie. Die volgende vraag moet nie gevra word voordat die vorige een volledige beantwoord is nie.
  8. Vrae moet in ’n verstaanbare vorm wees sodat die getuie behoorlik kan antwoord. Meervoudige vrae, maw, ’n reeks vrae wat eensklaps ’n antwoord vereis moet vermy word.
  9. ’n Aanklaer moet afbrekende kommentaar op die getuienis van die beskuldigde, sy gedrag, onbetroubaarheid, gebrek aan geloofwaardigheid of oneerlikheid terughou vir sy betoog aan die hof, en dit nie gebruik as ’n aanvalswapen teen die getuie gedurende kruisondervraging nie.
  10. ’n Aanklaer moet hom nie so met die staatsaak vereenselwig dat hy sy objektiwiteit verloor nie. Hy moet hom nie persoonlik assosieer met ’n aanval op die beskuldigde in kruisondervraging nie. Hy behoort nie sy persoonlike gevoelens of emosies van vyandigheid, afkeer, afsku of ongeloof te uit deur dit op die beskuldigde uit te haal tydens kruisondervraging nie.

Die vraag wat hier aangespreek word, is nie of Pistorius nie ’n regverdige verhoor gehad het soos Fenton voorstel nie – dit sal moet oorstaan vir ’n tweede artikel - maar of die aanklaer met sy kruisverhoor die vervolging se saak met nuwe feite aangevul het, aan die een kant, en Pistorius se weergawe effektief afgekraak het, aan die ander, om sodoende sy skuld te bewys. Om daardie doel te bereik, het die aanklaer verskeie temas aangepak, soos uit die voorbeelde wat volg blyk.

IX

Die zombie-stopper video

Die heel eerste tema wat die aanklaer aangeroer het, het te doen gehad met ’n video wat nie vroeër aan die verdediging blootgelê is nie. ’n Aanklaer mag nie getuienis aanbied wat die beskuldigde onkant vang nie. Klousule D.2. (g) van die Gedragskode van die NVG bepaal soos volg:

Aanklaers moet voorts- (g) sou gou as wat redelik moontlik is, relevante nadelige en voordelige inligting aan die beskuldigde bekend maak, in ooreenstemming met die reg of die vereistes van ’n regverdige verhoor.

Toe Pistorius se kruisondervraging op 9 April 2014 begin, het die aanklaers ’n video wat later bekend geword het as die Zombie-stopper video gereed gehad in die hof se video-masjien asook ’n foto van Reeva Steenkamp se hoofbeserings gereed om met die druk van ’n afstandbeheerknoppie opgeroep te word. Daardie video was waarskynlik reeds op 25 Maart 2014 in die aanklaers se besit, maar dit is nie vooraf aan die verdediging bekend gemaak nie.

Daar was dus van meet af aan ’n miskenning van Klousule D.2.(g) van die Gedragskode van die NVG, asook van die beginsels wat die Konstitusionele Hof in Shabalala and Others v Attorney-General, Transvaal and Another 1996 (1) SA 725 (CC) neergelê het ten opsigte van die blootlegging van die staat se getuienis en ander inligting in ’n strafsaak.

Die aanklaer het die gebruik van die video so aangevoor:

Nel: Nou kom ons antwoord hierdie vraag. Wat is ’n zombie-stopper?

Pistorius: Ek het geen idee wat ’n zombie-stopper is nie, U Edele.

Was jy al ooit in die teenwoordigheid van enige persoon wat die woord zombie-stopper gebruik het? – Nie wat ek kan onthou nie, U Edele.

Het jy al ooit ’n video gesien van jouself in die teenwoordigheid van persone wat na ’n zombie-stopper verwys? – Ek het nog nooit ’n video van myself gesien waar iemand in die video verwys het na ’n zombie-stopper nie... so ver as wat ek kan onthou, U Edele.

As daar so ’n video op SkyNews was, wat wys waar jy skiet, en iemand wat sê, wat praat oor ’n zombie-stopper, sal jy verbaas wees? – Ek is. Ek sal nie verbaas wees nie. Wat ek sê is dat ek nie kan onthou nie. Jy kan my so ’n video wys en as ek in die teenwoordigheid van so ’n persoon is, dan kan ek daarmee saamstem.

Met plesier. Kan ons daardie video vertoon, asseblief. (1499-1500) 

Pistorius se advokaat het beswaar gemaak teen die gebruik van die video en aangevoer dat dit nie blootgelê is nie en dat die staat nie nuwe getuienis in kruisverhoor mag aanbied nie. Die aanklaer het daarop geantwoord:

Nel: U Edele, ek bied dit nie aan as deel van die staat se saak nie. Dit is nie in my dossier nie. Dit is, nietemin, relevante getuienis op die lang karaktergetuienis wat die beskuldigde aangebied het...

Maar daar is ’n ander aspek, U Edele. Ek het die beskuldigde gevra of hy die video wil sien... Die getuie het self gesê hy wil dit graag sien. Dit is waarom ek dit aangebied het.

U Edele, ek het nie opgestaan en probeer om iets aan te bied wat ek nie aan die verdediging bekend gemaak het nie.

Ek het hierdie getuie gevra, wil jy dit graag sien. Nee, dit is nog beter as dit. Die getuie het gesê, Wys my die video asseblief. (1500-1)

 .........

Wel, U Edele, dit is nie deel van my saak nie. Dit is deel van my kruisverhoor. As die verdediging wil afstaan om die video te sien, ek het nie nou ’n probleem daarmee nie... Maar ek doen dit nie as deel van die getuienis wat ek lei nie. Ek lei dit deur hierdie getuie en hierdie getuie het aangedui dat hy dit graag wil sien en ek is gewillig om dit te wys.(1501)

 ..........

U Edele, ek het ’n vraag gevra. Van daardie vraag wou die getuie die video sien... Die getuie het gevra dat dit gesien word ...(1502)

..........

So, U Edele, my respekvolle submissie is dat die hof dit sal toelaat. Dat die getuie daarvoor gevra het... daarvoor gevra het. (1503)

 ..........

...dit het gebeur U Edele, met die getuie wat sê, kan ek dit sien... hy vra die hof, of hy vra deur die staat, kan ek dit sien. (1505)

Die aanklaer het nié vir Pistorius gevra of hy die video wil sien nie. Pistorius het nié gesê hy wil dit graag sien nie en hy het nie gesê, Wys my die video asseblief nie. Nog minder het Pistorius die hof gevra om die video te sien. Daar is ten minste ’n halfdosyn wanvoorstelling in die aangehaalde passaat. Die aanklaer het homself ook weerspreek met betrekking tot die bewyswaarde van die video. Eers was dit nie deel van die staat se saak nie, maar net daarna was dit nietemin, relevante getuienis wat hy wou aanbied om Pistorius se karakter aan te val.

Die bewysreg laat wel ’n aanklaer toe om ’n beskuldigde se karakter aan te val, maar binne ’n baie eng ruimte, soos wanneer die beskuldigde die karakter van staatsgetuies aanval of getuienis aangebied het oor sy eie goeie karakter.

Die aanklaer het die Zombie-stopper video reeds op 25 Maart 2014 tot sy beskikking gehad en het toe reeds daarop gesinspeel dat hy dit mag gebruik. Dit het bekend geword tydens die kruisondervraging van ’n staatsgetuie (F S Moller) toe die verdediging ’n video wou gebruik. Die aanklaer het beswaar gemaak:

Regter: Het die staat glad nie daarna gekyk nie?

Nel: Glad nie. Ek het geen idee waarna ons kyk nie. Ons kan kyk na YouTube video’s, U Edele, in hierdie hof, waar [persone] skiet na waatlemoene en allerhande goed doen. Ek moet net weet, as ons hierdie [een] doen, miskien kyk ons dan na ander YouTube video’s. (1257)

Daar is ’n implisiete dreigement waar die aanklaer praat van skiet na waatlemoene en ander YouTube video’s.

Die vervolging is na ’n verdaging deur die verdediging – nie die regter nie - toegelaat om die zombie-stopper video te vertoon. Die regter kan dus nie blameer word vir die fiasko wat gevolg het nie. Sy het waarskynlik staatgemaak op die twee ervare advokate wat die staat en Pistorius onderskeidelik verteenwoordig het om die spel streng volgens die reëls te speel, en om tydig beswaar aan te teken wanneer die een of die ander oortree.

Dit blyk toe dat die video by ’n skietbaan geneem is op ’n dag toe Pistorius teenwoordig was. Pistorius skiet na ’n waatlemoen wat uitmekaar spat toe dit getref word. Iemand praat van ’n zombie-stopper, wat waarskynlik verwys na die tipe ammunisie wat Pistorius gebruik het, naamlik Black Talon sagtepunt 9mm patrone. Die idee met daardie ammunisie – wat deur polisiemagte orals gebruik word – is dat die koeël uitsit en oopbars wanneer dit deur ’n sagte teiken soos ’n mens se liggaam trek en dan nie ’n tweede persoon agter die teiken persoon beseer of noodlottig verwond nie. Dit word ook aanbeveel vir persone wat ’n vuurwapen vir selfverdediging wil gebruik en om dieselfde rede.

Die waatlemoen spat in skerwe. Die aanklaer gebruik die voorval soos volg:

Nel: Nou, maar wat ons hier kan sien, is die effek wat die ammunisie op die waatlemoen gehad het. Dit het ontplof. Is ek reg?

Pistorius: Dit is korrek, U Edele.

Jy weet dieselfde het met Reeva se kop gebeur? Dit het ontplof. Kyk net hier. Ek gaan jou wys, meneer Pistorius. Dit het presies dieselfde gevolg, die koeël wat in haar kop in is... [tussenpose] ... – U Edele, ek was daar daardie nag. Ek... [onderbreek]

Dit is dit. – Ek sal... [onderbreek]

[Die aanklaers vertoon ’n foto van Reeva Steenkamp se hoofbeserings op die televisieskerm.]

Nel: Kyk dáár meneer. Ek weet jy wil dit nie doen nie, want jy wil nie verantwoordelikheid neem vir wat jy gedoen het nie, meneer Pistorius!

Pistorius: U Edele, ek hét verantwoordelikheid geneem, deur te wag... Ek wag nie om my lewe te neem nie, maar ek wag vir my tyd [geleentheid?] in hierdie [getuie]bank om my storie te vertel uit respek vir Reeva en vir myself. Ek hét verantwoordelikheid geneem, maar ek gaan nie na ’n foto kyk waar ek geteister word deur wat ek gesien het en gevoel het daardie nag nie! Toe ek Reeva opgetel het, het my vingers haar kop aangeraak, ek onthou. Ek het nie nodig om na ’n foto te kyk nie! Ek was daar!

Nel: Dit is dieselfde ding as ’n waatlemoen! Jy het dit nou in ’n oefening gehad, meneer. Dit is ...[onderbreek]

......... 

Roux: U Edele, dit... [onderbreek]

Nel: Dit is sagter as breins! (1510-11)  

Die Kanadees, Scott Fenton, het so reageer:

Daar was hoegenaamd geen bewyswaarde in óf die video óf die aanklaer se mishandelende [abusive] vrae wat die hof kon help om vas te stel of Pistorius maande later bedoel het om sy meisie te skiet nie. Die uitsluitlike doel van die kruisverhoor op die video was om die beskuldigde te demoniseer in die oë van die hof en sy internasionale toeskouers.

Met ander woorde, Nel het skoktaktiek gebruik om te skok. (op cit 79)

Daar was inderdaad geen bewyswaarde in ’n foto van ’n brein wat ontplof nie. Pistorius het tog van dag een af erken dat hy vir Reeva geskiet het en haar dood veroorsaak het. Die gebruik van die video in tandem met die foto van Reeva se brein wat ontplof  het, het vir Pistorius ontsenu. Pistorius het reeds by verskeie geleenthede fisies naar geword en gebraak wanneer Reeva se beserings beskryf is of by wyse van foto’s en demonstrasies bespreek is. Pistorius het weereens emosioneel in duie gestort. Na die verdediging se beswaar, verloop die verrigtinge soos volg:

Regter Masipa: Wel, ek is van mening dat dit onregverdig is.

Nel: Oukei.

Regter: Kan jy dit net van die skerm verwyder?

Nel: Ja. Ons sal dit doen. Mnr Pistorius... is jy... kan jy voortgaan? – [geen hoorbare antwoord nie]

Regter: Gee hom net tyd.

Nel: [tussenpose]... Mnr Pistorius. Ek sal jou tyd gee. Ek verstaan dat dit moeilik is. So dui net aan wanneer jy gereed is en ek sal dan voortgaan. – [Beskuldigde huil]... [tussenpose]

Nel: U Edele, ek dink ek moet regverdig wees en ek kan sien mnr Pistorius is ontsteld en ek verstaan dat hy ontsteld behoort te wees. So, U Edele... [onderbreking] – [Beskuldigde huil] (1511-12)

Pistorius was in trane en kon nie voortgaan nie.

Fenton het die aanklaer se kruisverhoor oor die Zombie-stopper video beskryf as-

... opsienbarend onbehoorlik ... Gemeet aan Kanadese standaarde, sou hierdie lyn van kruisverhoor as so krenkend, vernederend en ontstellend gereken word dat dit, sonder meer, óf  ’n wanverhoor [mistrial] óf ’n vars verhoor sou regverdig. (op cit 79)

Hier te lande verbied die Gidi-reëls kruisverhoor van hierdie aard. As ’n tema vir kruisverhoor was die Zombie-stopper video so onverwags dat die verdediging nie daarop voorbereid sou wees nie. Advokate antisipeer die temas wat hulle verwag in kruisverhoor gebruik sal word en beplan hulle strategie en berei hulle saak en die betrokke getuies dienooreenkomstig voor. In hierdie geval het die verdediging nie daardie geleentheid gehad nie.

Die kruisverhoor op die Zombie-stopper video was egter effektief deurdat dit Pistorius so ontsenu het dat hy nie weer sy emosionele ewewig herwin het nie.

X

Die apologie aan die Steenkamps

Die aanklaer het met sy tweede tema probeer bewys dat Pistorius ongevoelig was vir die gevolge wat sy handeling op die Steenkamp familie gehad het. As dit so bewys kon word, as ’n feit, dan sou die aanklaer kon aanvoer dat Pistorius ewe ongevoelig was teenoor Reeva Steenkamp, wat dan weer die teorie dat hy haar opsetlik geteiken het, kan ondersteun. Hierdie tema het sy oorsprong in Pistorius sy getuienis-in-hoof toe hy ’n tranerige en emosionele apologie aan die Steenkamp familie aangebied het:

U Edele, mag ek net my getuienis begin deur ’n apologie aan te bied? Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om verskoning aan te bied aan... [getuie baie emosioneel] ... mnr en mev [ huil] ... mnr en mev Steenkamp, aan Reeva se familie, en die persone wat haar geken het, wat vandag hier is, familie en vriende ... [huil]  ... Ek kan my nie die pyn en verdriet en leemte indink wat ek julle en julle familie toegedien het nie... (1361)

Die aanklaer was nie daarmee tevrede nie.

Nel: Laat ons net... mnr Pistorius, jy het jou getuienis begin in hierdie hof met ’n apologie. Is ek reg?

Pistorius: Dit is korrek, U Edele.

Waarvoor het jy om verskoning gevra? – Ek het verskoning gevra, as ek kan onthou, vir die verdriet wat ek... vir die verdriet wat ek die Steenkamp familie en hulle vriende veroorsaak het. Ek kan onthou dat ek verskoning gevra het vir die leemte wat hulle voel ...

.......... 

Jy sien, mnr Pistorius, as dit... as jy oorweeg het om dit te doen, waarom sou jy ’n spektakel in die hof skep, in die openbare domein, in die openbare oog verskoning maak en nie privaat nie? Waarom nie dit só doen nie? – U Edele, ek het nie die geleentheid gehad om die Steenkamps te ontmoet nie. Ek dink nie hulle was gereed nie.

 .........

Weereens mnr Pistorius, jy het nooit aan hulle gedink nie. Jy het nooit gedink oor hoe hulle moet voel nie, hier waar hulle sit in die openbare galery, terwyl jy ’n apologie aanteken. Het jy gedink hoe hulle dit sou ervaar, of het dit net gegaan oor mnr Pistorius? – Ek hét aan hulle gedink, U Edele.

En wat het jy daaroor gedink? – Ek het gedink dit moet baie moeilik wees vir hulle en om te... U Edele, om na iemand te kyk wat hulle dogter se lewe geneem het en daardie persoon te hoor verskoning vra.

......... 

So waarom het jy voortgegaan? Waarom het jy hulle daardeur gesit? Waarom was jy nie nederig genoeg om dit in privaat te doen nie? Reël iets, praat met iemand daaroor en doen dit in privaat? Jy was nie nederig genoeg om dit te doen nie. – Dit is nie waar nie, U Edele.

Waarom het jy dit nie gedoen nie? - U Edele, my advokaat was in kontak met die Steenkamps se regverteenwoordiger en hulle was nie gereed om met my bymekaar te kom nie, U Edele, wat ek verstaan. Dus... dit is waarom dit nie gedoen is nie. (1566-8)

Die volgende dag, op 11 April 2014, moes die aanklaer sy aantyging terugtrek:

Nel: Mag dit die hof behaag, U Edele, Mnr Pistorius. U Edele, ek het ’n versoek ontvang van mev Steenkamp, dat na die verdaging gister sy my ingelig het, deur haar advokaat, dat mnr Pistorius inderdaad gevra het vir ’n ontmoeting met die Steenkamp familie voor die verhoor, maar dat hulle nie gereed was vir so ’n ontmoeting nie, en ek plaas dit op rekord.

Regter Masipa: ... So dit is bevestiging van wat mnr Pistorius gister gesê het...[onderbreek]

Nel: Van wat mnr Pistorius gister gesê het en mev Steenkamp het gevoel dat dit belangrik was dit u dit op rekord plaas. Ek het nie voor gister daarvan geweet nie. (1567)

As die aanklaer ...nie voor gister daarvan geweet nie...  behoort hy nie vir Pistorius daarvan te beskuldig het dat hy ...nie nederig genoeg [was] om dit in privaat te doen nie... In elk geval: Met hierdie tema het die aanklaer eerder daarin geslaag om te bewys dat Pistorius wel besorg was oor die impak wat sy handeling op die Steenkamp familie gehad het, en selfs dat hy opregte berou gehad het vir sy aksies. Die kruisverhoor op hierdie tema was dus teen-produktief.

XI

Maaginhoud

Daar is vroeër aangedui dat Reeva Steenkamp se maaginhoud een van die feite was waarop die aanklaers hulle teorie van moord met voorbedagte rade baseer het. Die vervolging se argument was dat onverteerde voedsel in Reeva se maag beteken dat sy ongeveer twee uur voor haar dood ’n maaltyd gehad het, wat op sy beurt beteken dat sy dan wakker moes gewees het, wat dan weer inpas by die idee dat daar ’n argument tussen haar en Pistorius was wat tot haar dood gelei het. Die kruisverhoor op hierdie tema begin met ’n antwoord wat net daar gelaat kon word om die tema af te rond en ’n feitelike basis vir die slotargument daar te stel.

Nel: Voor ons soontoe gaan, het jy enige verduideliking vir die maaginhoud?

Pistorius: Ek het nie, U Edele. (1795)

Bank the good answers, is die advies wat pupil-advokate ontvang. Die aanklaer het immers die punt gemaak. Prof Younger leer ook, moenie met die getuie kibbel nie. Hou die argument vir die slotbetoog. Maar die aanklaer wou sy slotargument met Pistorius voer, nie met sy advokaat nie, en het hier verskeie van die Gidi-reëls te na gekom:

Nel: Dit is, so ver dit jou saak betref, rampspoedig vir jou weergawe dat agt uur nadat sy geëet het, toe sy gedood is, was daar nog daardie hoeveelheid voedsel in haar maag. Hoe verduidelik jy dit?

Pistorius: Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie, U Edele. Meneer, Professor Botha het gekom en getuig...

Ja, maar jy sien, werklik, Ek gaan jou druk vir ’n verduideliking want beide (sic) professor Botha het toegegee dat ses uur, mens sou verwag dat die maag leeg is nadat iemand geëet het,. Nou praat ons van agt uur en ek wil by jou weet, hoekom? – Ek weet nie, U Edele.

Ek stel dit aan jou dat sy moes geëet het binne twee uur van haar dood. – Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie, U Edele. Dit is... Ons het aandete geniet net na sewe- uur daardie aand, die nag tevore.

Nou het jy... het jy ander deskundiges geraadpleeg in hierdie opsig? – Nee, ek het nie, U Edele.(1795-6)

Die laaste vraag betree die terrein van privilegie, maar dit daargelaat. Die verduideliking volg kort daarna, toe die aanklaer nog nie tevrede was met die feit dat Pistorius nie ’n verduideliking kon aanbied nie.

Nel: Nou daar is ’n verdere aspek, mnr Pistorius, deurdat mev van der Merwe ’n vrou hoor praat het van omtrent twee uur die oggend af. Jy het daardie getuienis gehoor?

Pistorius: Ek het, U Edele. Sy het so gesê.

Nou dit pas in met... dit is moontlik dat dit inpas met Reeva wat eet. Het julle geëet? – Nee, ons het nie geëet nie.

Dan is dit onmoontlik, mnr Pistorius. (1796)

..........

Nel: Nou waarom sal dit, in hierdie besondere geval, nie so wees nie? Waarom sal daar nog steeds voedsel in haar maag wees?

Pistorius: Ek is nie seker nie, U Edele.

Want jy was wakker. Daar kan geen ander verduideliking wees nie. – U Edele, ek dink nie... As sy weer geëet het, ek weet nie of... [onderbreek]

Let daarop dat dit die aanklaer is wat hier die moontlikheid ingevoer het dat Pistorius geslaap het terwyl Reeva iets kon gaan eet het.

Nel: Oukei.

Pistorius: Wat ek sê is, ons het aandete geëet net na sewe-uur. Ek... dit het niks te doen met of ek dan wakker was nie... [onderbreek]

Laat ons... Mev van der Merwe sê sy het ’n vrou hoor praat. – Sy het nie gesê sy het ’n man én ’n vrou hoor praat nie., so ek weet nie, U Edele.

Jy sien... jy argumenteer die saak, jy argumenteer wat mev van der Merwe gesê het, meneer Pistorius, dit is nie goed vir jou geloofwaardigheid nie. Sal jy dit aanvaar? – Ja, U Edele. (1797)

 .........

Nel: Nou kom ons toets wat jy nou net gesê het. Jy’t gesê jy was aan die slaap. Ek... Het jy gesê, “Ek was aan die slaap. Reeva kon geëet het”? (1797)

Pistorius het nié getuig dat hy “aan die slaap” was nie.

Pistorius: Dit is ’n moontlikheid. U Edele, Ek het geslaap. Ek het nie... as dit die getuienis is wat gelewer is, ek het nie... toe ons geëet het, ons het na sewe geëet. Ek weet nie van enige ander tyd wat Reeva geëet het nie, dus...

Maar jy weet die antwoord wat jy nou net gegee het, is onmoontlik. Dit is ’n aanpassing [tailoring], van die getuienis, dat sy kon geëet het want dit is onmoontlik, jy weet dit, nie so nie? – U Edele, ek kan nie kommentaar lewer nie want die enigste keer wat ek van weet is dat ons aandete geëet het net na sewe-uur. (1797-8)

.........

Nel: ... die alarm sou afgegaan het.

Pistorius: As die... of Reeva die alarm afgeskakel het en afgegaan het om te eet en weer boontoe gekom het, weet ek nie, U Edele, ek het geslaap. Ek dink nie sy het afgegaan nie. Soos ek sê, ek... ons het na sewe geëet en dit is die laaste tyd dink ek... [onderbreek]

 .........

Mnr Pistorius, hierdie besondere punt, stel ek aan jou, is rampspoedig vir jou weergawe want dit kan nie, as ’n objektiewe stel feite, inpas by jou weergawe nie. wat sê jy daarvan? – Ek sou met mnr Nel saamstem, U Edele. Ek het nie gedink... Ek kan nie sien hoe Reeva moontlik kon geëet het na sewe-uur nie... (1798-9)

Wat die aanklaer met hierdie kruisverhoor vermag het, was om die moontlikheid dat Reeva opgestaan het en iets gaan eet het terwyl Pistorius geslaap het as ’n alternatiewe verduideliking vir Reeva se maaginhoud op te stel. En dit, nieteenstaande Pistorius se eie getuienis dat hy nie kon sien ...hoe Reeva moontlik kon geëet het na sewe-uur nie... Pistorius kon dalk nie sien nie, maar die persone op die regbank kon.

Een van die assessore het later die maaginhoud-argument finaal die nekslag toegedien deur ’n vraag of twee aan Johan Stander te stel:

Henzen-du Toit: ... net ’n vraag met betrekking tot die alarm se afstandbeheer. Toe die oorledene die sleutel teruggebring het na u huis toe daardie... gedurende die week-periode wat sy in mnr Pistorius se huis gebly het, het sy ook toegang gehad tot die alarm se afstandbeheer?

Johan Stander: Tot die alarm?

Die afstandbeheer, toe sy... [onderbreek] – Ja, sy het die alarm se afstandbeheer gehad, en dit vir my teruggegee.

Weet u of dit moontlik was vir haar om [dit] te aktiveer en de-aktiveer en het sy geweet hoe dit werk? – Sy weet (sic) hoe om die afstandbeheer te aktiveer en de-aktiveer, want ek het haar gevra watter een die regte knoppie is hoe om dit te de-aktiveer, en watter een die regte knoppie is om [dit] te aktiveer en sy het vir my gesê, ja, so sy het geweet. (2168)

Die aanklaer se kruisverhoor was hier weereens teen-produktief, hoofsaaklik omdat hy nie aan die Younger-gebooie en die Gidi-reëls gehoor gegee het nie.

XII

Die wapen- en ammunisie-klagtes

Die aanklaers het Pistorius ook van drie wapen- en ammunisie-oortredings aangekla. Deur Pistorius in dieselfde klagstaat van wapen- en ammunisie-oortredings aan te kla, wat deur die Strafproseswet 51 van 1977 toegelaat word, het die vervolging die geleentheid gekry om Pistorius se algemene houding met betrekking tot die wettige gebruik van ’n vuurwapen teen hom te gebruik. Die strategie was ’n geldige een, en die kruisverhoor met so ’n tema was geregverdig.

Een van die klagtes het beweer dat Pistorius skote deur die sondak van ’n motor gevuur het terwyl hy saam met Darren Fresco en Samantha Taylor gery het. Darren en Samantha is geroep as staatsgetuies en het mekaar weerspreek. Darren is uitgevang in ’n leuen van ’n ernstige aard. Pistorius het die voorval ontken; dit het nooit gebeur nie, het hy beweer. Hy is die geleentheid gegee om die hof te herinner dat Darren en Samantha mekaar weerspreek het toe die aanklaer ’n argument met hom aanknoop.

Nel: Albei van hulle beweer dat jy deur die dak gevuur het. Dit is definitief  ’n leuen?

Pistorius: Dit is ’n leuen, U Edele.

Beide van hulle, onafhanklik van mekaar, sal daardie leuen vertel? – Hulle het albei in die getuiebank kom staan, beide van hulle het verskillende stories gehad met betrekking tot wat gebeur het, met betrekking tot waar dit gebeur het, met betrekking tot hoe dit gebeur het, met betrekking tot die reaksie. Daardie storie was gefabriseer, U Edele. Dit het nooit gebeur nie. Dit was nie die waarheid nie. (1656)

Deur Pistorius te vra om kommentaar te lewer op die geloofwaardigheid van staatsgetuies – wat in elk geval ontoelaatbaar is – is om hom die geleentheid te gee om die staat se saak ’n knou te gee, wat Pistorius dan ook gedoen het.

Nel: Jy weet nie... jy kan nie onthou nie. So as twee van hulle kan, dan moet hulle reg wees.

Pistorius: Ek kan [die voorval] nie onthou nie, U Edele.

Dit is nie die vraag nie. – Dit is wat hulle gesê het. Ek kan dit nie onthou nie.

Nou kom ons argumenteer. As daar twee is... as daar drie persone is, twee weet hulle was daar en een weet nie. Ons sal die twee kies, is dit nie so nie? Vir ’n weergawe. – Ek wil nie met mnr Nel argumenteer nie, U Edele. (1655)

Bertrand Russell se wysheid dat as vyftig mense ’n onnosele ding sê dan bly dit steeds ’n onnosele ding is deur die hof toegepas deurdat die hof die getuienis van die twee wat beweer het hulle kon onthou – Darren en Samantha – verwerp het as onbetroubaar. Die aanklaer se kruisverhoor op hierdie tema het hier ’n ernstige knou gekry.

’n Tweede klagte het beweer dat Pistorius ’n skoot met ’n pistool afgevuur het in ’n volgepakte restaurant, met kinders by die tafel vlak langsaan. ’n Skoot het afgegaan toe Darren ’n gelaaide pistool onder die tafel vir Pistorius aangegee het. Op Pistorius se eie weergawe was hy skuldig en dit was dus nie nodig om hom daaroor te kruisvra nie.

Nel: So, ons het jou in besit van die vuurwapen. ’n Skoot gaan af, maar jy het nie gevuur nie.

Pistorius: Dit is korrek, U Edele.

Ja, sonder om eers... sonder die afgaan van die skoot, sonder ’n skoot wat gevuur word, was dit nalatig in die hantering van die vuurwapen. – Dit was ’n onnosel ding om te doen, U Edele. Dit was nalatig.

Ons weet jy het die vuurwapen gehad toe die skoot afgaan. – Dit is korrek, U Edele.

 .........

Nel: Jy sien... Ek stel dit aan jou, jy lieg. Jy het die skoot afgevuur! Daar is geen ander manier wat die koeël afgevuur kon word sonder dat jy die sneller trek nie. Jy lieg. - Ek respekteer mnr Nel se opmerking, U Edele, maar ek het nie die sneller op daardie vuurwapen getrek nie. (1605-7)

Dit is ondenkbaar dat Pistorius in die heersende omstandighede opsetlik die skoot sou aftrek. Opset is ook nie ’n vereisde vir ’n skuldigbevinding nie; nalatigheid, wat Pistorius toegegee het, is voldoende. Laastens is dit onbetaamlik vir ’n advokaat om ’n getuie uit te skel, soos die aanklaer hier gedoen het, en ook om vir die getuie te sê, Ek stel dit aan jou, jy lieg... Jy lieg. Gidi-reëls #9 en #10 verbied dit uitdruklik:

  1. ’n Aanklaer moet afbrekende kommentaar op die getuienis van die beskuldigde, sy gedrag, onbetroubaarheid, gebrek aan geloofwaardigheid of oneerlikheid terughou vir sy betoog aan die hof, en dit nie gebruik as ’n aanvalswapen teen die getuie gedurende kruisondervraging nie.
  2. ’n Aanklaer... behoort nie sy persoonlike gevoelens of emosies van vyandigheid, afkeer, afsku of ongeloof te uit deur dit op die beskuldigde uit te haal tydens kruisondervraging nie.

Die hof het tog later, nadat die aanklaer hierdie Gidi-reëls reeds by verskeie geleenthede oortree het, hom so vermaan:

Regter: Voor ons voortgaan, asseblief, mnr Nel?

Nel: Ja, U Edele.

Regter: Hou u taal dop.

Nel: Wat het ek gesê, U Edele?

Regter: U skel nie ’n getuie uit as ’n leuenaar nie, nie terwyl hy in die getuiebank is nie.

Nel: O, soos die hof behaag. (1741-2)

Die kruisverhoor op hierdie tema het nie die vervolging se saak verbeter nie want Pistorius was op sy eie weergawe skuldig, wat hy geredelik toegegee het.

Die derde wapen- en ammunisie klagte het gegaan oor .38 ammunisie wat in Pistorius se kluis gevind was, vir welke ammunisie hy nie ’n gelisensieerde vuurwapen gehad het nie. Volgens Pistorius was dit sy pa se ammunisie en het hy sy pa toestemming gegee om dit in sy kluis toe te sluit. Die vraag voor die hof was of Pistorius op die erkende feite vir die doeleindes van die artikel in besit van die ammunisie was. Dit is natuurlik ’n regsvraag. In elk geval, die aanklaer het besluit om daardie regsvraag met Pistorius te debatteer.

Nel: Maar as ek jou vertel dat dit teen die wet is om jou pa se ammunisie te bewaar, sal jy nie daarmee saamstem nie?

Pistorius: As u my dit vertel, dan sal ek dit verstaan.

En dan... as dit teen die wet is, dan pleit jy skuldig. - Dit is nie wat ek gesê het nie, U Edele.

Ek het jou gevra, as dit teen die wet is, sou jy dan skuldig pleit? As jy dit weet? – Ek sal met my advokaat moet sit en bespreek [onderbreek]

 ..........

Nel: Nee. Jy sal nie weer die geleentheid hê nie. Ek vra jóú. Jy het gesê dat as ek jou vertel dit is onwettig, dan sal jy dit aanvaar. Nou wat ek sê is, as ek jou sê dit is onwettig, om jou pa se ammunisie te hê, en jy het, sal jy dan ten minste hierdie keer vir die hof sê jy is skuldig?

Pistorius: U Edele, ek dink beide ek en mnr Nel weet dit is nie so eenvoudig nie. Besit van ammunisie, die reg verskil. Met betrekking tot skuldig wees en nie skuldig nie op die... basis van waarom die ammunisie gehou is. So ek kan nie sê dat ek, ek verstaan waarom hy dit sê nie.

Hoekom? - Maar die p... die ammunisie was nie vir my doeleindes nie, dit was in my kluis. Dit was nie deur my daar geplaas nie.. Dus verstaan ek nie wat hy aan my stel nie, maar ek kan nie sê dat ek my pleit verander nie. (1637-8) 

Daar is regtens ’n verskil tussen jou pa se ammunisie te bewaar en om jou pa se ammunisie [in jou kluis]te hê. Deur die woorde bewaar [to keep] en [to have] alternatief te gebruik, het die aanklaer nie net ’n semantiese fout begaan nie, maar ook die regsbeginsel misgetas en Pistorius toegelaat om die argument te wen. Pistorius het ook getuig dat hy die aanklaer se punt verstaan, nie dat hy dit aanvaar nie. Die hof het hom gelyk gegee en op daardie klagte onskuldig bevind.

Opsommenderwys: Die kruisverhoor op die wapen- en ammunisie-klagtes het geen gunstige feite vir die vervolging se teorie van ’n vooraf beplande en koelbloedige moord op Reeva Steenkamp uitgelok nie.

XIII

Aard en duur van kruisverhoor

Die aanklaer het vir Pistorius vir 5 hofdae in die getuiebank besig gehou (terwyl die totale duur van kruisverhoor van ’n beskuldigde selde langer as twee uur is). Talle vrae is gevra oor die verskille tussen Pistorius se borg-eedsverklaring, sy pleitverduideliking en sy getuienis. Pistorius se antwoorde kom daarop neer dat daardie verklaring, soos ook sy pleitverduideliking, deur sy regspan opgestel is en dat hy geteken het wat hulle aan hom voorgelê het. Alhoewel kruisverhoor wat sulke verskille ontgin op die oog af winsgewend mag gewees het, sou dit nie die regter en assessore beïndruk het nie want hulle sou bewus wees van die feit dat ’n borg-eedsverklaring, ’n pleitverduideliking en getuienis tydens die verhoor elkeen ’n verskillende doel dien, en dat die inhoud en omvang telkens sal verskil.

Uit daardie kruisverhoor kon die aanklaer dus geen wins trek nie.

Soos reeds aangedui het die kruisverhoor oor vyf hofdae gestrek. Pistorius is herhaaldelik uitgevra oor wat op die polisie-foto’s te sien was, oor allerlei nietighede soos die skeuring tussen hom en Samantha Taylor, waar die waaiers in sy kamer gestaan het, die toestand van die gordyne, Reeva se denim-broek wat op die vloer gelê het, of die beddegoed op die kant van die bed was of langs die kant van die bed, oor muurproppe en drade, oor liggies op sy hoë-troustelsel, oor gebeure op die Vaalrivier, op die snelweg en by Dayton, of Pistorius vir Reeva gefluister het of in ’n sagte stemtoon gevra het om die polisie te bel, oor ’n haarknipper, en selfs oor Pistorius se pa se houding teenoor die polisie. Daardie kruisverhoor het nie die hof beïndruk nie. Wat dit wel bereik het was om vir Pistorius uit te put.

Heel aan die einde van sy kruisverhoor het die aanklaer die raamwerk van die vervolging se teorie ingevolge die beginsel in Browne v Dunn (1893) 6 R 67 (HL) so gestel:

Nel: Die hof sal, op die objektiewe feite en die omstandigheidsgetuienis die volgende bevindings maak... (1938)

 ..........

Dat Reeva geëet het binne twee uur voor jy haar geskiet het...

Terwyl sy geëet het, dit is die argument wat me van der Merwe gehoor het

Me van der Merwe het ’n argument gehoor, Reeva wat argumenteer...

Ek stel dit aan jou dat Johnson, Burger en beide Stipps Reeva se bloedstollende gille gehoor het, nie joune nie.

Hulle het gehoor toe sy van jou ontsnap het... (1939)

Jy het vier skote deur die deur gevuur wetende dat sy agter die deur gestaan het. (1939-40)

Dat jy geweet het dat sy met jou gepraat het...

Sy het haarself in die toilet toegesluit. Jy het jouself bewapen met die uitsluitlike doel om haar te skiet en dood te maak en dit is wat jy gedoen het. (1940)

Die vervolging se teorie was egter onhoudbaar omdat dit onversoenbaar was met die getuienis van die vervolging se eie getuies. Hoe het dit gebeur?

Die bewering dat daar ’n argument by Pistorius se huis was, is deur Estelle van der Merwe en Peter Baba gekelder. Dr Johan Stipp het die bewering dat die ligte by Pistorius se huis aan was voor die skietery, afgeskiet. En kaptein Mangena het bewys dat die bewering dat Pistorius eers sy kunsbene aangegespe het voor hy die skote in die deur gevuur het nie met die stille, maar verdoemende getuienis, van die deur self klop nie.

Die vervolging se argument dat dit Reeva was wat so geskree en gegil het, is ook deur die vervolging se getuies self die nek ingeslaan. Die persoon wat aanhou skree het nadat Michelle Burger en Charl Johnson die laaste plofgeluid gehoor het, kon volgens prof Saayman se getuienis nie Reeva Steenkamp gewees het nie, en daardie gevolgtrekking was onvermydelik nog voor Pistorius en sy onmiddellike bure getuig het. Die bloedstollende gille kon toe net van Pistorius af gekom het, sy geskree in ’n hoë, vibrato stemtoon.

Wat oorleef as betroubaar in die vervolging se getuienis is die Stipp-volgorde: Plofgeluide – stilte – geskree – plofgeluide. Die plofgeluide het vir Stipp soos skote met ’n vuurwapen geklink, altesaam agt, maar daar was net vier gate in die toilet se deur. En die Stipp-volgorde pas Pistorius se weergawe soos ’n handskoen. Vier skote gevolg deur vier houe met ’n krieketkolf.

Van plofgeluide gepraat: Plofgeluide wat soos geweerskote klink hoor ons gereeld. Die buis van ’n bamboes wat in ’n brand uitsit en ontplof, die terugplof (backfire) deur ’n motor se uitlaatstelsel, die klank van ’n spyker wat op ’n bouperseel met ’n spyker-geweer (nail-gun) in ’n plank geskiet word. En nou weet ons; ook as mens ’n deur met ’n krieketkolf slaan. Vir ’n alreeds bevreesde bevolking klink elke plofgeluid oombliklik soos ’n AK47; eers daarna word die betrokkenheid van die bamboes, uitlaatstelsel of spyker-geweer bekend. En, natuurlik, die krieketkolf. Dan skud ons ons koppe en lag vir onsself.

In die aanklaer se elle-lange kruisverhoor het ook nie ’n enkele nuwe feit na vore gekom wat die tekortkominge in die vervolging se saak kon verbloem nie. Daar was doodeenvoudig van meet af aan – siende dat die staatsgetuies in ooreenstemming met hulle polisieverklarings getuig het – geen betroubare getuienis wat die vervolging se teorie kon regverdig nie.

Indien die vervolging oor enige addisionele betroubare en toelaatbare getuienis soos beoog deur paragraaf D.1. (d) van die NVG se Gedragskode beskik het om te bewys dat daar ’n argument tussen Pistorius en Reeva was wat tot die skietery gelei het, het dit nie daardie getuienis aangebied nie. Die vervolging se bewerings en die teorie wat daarop gebaseer is tuimel daarsonder soos ’n kaartehuis inmekaar.

Aan die begin van hierdie gesprek is die vraag gestel: Maar wat as daardie bewerings vals was? Wat dan?

Die antwoord is dat Pistorius se aanspreeklikheid op die moord-klagte dan op sy weergawe van die gebeure beslis moes word. En daardie weergawe hoef net redelik moontlik waar te wees.

Hoe het die vervolgingsgesag tot ’n teenoorgestelde gevolgtrekking gekom?

In A M and Another v MEC Health, Western Cape (1258/2018) [2020] ZASCA 89 (31 July 2020) in para [21] het appèlregter Wallis die volgende aangehaal uit die toespraak van Lord Wright in Caswell v Powell Duffryn Associated Collieries Ltd [1938] 3 All ER 722 (HL) by 733E-F:

Afleidings moet versigtig onderskei word van veronderstelling en spekulasie. Die  afleiding kan nie gemaak word as daar nie objektiewe feite is waaruit die ander feite wat bewys moet word, afgelei kan word nie... Maar as daar geen positiewe bewese feite is waaruit die afleiding gemaak kan word nie, dan faal die afleiding en wat oorbly is blote spekulasie of veronderstelling.

Dit blyk dat die vervolging se teorie van ’n moord met voorbedagte rade op Reeva Steenkamp nie op positiewe bewese feite gebaseer was nie, maar op presies die soort veronderstelling en spekulasie waarteen appèlregter Wallis gewaarsku het.

--------------------------------------

In ’n volgende bydrae word die onderskeie uitsprake van die verhoorhof en die howe wat op appèl die saak hanteer het onder die loep geneem om vas te stel hoe die betrokke regters Pistorius se weergawe van die gebeure, sy getuienis en sy verweer hanteer het, en daarna, hoe die gebruik van die Zombie-stopper video moontlik tot ’n regskending gelei het.

  • 18

Kommentaar

  • Gerrie Maritz

    Skitterend logies geskryf. Ek was vir etlike jare ’n staatsaanklaer en vir meer as 20 jaar ’n straf prokureur. Ek het met adv. Barry Roux gewerk en het vir hom die hoogste respek. Ek kan ongelukkig nie dieselfde van Gerrie Nel sê nie. ’n Ander faktor was volgens my die feit dat die ruit hoog was en Oscar met opset laag gemik het. Hy wou dus nie die inbreker doodskiet nie. Ek glo Oscar moes die voordeel van die twyfel kry.

  • Oscar is onskuldig.
    Hy het uit vrees opgetree. Dit sal so wees vanweë die wegspringplek-kondisionering met onmiddellike reaksie plus daarby sy gevoel magteloosheid sonder kunsbene wyl hy rustig probeer slaap. Selfs daardie is genoeg dryf om instinktief op te tree. Hy het bloot reageer.
    Dit is nie ongewoond in die land nie.
    Dit was wel ’n tragedie, waarvan dit nié die enigste gebeurtenis is in SA nie.
    Menigte gryp deesdae na ’n wapen ter beskerming as dekades gelede.

  • Dankie Chris! Ek sal altyd wonder hoekom feitlik al die mense wat met my oor die saak wou praat, omdat ek dit elke dag as joernalis bygewoon het, geglo het dat Oscar ’n jaloerse onvoorspelbare koelbloedige moordenaar was? En hoekom hulle hom so graag vir ewig agter tralies wou sien? En hoekom onetiese gedrag in die hof nie aangespreek is nie?

  • Jy vra nie ’n vraag as jy nie die antwoord ken nie, dit is tog die beginsel vir ondervraging.

  • Van Zyl Mulder

    Ek wil graag iets vra wat my nog heeltyd pla.Hoe het Oscar gedink het die inbreker in die tweede verdieping van sy huis se badkamer gekom. Hy moes moes geweet het dat daar 'n leer by sy oop badkamervenster was. As hy so misdaadbewus en bevrees was, hoekom los hy 'n leer by 'n oop venster.

  • Chris Marnewick SC

    Susan, ek antwoord net die eerste deel van jou vrae: waarom mense so maklik geglo het, en waarom hulle so venynig was. Pistorius is in die media en op sosiale media so afgekraak dat hy as 'n monster voorgestel is. Plaaslik en oorsee. Politici het ook op daardie wa geklim. Tweedens is Michelle Burger se dramatiese getuienis nie op ewe dramatiese wyse ontbloot vir wat dit was nie; 'n eerlike maar foutiewe vertolking van die gebeure. En dit kon maklik gedoen word.

    LNaudé, ek bespreek vrees en sy invloed op die gebeure in die volgende aflewering. Intussen; vrees op sy eie is nie genoeg om 'n skuldigbevinding aan strafbare manslag te vermy nie.

  • Die tydlyn van die oproepe wat deur al die betrokkenes gemaak is, is baie laat in die verhoor deur Barry Roux blootgelê terwyl dit deurslaggewende getuienis was. Vir my was dit 'n verspeelde kans deur die verdediging en ek het iewers gehoor dat daardie inligting eers baie laat bekom is.

  • Wat vir my absoluut onverstaanbaar is is dat Oscar toe hy geluide in die toilet gehoor het nie vir Reeva wat reg langs hom in die bed moes wees wakker gemaak het en haar gevra het om solank sekuriteit te bel terwyl hy gaan ondersoek instel. Enige persoon wat saam met iemand slaap weet daardie persoon is saam met hom in die bed al is dit ook pikdonker. Jy hoor die asemhaling, jy weet die persoon is daar.

  • Chris Marnewick SC

    Van Zyl, soos ek die getuienis gelees het was daar 'n leer buite want daar was bouwerk aan die gang. Die badkamervenster was toe, en blykbaar het Pistorius gehoor toe Reeva die venster oopskuif terwyl hy doenig was met die waaiers en deur en gordyne.

  • Oscar was not in the bed with Reeva when he heard the noise. He had just brought in a fan from the balcony. When he left the bed, he knew Reeva was there. When he heard the noise (whilst out of bed in the dark) it didn’t enter his head that Reeva had slipped out of bed whilst he was fetching in the fan. His immediate and fearful instinct was that it was an intruder. Assuming Reeva was where she had been when he last spoke to her just minutes before, he warned her whilst he went to deal with the (perceived) intruder.

  • Chris Marnewick SC

    Susan, Ek dink nie die verdediging het hulle kanse verspeel met die tydlyn (kronologie) nie. Eerstens doen die meeste advokate altyd so 'n kronologiese tabel van die gebeure, met kolomme vir die tyd, gebeurtenis, bron en kommentaar. Mens kan maar net nie die feite verstaan as dit nie so gerangskik word nie. Die aanklaers het dit klaarblyklik nie gedoen nie, en is onkant gevang toe die verdediging dit voor die hof plaas en daarmee bewys dat die vervolging se teorie deur die kronologiese feite geheel en al vernietig word, veral met die skote wat voor die geskree gehoor is.

  • EK HET NOG ALTYD GEDINK OSCAR WAS SKULDIG - MAAR HET NOG NOOIT DIE FEITE GEANALISEER NIE. CHRIS GEE Ń UITSTEKENDE ANALISE. (EK KEN HOM - SY ANALITIESE DENKE IS ONVERGELYKBAAR - SOOS SY OORTUIGINGSVERNUF.)
    EK HET WEL NOG ALTYD GEDINK HOE TRAGIES DIT WAS DAT DIE PUBLIEK NEL SE AGRESSIE AS GOEIE KRUIS-ONDERVRAGING ERVAAR HET.

  • EK HET NOG ALTYD GEDINK OSCAR WAS SKULDIG - MAAR HET NOG NOOIT DIE FEITE GE ANALISEER NIE. CHRIS GEE Ń UITSTEKENDE ANALISE. (EK KEN HOM - SY ANALITIESE DENKE IS ONVERGELYKBAAR - SOOS SY OORTUIGINGS VERNUF.)
    DIS JAMMER DAT DIE PUBLIEK NEL SE AGRESSIE AS GOEIE KRUIS-ONDERVRAGING ERVAAR HET.

  • Chris Marnewick SC

    Jean, jy vlei my! Al wat ek gedoen het was om die saakrekord te ontleed soos 'n regter op appèl dit sou doen. Met ander woorde, ek het my beperk tot die inhoud van die saakrekord en die tersaaklike regs- en etiese beginsels. Dit is maklik so, en bevrydend, want ek het die geraas van sosiale media, haatspraak en heldeverering kon vermy.

    Tweedens, wanneer 'n aanklaer hom of haarself so sterk op die voorgrond plaas, vervaag die regs- en etiese beginsels alte maklik in die waas in die agtergrond. Vergelyk maar die Rivonia verhoor, waar Percy Yutar ewe sterk op die voorgrond gestaan het. Elke dag voor op die koerante en in die nuus. Maar tegnies onbehep.

    Die fokus in 'n strafsaak behoort nie die aanklaer te wees nie. Let maar op die groot sake van die laaste eeu. Wie was die aanklaer in Daisy de Melcker se saak? In Bram Fischer? Marlene Lehnberg? Robert McBride? Jacob Zuma? Ek kan nog baie ander noem. 'n Aanklaer behoort 'n onsigbare dienaar van geregtigheid te wees, altyd op die agtergrond, soos die NVG se Gedragskode en Van der Westhuizen se saak beklemtoon.

  • Gustaf Pienaar

    Insiggewende ontleding, Chris, wat my eie oortuiging dat hier 'n ernstige regsdwaling was, versterk. Dankie hiervoor. Ek sien uit na die lees van die tweede deel. Die Pistorius-saak herinner aan die eweneens skandalige vervolging van Fred van der Vyver weens die moord op Inge Lotz. Ek het nie toegang tot die Pistorius-saakrekord nie, maar wil my vaagweg herinner dat daar tydens die nadoodse ondersoek bevind is dat Reeva se blaas vir alle doeleindes leeg was. Waarskynlik sou sy teen 03:00 'n behoefte gehad het om haar blaas te ledig. Indien dit korrek is dat haar blaas leeg was - en dat dit nie spontaan nadoods geledig is nie - verbaas dit my dat die implikasies daarvan nie behoorlik verdiskonteer is nie: 'n Minnares wat vreesbevange skuiling van 'n jaloerse minnaar in 'n toilet gaan soek, sal waarskynlik nie terselfdertyd haar blaas ledig nie. Die vraag is of hierdie besonderheid iewers gedokumenteer is. As ek my dit verbeel het, vra ek by voorbaat om verskoning.

  • Chris Marnewick SC

    Hallo Gustaf, Jy is korrek. Reeva se blaas was leeg tydens die nadoodse ondersoek en dit blyk duidelik uit die getuienis van die deskundiges wat op rekord is (Proff Saayman en Botha). Soos jy aanvoer, was dit 'n aanduiding dat sy wel, soos Pistorius se verdediging aangevoer het, dat sy stilletjes toilet toe was terwyl hy met die waaiers en skuifdeur en gordyne besig was. Dit is ongelukkig so dat die algemeen publiek nie deur kundige beriggewing van sulke belangrike feite ingelig is nie. (Daar was ander soortgelyke verontskuldigende feite.) Die tweede deel van my ontleding wat op die hofuitsprake konsentreer het reeds by Litnet verskyn by die skakel hier onder. Intussen wil ek erkenning gee aan jou inspirasie met jou eie artikel op LitNet wat my oortuig het dat ons tog in Afrikaans oor die saak kan skryf. https://www.litnet.co.za/die-staat-versus-oscar-pistorius-n-herbesinning-deel-2/

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top