
Foto: Pexels
- Elsabé Brits skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
In die omvattendste wetenskaplike studie nóg oor wat met vroue se liggame gebeur vóór en ná swangerskap, is gesien hoe essensiële biologiese metings verander word deur ’n fetus te dra en uiteindelik geboorte te skenk.
Dié reuse studie is onlangs deur ’n internasionale span in die vakjoernaal Science Advances gepubliseer. Hulle het met die meeste besonderhede wat tot nog toe bekend is, beskryf presies watter veranderinge in ’n vrou se liggaam gebeur voor en na swangerskap deur data van 44 miljoen fisiologiese metings van 300 000 geboortes te versamel.
Dit is reeds bekend dat veelvuldige sisteme in ’n vrou se liggaam beïnvloed word deur die eise van die fetus tydens swangerskap en die massiewe afskeiding van endokriene hormone deur die plasenta.
Die span het resultate van 76 algemene toetse ingesamel – insluitend metings van kolesterol, immuunselle, rooi bloedselle, inflammasie en die gesondheid van die lewer, niere en metabolisme – van 4,5 maande voor bevrugting tot 18,5 maande na bevalling. Dit het hulle in staat gestel om gemiddelde waardes vir elke toets vir elke week in daardie tydperk vas te stel.
........
“Daar is ’n sosiale verwagting dat jy vinnig terugbons ná bevalling. Hier is biologiese bewys dat jy dit nie doen nie.” – Jennifer Hall, Universiteitskollege in Londen
........
Die studie dui daarop dat die postnatale tydperk in die liggaam baie langer is as wat mense geneig is om aan te neem, sê Jennifer Hall in Nature, wat reproduktiewe gesondheid aan die Universiteitskollege in Londen ondersoek. “Daar is ’n sosiale verwagting dat jy vinnig terugbons ná bevalling. Hier is biologiese bewys dat jy dit nie doen nie.”
Die navorsers het bevind dat in die eerste maand na geboorte 47% van die 76 aanwysers, of toetse, weer na naby hul prebevrugtingswaardes gestabiliseer het.
Maar 41% van die metings het langer as 10 weke geneem om te stabiliseer. Dit het verskeie metings ingesluit van lewerfunksie en kolesterol, wat ongeveer ses maande geneem het om te herstel. Metings van been- en lewergesondheid, neem tot ’n jaar om te stabiliseer tot die basislyn, en soms keer dit nooit weer terug na wat dit voor die swangerskap was nie. Die liggaam verander vir altyd.
Swangerskapsdiabetes, preëklampsie, postpartum bloeding en infeksie is vier van die groot gevare van swangerskap en kraam. Eersgenoemde drie toestande toon dinamiese merkerveranderinge, met sommige toetsresultate wat aansienlik verskil van dié van vroue wat nie hierdie swangerskapverwante komplikasie ervaar het nie
Die navorsing het gewys dat dit dalk in die toekoms moontlik kan wees om die merkers te gebruik om sekere vroue se risiko vir dié toestande te identifiseer voordat hulle swanger raak. Tans kan dit net gedurende swangerskap gediagnoseer word.
Dr Michele Oyen het in ’n tweede artikel in Science Advances geldige stellings gemaak oor die gesondheid van vroue en hoe dit met swangerskap verband hou.
........
“’n Fundamentele vraag ontstaan oor komplikasies tydens swangerskap: Was die swangerskap die bron van die probleem, of het swangerskap bloot die liggaam genoeg gestres om ’n onderliggende patologie te openbaar wat andersins uiteindelik sou ontstaan het?” – Dr Michele Oyen in Science Advances
........
“’n Fundamentele vraag ontstaan oor komplikasies tydens swangerskap: Was die swangerskap die bron van die probleem, of het swangerskap bloot die liggaam genoeg gestres om ’n onderliggende patologie te openbaar wat andersins uiteindelik sou ontstaan het?
“Dit is veral belangrik in kardiovaskulêre siektes, wat wêreldwyd die grootste oorsaak van sterftes by vroue is. Swangerskapfisiologie sluit ’n 50%-toename in bloedvolume en ’n ooreenstemmende 50%-toename in kardiale omset in. Vroue wat kardiovaskulêre komplikasies tydens swangerskap ervaar, dra verhoogde kardiovaskulêre risiko's vir dekades postpartum.
“Dit demonstreer hoe swangerskap self ’n belangrike venster in vroue se gesondheid meer breedweg is en sluit mediese kwessies in wat beide verband hou met, en nie direk verband hou met, voortplanting nie.”
Swangerskap en die brein
Danksy magnetiese resonansbeelding (MRI) kan die brein lewend bestudeer word. Meer as 50 000 vakjoernaalartikels oor menslikebreinbeelding is gepubliseer sedert MRI in die 1990's op die toneel gekom het. Maar daarvan is minder as 0,5% oor gesondheidsfaktore spesifiek van vroue.
Dit is nie die geval dat vroue nie aan kliniese studies wil deelneem nie – die helfte van mense wat geregistreer is vir breinstudies is vroue. Die navorsers en befondsers kies net nie om vrouegesondheid te ondersoek nie.
Dit blyk te wees dat enige breinstreek wat van grootte verander tydens swangerskap, krimp. Talle breinstrukture word aangetas, insluitend die ventrale striatum, wat betrokke is by beloningverwerking, en die hipotalamus, wat ’n rol speel in die beheer van instinktiewe gedrag. Die hippokampus, ’n struktuur wat noodsaaklik is vir geheue, krimp ook tydelik tydens swangerskap.
Maar die impak is die grootste in die serebrale korteks – in gebiede wat inligting van ander streke van die brein integreer, waar ons die meeste van ander diere verskil.
Data toon dat die mate van verandering korreleer met die sterkte van die moeder-baba-band, moederreaksies op babafoto’s en nesgedrag – en omgekeerd is probleme met die proses om met die baba ’n band te smee.
Dit beteken nie die “krimping” is negatief of ’n verlies nie, maar dalk eerder ’n verandering en verfyning. Die data oor wat ná die geboorte gebeur, is nog nie seker nie; meer navorsing is nodig.
Middel teen depressie nou beskikbaar
Wêreldwyd raak postpartum depressie 17% van nuwe moeders – met die hoogste koerse in lae- en middelinkomstelande. Psigose en obsessief-kompulsiewe versteuring kom ook by verhoogde frekwensies voor.
........
Dit is welbekend dat progesteroon vinnig met geboorte daal, maar dit was eers verlede jaar dat die eerste orale medikasie vir postpartum depressie, Zuranolone (beskikbaar in Suid-Afrika as Zurzuvae), goedgekeur is.
........
Hormone is een waarskynlike skuldige. Dit is welbekend dat progesteroon vinnig met geboorte daal, maar dit was eers verlede jaar dat die eerste orale medikasie vir postpartum depressie, Zuranolone (beskikbaar in Suid-Afrika as Zurzuvae), goedgekeur is. Die middel boots ’n progesteroonverwant na en werk op reseptore in die brein om te help om die gemoed ná geboorte te stabiliseer. Die is ’n 14-dag-behandeling wat binne drie dae verligting kan bring.
Die verloskundige dilemma
Die evolusie van hominiede tot by die mens om op twee voete te loop het ons met die verloskundige dilemma gelaat. Paleontologie wys ook dat ons met die koms van vuur beter kos geëet het. Omgewingsdruk, sosiale kompleksiteit en die behoefte aan verbeterde kognitiewe vermoëns was van die faktore wat daartoe gelei het dat ons voorsate op twee bene begin loop en ons hande vry gemaak het vir gereedskapgebruik en die ontwikkeling van groter breine.
Die groter breine by mense het ’n “dilemma” geskep waar ’n breër bekken (wat nodig is vir groter breine en makliker geboorte) in stryd was met die behoefte aan ’n nouer bekken vir doeltreffende tweevoetige beweging.
........
Sal ons verder ontwikkel om makliker geboorte te kan skenk?
........
Vroeë menslike voorouers het geboortekanale gehad wat meer soortgelyk was aan dié van die groot primate van vandag, met die grootste dimensie anteroposterieur georiënteerd (van voor na agter).
Sal ons verder ontwikkel om makliker geboorte te kan skenk? Waarskynlik nie. ’n Groter bekkenbodem en -kanaal sal makliker bevalling moontlik maak. Maar hoe groter dit word sonder bykomende bene of weefsel om dit te ondersteun, hoe waarskynliker is dit om onder die gewig van organe te vervorm en hulle afwaarts te laat val.
Alhoewel die definitiewe tydraamwerk onduidelik bly, het bevallings eers teen 500 000 jaar gelede moeilik begin raak, of dalk eers selfs meer onlangs, as gevolg van landbou se direkte en indirekte uitwerking op die groei en ontwikkeling van beide moeder en fetus.
Lees ook:
Op dees aarde: Die Taung-kind – hoe hy die mens verander het
Vroegste bewyse nóg van moderne mense wat na Europa migreer het

