
Anna Blakney, studieleier aan die British Columbia-Universiteit in Vancouver, Kanada, in ’n laboratorium. Foto: Paul Joseph/UBC
...
’n Entstof wat breër teenliggaampies ontlok, kan help om hierdie virusontsnapping te beperk deur dit vir die virus moeiliker te maak om immuniteit met net ’n paar mutasies te ontduik.
...
’n Omvattende nuwe oorsigstudie wat miljarde dosisse van tans goedgekeurde mRNS-entstowwe beoordeel het, bevestig dat hierdie entstowwe beskerming bied teen Covid-19, insluitend ernstige Covid-19, oor diverse bevolkings, insluitend kinders, swanger vroue en immuunonderdrukte mense.
Die hele bohaai oor dié entstoftegnologie was toe soos verwag nog ’n storm in die teekoppie van sameswerings.
Dit is ook belangrik om te weet dat dié oorsigstudie wat gepubliseer is in The Lancet, nie ’n enkele studie is nie. Dit is ’n tipe studie wat die vorige kliniese bewyse saamvat. Dit gebruik ’n streng, voorafbepaalde metodologie om alle empiriese bewyse wat aan spesifieke geskiktheidskriteria voldoen, te ondersoek, krities te beoordeel en te sintetiseer.
Deur middel van gedetailleerde analise van gepubliseerde data uit laboratoriumnavorsing, kliniese proewe en werklike toesig oor miljarde mRNS-entstofdosisse, het die outeurs die wetenskap agter mRNS-entstowwe en hul impak op openbare gesondheid beoordeel.
“Oor miljarde toegediende dosisse was ernstige newe-effekte skaars, goed gekarakteriseer en konsekwent oortref deur die aansienlike beskerming wat teen ernstige siektes, hospitalisasie en dood gebied word,” het Anna Blakney, studieleier aan die British Columbia-Universiteit in Vancouver, Kanada, in ’n persverklaring gesê.
Byvoorbeeld, terwyl voorvalle van miokarditis en perikarditis (hartverwante inflammasie) ná inenting tydens werklike toesig waargeneem is, was dit skaars, met koerse van ongeveer 12,6 gevalle per miljoen vir die Pfizer-BioNTech-entstof en ongeveer 35,6 gevalle per miljoen vir die Moderna-entstof.
Dit is belangrik dat die risiko van hierdie komplikasies aansienlik laer was as die risiko van miokarditis en perikarditis ná die opdoen van die virus.
Ander ernstige newe-effekte was ook baie skaars. Byvoorbeeld, die risiko van anafilakse wat met die Pfizer-BioNTech-entstof geassosieer word, was 4,7 gevalle per miljoen dosisse. Die meeste ander newe-effekte, soos seer arms, moegheid of koors, was lig tot matig en het na ’n paar dae bedaar.
Die analise het bevind dat mRNS-entstowwe oor verskeie kliniese proewe en werklike data ongeveer 87% effektief is teen enige gedokumenteerde Covid-infeksie, 93% effektief teen hospitalisasie en 94% effektief teen mortaliteit binne 14–42 dae na inenting.
Doeltreffendheid het mettertyd afgeneem en is in sommige ontledings verminder deur ouderdom en teen die Omicron-afstamming (67% teen infeksie en 72% teen hospitalisasie), maar skraagdosisse het gehelp om die beskerming te herstel.
Die toekoms
“Dit gaan regtig oor wat volgende kom,” het Blakney gesê. “Ons sien dieselfde platform wat toegepas word op kankerbehandeling en ander siektes. Om te verstaan hoe hierdie entstowwe werk – en hoekom hulle veilig is – help om vertroue in die volgende generasie geneeskunde te bou.”
Die outeurs beklemtoon die belangrikheid van vertroue, toegang en gelykheid. Terwyl mRNS-entstowwe hoogs effektief bewys is, was die wêreldwye opname ongelyk, deels gevorm deur waninligting en historiese openbare wantroue in gesondheidstelsels.
So kan mRNS teen kanker veg
Dié tegnologie word tans nagevors vir gepersonaliseerde terapeutiese kankerentstowwe wat ontwerp is om ’n pasiënt se immuunstelsel te aktiveer om spesifieke tumorselle te teiken en te vernietig, met proewe aan die gang vir melanoom-, pankreas- en breinkanker.
mRNS-entstowwe is voor Covid ondersoek, juis vir kanker, en danksy dié snelle ontwikkeling, is daar nou jare se voorsprong gemaak in die kankerveld.
In wese lei dit die liggaam se immuniteitstelsel op om kankerselle te herken en te vernietig. In plaas daarvan om die hele liggaam met chemikalieë soos chemoterapie te behandel, gebruik dit genetiese instruksies om die immuunstelsel te help om die kanker presies te teiken, terwyl gesonde selle ongedeerd gelaat word.
Omdat elke pasiënt se kanker uniek is, kan die mRNS aangepas word om verskillende mutasies in daardie persoon se spesifieke gewas(se) te teiken. Veral in kankers wat moeilik is om te behandel.
Eerstens moet die gewas se geenreekse bepaal word, om te soek na spesifieke mutasies of unieke proteïene (neoantigene) wat slegs op die oppervlak van daardie pasiënt se kankerselle bestaan.
’n mRNS-bundel wat die “resep” bevat om hierdie spesifieke kankerproteïene te bou, word in ’n laboratorium geskep. Dit word toegedraai in ’n klein, beskermende borreltjie vet wat ’n lipied-nanopartikel genoem word. Hierdie lipiedlaag lewer die mRNS veilig in die liggaam af sonder dat dit vernietig word.
Sodra dit binne jou selle is, verskaf die mRNS tydelike instruksies aan jou sellulêre masjinerie om die kankerproteïen te vervaardig. Jou sel vertoon dan hierdie onskadelike stukkie van die proteïen op sy buitenste oppervlak, wat dit in wese as vreemd aandui.
Die immuniteitstelsel is opgelei en vermeerder miljarde T-selle wat deur die bloedstroom sirkuleer. Dit spoor die werklike gewas op en vernietig die kankerselle wat daardie spesifieke proteïene dra.
Griep – en die toekoms van mRNS-entstowwe
Daar is jaarliks wêreldwyd ongeveer een miljard gevalle van seisoenale griep.
Ernstige siekte: Dit lei tot 3 tot 5 miljoen gevalle van ernstige siekte.
Respiratoriese sterftes: Tussen 290 000 en 650 000 individue sterf aan lugweginfeksies wat direk met griep verband hou.
Kardiovaskulêre sterftes: ’n Bykomende 300 000 sterftes word na raming veroorsaak deur griep-geïnduseerde kardiovaskulêre komplikasies.
Griepvirusse verander soos hulle van persoon tot persoon versprei en neem oor tyd klein genetiese mutasies op. Sulke veranderinge word gedryf deur immuundruk, wat die virus dwing om effens te muteer om aan die teenliggaampies te ontsnap.
Uiteindelik verander die virus se oppervlakproteïene genoeg dat immuunbeskerming teen vorige infeksies of inentings dalk nie meer ten volle teen nuwe stamme sal werk nie.
’n Entstof wat breër teenliggaampies ontlok, kan help om hierdie virusontsnapping te beperk deur dit vir die virus moeiliker te maak om immuniteit met net ’n paar mutasies te ontduik.
Intussen word vandag se entstowwe maande voor die griepseisoen gemaak as gevolg van ’n lang vervaardigingsproses. Wanneer projeksies verkeerd is, kan stamwanpassing die doeltreffendheid van die griepentstowwe verminder.
In ’n onlangse fase 3- kliniese studie het Moderna bevind dat sy mRNS-gebaseerde griepentstof die risiko van siekte met 26,6% meer verminder het as die standaardgriepentstof by ouer volwassenes. Om moontlike oorsake van hierdie verbeterde beskerming te verstaan het die nuwe studie ondersoek hoe immuunresponse op die mRNS-gebaseerde griepentstof verskil van dié van die standaardentstof.
Beter beskerming teen dodelike virusse en kankers is verblydende nuus. En die hoop is dat veral die terapeutiese mRNS-entstowwe teen dodelike en moeilik behandelbare kankers meer toeganklik en goedkoper sal wees as die huidige immunoterapieë.
Erkenning
Die kopieregooreenkoms behels dat die foto’s slegs deur joernaliste wat die persverklarings ontvang en die media wat die joernaliste se werk publiseer, gebruik mag word: https://www.msl.ubc.ca/people/dr-anna-blakney/.
Lees ook:
Oxford se breins en ’n siek sjimpansee, so maak hulle entstof in ’n kort tyd

