
...
Waarom nie langer uithou nie? Die kort antwoord: Die tyd was besig om vinnig uit te loop.
...
Aan die einde van die 1980’s het Suid-Afrika onverbiddelik afgestuur op selfvernietiging. Die intelligensiegemeenskap (IG) het die regering gewaarsku dat die situasie “op ’n kort tydskaal kan eskaleer tot ’n omvangryke krisis”. Die regering is skaakmat gesit. Daar moes ’n uitweg gevind word. Verandering was onvermydelik.
Die vaste lede van die IG was die Nasionale Intelligensiediens (NI), die Veiligheidstak van die SA Polisie (VT) en Militêre Inligting (MI) van die SA Weermag. Die Departement van Buitelandse Sake is permanent gekoöpteer.
Op 2 Februarie 1990 het pres FW de Klerk ’n koersverandering aangekondig. Apartheid word afgeskaf en die bevrydingsbewegings ontban. Waarom so ’n radikale stap? het talle gevra. Suid-Afrika het immers oor die sterkste weermag en ekonomie in Afrika beskik. Waarom nie langer uithou nie? Die kort antwoord: Die tyd was besig om vinnig uit te loop.
Hierdie artikel fokus op die veiligheidsituasie in Suid-Afrika ten tye van De Klerk se aankondiging. Daar word gekyk na die omvang, aard en intensiteit van die aanslag soos op daardie stadium. Die regering se hantering van die veiligheidsituasie, pogings om dit op nie-veiligheidsmaniere te hanteer, asook die beplanning en voorbereiding vir onderhandelinge, val buite die bestek van hierdie oorsig.
Opmerking: Die term “aanslag” word dikwels gebruik. Hoewel nie in alle opsigte korrek nie, word dit gerieflikheidshalwe as ’n generiese term gebruik vir die hele spektrum van die aandrang vir verandering.
Onbegrip
Baie het die dringendheid nie verstaan nie. Die rede is waarskynlik toe te skryf aan die geheimhouding van daardie jare. Inligting is selektief deur die owerhede beskikbaar gestel en beriggewing deur die media is deur noodmaatreëls aan bande gelê. Die publiek is nooit ten volle ingelig oor die volle omvang en intensiteit van die aanslag nie. Hulle was dus nie bewus van die onderliggende revolusionêre situasie in die land nie. Ook nie van die druk op die regering van die kant van saakmakende nie-radikale instansies binne- en buitelands nie.
Nog ’n rede vir die onbegrip was die relatiewe stabiliteit wat op daardie stadium geheers het. Op die oppervlakte het die veiligheidsituasie oënskynlik rustig voorgekom. Wat vergeet word, is dat toe De Klerk sy toespraak gehou het, die nasionale noodtoestand steeds in plek was. Streng veiligheidsmaatreëls het onrus en onlus kragdadig in bedwang gehou. Daar was nie ’n kans om die noodtoestand te lig sonder die gevaar dat chaos, erger as die Junie-onluste in KwaZulu-Natal in 2021, dwarsoor die land kon uitbreek nie. Dryfkragte onder die oppervlak was besig om momentum op te bou ten gunste van verandering.
Wit en swart was ook gedurende daardie jare so ver apart dat wit mense nie algemeen bewus was van wat onder die oppervlakte in swart geledere aan die gang was nie. Hulle is ook mislei met die versekering deur welmenende swart mense dat swart mense nie so ontevrede met die apartheidbeleid was as wat deur sommige voorgegee word nie. Die meeste wit mense se kontak met intellektuele swart mense was uiters beperk. Die indruk bestaan dat sommige Suid-Afrikaners meer as 30 jaar ná De Klerk se toespraak steeds nie ’n besef het van die intensiteit van afkeer van apartheid wat internasionaal sowel as binnelands geheers het nie.
Veiligheidsituasie
Teen die einde van die 1980’s het Suid-Afrika ’n revolusionêre situasie in die gesig gestaar wat net deur ’n noodtoestand onder bedwang gehou kon word. Die regering se binnelandse magsbasis het terselfdertyd begin uitkalwe. Die werkbaarheid en etiese regverdigbaarheid van apartheid is toenemend deur tradisionele ondersteuners van die Nasionale Party bevraagteken, terwyl swart mense wat die regering in die verlede goedgesind was, afstand tussen hulle en die regering probeer plaas het. ’n Beduidende segment gematigde swart mense het hulle toenemend tot die militante geweldlose opposisie gewend.
...
Teen baie hoë eenheidskoste, maar met verstommende innovering, kon ons te midde van boikotte en sanksies algaande ons eie petroleum, wapentuig, verrykte uraan en so meer produseer.
...
Internasionaal was Suid-Afrika omvangryk polities geïsoleer. Ekonomiese en wapen-boikotte, en die veldtogte om dit te versterk, het toegeneem. Die destydse Minister van Finansies, Barend du Plessis, het dit so gesien: “Teen baie hoë eenheidskoste, maar met verstommende innovering, kon ons te midde van boikotte en sanksies algaande ons eie petroleum, wapentuig, verrykte uraan en so meer produseer. Toe internasionale maatreëls ons egter in 1985 finansieel totaal isoleer en ons dwing om ’n kapitaal uitvoerland te word totdat ons polities internasionaal gerehabiliteer sou word, het ons ekonometriese model dadelik getoon hoe erg ons deur gebrek aan valuta getref gaan word. Ons ekonomie kon toe inderdaad in die praktyk skaars rondom 2% per jaar maksimaal groei, minder as die bevolkingsaanwas, as finale veroordeling van apartheid.”
Van die mees goedgesinde lande, soos die Verenigde Koninkryk en die VSA, het groter diplomatieke druk begin uitoefen om weg te doen met apartheid. Nie ’n enkele saakmakende besluitnemer in die Weste het kans gesien om openlik vir Suid-Afrika in die bres te tree nie. Selfs van die mees simpatieke instansies, soos die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, het ernstig by die regering gepleit om afstand te doen van apartheid.
Binne- en buitelands was die Suid-Afrikaanse regering vinnig besig om sy legitimiteit te verloor. Dit het groter stukrag en regverdiging gebied aan pogings om die regering te oorreed of te dwing, selfs gewelddadig, om sy beleid te verander. Die ANC se beeld as legitieme rolspeler het internasionaal beduidend toegeneem, veral ná die bekendstelling van die Harare-deklarasie van 1989. Die deklarasie het die ANC se kernvoorstelle vir ’n konstitusionele bedeling in Suid-Afrika bevat en is met akklamasie ontvang deur die OAE, die Statebond en die VN.
Die IG se projeksie was dat dit vorentoe net slegter kon gaan. Die situasie waarmee die regering gekonfronteer is, is deur die IG in ’n voorligting aan die Staatsveiligheidsraad (SVR) voorgestel as ’n driebeenpappot wat oorkook. Pogings om die deksel met kragdadigheid vas te druk om te verhoed dat die pap oorkook, help nie meer nie. Dit sal bly oorkook totdat die vuur verminder of geblus word. Die boodskap was duidelik.
Teen die middel van die 1980’s het die strategiese patroon van die aanslag begin verander. Ná 1987 het die skaal geleidelik begin swaai in die rigting van onderhandelinge in plaas van gewelddadige verandering. In 1989 was daar ’n beduidende versterking. Hoewel die ANC hoop opgegee het oor ’n gewelddadige revolusionêre oorlog (“people’s war”), was hy besig om in die geheim te beplan vir onderhandelinge wat uitgeloop het op die Harare-deklarasie. Die IG het die regering deurlopend op die hoogte gehou van verwikkelinge. Hieronder is ’n voorstelling van die veranderende tendense wat deur die IG aan die SVR voorgehou is.
Kern van die probleem
Die IG, wat jaarliks die veiligheidsituasie in geheel in oënskou geneem het, het net ná De Klerk se ampsaanvaarding dit aan hom oorgedra dat “ten spyte van waanbeelde wat in sommige openbare media en in dele van die akademiese gemeenskap gehuldig word, word die wortel-oorsaak van die RSA se problematiek nie aan ’n enkel-akteur, die kommunisme, toegeskryf nie. Die kern van die bedreiging setel ongetwyfeld in die komplekse sosiale, politieke en sosio-ekonomiese opset van die Suid-Afrikaanse staat, met sy volkereverskeidenheid, en die bykomende spanning wat ontstaan weens binnelandse en internasionale verset teen die oorheersende posisie wat die Blanke minderheidsgroep beklee. Die resultaat is ’n land en gemeenskap wat voortdurend met ’n stabiliteitsprobleem te kampe het, wat op ’n kort tydskaal kan eskaleer tot ’n omvangryke krisis, en wat derhalwe uiters kwesbaar is vir uitbuiting deur eksterne magte en moondhede.”
Besorgdheid oor die veiligheidsituasie
Om die regeringsbesluit van destyds te beoordeel, is dit nodig om terugskouend te kyk na die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind het in die tagtigerjare van die vorige eeu. Heel gepas het iemand opgemerk: “Terwyl ons onsself vandag heerlik koester in die warm strale van die somerson, vergeet ons hoe koud die winter was.”
Aan die vooraand van De Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 was die apartheidbestel onder massiewe druk, nasionaal sowel as internasionaal. Die IG het die regering onomwonde gewaarsku dat die potensiaal vir gewelddadige verandering so hoog is dat dit selfs op die korttermyn tot grootskaalse uitbarsting kon lei wat bitter moeilik hanteer sou kon word. Jaar na jaar is die regering deur die Nasionale Intelligensiewaardering (NIW) ingelig dat die land vasgevang is in ’n eskalerende bedreigingspiraal. In 1989 het rooi ligte gevaarlik geflikker.
...
Soos die IG was die hoofde van die weermag en die polisie ernstig bekommerd oor die toenemende verslegting van die veiligheidsituasie.
...
Soos die IG was die hoofde van die weermag en die polisie ernstig bekommerd oor die toenemende verslegting van die veiligheidsituasie. Hulle het by die politici aangedring dat iets gedoen moet word om die aanslag te verlig. Die probleem is in die eerste plek ’n politieke probleem, is gesê. Die rol van die veiligheidsmagte is bloot om ’n veilige en stabiele omgewing te skep waarbinne wettige politiek bedryf kan word. Die Kommissaris van Polisie het die regering sonder omhaal meegedeel dat die polisie se vermoëns snaarstyf gespan is. Die spanning waaronder die polisie moes werk het hulle onder geweldige druk geplaas. Die weermag het ook toenemend teenstand van wit en swart ervaar oor sy teenwoordigheid in die townships.
Wat die ekonome betref, was daar ernstige kommer. Du Plessis skets dit soos volg: “Ons beperkte middele kon nie ruimskootse konflikvoorkomende uitgawes vir noodsaaklike infrastruktuur, soos byvoorbeeld skole, huise, hospitale, paaie, munisipale dienste, voedselhulp en so meer, veral in swart, bruin en Indiërgebiede, tesame met drasties-stygende konflikbeheeruitgawes soos ’n oorlog op die grens en optrede teen toenemende geweldpleging binnelands, bekostig nie. Toe kom MOSSGAS ook nog in 1987 by, wat ’n swak finansiële belegging was, met minus 9% as ‘opbrengs’ op kapitaal. Dit sou dus onbepaald as ’n ‘strategiese noodsaaklikheid’ gesubsidieer moes word. Dit sou boonop eers vyf jaar later kon begin produseer. Die Tesourie het die dag toe in die Kabinet aangekondig is dat daarmee voortgegaan word, gewaarsku dat daardie besluit ’n ondubbelsinnige boodskap aan die wêreld sou stuur dat die Regering geensins in die afsienbare toekoms ’n politieke oplossing vir Suid-Afrika in die vooruitsig stel, wat ’n einde aan die olieboikot sou kon bring nie. Dit was ’n baie onwelkome stelling en daar is sonder verdere bespreking summier na die volgende agendapunt omgeblaai. Ministers van ‘nie-veiligheids’ portefeuljes het daarna nog swaarder gesluk aan die onvermydelike toekomstige onderbefondsing vir hulle departemente. Hulle kon slegs hoop ‘dinge sal gou weer beter gaan’, maar dit sou beslis nie sonder groot politieke skuiwe kon gebeur nie. Dit sou beslis nie ’n maklike keuse wees nie.”
Suid-Afrika het dus ’n omvattende aanslag beleef met ’n gewelddadige revolusionêre aanslag as die een been, en pogings om deur middel van vreedsame druk apartheid te verander of te vernietig as die ander been. Daar was egter geen meesterbrein wat die aanslag beheer en gekoördineer het nie.
’n Omvangryke infrastruktuur van organisasies teen die heersende politieke bedeling het reeds binnelands bestaan wat binne ’n kort tydjie spontaan geaktiveer kon word. Gegewe die spanning in die Suid-Afrikaanse gemeenskap kon dit voorsien word dat dit kon lei tot omvangryke geweldpleging (volskaalse revolusie) wat baie moeilik deur die veiligheidsmagte hanteer sou kon word. ’n Analogie is ’n straatsmous wat homself in Tunisië aan die brand gesteek het en daarmee die sogenaamde Arabiese lente ingelei het. Die onluste van 2021 in KwaZulu-Natal dien as verdere voorbeeld.
Ook in die buiteland was daar ’n wydverspreide infrastruktuur van anti-apartheidsorganisasies om onrus en opstande in Suid-Afrika te ondersteun.
Om gewelddadige situasies en provokasies te hanteer, sou groot druk op die veiligheidsmagte plaas wat alreeds nie al die manifestasies van onrus en onlus in 1989 kon hokslaan nie. Massa-byeenkomste waar ANC- en SAKP-kleure vertoon is, intimidasie in townships en verskeie lydelike versetaksies het die revolusionêre klimaat kommerwekkend laat styg.
Rolspelers
Wie was die mense en instansies wat almal ’n aktiewe rol gespeel het in die proses om die beleid van apartheid af te takel of te vernietig? Was dit bloot die kommuniste en meelopende agitators soos baie in wit geledere geglo het? Die werklikheid was meer kompleks.
Die rolspelers wat daarop aangedring het om die politieke bedeling te verander, was wyd uiteenlopend. Die IG het dit so gesien: “Die verskille tussen die akteurs behels beide die einddoel wat met Suid-Afrika bereik moet word, sowel as die strategie of wyse waarop dit bereik moet word. Dit word dikwels waargeneem dat instansies met wyd uiteenlopende oogmerke op ’n gegewe tydstip saamwerk ten einde verandering te bewerkstellig terwyl elke party daarvan oortuig is dat hy sy bepaalde doelwitte kan bereik nadat ‘apartheid’ eers verwyder is. Eweneens kan groepe wat ooreenstem wat die einddoel betref, skerp verskil met betrekking tot die metode wat aangewend moet word. Hierdie stand van sake verhoog die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse situasie en verhoog die problematiek met betrekking tot ’n akkurate vooruitskouing van die verloop van die situasie.”
Die aanslag het, soos genoem, ’n wyd uiteenlopende karakter vertoon wat deur diverse instansies met eiesoortige belange bedryf is. Die aard van die aanslag het gewissel van revolusionêre geweld deur die ANC/MK tot pogings deur mense en instansies met groot empatie met wit Suid-Afrikaners wat verandering deur vreedsame oorreding voorgestaan het. Daar was diegene wat verandering langs konstitusionele weë bepleit het, en dié wat die onkonstitusionele weg wou volg.
Die ideologiese spektrum van instansies wat verandering bepleit en bevorder het, het gewissel van Marxisties-Leniniste tot konserwatiewe lande en organisasies in die internasionale gemeenskap, onder andere die VSA en die Verenigde Koninkryk.
Die einddoel van die verskillende instansies het skerp gewissel. Daar was ’n legio modelle ter sprake. Aan die een kant was diegene wat ’n volledig sosialistiese (lees kommunistiese) bedeling hier wou vestig, wisselend tot hulle wat bloot wou sien dat Suid-Afrika van rassediskriminasie ontslae moes raak. Die netto resultaat was egter dat die verskillende benaderings een tema bevorder het: Suid-Afrika moet verander, apartheid moet weg.
Dit het daartoe gelei dat die pogings om verandering te probeer bewerkstellig onderling vervleg geraak het. Dit het dikwels gebeur dat kommuniste en nie-kommuniste in die buiteland saamgewerk het in veldtogte om Suid-Afrika te isoleer. Binnelands het iets soortgelyks gebeur. Dikwels het kerke en kommuniste saamgewerk om protesoptogte en -veldtogte teen apartheid te loods. Een van die eienaardige situasies wat ontstaan het, was dat talle ANC-gesindes met ’n sterk godsdienstige oortuiging by die godloënde Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) aangesluit het, bloot omrede hulle ’n voertuig gesoek het om apartheid te beveg.
Die aanslag teen Suid-Afrika gedurende die tagtigerjare van die vorige eeu kan dus op geen manier aan ’n enkele akteur toegeskryf word nie.
Ontplooiing van die aanslag
Pogings om Suid-Afrika oor te haal of te dwing om afstand te doen van apartheid het basies, soos hierbo uitgewys, in twee breë strominge gemanifesteer: Vreedsame verandering enersyds en gewelddadige of revolusionêre verandering andersyds. Hieronder ’n bondige oorsig oor die ontplooiing van die aanslag.
Revolusionêre verandering
Die revolusionêre doel was die gewelddadige vervanging van die status quo en die vestiging van ’n sosialistiese (Marxistiese) bestel in Suid-Afrika. Die hoofrolspeler was die SAKP/ANC, gesteun deur die USSR, sy satelliete en meelopers, asook internasionale drukgroepe. Die PAC se impak was beperk.
...
Lydelike verset was die spiespunt van die revolusionêre aanslag.
...
Die ANC/SAKP het ’n tweespoorstrategie gevolg. Enersyds wou hy die regering met geweld omverwerp, en andersyds deur middel van lydelike verset die land onregeerbaar maak. Die sogenaamde “people’s war”-strategie waarvolgens die ANC die regering sy magsbasis wou ontneem, het op vier pilare berus:
- Massamobilisasie
- Die vestiging van ’n binnelandse ondergrondse netwerk
- Die internasionale isolasie van die “apartheidregime”
- Gewapende stryd
Dit was massamobilisasie en die internasionale isolasie van Suid-Afrika wat die grootste impak gehad het. Massamobilisasie is in die besonder toegespits op die volgende samelewingsterreine:
- Die werkersklas en die vakbonde
- Die mobilisasie van vroue
- Die mobilisasie van die plattelandse “massas”
- Die mobilisasie van die jeug
- Die godsdienstige “front”
- Burgerlike (“civic”) organisasies
- Die mobilisasie van die wit gemeenskap
Massamobilisasie het hoofsaaklik die vorm van lydelike verset aangeneem, gepaard met grootskaalse intimidasie. Hoewel die ANC ’n sentrale dryfveer was in die aanslag, het spontane aktiewe weerstand teen apartheid in die loop van die tagtigerjare ’n momentum van sy eie begin opbou.
Lydelike versetaksies (“rolling mass action”) het ingesluit: Stakings, onwettige massabyeenkomste tydens begrafnisse, massa-optogte, boikotte, sitstakings (“sit-ins”), besettings, demonstrasies, weiering om huurtariewe en belasting te betaal, skepping van alternatiewe en parallelle plaaslike owerheidstrukture, en ander vorme van burgerlike ongehoorsaamheid soos die ontwrigting van skole onder die vaandel van “liberation before education”. In die townships is sogenaamde “bevryde” gebiede geskep wat dit vir die veiligheidsmagte onbegaanbaar gemaak het sonder gewapende beskerming.
Hoewel manifestasies van geweld soos terreur, gewelddadige oproer, sabotasie, moord op regeringsmedewerkers en ander geweldsvorme ’n rol gespeel het, was dit nie so ’n belangrike faktor as lydelike verset om ’n revolusionêre binnelandse situasie te skep nie. Lydelike verset was die spiespunt van die revolusionêre aanslag.
Vreedsame verandering
Binneland. Wat vreedsame verandering betref, was die beyweraars wyd uiteenlopend. Dit het gewissel van (a) ’n gematigde aandrang op politieke verandering uit hoofsaaklik wit geledere en aandrang en druk deur veral Westerse moondhede en organisasies, tot (b) militante uitsprake en optrede van veral swart rolspelers.
...
Ná 1983 het die UDF ’n beduidende rol gespeel.
...
Soos reeds aangedui, was dit burgerlike of massaverset deur hoofsaaklik swart mense wat uiteindelik die deurslaggewende rol gespeel het in die skep van die revolusionêre situasie. Sogenaamde rollende massa-aksie het in momentum toegeneem.
Ná 1983 het die UDF ’n beduidende rol gespeel. Ten spyte van die eng band wat tussen die UDF en die ANC bestaan het, kan die UDF nie sonder meer as ’n verlenging van die ANC beskou word nie. Die UDF as organisasie was nie homogeen nie, en het uiteenlopende menings geherberg. Die netto resultaat was nietemin dat die UDF in praktyk die ANC se oogmerke bevorder het.
Belangrik was dat hoewel die ANC ’n hoofinstigeerder van die interne radikale opposisie was, die weerstand teen apartheid ’n momentum opgebou het wat nie volkome deur die ANC beheer is nie. Dit was hierdie algemene weerstand teen apartheid wat gelei het tot lydelike verset, en dit was lydelike verset, asook die geweld wat daarmee saam gegaan het, wat die revolusionêre klimaat die hoogte laat inskiet het.
...
Dit is ’n mite dat Suid-Afrika op die steun van die Weste kon staatmaak om die apartheidbedeling in stand te hou
...
Buiteland. Dit is ’n mite dat Suid-Afrika op die steun van die Weste kon staatmaak om die apartheidbedeling in stand te hou, selfs met modifikasies. Die teendeel is waar. Skerp aanvalle op apartheid is ook vanuit die Weste geloods, en Westerse leiers was besig om vinnig geduld te verloor met Suid-Afrika se weiering om te beweeg. Die Reagan-administrasie se duidelik uitgestippelde program van “constructive engagement” het onomwonde die aftakeling van apartheid ten doel gehad. Me Thatcher het wal gegooi teen pogings om ’n verpligte algehele boikot teen Suid-Afrika in te stel, maar het dit duidelik gestel dat so gou moontlik weggedoen moet word met apartheid. Van Duitse en Franse kant was daar ook geen amptelike simpatie vir ’n sagter benadering nie. Teen die laat tagtigerjare was daar onrusbarende aanduidings dat Westerse regerings van voorneme was om sterker kovert teen apartheid op te tree deur die gebruik van hulle intelligensiedienste.
Dwarsoor die Weste het die ANC se beeld as redelike onderhandelaar begin groei.
Veranderende tydsgees
In die laat tagtigerjare het die situasie geleidelik begin verander. Ten spyte van sy openbare propagering van die gewelddadige stryd het die ANC reeds sedert 1985 homself stilweg gereed gemaak vir ’n grondwetlike verandering. Dit is bekend dat die Sowjetunie, en by name Mikhail Gorbachev, in die laat 1980’s nie meer die ANC entoesiasties ondersteun het nie. Kort voordat De Klerk verkies is as president het die ANC die Harare-deklarasie bekend gemaak. Daarin is sy konstitusionele voorstelle vervat. Hierdie dokument is met akklamasie deur die internasionale gemeenskap aanvaar en is sonder teenstem die volgende jaar by die VN aanvaar. Sou De Klerk se aankondiging van 2 Februarie 1990 nie geskied het nie, kon dit voorsien word dat hierdie dokument ’n meesleurende momentum sou verleen aan die veldtogte vanuit verskillende oorde om met apartheid weg te doen.
1989 was ’n jaar waarin die internasionale tydsgees toenemend in die rigting van onderhandelinge en nie-gewelddadige konfrontasie geswaai het. Die Sowjetunie het in dié jaar uit Afghanistan onttrek en kommunistiese Oos-Europa was aan die verkrummel. Die einde van die Koue Oorlog het al hoe meer haalbaar voorgekom. Wêreldwyd was ’n gees van groter verdraagsaamheid vaardig. Dit is versterk deur die Amerikaanse president George HW Bush en sy Russiese ampsgenoot Mikhail Gorbachev se spitsberaad in Malta waarna Gorbachev hom soos volg uitgelaat het: “The world is leaving one epoch and entering another. We are at the beginning of a long road to a lasting, peaceful era. The threat of force, mistrust, the psychological and ideological struggle should all be things of the past.” Die Sowjetunie het sy aptyt vir die ondersteuning van ’n gewapende oplossing in Suid-Afrika verloor. Die vreedsame vordering wat gemaak is met die onafhanklikwording van Suidwes-Afrika (sedertdien herdoop tot Namibië) het verder bygedra tot die gees van toenadering en onderhandelinge.
Daar is toenemend geglo dat onderhandelinge in plaas van geweld die manier behoort te wees om internasionale geskille te besleg. Hierdie tsunami het Suid-Afrika ook getref. Groter druk is deur talle Westerse lande op Suid-Afrika geplaas om met die ANC in gesprek te tree. “Glasnost” en “perestroika” het vanuit die Sowjetunie modewoorde in die internasionale gemeenskap geword.
Van die kant van die Sowjetunie is druk ook op die ANC begin plaas om te beplan vir onderhandelinge. In hierdie verband het die ANC reeds in die middel 1980’s begin om voorbereidings daarvoor te tref. ’n Taakspan om konstitusionele beginsels te ontwikkel is in die lewe geroep en akademies-weldeurdagte werkstukke is geproduseer. Dit het gelei tot skerp meningsverskil in die ANC. Daar was steeds ’n faksie rondom MK wat sterk weerstand gebied het. MK was van oordeel dat die struggle voortgesit moet word totdat die “Boere” verslaan is. Die gematigde faksie onder leiding van OR Tambo en Thabo Mbeki het gewen. Hierdie faksie het reeds gedurende die helfte van die 1980’s nie-amptelike kontak onder die radar met die regering gehad. Die Nasionale Intelligensiediens (NI) en sy hoof, dr Niël Barnard, het ’n sentrale rol hierin gespeel. Die gematigdes (pro-onderhandeling) in die ANC het ook toenemend met polities-gematigde Suid-Afrikaners in gesprek getree.
Noodtoestande
Die netto resultaat van al die weerstandsaksies was dat die land toenemend onregeerbaar geraak het, soveel so dat daar in 1985 ’n gedeeltelike en in 1986 ’n nasionale noodtoestand verklaar moes word. Daarsonder sou die land onbeheerbaar wees. Hierdie noodtoestand was nog steeds in swang toe De Klerk sy aankondiging van 2 Februarie 1990 gedoen het.
Hoewel die ANC nie die onrus en onlus in Suid-Afrika volkome beheer het nie, het sy invloed en bykans mitiese, simboliese status onder die binnelandse bevolking sodanig toegeneem dat hy nie langer as ’n deurslaggewende magsfaktor geïgnoreer kon word nie.
...
Die regering se poging om soewereiniteit te handhaaf is verder bemoeilik deur internasionale isolasie en die verlammende effek wat dit op die ekonomie gehad het.
...
Die regering se poging om soewereiniteit te handhaaf is verder bemoeilik deur internasionale isolasie en die verlammende effek wat dit op die ekonomie gehad het. In die afwesigheid van drastiese aanpassings van Suid-Afrika se kant sou die negatiewe deurdra-effek van die Harare-deklarasie ná 1990 die momentum van boikotte en isolasie beduidend versterk het.
Voorgaande is ’n vereenvoudiging van die omvang en intensiteit van die problematiek. Ter wille van bondigheid word daarmee volstaan.
Oplaaiende spanning
In 1989 is uit verskeie oorde, binne- en buitelands, gehoor: “Gee FW ’n kans.” Terwyl hy waarnemende president was, het hy verskeie Europese leiers besoek en dit is ook die boodskap wat hy daar gehoor het: “Ons gee julle ’n laaste kans.” In daardie stadium was Suid-Afrika totaal geïsoleer. Daar was geen enkele saakmakende besluitnemer in die wêreld en plaaslik wat apartheid verdedig het nie. Talle Westerse instansies het gesê dat hulle Suid-Afrika se dilemma verstaan, maar het gesê dat afstand gedoen móét word van die apartheidbeleid. Soos reeds genoem, selfs een van die mees goedgesinde organisasies in die wêreld, die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, het Suid-Afrika dringend versoek om weg te doen met apartheid.
Dit is teen hierdie agtergrond van toenemende oormag van vreedsame druk en revolusionêre geweld dat De Klerk sy aankondiging van 2 Februarie 1990 gedoen het. Alles het daarop gedui dat die aanslag in sy geheel, met ander woorde die vreedsame aandrang op verandering sowel as die revolusionêre aanslag, op die punt staan om beduidend te eskaleer.
Suid-Afrika het dus nie teen bloot ’n kommunisties-geïnspireerde revolusionêre aanslag te staan gekom nie, maar teen ’n kombinasie van revolusionêre verandering en die vreedsame aandrang om te verander. Dit was inderdaad ’n totale aanslag om te verander, om in sy geheel afstand te doen van apartheid.
Indien slegs die aandrang op vreedsame verandering, wat totale boikotte ingesluit het, in ag geneem word, sou Suid-Afrika waarskynlik nog langer kon uithou. Meer dringend was die binnelandse revolusionêre situasie. Anders as in 1960 (Sharpeville), 1976 (die Soweto-opstande) en selfs die noodtoestande van 1985 en 1986, was die infrastruktuur gunstig vir revolusionêre opstande en geweld wyer verspreid oor groot dele van die land.
...
Die implementering van die Driekamer-parlement in 1983 was die vonk wat die radikale verset in die land aan die brand gesteek het. Swart mense het uitgesluit gevoel.
...
Die implementering van die Driekamer-parlement in 1983 was die vonk wat die radikale verset in die land aan die brand gesteek het. Swart mense het uitgesluit gevoel. Direk as gevolg daarvan is die UDF gestig. Nie slegs het die UDF bestaande versetorganisasies saamgesnoer nie, maar was dit ook die inspirasie vir die stigting van talle gemeenskapsorganisasies wat groot veiligheidsprobleme geskep het. Daar kan met reg gesê word dat, as dit nie vir die UDF was nie, die ANC se aanslag heeltemal anders en waarskynlik minder suksesvol sou verloop het. Die ANC en die UDF het steeds meer ineengestrengel geraak. Ná die 1986-noodtoestand het daar ’n tydelike verslapping in georganiseerde verset ingetree weens die toepassing van die noodmaatreëls, maar teen die einde van die tagtigerjare het dit toenemend die noodtoestand uitgedaag. Toe die UDF se effektiwiteit gekniehalter is deur die nasionale noodtoestand, het ’n sogenaamde Mass Democratic Movement (MDM) in 1988 tot stand gekom wat ’n betekenisvolle rol gespeel het om verset te stimuleer, veral deur sy “Defiance Campaign”. Die veldtog om apartheidwetgewing uit te daag, was in wese tweeledig: Om die segregasie van geriewe en diens, veral in die onderwys, vervoer en gesondheid, uit te lig, en om die voortdurende beperkings op organisasies en individue, wat normale politieke aktiwiteite onmoontlik gemaak het, te beklemtoon. Weens sy amorfe aard kon moeilik teen die MDM opgetree word.
Die plaaslike versetkomitees in die townships was ’n bron van revolusionêre idees. Talle van hul lede was jonk en anargisties en het die inwoners van die townships met geweld geïntimideer. “Necklacing” was een van die skouspelagtige wyses van intimidasie. In 1985 het die president van die ANC, Oliver Tambo, ’n vergeefse beroep op hulle gedoen om nie daarmee voort te gaan nie. Hulle was buite beheer en het ’n reusebydrae gelewer om townships onregeerbaar te maak.
Die veiligheidsituasie in die townships, tesame met die optrede deur verskeie ander versetorganisasies, het toenemend kompleks geraak. Die aanslag het op bykans al die terreine van die samelewing uitgespeel – ’n totale aanslag. Dit het nie slegs die politiek en die ekonomie betrek nie, maar ook terreine soos kultuur, die werkersmag, vroue en kerke, gesondheid, die onderwys, ensovoorts. Terreur was deel van die ANC se strategie wat mettertyd ook die burgerlike bevolking geteiken het. Dit was die ANC se uitgesproke voorneme om die hele gemeenskap in al sy fasette (veral swart) te radikaliseer en te mobiliseer teen die bestaande orde.
Die gees van militante verset was teen 1989 besig om beduidend momentum op te bou. Die hantering van protesoptrede het al moeiliker geword en die hardhandige hantering van onwettige en ander byeenkomste waar die polisie openlik getart is, het verset verder laat toeneem.
Die aanslag is deur sommige instansies in Suid-Afrika vertolk as ’n totale aanslag georkestreer vanuit die Kremlin. Daar is geen bewyse daarvoor dat die USSR binnelandse verset georkestreer het nie. Kommunisme en swart nasionalisme was die stukrag agter die revolusionêre aanslag, maar was nie die enigste rolspeler in terme van die totaliteit van die aanslag nie.
Sommige kommentators was van oordeel dat die regering net van kommunistiese agitators, binne- sowel as buitelands, ontslae moes raak om die land weer te stabiliseer. Dit was egter ’n wanopvatting. Die intrinsieke afkeer van apartheid het ideologiese grense oorskry, binne- en buitelands. Die radikale organisasies het voorts daarin geslaag om die bewustheid by swart mense te skep dat hulle onderdruk word, en dit is hierdie tydsgees wat veral die jeug tot verset aangespoor het sonder dat hulle kommunisme wou bevorder of dat hulle enige kommunistiese bande gehad het. Dit was veral die Swartmagbeweging wat aanvanklik sedert die begin sewentigerjare instrumenteel hierin was en wat in die tagtigerjare deur die ANC verder gevoer is.
Toeligting
Die binnelandse veiligheidsituasie was, soos reeds uitgewys, betreklik stabiel, wat meegebring is deur sterk veiligheidsmagoptrede. Maar dit het die magte uitgeput en sou nie op die lange duur volhoubaar wees nie. Breë tendense waarmee in 1989/1990 rekening gehou moes word, was onder meer die volgende (en dit is egter nie naastenby volledig nie en vat ook nie die kompleksiteit in geheel saam nie. Daarvoor is ’n meer uitvoerige ontleding nodig):
Onder swart mense
- Die swart bevolking is toenemend geradikaliseer ten spyte van streng veiligheidsmagoptrede. Politisering het veral geskied onder die breë sambreel van die UDF met sy sterk ANC-bande, reikend bo-oor tradisionele stamverbande.
- Daar was geen alternatiewe leiers wat die regerings gesteun het wat swart gemeenskappe kon mobiliseer nie, en ook geen alternatiewe beleidsraamwerk wat vir hulle aanvaarbaar was nie. Van al die tuislandleiers was dit net pres Lucas Mangope wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling gesteun het. Die saak van die regering, onder watter naam ook al, het net nie kopers gevind in die swart mark nie. Radikalisering was duidelik besig om hand oor hand te wen.
- Die beeld van die ANC en Nelson Mandela as “redders” van die “juk van apartheid” is met toenemende sukses uitgebou. Hierdie “saak” het wel gretige kopers gelok.
- Die regering het nie oor ’n swart ondersteuningsbasis (“constituency”) beskik nie. Met die uitsondering van een tuislandleier, hoofman Mangosuthu Buthelezi van KwaZulu-Natal, was al die sogenaamde tuislandleiers gediskrediteer onder swart mense en boonop was Buthelezi se uiteindelike oogmerk presies dieselfde as dié van die ANC, naamlik een mens, een stem.
- Hoewel die Swartmag deur veiligheidsmagoptrede sterk aan bande gelê is, was daar tekens dat dit besig was om te herleef (die Sowetan met sy Nation Building Program is ’n voorbeeld).
- Die regering se gesagsuitoefening is skerp aan bande gelê deur die skepping van ontoeganklike gebiede (“no go areas”) in townships, wat slegs met die hulp van swaar veiligheidsmagbeskerming betree kon word.
- Sogenaamde “rolling mass action” het geëskaleer. Die polisie was hand in die hare oor die hantering van massaprotesaksies, wegbly-aksies, handelsboikotte, omvangryke stakings deur vakbonde, skole-ontwrigtings, gedwonge verskuiwings, ensovoorts. Onoordeelkundige hardhandige optrede, veral by massaproteste, het gelei tot verdere isolasiestappe uit die buiteland en die verdere radikalisering van die plaaslike bevolking.
- Terrorisdade het, ten spyte van sterk veiligheidsmagoptrede, steeds voortgegaan. Hoewel die ANC (MK) se geweldsoptrede militêr onbeduidend was, het die periodieke bomontploffings asook landmyne in landelike gebiede die beeld by swart mense geskep dat die ANC steeds voortleef en die vermoë het om binnelands te opereer. So is die magsbeeld van die ANC bevorder. Dit het ook ’n gevoel van onveiligheid by wit mense tot gevolg gehad.
- In die Suid-Afrika van 1989 het daar ’n wydlopende euforie onder swart mense geheers dat die einde van apartheid in sig is. Dit is onder andere sterk gestimuleer deur die internasionale gees van “glasnost” en “perestroika”. Anti-apartheidsorganisasies internasionaal het ywerig gehelp om hierdie gedagtes aan te blaas.
Onder wit mense
- Die aandrang op verandering van welke aard ook al het sterker begin figureer in politieke debatte in die tagtigerjare. Verandering was in die (politieke) lug.
- Verskeie uiteenlopende mense en instansies het op verandering aangedring. Dit het gewissel van die radikale pool wat, saam met swart organisasies, ’n sosialistiese swart meerderheidstaat bepleit het, deur die gematigde middelgrond heen tot by die konserwatiewe aandrang dat afsonderlikheid versterk moet word.
- Die regering was besig om sy potensiële/tradisionele magsbasis te verloor:
- In die geledere van ’n luid vokale gedeelte van die Afrikaanse jeug is apartheid openlik verwerp en die regering uitgedaag. Die Voëlvry-toer het geen geringe bydrae gelewer om momentum daaraan te gee nie. Die lirieke van Johannes Kerkorrel (“Sit dit af, sit dit af”) is ’n manifestasie.
- Apartheid is toenemend oor ’n wyer front besonder skerp in Afrikaans in die openbaar aangeval. Vrye Weekblad dien as ’n voorbeeld.
- Kritiek op apartheid vanuit akademiese geledere en die Afrikaanse hoofstroompers het begin toeneem.
- Nuuskierigheid oor wie en wat die ANC is, het posgevat. Uitstappies om met die ANC te praat het toegeneem. Vergelyk onder andere die Dakar-gesprek en die reise van Afrikaanse studente om met die ANC te praat.
- In die geledere van die Nasionale Party, binne en buite die Volksraad, was daar ’n groter dringendheid om te verander.
- Afrikaanse protesliteratuur het meer gereeld verskyn. Vergelyk byvoorbeeld André Brink en andere se werke wat verbied is.
- Die impak van ekonomiese dwangmaatreëls is toenemend gevoel en akademici, wetenskaplikes, tegnici en ander persone het by die dag meer bekommerd oor hul afsondering van buitelandse eweknieë geraak.
- ’n Gevoel van onveiligheid en onsekerheid was onder die algemene wit publiek merkbaar as gevolg van die terreur op die platteland en bomme in die stede.
- Sakelui het met groter dringendheid die regering probeer oortuig dat apartheid nie gaan werk nie en van die noodsaak om met die ANC te praat. Van besondere belang was Anglo-American se kontak met die ANC in die middel tagtigerjare. Dit het tot gevolg gehad dat ander organisasies ook hulle weg oopgesien het om met die ANC te gaan praat. Die vloedgolf van besoeke aan die ANC het veral toegeneem na die sogenaamde Dakar-beraad tussen prominente Afrikaners en die ANC. Dit was ’n aanmoediging vir groter kontak tussen die ANC en plaaslike organisasies. Dit het bygedra tot die beeld van groter legitimiteit van die ANC as saakmakende faktor of selfs alternatiewe regering in ’n toekomstige Suid-Afrika.
Algemeen
- Rassespanning het verhoog. Verskeie waarnemers was van oordeel dat rassespanning verhoog is deur die optrede van die versetbewegings en die ANC se terreurveldtog, sowel as die regering se hardhandigheid in sy optrede teenoor teenstaanders van apartheid.
- Daar was vele standpunte oor hoe naby die destydse Suid-Afrikaanse ekonomie aan ineenstorting was. Dat dit op die kort- tot mediumtermyn sou gebeur, was ’n algemene verwagting.
- Die onmiddellike bedreiging vir die ekonomie was die besluit in 1985 van die vyf grootste Amerikaanse banke om nie Suid-Afrika se skuld om te rol nie. Volgens Du Plessis “het hulle ook daarop aangedring dat die rente op die skuld stiptelik betaal moes word, maar het in onderhandelings gelei deur die Tesourie, ingestem tot verspreide terugbetaling van kapitaal. Twee noemenswaardige gevalle van konfiskering deur krediteure in die buiteland was beslaglegging op ’n vliegtuig-besending SA Reserwebank goud in Switserland en ’n beduidende betaling in New York aan ’n Suid-Afrikaanse uitvoerder na die VSA. Hoewel albei daardie optredes bygelê kon word, was sulke situasies ons voorland vorentoe. Hoe bestuur mens ’n onderneming sonder oorbruggingsfinansiering? Wat nog ’n land soos Suid-Afrika? Dit was gewoon nie moontlik nie. Dit was ’n geval van aanhou en omval, of dink dadelik, beplan en oorleef.”
- Die hoof van navorsing van die NI het die gevolge soos volg uitgespel: “Sulke finansiële optrede het Rhodesië gesink en as ons nie ons buitelandse skuld kon betaal nie, sou ons bankrot gewees het. Dit het toe nie meer oor net boikotte gegaan nie, maar dat niemand met ons sake wou doen nie. Uit ’n ekonomiese oogpunt kon ons dus ook nie langer uithou nie.
Die feit is dat ons nie langer die koste van die weermag en polisie se dienste om die deksel op die pot te hou kon bekostig nie. Trouens, tesame met die toenemende ekonomiese dwangmaatreëls soos boikotte, sanksies en disinvestering, dit wil sê die onttrekking van maatskappye en vlug van kapitaal, en die moontlikheid dat ons nie ons buitelandse skuld kon betaal nie, was ons ekonomie op die randjie van ineenstorting. Dit sou sinneloos gewees het om op die bestaande weg voort te gaan, en gelukkig het alle partye in die IG dit ingesien. Die sterkste ekonomie in Afrika sou oornag op sy knieë gedwing gewees het. Selfs indien die veiligheidsmagte daarin geslaag het om vir ’n tyd die deksel op te hou, sou ons ekonomies doodgebloei het. Ons het ’n oop ekonomie gehad wat afhanklik was van voortgesette interaksie met die buiteland.”
- ’n Studie van prof Anton Lowenberg , wat ’n betreklik algemene mening verteenwoordig het, het tot die volgende gevolgtrekking gekom:
“South Africa’s apartheid system was enormously costly and ultimately collapsed because the inefficiencies created by apartheid policies escalated as the economy’s structure changed. Labour market regulation and industrial decentralization policy inhibited efficient resource utilization, especially as the manufacturing sector became dominant. Apartheid educational policies generated skill shortages. A mercantilistic development strategy distorted trade patterns, exacerbated dependence on foreign capital inflows, and created chronic balance of payments difficulties. The administrative and defence costs of implementing apartheid were onerous and rising. These internal weaknesses enhanced South Africa’s vulnerability to capital flight, changes in world prices and business cycle conditions, and political changes abroad. Ultimately, apartheid was abandoned because its costs came to exceed its benefits to white South Africans. The internal dynamics of the system dictated the retrenchment of apartheid, which in all probability would have occurred even without foreign sanctions.”(1)
- ’n Internasionale waarnemer, prof Schwartzman, het dit soos volg gestel: “Our analysis suggests that constraints on the domestic labour market and international financial boycotts were the primary factors in the collapse of apartheid.”(2)
- Militêr-gesproke het Suid-Afrika steeds sterk gestaan. Ten spyte van magsopbou in die buurlande, was daar nie op die korttermyn enige sprake van ’n militêre bedreiging deur die sogenaamde frontlinie-state nie. MK was geen bedreiging nie. Sy terreuroptrede het wel ’n politiek-sielkundige effek gehad, maar nie enige militêre impak nie. Sterk militêre optrede kon egter nie ’n idee verslaan nie. Ten spyte van die “hearts and minds”-benadering deur die weermag kon daar nie met kragdadige optrede voorkom word dat die ervaring van onderdrukking mense tot opstand sou aanspoor nie. Ten spyte van die regering se beste pogings kon nie daarin geslaag word om die stygende afkeer van apartheid, selfs binne sy breë kiesersondersteuningsbasis en selfs binne die gesagstrukture van die NP, te stuit nie.
Slot
Benewens etiese oorwegings was die belangrikste strategiese faktore wat FW de Klerk se aankondiging van 2 Februarie 1990 onderlê het, enersyds (a) die uitkalwing van die Nasionale Party en dus die regering se magsbasis onder wit en swart in Suid-Afrika en by goedgesinde internasionale rolspelers, en andersyds (b) was dit die omvang en intensiteit van aktiewe verset teen apartheid. Die ANC was op daardie stadium reeds so ’n wesenlike saakmakende faktor dat dit nie geïgnoreer kon word in die besinning oor ’n nuwe staatkundige bedeling nie.
Gesamentlik het die totaliteit van die aanslag om verandering ’n onhoudbare veiligheidsituasie geskep. Apartheid was aan die vooraand van ineenstorting as die heersende omstandighede sou voortduur.
Die omvattende analise van die veiligheidsbedreiging soos geskets in hierdie essay is primêr ontwikkel deur die NI, wie se benadering deurslaggewend in die IG was. Daar was egter steeds persone binne die IG, asook bevelvoerders in die weermag en polisie, wat die bedreiging enkelvoudig as ’n revolusionêre aanslag gesien het.
Die NI en sy hoof, dr Niël Barnard, het nieteenstaande teenkanting, voortgegaan om nie slegs die aard en omvang van die bedreiging aan die regering voor te hou nie, maar ook om die kernoorsaak van die bedreiging, naamlik die beleid van apartheid, onder die aandag van die regering te bring. Daardeur het die NI enersyds ’n wesenlike bydrae gelewer tot die skepping van ’n klimaat in regeringsgeledere waarbinne dit moontlik was om drastiese beleidsaanpassings te maak, en andersyds om deur sy kontak met die ANC en die latere pres Mandela ’n belangrike fasiliteringsrol te speel in die bevordering van die skikking tussen die regering en die ANC vir die skepping van ’n nuwe staatkundige bedeling.
Die uitgebreide siening van die bedreiging het vanaf 1980, toe Barnard hoof geword het, momentum in die NI verkry. Voor dit was die fokus hoofsaaklik op die “vyand” van buite. Een van die primêre dryfkragte agter die ontwikkeling van nuwe insigte was Barnard se adjunk en latere direkteur-generaal van die NI, Mike Louw.
Ten spyte van die uiters moeilike omstandighede het die veiligheidsmagte suksesvol daarin geslaag om die land betreklik stabiel te hou. Ongelukkig het sommige elemente in die veiligheidsmagte hulle tot ongeoorloofde optrede gewend wat die magte se reputasie geskaad het. Vandag, in die somerson, word min erkenning gegee aan die prestasie van die veiligheidsmagte en die IG om ’n volskaalse revolusionêre oorlog die hoof te bied.
...
Die populêre vraag is: Het FW de Klerk oorgegee aan die SAKP/ANC?
...
Die populêre vraag is: Het FW de Klerk oorgegee aan die SAKP/ANC? Gesien die omvang en intensiteit van afkeer van apartheid, en die ideologiese uiteenlopendheid van rolspelers wat hulle vir die afskaffing of vernietiging van apartheid beywer het, kan die regering se ommekeer verstaan word as dat die regering verloor het teen die morele hoë grond, nie teen ’n spesifieke instansie nie.
Die aankondiging van 2 Februarie 1990 het die ganse strategiese landskap van Suid-Afrika radikaal verander. Dit het die revolusionêre oorlog letterlik in ’n oogwenk beëindig en omskep in ’n wettige politieke stryd. Die veiligheidsmagte was nie meer die leidende instansie nie, maar die weg is vir die politici gebaan om die voortou te neem.
Pretoria
4 April 2023
Notas
(1) Lowenberg, AD. 1997. Why South Africa’s Apartheid Economy Failed, Contemporary Economic Policy, Western Economic Association International, 15(3):62–72
(2) Schwartzman, KC en Taylor, KA. 1999. What caused the collapse of apartheid? Journal of Political and Military Sociology, 27(1):109–139
Oud-minister Barend du Plessis se aanhalings in die dokument is geneem uit e-posse aan die skrywer.
Direkte aanhalings oor die IG is vervat in ’n voorligting deur die skrywer aan De Klerk en ’n aantal ministers en die opperbevel van die weermag in November 1989 in Phalaborwa. In sy boek, Die laaste Afrikanerleiers – ’n Opperste toets van mag, verwys die historikus Herman Giliomee op bladsy 320 na dié voorligting.
Die skrywer is ’n voormalige Hoof Interdepartementele Intelligensie-koördinering (HIIK) van die Koördinerende Intelligensiekomitee (KIK) en hoofbestuurslid van die Nasionale Intelligensiediens.
Lees ook:
Resensie: Geheime revolusie: Memoires van ’n Spioenbaas deur Niël Barnard en Tobie Wiese
Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge deur Niël Barnard


Kommentaar
Hoekom NOU? 30 Jaar later!!
Die vraag is en bly - is ons vandag beter af as 30 jaar gelede? Het ons die opponente so onderskat? Alles dui daarop.
Netjiese uiteensetting, dankie.
Vandag word ons toenemend met vrae gekonfronteer deur mense wat nie die onderskeid kan tref nie tussen die noodsaak wat die proses van demokratisering gedryf het en wat tot die'94 verkiesing en vanandering van regering gelei het; en, aan die ander kant, wat die demokratiese regering onder leiding van die ANC sedert demokratisering in Suid-Afrika laat uitspeel het nie. Die sukses van die proses van demokratisering onder leiding van die De Klerk regering wat uitgeloop het op die '94 verkiesing, moet die eervolle erkenning kry wat hul verdien. Die geskiedenis gaan die ANC vernietigend oordeel oor wat in SA uitgespeel het sedert demokratisering in '94; die vernietinging van die land het onder hul toesig plaasgevind.
'n Noodsaaklike perspektief. Te veel mense oordeel en veroordeel FW de Klerk sonder 'n greintjie verstaan van die omvang van die krisis van die tyd. Jammer dat die realiteite nie al voorheen so helder uitgespel is nie. Uitmuntende stuk werk. Dankie, Johan.
Uitstekende opsomming van die kompleksiteit van die tyd. Sou graag 'n verdere analise wou hoor van die invloed van die AWB-gesindes in die gemelde destabilisering, sowel as die moeilike rasionalisering vir die townshipgeweld wat per slot van sake amper uitsluitlik swart-op-swart was. Ek doen soms praatjies hier in die buiteland oor Apartheid in Suid-Afrika, en dit is duidelik dat mense die geweld as suiwer "swart vryheidsvegter teen wit onderdrukker", en dus legitiem, sien. Ons wat tyd in die townships deurgebring het, het soms wel simpatie met die onderdruktes se saak gehad, maar in afsku gestaan teenoor die brutaliteit wat ons aanskou het.
Die wat jy graag sou wou hoor, word nie toegelaat om hier hul menings te lug nie.
Goed saamgevat, Johan. Mis egter invloed van oud-SAW lede wat reeds lank voor die 80's as kenners van rewolusionêre oorlog waarskuwings gerig het.
Vgl ook my outobiografie 'Eerste daar' [Protea Boekhuis 2021].
Nogtans geluk met die goeie artikel.
Ek stem saam met die skrywer dat daar baie druk op ons Nasionale Party-regering was, veral van die buiteland.
Ek sien egter vir FW de Klerk nie as held nie, maar as 'n leier wat die blankes in die steek gelaat het.
Kan ek vra: Hoekom is PW Botha gedwing om te bedank as president? En toe hy weier, is hy in die rug gesteek en uitgedwing?
Baie goed geskryf en uiteengesit. Hoekom is dit destyds geheim gehou? Die gewone lieg van politici?
Kyk waar sit ons vandag. Wat is die mening, voorstelle om die land van verval te red?
Ek was 'n nee-stemmer. Nie omdat ek nie bewus was dat ons land 'n krisis belewe nie, maar omdat die NP ons bedrieg het met paalplakkate wat eie skole en woonbuurte gewaarborg het! Ek het geweet dat dit onmoontlik was en het nie 'n probleem daarmee gehad nie, maar die blatante wanvoorspelling het my gepla. Miskien is ek naiëf!
Ons kan terugskou en vra en na alle kante argumente lewer. Feit is wit Suid-Afrika is glad nie voorbereid op die ramp van 'n meerderheidsregering nie. Dit is hoekom wit Suid-Afrika steeds kwaad voel. Dankie aan die huidige instellings wat witmense help en oplei om te leef.
Komplimente, Johan. Goed saamgevat. Ek stem ook saam met Kaas van der Waals dat senior SAW-lede by voorligtings gesê het die veiligheidsmagte kan slegs stabiliteit bied om 'n politieke oplossing te vind. Ek mis egter enige verwysing na die Nag van die Generaals toe verskeie senior offisiere afgedank is. Waaronder Generaal Majoor Chris Thirion.
Ek wil op die keper my bydrae maak, kort en kragtig; as 'n land is ons nou meer in ons moer in as ooit tevore. Ek sal graag wil weet wat se persentasie van die destydse ja-stemmers sal vandag weer ja sou stem as hulle weer kon stem?🤔
Ja-nee, ou neef, kyk ook hoe dop die 'nuwebedelingapologete' orals uit.
Bertus, goeie herinneringe van samewerking. My afsnypunt was 2 Februarie 1990. Vandaar geen verwysing na wat daarna gebeur het nie.