Oorlewendes van apartheid deur die lens

  • 2

Die Universiteit Stellenbosch se leerstoel vir historiese trauma en transformasie bied tans ’n aanlyn uitstalling aan van foto’s deur Noncedo Gxekwa en Botswele Mogotlane: Through the eyes of survivors of apartheid. Die uitstalling is gebaseer op verhale uit die boek These are the things that sit with us. Johan Myburg deel sy indrukke oor die uitstalling en ’n webinaar-gesprek wat daaroor plaasgevind het.

I

“Dit is die soort uitstalling wat ons graag in ons museum sou wou hê,” sê Bongani Mgijima, direkteur van Universiteit Stellenbosch (US) se Universiteitsmuseum, van Through the eyes of survivors of apartheid, ’n aanlyn uitstalling van foto’s deur Noncedo Gxekwa en Botswele Mogotlane.

Die uitstalling bestaan uit foto’s van 29 individue wat deelgeneem het aan ’n navorsingsprojek wat die leerstoel vir historiese trauma en transformasie aan US onder leiding van Pumla Gobodo-Madikizela in samewerking met die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR) in 2016 begin het. Elkeen het op sy en haar eie manier dié 29 mense in hul eie taal die stories laat vertel van gewelddadige en pynlike ervarings in die dae van apartheid. Dié verhale is in 2019 byeengebring in ’n boek met die titel These are the things that sit with us – ’n boek waarin die verhale weergegee word in Engels, Afrikaans en Xhosa, die tale wat die storievertellers gebruik.

Yusuf Hassiem, ʼn foto deur Noncedo Gxekwa (Foto: Verskaf)

Mgijima was een van die deelnemers aan ’n webinaar wat saamgeval het met die opening van die uitstalling, maar ook die bekendstelling van die leerstoel se webwerf op 30 September. Dié webwerf, met die titel “Through the eyes of survivors of apartheid: Life despite pain and suffering”, dien as ’n versamelbron vir verhale soos dié in These are the things that sit with us.

Dié versameling foto’s van storievertellers, vir die uitstalling byeengebring deur Marietjie Oelofsen, een van die navorsers verbonde aan die leerstoel vir historiese trauma en transformasie, het Mgijima se belangstelling geprikkel juis omdat dit gestalte gee aan gewone mense se “geleefde ervarings”.

Tradisioneel stel museums belang in die verhale van die roemrykes, het hy aangevoer, en is museums ingestel op objekte. “Maar in dié uitstalling gaan dit oor die stories van mense wat, behalwe hulle stories, bitter min besit,” het hy gesê en die woorde van Ellen Kuzwayo in haar Sit down and listen (1990) aangehaal: “[I]n black communities of South Africa perhaps we remember our stories for a little longer than other people do. After all, for so many years now, we have owned our stories while owning so little else.”

Boonop is dit met die foto’s van dié gewone mense wat voorheen nie gesien is as deel van ’n dominante verhaal nie, waarmee die belang van private ervarings nou legitimiteit kry as aanduiding daarvan dat “my lewe ook saak maak”. Boonop bevestig dit, sê Mgijima, dat dié stories in sigself geskiedenis is. En dié geleefde ervarings maak die deur oop vir ander mense om hulle verhale mettertyd te vertel.

Kholeka Klaas, foto’s deur Botswele Mogotlane (Foto’s: Verskaf)

Dat hierdie eienaarskap van private ervarings en die verwoording daarvan in stories betekenisvol is, het Noncedo Gxekwa eweneens opgeval. Fotografie sien sy immers as ’n manier om met die rig van ’n kamera toegang te kry tot dele van mense se lewens en ervarings wat verborge of versteek was.

Gxekwa is ’n Kaapstadse fotograaf wat onlangs aangewys is as die amptelike dokumenteerder van die 2020 Sosiale Impak-prys, ’n nuwe Suid-Afrikaanse kunsprys met die fokus op kuns wat ’n merkbare invloed op individue en veral gemeenskappe het.

Wanneer woorde Botswele Mogotlane ontbreek, het hy nog altyd deur die kameralens gepraat en was fotografie sy manier om stories te vertel. Hy glo immers dat ’n mens ’n verskil kan maak in mense se lewens deur foto’s.

Kholeka Klaas, ʼn foto deur Botswele Mogotlane (Foto: Verskaf)

’n Mens sou kon aanneem dat Gxekwa en Mogotlane se onmiddellike taak was om met hul foto’s gesigte te gee aan die mense wat aan die woord is, om ’n prentjie by die storie te plaas. Maar bekyk ’n mens dié foto’s aandagtig, besef jy gou dat dié foto’s nie bloot illustratief is nie, maar dat dit parallelle stories word wat ’n mens kan “lees” soos wat jy verhale kan lees. Met kameralense wat praat, soos Mogotlane aandui, vertel dié portrette in vele gedaantes onafhanklik die verhale van waar dié mense nou is, van hulle leefwêrelde en van hoe hulle sin gemaak het van hulle lewens – en in baie gevalle sin gegee het in en aan ander se lewens.

Iemand soos Yusuf Hassiem kry die kyker byvoorbeeld nie vol in die oog gekyk nie. Hy word só gekiek dat die kyker as’t ware eerder deur sy oë kyk. Hassiem beskryf in sy verhaal ’n dag in 1976 met ’n stukkie veld in Bonteheuwel waardeur seuns gehardloop het op vlug vir die polisie. ’n Seun is dié dag doodgeskiet. Gxekwa se foto plaas Hassiem met sy rug na die kamera, sokkerbal onder die arm, weer in ’n oop stuk veld. Dié keer met seuns wat speel, soos dit by jongmense hoort.

Taamlik nabyskote van Kholeka Klaas in gesprek is ál van dié vrou wat Mogotlane die kyker bied. Hy plaas haar teen ’n agtergrond wat nie konteks gee nie, anders as byvoorbeeld die foto’s van Hassiem, maar eerder bydra tot die kleur en komposisie van die foto. Maar dit is Klaas se lewendige gesigsuitdrukkings wat verhale vertel. Soos ’n verhaal moet die kyker haar gevoel lees wanneer Mogotlane ’n foto wys waar sy haar mooi hande voor haar gesig hou.

Soos Sakiru Adebayo en Manosa Nthunya, twee akademici verbonde aan Wits wat in die webinaar in gesprek was met die fotograwe, in ’n artikel oor die foto’s opgemerk het: “Apart from putting faces to the stories, they enable the readers to see – not only read – their stories up close. Put differently, they humanise the survivors. And, just as the people telling the stories, their photos also tell stories about the past – they serve as visual testimony, a spectral evidence to (the presence of) the past.”

Dit is hierdie visuele getuienis oor die verlede wat in die hede tot kykers spreek wat Mgijima benadruk as hy aanvoer dat ’n uitstalling soos dié wat geleefde ervarings verbeeld, die gesprek oopmaak vir jonger geslagte, vir mense wat nié eerstehands kennis dra van apartheidservarings nie.

“Ek is nie oud genoeg om apartheid aan die vel te kon voel nie,” het Mogotlane toegegee. “Ek is deel van ’n tweede generasie en kan slegs terugkyk en sien hoe dit vorige geslagte benadeel het. Nietemin het ek [op dié manier] iets van die nadraai van geïnstitusionaliseerde onreg ervaar.”

Die rol wat foto’s speel om dié ervarings wakker te maak by ’n geslag wat nié die trauma van apartheid ervaar het nie, is iets wat Adebayo in die gesprek met die fotograwe benadruk het, iets waarna hy verwys as intergenerasie trauma. Hy het skrams verwys na die werk wat die Amerikaanse akademikus Marianne Hirsch in dié verband gedoen het ten opsigte van dié ervarings wat sy “postmemory” noem. Met dié begrip beskryf sy die verhouding wat die geslag wat op die traumatiese gebeure volg, het met die persoonlike, kollektiewe en kulturele trauma van die geslag wat dit eerstehands ervaar het.

Dat intergenerasie trauma vir die leerstoel van groot betekenis is, blyk uit ’n opvolgprojek wat ná die foto-uitstalling aangepak word. Dié projek, wat eweneens gestalte gaan kry in ’n aanlyn uitstalling, behels dat derdejaarstudente in visuele kunste aan US genooi is om in kunswerke in gesprek te gaan met die stories in These are the things that sit with us. Die opdrag was om ’n abstrakte tekening te maak as persoonlike respons op een storie en om dié narratief tot animasievoorstellings uit te brei.

Soos wat die foto’s nie bloot illustratief was nie, is die studente versoek om te waak teen blote representasie, en om eerder met ’n persoonlike interpretasie vorendag te kom.

Dié aanlyn uitstalling open einde November op die leerstoel se webwerf.

II

Bedag daarop om dié vertellers van trauma nie in die proses weer deur trauma te sit nie, was die betrokkenheid en samewerking, of medewerking, van die 29 mense van meet af deel van die fotoprojek. Hoewel die fotograwe die foto’s kon neem, het die modelle of poseerders vir die foto’s die geleentheid gekry om die foto’s te kies wat hulle as deel van die projek wou sien.

Riedewaan Salie. ʼn Foto deur Noncedo Gxekwa (Foto: Verskaf)

Dié benadering van openlikheid en deelname klop met die leerstoel se uitgangspunt om nie “slagofferskap” te propageer nie. “Presenting the stories alongside photographs carefully chosen by the storytellers and sensitively taken by two young photographers, Noncedo Gxekwa and Botswele Mogotlane, our goal is to show agency, dignity and humanity in the faces behind the stories of suffering,” sê Gobodo-Madikizela in haar refleksie op die projek.

Die projek spruit uit ’n ondersoek wat in 2015 aan die Universiteit van die Vrystaat gedoen is en intussen aan US tereggekom het. Die vennootskap met IJR, wat reeds kontak gehad het met drie Wes-Kaapse gemeenskappe – Worcester, Bonteheuwel en Langa – het die weg berei vir die navorsingsprojek in dié gemeenskappe en het bestaan uit (a) ’n ondersoek na die ervaring van geweld tydens die apartheidsjare of ander polities-geïnspireerde geweld wat ouer lede van die gemeenskap (die geslag van ouers) gehad het, en (b) fokusgroepgesprekke met lede van ’n jonger geslag (die tweede geslag).

Ter voorbereiding vir die onderhoude het die navorsers opleiding ontvang in die lewensverhaalmetodologie in die mondelinge tradisie, ’n gespreksvoeringbenadering wat ruimte laat vir alledaagse gesprekke en die inbring van terugflitse na die verlede.

“In dié opsig het dié navorsing weer benadruk hoe belangrik dit is dat elke aspek en elke stap van die navorsing tydsaam en deeglik beplan word,” sê Oelofsen. “Ons het met noukeurigheid verseker dat die deelnemers aan die navorsing nie gesien word as voorsieners van inligting nie, maar as belangrike deelnemers.”

In die onderhoude wat gedoen is, is verseker dat die onderhoudvoerders ten minste dieselfde gender en ouderdom as die deelnemers is en dieselfde taalvoorkeur het.

Oelofsen verwys na ’n opmerking wat Mogotlane oor sy foto’s gemaak het, dat elke foto ’n verhaal te vertelle het, mits ons bereid is om aandag te gee.

Dit is dié “aandag gee” wat volgens haar dié voortgaande projek van meet af kenmerk. Bewus van die persoonlike en intieme aard van die inhoud het die navorsers deurgaans ruggespraak met die deelnemers gehad om te verseker dat hulle deurgaans gemaklik is met die trant en rigting van die navorsing. Meer nog, om te verseker dat hulle eienaarskap behou van hulle geleefde ervaring.

III

Dit is navorsingsprojekte soos dié wat die leerstoel groter blootstelling wil gee op sy versamelbronwebwerf “Through the eyes of survivors of apartheid: Life despite pain and suffering”, opdat navorsing nie stof vergaar op biblioteekrakke nie, maar deel kan word van die openbare arena.

Esther Cenga, ʼn foto deur Noncedo Gxekwa (Foto: Verskaf)

Oor dié aspek, spesifiek met betrekking tot die inbring van verhale van ’n gewelddadige verlede in die openbare arena, het Nancy Rushohora, senior navorser aan die US-leerstoel, deelgeneem aan die webinaar en verwys na die bloedige verlede van Tanzanië, voorheen Tanganjika, haar land van herkoms. Tanzanië was van die 1880’s tot 1919 ’n kolonie en deel van Duits-Oos-Afrika, waarna die land ’n Britse mandaat geword het.

Meer as 100 jaar gelede het die Duitse magte die Maji Maji-rebellie onderdruk en minstens 75 000 mense is dood, ’n volksmoord wat Duitsland nog altyd ontken het.

Rushohora het verwys na navorsing oor die Maji Maji-herinneringe en hoe ’n jonger geslag die verhale oor dié geskiedenis op vindingryke manier inspan om dit verwerk te kry. Selfs nou nog, meer as 100 jaar later.

As ’n digitale ruimte, eerder as die “argief” waarna Rushohora in die Tanzaniese konteks verwys, word dié versamelbronwebwerf die plek waar die verhale van mense wat historiese geweld oorleef het, in die formaat van teks, foto’s, video, oudio, artefakte en in verskillende kunsvorme gestoor kan word. Die oogmerk is produktiewe gesprekke, onder meer oor die intergenerasie effek van apartheid en ander gewelddadige gemeenskapvergrype, plaaslik en wêreldwyd. Die boek dien as vertrekpunt, hoewel nog verhale van navorsingsdeelnemers bygevoeg kan word en so ook terugvoer van jonger mense in voortgaande fokusgroepgesprekke.

Die oogmerk is immer die oorspronklike stemme van die storievertellers om te verseker dat hul geleefde ervaring sentraal staan in gesprekke op die webwerf. En om sin te probeer maak van historiese trauma, en transformasie.

Die uitstalling en die webwerf is hier beskikbaar.

 

  • 2

Kommentaar

  • Sal graag ‘n uitstalling van foto’s wil sien post apartheid. Die treine, die optogte,die moorde,die rye mense vir kos, Marikana, die putlatrines, afgebranden munisipaliteite, vuil hospitale, ens. Oral waar misdade teen die land se mense gepleeg word.

  • Sulayga Jooste

    Ek hou baie van geskiedenis, want dit verwys na alles wat die mense in daardie moeilike tye deurgegaan het. Dit is baie hartseer om movies te kyk van die apartheidlewe, hoe mense behandel is. Dit was nie regverdig teenoor daardie mense wat families en kinders verloor het nie. 😔

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top