Onverdiende eiegeregtigheid

  • 2

Foto: Andrea Piacquadio via Pexels

Bottom line, we should all seek and maintain a keen and heightened awareness of the presence of unearned entitlement, whether it be exhibited by others or emanating from within ourselves. We then must act accordingly. (Benzel 2025)

Serfontein (2022) bied ’n baie insiggewende uiteensetting van die fenomeen bekend as eiegeregtigheid (entitlement), vanuit ’n korporatiewe leierskap- en moreel-etiese perspektief binne die vryemarkstelsel. Hiervolgens is eiegeregtigheid hoofsaaklik ’n problematiese verskynsel met velerlei implikasies binne die konteks van Eerstewêreldse besigheidsmodelle. Watter onderliggende faktore sou dus moontlik ’n rol kon speel om die heersende perspektief in verband met eiegeregtigheid as ’n negatiewe persoonlikheidstrek uit ’n ander hoek toe te lig?

Eiegeregtigheid kan beskryf word as volg: “[O]m selfgesentreerd te wees en te glo dat jy altyd reg is, sonder om ander se perspektiewe of gevoelens in ag te neem” (Grobler 2025). Dit kan ook gesien word as ’n relatiewe stabiele persoonlikheidstrek wat ’n wesenlike impak uitoefen op sosiale interaksies en sisteme. Die funksie van persoonlikheidstrekke is om strategieë vir die hantering van eksterne eise en uitdagings te selekteer, te implementeer en te reguleer (Fajkowska en Kreitler 2018).

.......
Eiegeregtigheidsopvattings wat voortspruit uit self-evaluerende houdings dat ’n persoon op meer voordele geregtig is as ander individue, ongeag die werklike verdienstelikheid wat ten grondslag van dié opvatting lê, is meestal problematies van aard.
.......

Eiegeregtigheidsopvattings wat voortspruit uit self-evaluerende houdings dat ’n persoon op meer voordele geregtig is as ander individue, ongeag die werklike verdienstelikheid wat ten grondslag van dié opvatting lê, is meestal problematies van aard. Hierdie eienskap manifesteer dikwels op ’n subtiele wyse in alledaagse gedragspatrone, maar die gevolge daarvan is verreikend en kan selfs in hofsake ter sprake kom. In die saak Van Greunen versus McGovern in die Vrystaatse Hooggeregshof (South African Legal Information Institute 2023) beweer die klaer dat die respondent haarself die reg toegeëien het (met ander woorde, dit dui op selfgeregtigheid) om oor ’n lang periode lasterlike bewerings oor die klaer en sy maatskappy te versprei. Die regter moes gevolglik die voordele van die reg tot vryheid van spraak opweeg teen die reg tot menswaardigheid.

In die trekfaktorteorie word van die veronderstelling uitgegaan dat die menslike persoonlikheid saamgestel is uit spesifieke basiese trekke of disposisies. Die intensiteit van die trekke vorm die basis van unieke persoonlikheidsverskille (Fajkowska en Kreitler 2018). Navorsingsvraagstukke wat onder andere op hierdie terrein ondersoek word, sluit in: persoonlikheidstrek-assessering, die praktiese toepassing van persoonlikheidstrekke (byvoorbeeld die rol wat persoonlikheidstrekke in psigoterapeutiese verhoudinge speel), asook die bepaling van onderlinge verwantskappe tussen persoonlikheidstrekke en menslike gedragspatrone (byvoorbeeld is daar ooreenkomste tussen persoonlikheidstrekke en gedrag of is dit verskillende entiteite, en indien dit verskillende entiteite sou wees, hoe word die gesamentlike funksionering van die afsonderlike entiteite verklaar?).

Die (sinonieme) terme, eiegeregtigheid, selfgeregtigheid en sielkundige geregtigheid, se tentakels is te vinde in verskillende vakgebiede, soos Politieke Wetenskap, Sosiale Geregtigheid, Bedryfsielkunde, Filosofie, Ekonomie, Verbruikersgedrag en die Opvoedkunde (Serfontein 2022; Tomlinson 2013).

........
Eiegeregtigheid word tans nie as ’n afsonderlike, kliniese, diagnostiese entiteit deur die bekende psigiatriese klassifikasiestelsels erken nie. In die psigopatologie figureer eiegeregtigheid merendeels as ’n belangrike substraat van die persoonlikheidsversteuring narsisme.
........

Eiegeregtigheid word tans nie as ’n afsonderlike, kliniese, diagnostiese entiteit deur die bekende psigiatriese klassifikasiestelsels erken nie. In die psigopatologie figureer eiegeregtigheid merendeels as ’n belangrike substraat van die persoonlikheidsversteuring narsisme (Manis 2022).

Eiegeregtigheid kan egter nie onder alle omstandighede in ’n negatiewe lig beskou word nie. Benzel (2025) onderskei tussen verdienstelike en onverdienstelike eiegeregtigheid (earned and unearned entitlement). Indien ’n persoon respek afdwing op grond van volgehoue prestasie of uitstekende dienslewering, dan is verdiende eiegeregtigheid aanvaarbaar in hierdie konteks. Byvoorbeeld, indien kontraktueel ooreengekom word om ’n werknemer te bevorder nadat ’n verdere kwalifikasie behaal word en dit gebeur nie, sou sy besware as aanvaarbare en verdienstelike eiegeregtigheid bestempel kon word. In teenstelling hiermee, kan die optrede van die jongman in die gelykenis van die verlore seun as blatante, onverdienstelike eiegeregtigheid geïnterpreteer word.

Die doel van hierdie artikel is om eiegeregtigheid as ’n selfstandige konsep (met ander woorde, ontkoppel van kliniese narsisme) verder te ondersoek in terme van verbandhoudende houdings- en gedragsveranderlikes, soos gerapporteer word in enkele geselekteerde, portuur-geëvalueerde navorsingstudies.

Navorsingstudies

Die resultate van navorsingstudies behoort vertolk te word met inagneming van moontlike metodologiese en etiese tekortkominge in die ontwerp daarvan. Data wat deur middel van byvoorbeeld vraelyste ingesamel word, kan inherente sydighede (bias) bevat; die steekproewe sou nie verteenwoordigend van die populasies kon wees nie en die bevindinge is normaalweg nie sondermeer veralgemeenbaar nie. Teen hierdie agtergrond word die onderstaande seleksie van inligting, op grond waarvan die aard van die konsep eiegeregtigheid verder toegelig word, kortliks bespreek. 

Eiegeregtigheid en houdings

........
[S]tudente met hoë vlakke van uitbuitende eiegeregtigheid [toon] terselfdertyd sterk behoeftes aan vryetyd/lewenstylbalans en genotvolheid in die werksomgewing. Die bevindinge dui daarop dat hierdie respondente hoë werkverwagtinge het, maar nie noodwendig bereid is om hard te werk nie.
........
  • ’n Studie deur Nkomo (2022) het ten doel om houdings wat verband hou met eiegeregtigheid, te ondersoek met behulp van ’n steekproef studente wat twee hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika verteenwoordig. Die navorsing is gedoen teen die agtergrond van die studente-onluste en -betogings gedurende 2016, waartydens onder andere gratis universiteitsonderrig geëis is.

    Die rasionaal van die studie is dat indien ’n diskrepansie ontstaan tussen studente se verwagtinge en die hulp wat die owerhede kan bied, eiegeregtigheid tot toenemende frustrasies aanleiding gee, met ’n ontwrigtende effek op leeromgewings.

    Die steekproef het bestaan uit ’n relatief groot getal generasie-Y-studente (n=519). Onafhanklike t-toetse is gebruik om die rekenkundige gemiddeldes tussen mans en vroue te vergelyk met betrekking tot materialisme en eiegeregtigheid as veranderlikes.

    Die resultate (Nkomo 2022) toon aan dat die bewustheid (sense) van eiegeregtigheid by die studente besonder hoog was en dat hulle ook hoë vlakke van materialisme toon. Uitbuitende eiegeregtigheid was positief verwant aan twee werkswaardes, naamlik onafhanklikheid en genotvolheid (enjoyment).

    Dit blyk dus dat studente met hoë vlakke van uitbuitende eiegeregtigheid terselfdertyd sterk behoeftes toon aan vryetyd/lewenstylbalans en genotvolheid in die werksomgewing. Die bevindinge dui daarop dat hierdie respondente (wat generasie-Y verteenwoordig) hoë werkverwagtinge het, maar nie noodwendig bereid is om hard te werk nie.

  • Eiegeregtigheid word in sekere kringe as ’n eendimensionele konstruk beskou. Lessard, Greenberger, Chen en Farruggia (2011) ondersoek egter twee potensiële, onderliggende fasette van eiegeregtigheid, naamlik: uitbuitende en nie-uitbuitende eiegeregtigheid. Eersgenoemde berus op uitbuitende, interpersoonlike interaksies en verwagtinge van spesiale behandeling, terwyl laasgenoemde verwys na eiegeregtigheidsopvattings met positiewe selfagting en billikheid as basis.

     
    Voorbeelde van uitbuitende eiegeregtigheidshoudings is die volgende: “Ek verdien meer sukses in my lewe as ander wat dit maklik gehad het”; “Ek is bereid om toe te gee ek voel ek verdien meer voorregte in die lewe as ander mense”; “Ek behoort nie so hard te werk as ander om te kry wat ek verdien nie”; “Indien ek ’n gereelde kliënt van ’n restaurant is, behoort hulle bereid te wees om my voor sommige ander mense te bedien.” Die volgende voorbeelde verteenwoordig nie-uitbuitende eiegeregtigheidshoudings: “Ek verdien om met respek behandel te word deur almal”; “Ek verwag om met respek behandel te word, selfs deur diegene wat ryk en beroemd is”; “Ek is geregtig daarop om die loopbaan te kies waarin ek belangstelling en aanleg toon.”

    ’n Steekproef (Lessard ea 2011) bestaande uit 266 universiteitstudente (met ’n gemiddelde ouderdom van 20,5 jaar) verbonde aan die Universiteit van Kalifornië is vir die doel van die studie gebruik. Uitbuitende eiegeregtigheid het statisties beduidend gekorreleer met hoër vlakke van psigopatie en neurotisisme, asook met laer vlakke van werkoriëntasie, sosiale toewyding en positiewe selfagting, terwyl nie-uitbuitende eiegeregtigheid beduidend gekorreleer het met positiewe selfagting.

    Dié navorsers kom tot die gevolgtrekking dat eiegeregtigheid nie noodwendig bloot ’n “slegte” of negatiewe persoonlikheidseienskap is nie. Dit blyk eerder dat hoër vlakke van uitbuitende eiegeregtigheid geassosieer word met ’n geneigdheid om voordeel uit ander te trek om sodoende jou eie doelwitte te bereik, asook die opvatting dat minder moeite gedoen hoef te word om dieselfde belonings as ander te ontvang. Hierdie dimensie hou verband met eienskappe wat negatiewe persoonlike en interpersoonlike verhoudinge tot gevolg het. In teenstelling daarmee, blyk dit dat hoër vlakke van nie-uitbuitende eiegeregtigheid gebaseer is op die persepsie dat ’n persoon geregtig is op positiewe uitkomste, maar dit beteken nie noodwendig die reg om ander uit te buit en spesiale behandeling te verwag nie. Nie-uitbuitende eiegeregtigheid word oor die algemeen geassosieer met pro-sosiale eienskappe.

  • Status word gedefinieer as ’n sosiale hiërargiese posisie gebaseer op die ontvang van belonings, soos invloedrykheid, beskikbaarheid van hulpbronne en die toespitsing van aandag, wat sommige individue van nature gemotiveerd is om na te streef (Lange, Redford en Crusius 2018). Dié navorsers maak gebruik van vyf verskillende steekproewe (n=2372) bestaande uit werkers verbonde aan die Amerikaanse maatskappy Amazon Mechanical Turk. Die resultate dui daarop dat individue wat ’n hoë mate van eiegeregtigheid toon, strewe na hoër status, omdat status hul behoefte aan spesiale behandeling en erkenning vervul. Hoë aansien word veral deur middel van twee hoofroetes bereik, naamlik prestige (om respek te verdien deur middel van spesiale vaardighede en uitsonderlike prestasies) en dominansie (om beheer uit te oefen deur vrees en intimidasie).

    Deelnemers met hoë eiegeregtigheid toon dikwels gedragspatrone wat verband hou met dominansiemotivering, soos aggressie, selfsug, onetiese gedrag en sosiale magsvertoon. Aangesien statusposisie egter verband hou met sosiale konsensus, wat veral mededingend en wisselvallig van aard is, kan sulke persone dikwels bedreigings ervaar wat gevare vir hul statusposisie inhou en sodoende nie hul behoefte aan status doeltreffend kan uitleef nie.

  • Die Amerikaanse navorsers Grubbs en Exline (2016) wys daarop dat sielkundige eiegeregtigheid ’n persoonlikheidstrek is wat geassosieer word met denkpatrone soos oordrewe verwagtinge van verdienstelikheid en uniekheid, asook onrealistiese en onvervulde verwagtinge. Eiegeregtigheid word dus as ’n kwesbare persoonlikheidstrek gekonsepsualiseer. Hierdie onvervulde verwagtinge word as teleurstellend, ego-bedreigend en onbillik deur die betrokkenes vertolk. Dié simptome is almal aanduiders van sielkundige nood. As gevolg hiervan, sal ’n eiegeregtige individue geneig wees om sy/haar selfbeeld te probeer versterk en sodoende word die (bose) siklus oor en oor herhaal.

    Eiegeregtigheid presipiteer die ontwikkeling van sielkundige trauma, wat die potensiaal vir interpersoonlike konflik verhoog en wat tot verdere persoonlike trauma lei.

Eiegeregtigheid en gedrag

........
Bestuurders behoort die voorkoms van eiegeregtigheid onder werknemers deeglik te moniteer en evalueer, asook die nodige maatreëls tref om die nadelige gevolge daarvan op kennisvloei in die organisasie te voorkom. Voorbeelde van voorkomingstrategieë is doeltreffende mentorskap, indiensopleiding en erkenning van werksprestasies.
........
  • Die sielkundiges Zitek, Jordan, Monin en Leach (2010) maak gebruik van drie verskillende laboratoriumeksperimente waarvan die resultate die hipotese bevestig dat blootstelling van ’n persoon aan onbillike of onregverdige optrede (being wronged), aanleiding gee tot die ontwikkeling van verdedigingsmeganismes, soos weiering om hulp te verleen aan ander, selfsugtigheid en die aandrang op buitensporige belonings om sodoende verdere “persoonlike lyding” te voorkom. Hiervolgens wil dit voorkom asof die deelnemers aan die eksperimente met toenemende ontnugtering op onbillikheid gereageer het, wat aanleiding gee tot teleurstelling, wraakgedagtes en vergeldingstappe, wat almal onderliggende prosesse aan eiegeregtigheidsgedragspatrone is.

    Die bewustheid van eiegeregtigheid verander van oomblik tot oomblik en kan veralgemeen word na ander terreine wat geensins met die oorspronklike onregverdige behandeling verband hou nie. Daarom kan eiegeregtigheid beskou word as ’n dinamiese denkwyse (dynamic mindset) wat reaktief is op diverse, situasionele prikkels (Zitek ea 2010).

    Die standpunte van Jordan, Ramsay en Westerlaken (2016) sluit hierby aan. Hulle vind dat in teenstelling met die fokus op eiegeregtigheid as ’n stabiele persoonlikheidstrek, eiegeregtigheid ook deur sekere navorsers beskou word as ’n latente eienskap, met ander woorde gedragspatrone wat deur spesifieke ervaringe geaktiveer word.

  • Hackney, Maher, Daniels, Hochwarter en Ferris (2017) vind empiriese steun vir die hipotese dat waargenome eiegeregtigheidsgedrag van kollegas negatief verband hou met taakprestasie, prestasiemotivering in die algemeen, asook persoonlike tevredenheid in die werksomgewing. Kollegas se eiegeregtigheidsgedrag is beoordeel as self-geabsorbeerd, berekend, openlike soeke na erkenning en blatante onregverdige optrede. Indien die kwaliteit van die werksverhoudinge tussen werknemers en toesighouers egter positief was, word die persepsie van die impak van kollegas se eiegeregtigheidsoptrede daardeur beduidend verminder.
  • Kennisweerhouding (knowledge hiding behaviour) verwys na werknemers se doelbewuste verberging en/of weerhouding van noodsaaklike werksinligting wat mede-kollegas noodsaaklik vind of verwag word om van kennis te dra (Ayman Mousa en Rjoub 2021). Die verband tussen geneigdheid tot kennisverberging en eiegeregtigheid is ondersoek deur gebruik te maak van 375 respondente, almal werknemers in die Jordaniese kommersiële banksektor. 45% van die werknemers was 21 tot 30 jaar oud en 26% tussen 31 en 40 jaar. 3% het meer as ses diensjare voltooi, en 28% tussen vier en ses jaar.

    Die resultate bevestig dat sielkundige eiegeregtigheid positief verband hou met kennisweerhoudingsgedrag. Werknemers met hoë vlakke van sielkundige eiegeregtigheid was geneig om hul besluite te regverdig op grond van hul persoonlike doelwitte. Die motivering vir kennisweerhouding is gesetel in die behoefte om beheer te behou, asook in persepsies van onvoldoende, finansiële vergoeding en miskenning van vaardighede en prestasies deur die bestuur. Sommige werknemers het aangevoer dat eiegeregtige kollegas die kennisvloei binne die span versteur of skeeftrek om hul eie doelwitte sodoende te bereik en gevolglik word die effektiwiteit van spandoeltreffendheid benadeel.

    Bestuurders behoort die voorkoms van eiegeregtigheid onder werknemers deeglik te moniteer en evalueer, asook die nodige maatreëls tref om die nadelige gevolge daarvan op kennisvloei in die organisasie te voorkom. Voorbeelde van voorkomingstrategieë is doeltreffende mentorskap, indiensopleiding en erkenning van werksprestasies (Ayman Mousa en Rjoub 2021).

  • Maatskappyburgerskapgedrag (organisational citizen behaviour) beteken dat werknemers tot voordeel van die maatskappy optree deur goeie maniere, voldoende selfbeheer, medemenslikheid en behulpsaamheid aan die dag te lê. Dit kan in dieselfde lig gesien word om as ’n ambassadeur vir die maatskappy op te tree en verwys na werknemersgedrag wat die organisasie bevoordeel, maar nie deel van die werknemers se formele posbeskrywings vorm of direk beloon word nie. Hierdie diskresionêre gedrag dra by tot ’n positiewe werksomgewing en die algehele doeltreffendheid van die organisasie.

    Schwarz, Newman, Yu en Michaels (2023) ondersoek die invloed van ’n positiewe maatskappyklimaat (wat gekenmerk word deur hoë werknemersbetrokkenheid) op eiegeregtigheid wat onder werknemers aanwesig is. Die hipotese is dat werknemers met hoë eiegeregtigheid meer waarskynlik by positiewe werkshoudings en -gedrag betrokke sal raak, indien hulle binne ’n werksklimaat van hoëkwaliteit werknemersbetrokkenheid werksaam is. In ’n klimaat van lae werknemersbetrokkenheid sal werknemers met hoë vlakke van sielkundige eiegeregtigheid meer geneig wees om hulself te isoleer en voort te gaan met hul negatiewe eiegeregtigheidsgedragspatrone. Die proses bevorder dus swak toewyding aan die maatskappy en gevolglik sal hierdie werknemers minder gemotiveerd wees om betrokke te raak by positiewe maatskappyburgerskapgedrag.

    Die empiriese bevindinge van Schwartz ea (2023) toon aan dat sielkundige eiegeregtigheid ’n beduidende effek op werknemers se werkstoewyding uitoefen. Eiegeregtigheid het ’n positiewe effek op maatskappyburgerskapgedrag deurdat werknemers se toewyding verhoog word wanneer die werknemerbetrokkenheidsklimaat in hul werksverband hoog is. In teenstelling hiermee, wanneer die werknemerbetrokkenheidsklimaat in die maatskappy laag is, het sielkundige eiegeregtigheid ’n negatiewe invloed op maatskappyburgerskapgedrag, omdat hierdie werknemers se toewyding afplat.

Gevolgtrekkings

Die konsep eiegeregtigheid ontlok gewis negatiewe konnotasies en wel in so ’n mate dat die enkele positiewe fasette daarvan oorskadu word deur die negatiwiteit.

Die vakliteratuur wat oor eiegeregtigheid handel, staan hoofsaaklik op twee bene: eerstens as ’n bydraende faktor tot ’n diagnose van kliniese en subkliniese narsistiese persoonlikheidsversteuring. Eiegeregtigheid word egter ook as ’n selfstandige persoonlikheidstrek bestudeer, met die klem op die normatiewe aard daarvan. Met ander woorde, die persoonlikheidstrek word as maatstaf of norm gebruik om die invloed op veranderlikes soos werkstoewyding, inligtingweerhouding of die strewe na status te ondersoek.

.......
[E]iegeregtigheid kan uiters problematies wees, indien dit deur selfbelang gedryf word, maar kan ook realisme, wedersydse respek en erkenning weerspieël wanneer dit op verdienste berus.
.......

In die geheel word ’n poging in hierdie artikel aangewend om ’n genuanseerde siening van die komplekse onderwerp te handhaaf. Met ander woorde, eiegeregtigheid kan uiters problematies wees, indien dit deur selfbelang gedryf word, maar kan ook realisme, wedersydse respek en erkenning weerspieël wanneer dit op verdienste berus.

Indien die bevindinge egter op gesigswaarde alleen geneem word, hou dit heelwat implikasies in vir die loopbaanontwikkeling van studente op universiteitsvlak, sowel as vir menslike hulpbronontwikkeling in die private en openbare sektore.

Eindnota

VivA, by name Riaan Grobler, word bedank vir sy insette in verband met die gebruik van die korrekte Afrikaanse terminologie vir entitlement.

Bibliografie

Ayman Mousa, MA en H Rjoub. 2021. Perceived organizational support, psychological entitlement, and extra-role behavior: The mediating role of knowledge hiding behavior. Journal of Management and Organization, 27(3):507–22. https://www.proquest.com/docview/2566216856. DOI:10.1017/jmo.2019.1.

Benzel, E. 2025. Entitlement. World Neurosurgery, 194:123583. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S1878875024020333.

Fajkowska, M en S Kreitler. 2018. Status of the trait concept in contemporary personality psychology: Are the old questions still the burning questions? Journal of Personality, 86:5–11. https://onlinelibrary-wiley-com.ez.sun.ac.za/doi/full/10.1111%2Fjopy.12335.

Grobler, R. 2025. Taaladviseur. Virtuele Instituut vir Afrikaans. 19 Julie.

Grubbs, JB en JJ Exline. 2016. Trait entitlement: A cognitive-personality source of vulnerability to psychological distress. Psychological Bulletin, 142(11):1204–26. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1037/bul0000063.

Hackney, KJ, LP Maher, SR Daniels, WA Hochwarter en GR Ferris. 2017. Performance, stress, and attitudinal outcomes of perceptions of others’ entitlement behavior: Supervisor–subordinate work relationship quality as moderator in two samples. Group & Organization Management, 43(1):101–37. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1177/1059601117696676.

Jordan, PJ, S Ramsay en KM Westerlaken. 2016. A review of entitlement: Implications for workplace research. Organizational Psychology Review, 7(2):1–21. DOI: 10.1177/2041386616647121.

Lange, J, L Redford en J Crusius. 2018. A status-seeking account of psychological entitlement. Personality and Social Psychology Bulletin, 45(7):1113–28. https://journals-sagepub-com.ez.sun.ac.za/doi/full/10.1177/0146167218808501.

Lessard, J, E Greenberger, C Chen en S Farruggia. 2011. Are youths’ feelings of entitlement always “bad”?: Evidence for a distinction between exploitive and non-exploitive dimensions of entitlement. Journal of Adolescence, 34:521–29. https://doi.org/10.1016/j.adolescence.2010.05.014.

Manis, E. 2022. Study uncovers different justifications of entitlement among grandiose and vulnerable narcissists. PsyPost, 29 Maart. https://www.psypost.org/study-uncovers-different-justifications-of-entitlement-among-grandiose-and-vulnerable-narcissists/.

Nkomo, E. 2022. Perceived work values, materialism and entitlement mentality among generation Y students in South Africa. Acta Commercii, 22(1):a1033. https://doi. org/10.4102/ac.v22i1.1033.

Schwarz, G, A Newman, J Yu en V Michaels. 2023. Psychological entitlement and organizational citizenship behaviors: The roles of employee involvement climate and affective organizational commitment. The International Journal of Human Resource Management, 34:197–222. https://doi.org/10.1080/09585192.2021.1962388.

Serfontein, M. 2022. Entitlement. A Path Less Travelled, 1 April. https://apathlesstravelled.com/entitlement/.

South African Legal Information Institute. 2023. Free State High Court, Bloemfontein. Van Greunen and another v McGovern (5395/2022) [2023] ZAFSHC 104 (6 April). https://www.saflii.org/za/cases/ZAFSHC/2023/104.html.

Tomlinson, EC. 2013. An integrative model of entitlement beliefs. Employee Responsibilities and Rights Journal, 25:67–87. DOI 10.1007/s10672-012-9208-4. https://link.springer.com/article/10.1007/s10672-012-9208-4.

Zitek, EM, AH Jordan, B Monin en FR Leach. 2010. Victim entitlement to behave selfishly. Journal of Personality and Social Psychology, 98(2):245–55. DOI: 10.1037/a0017168. https://psycnet-apa-org.ez.sun.ac.za/fulltext/2010-00584-006.html.

Lees ook:

Die toksiese werksplek

Die verlofparadoks

Iets vir baas én Klaas: ’n lesersindruk van Impossible bosses

Springmielies: Intro- en ekstroversie – ’n digotomie, of viering van diversiteit?

Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur

Hippokrates se vier temperamentstipes: ’n parodie

  • 2

Kommentaar

  • Jeanette de Klerk-Luttig

    Dankie vir die insiggewende artikel, Handre. Hierdie komplekse verskynsel van eiegeregtigheid kom meer en meer voor op alle vlakke.

  • Koos Holtzhausn

    Dankie, Handre, ek verbaas my vir die eiegeregtigheid deesdae, selfs in padgedrag.
    Sommige mense eien hulle die reg toe om persoonlike kommentaar oor ander mense te maak.

    Goeie artikel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top