Fantasi Uitgewers publiseer Elisenda Roca se opwindende Wen!-reeks wat op jong lesers gemik is. Die boeke dra sosiale vaardighede op ’n deernisvolle en kindervriendelike manier oor.
Die vier titels is: Skoert, nagmerries!; Haai! Dankie! Baai!; Waar of vals?; en Aan – Af.
Die lokteks op elkeen se agterblad lees: “Is jy alleen, verveeld, kwaad of bang? Woon daar ’n monster in jou gang? Lees in hierdie stories hoe kinders nes jy dieselfde dinge kon leer vermy.”
Frans Maree van Fantasi Uitgewers het die bekroonde skrywer en professionele vertaler Sophia Kapp genader om die reeks uit Katalaans in Afrikaans te vertaal. Sy het toe die teks in prettige versvorm verwerk en versies geskryf wat rym, betaamlik bly, vermaak en opvoed. Die boeke behandel onderwerpe soos vrees vir die donker, goeie maniere, eerlikheid en selfoongebruik. Louise Viljoen (J-Bay) het ʾn paar vrae hieroor aan haar gestel.
Verduidelik asseblief die verskil tussen “vertaal” en “verwerk”.
Om dié vraag behoorlik te kan beantwoord, moet ek so ’n bietjie terugval op die vertaalkunde. Wanneer ’n vertaler ’n opdrag kry, soos wat ek by Frans gekry het, is een van die kernkwessies waaroor jy moet besluit, jou “lojaliteit”.
’n Vertaling is naamlik lojaal aan die bronteks (dis byvoorbeeld literêre tekste waar ’n mens die oorspronklike werk so getrou moontlik vir die leser van die doelteks wil oordra) of lojaal aan die doelteksgebruiker (byvoorbeeld advertensies, waar die oorspronklike teks minder belangrik is as dat die doelteksgebruiker die produk moet gaan koop). Die meeste vertalings lê op ’n skaal iewers tussen dié twee punte – ’n mens wil gewoonlik die boodskap van die bronteks so akkuraat moontlik oordra, maar ’n mens wil nou ook nie klink soos ’n vreemdetaalspreker nie. Die ideaal is dat die doeltaalgebruiker dieselfde ervaring moet hê by die lees van die vertaalde teks as die gebruiker wat die teks in die brontaal lees.
Verwerking het van hierdie skaal afgeklim. Daarmee beweeg ons só ver weg van die bronteks dat dit eintlik op herskrywing neerkom. Verwerking gebeur byvoorbeeld wanneer ’n boek in ’n film omskep word, of wanneer ’n komponis ’n opera op ’n dramateks baseer. Maar dit is ook moontlik om ’n teks in ’n ander (soort) teks te verwerk. ’n Kinderbybel is ’n verwerking van die Bybel en Bridget Jones’s Diary is ’n verwerking van Pride and prejudice. Die oorspronklike boodskap is daar, die plot is dieselfde, die karakters is (grootliks) dieselfde, maar die storie word anders vertel sodat ’n ander stel gebruikers daarby aanklank kan vind.
Toe ek oorspronklike hierdie tekste gekry het, het ek met Frans daaroor gepraat, en ons het besluit dit is sinvoller om die stories heeltemal in ’n Afrikaanse idioom oor te skryf. Kinders (en hulle ouers) wat hierdie boekies gaan lees, het ’n behoefte aan ’n lekker Afrikaanse storie, nie aan ’n oorvertelde Europese teks nie.
Wat kan jy ons van Katalaans vertel? Het die taal enige bagasie?
Katalaans word hoofsaaklik in die noordoostelike dele van Spanje gepraat, maar daar is ook ’n beduidende aantal sprekers in Frankryk en Italië.
’n Taal se geskiedenis is gewoonlik meer kompleks as wat ’n mens in ’n artikel soos hierdie behoorlik kan bespreek. Katalaans is, nes Baskies, in ’n bepaalde en baie ou kultuur ingebed, en albei moet naas Spaans in Spanje ’n vastrapplek kry. Ons weet van die Baske se stryd om onafhanklikheid wat soms gewelddadig geraak het. Die Katalane was meer vreedsaam, maar in 2017 was daar wel ’n beweging om groter onafhanklikheid van Spanje te kry. Hierdie artikel gee ’n beter beeld van die omvang van Spanje se interne konflik.
Ek dink daar is dus ooreenkomste tussen Katalaans en Afrikaans – dis tale wat in ’n groter, komplekse bestel moet oorleef – maar daar is ook ooreenkomste tussen Katalaans en Kaaps. Ek wil nie te diep in daardie gesprek inklim nie, buiten om te sê dat die publikasie van hierdie boeke in Katalaans meer is as net nog stories vir kinders. Elke teks wat in ’n taal gepubliseer word, is ’n bevestiging van ’n taal se bestaan. Dit gee aan die taal ’n sekere status – die taal is geformaliseer, dis ’n skryftaal, die spelling en grammatika word gestandaardiseer – en dit skep lesers en gebruikers vir die taal. Dit gee aan die sprekers van die taal ’n status as lede van ’n erkende groep, en dit bed húlle in die kultuur in. Veral kinderboeke is belangrik, want dit stel sprekers op ’n jong ouderdom aan die taal bloot en maak húlle op ’n jong ouderdom lede van die groep.
Jy het nog nooit kinderfiksie geskryf of vertaal nie, en jy het ook nog nooit versies geskryf nie. Waarom het jy tot hierdie projek ingestem?
Ek hou daarvan om met my skryfwerk nuwe benaderings te toets. Vertaling en redigering betaal die dak oor my kop en die brood op my tafel, maar dit kan sieldodend raak. My skryfwerk was nog altyd my kreatiewe uitlaatklep, maar dit kan ook roetine word as ’n mens nie jou eie kop so ’n bietjie uitdaag nie. Hierdie projek het my werk en my kreatiewe werk versoen.
Ek het besef dit is ’n waagstuk – kinderboeke is seker van die moeilikste tekste om suksesvol te skryf – en ’n mens moet versigtig wees vir die opvatting dat ’n mens dit “sommer gou” gaan produseer. Eenvoudige skryfwerk is hoegenaamd nie gelyk aan maklike skryfwerk nie. Dit is in baie opsigte moeiliker om eenvoudig te skryf, en dis veral moeilik om vir jong lesers te skryf wie se leesvaardighede op ’n spektrum lê.
Ek het dus een van die boekies as ’n proeflopie vertaal en dit aan Frans teruggestuur sodat hy kon sien of ek op die regte pad is. Gelukkig het hy wel so gedink!
Wat het jy daaruit geleer en voor watter uitdagings het jy te staan gekom?
Ek het geleer dat dit lekker is!
Die grootste uitdaging was natuurlik dat ek nie ’n snars Katalaans kan verstaan nie. Dis eintlik ’n doodsonde in die vertaalwêreld om uit of in ’n taal te werk wat jy nie 100% beheers nie, maar ek kon in hierdie geval so ’n bietjie verneuk met die vertaalsagteware tot my beskikking. Ek werk met Wordfast – dis rekenaargesteunde vertaalsagteware – en ek kon daarmee ’n idee kry van die strekking van elke storie. Die (lieflike) illustrasies was natuurlik ook tot my beskikking, en ek kon ook daarmee agter die kap van die byl kom. Daarna was dit ’n kwessie van gaan sit en skryf (oor en oor) tot ek ’n Afrikaanse weergawe van die teks gehad het.
Die ander uitdaging is natuurlik die taal wat ’n mens vir ’n kinderboek aanwend. In volwassenefiksie is ’n skrywer se enigste beperking jou eie taalbeheersing. (Goed, in genrefiksie het ’n mens ook so ’n bietjie met genrespesifieke taalgebruik te doen, maar dis hoekom ’n mens lees voor jy self skryf – om te weet wat werk en wat werk nie.) Kinderboeke loop op ’n hoogspanningslyn – aan die een kant moet die boeke toeganklik bly, maar aan die ander kant kan ’n mens nie die boeke so skryf dat selfs die onvaardigste lesertjies elke woord gaan verstaan nie. Geraldine McCaughrean het ’n paar jaar gelede toe sy die Carnegie-medalje vir haar kinderskryfwerk verower, sterk kapsie gemaak teen uitgewers wat taalgebruik in kinderboeke wil polisieer en verskraal, want daarmee skep ons “an underclass of citizens with a small but functional vocabulary: easy to manipulate and lacking in the means to reason their way out of subjugation”. Ek glo darem nie uitgewers van Afrikaanse kinderboeke sit die pot so ver mis soos wat sy beweer nie, maar ek het wel al te doen gehad met mense (uitgewers, vertalers, teksredakteurs en onderwysers) wat namens kinders wil besluit wat hulle moontlik kan begryp. Dit doen kinders en die taal onreg aan. Ja, ’n boek moet toeganklik bly, maar dit beteken nie jong lesers hoef nie uitgedaag te word nie. As ’n jong lesertjie dan in ’n teks ’n woord of uitdrukking teëkom wat hulle nie ken nie, is dit waarvoor ’n mens ouers, grootouers en woordeboeke het.
Watter rol speel boeke om sosiale vaardighede aan kinders oor te dra?
Ek is altyd ’n bietjie lugtig vir ’n boek wat preek. ’n Kinderboek wat preek, is vir my ’n gruwel. Kinders doen goed wat vir hulle lekker is, en die beste manier om hulle aan die lees te kry en te hou, is om vir hulle boeke te gee wat lekker lees. ’n Preek is nie lekker nie. Kinders mag jonk wees, maar hulle is nie onnosel nie, en hulle weet wanneer hulle geïndoktrineer word.
Máár dit is ook ’n onomstootlike feit dat boeke ons blik op die werklikheid verander. Ons is anders as ons ’n boek klaar gelees het, en dis ook vir kinders waar. Al word ’n kind dus deur ’n boek vermaak, kan die kind met die vermaak saam ’n klomp ander vaardighede opbou – taalvaardigheid, leesvaardigheid, die vermoë om te konsentreer, die vermoë om hulleself besig te hou, die vermoë om inligting uit geskrewe tekste te onttrek. Net soos grootmense, onttrek ook kinders die onderliggende boodskappe in ’n teks sonder dat hulle noodwendig daarvan bewus is, en Elisenda het daardie onderliggende boodskappe so mooi verpak in ’n vermaaklike storie dat dit glad nie prekerig raak nie.
Sal jy weer jou hand aan ʾn soortgelyke vertaal-/verwerkprojek waag?
Ja, graag.
Beplan jy om in die toekoms ook kinderboeke te skryf?
Ek sou graag wou, maar ek het ’n vermoede daar gaan eers ’n paar damme se water in die see moet loop voor dit gaan gebeur.
*Die stories hou tonele en gebeure aan kinders voor waarmee hulle sal identifiseer. Elke boek beslaan 48 bladsye en kos R99. Kinderhande sal die gerieflike kleiner formaat (170 x 220 mm) maklik vashou. Bestel dit by Fantasi Uitgewers of kry dit by deelnemende boekhandelaars.
- Alle grafika: Fantasi Uitgewers
Lees ook: