Onderhoud: Marise Oberholzer vertel hoe jou kind wiskunde onder die knie kan kry

  • 25

Marise Oberholzer gesels met Naomi Meyer oor praktiese wiskundewenke vir ouers en kinders van alle ouderdomme aan die begin van die jaar.

Lees ook:
Graad 5-getalbegrip: werkkaart en memorandum
Wiskundevraestel en memorandum (November, graad 4, intermediêre fase)
Wiskundevraestel en memorandum (November, graad 8, seniorfase)
Wiskundevraestel en memorandum (November, graad 6, intermediêre fase)
Wiskunde-eksamenhulp (graad 7 – 11) vir leerders

Hallo Marise, LitNet se lesers het jou naam teëgekom by onlangse vraestelle en Wiskundehulp wat op LitNet verskyn het. Vertel asseblief kortliks van jou wiskundige agtergrond.

Ek het BEd aan die Universiteit Stellenbosch studeer met wiskunde as hoofvak. My onderwysloopbaan het by Laerskool Eikestad afgeskop. Wiskunde was altyd my en my klas se gunstelingtyd van die dag. Na ‘n honneursjaar in opvoedkundige sielkunde (2004) het ek begin om kinders ná skool met wiskunde te help. Vir die afgelope 11 jaar stap ek die wiskundepad met graad 4–10-kinders, iets waaroor ek mal is en waaruit ek baie bevrediging put. Verder is ek betrokke by allerlei wiskunde-inisiatiewe.

Ons kry baie dikwels navrae omtrent wiskundehulp van desperate leerders by LitNet – wanneer is dit die beste tyd vir kinders om wiskunde te leer verstaan?

Konsepte in wiskunde ontwikkel van die konkrete na die abstrakte. Dit beteken dat kinders se eerste formele blootstelling aan wiskunde as leerarea met baie praktiese blootstelling gepaard gaan. Hulle sal byvoorbeeld in graad 1 vuurhoutjies (die konkrete) gebruik om vierkante te vorm en in graad 4 ‘n formule (die abstrakte) skryf waarmee jy kan uitwerk hoeveel vuurhoutjies jy nodig sal hê om ‘n sekere aantal vierkante te bou. Die konsepte volg dus jaar na jaar op mekaar. Daarom is dit belangrik dat kinders reeds van graad 1 af wiskunde sal verstaan. En die beste wyse om dit te bewerkstellig, is om soveel as moontlik werklike voorwerpe in te span vir wiskundehuiswerk.

wiskunde_kleinbegin_omslagJou boek Wiskunde - klein begin, groot gewin is toegespits op die heel kleintjies, kinders wat nog nie eens in die skool is nie. Maar is dit nie ‘n tyd vir kinders om nog te speel nie? Hoekom hulle dan al bemoei met wiskunde?

Ja, hulle moet beslis nog speel! Kinders ontdek baie aspekte van wiskunde toevallig juis wanneer hulle speel. Wanneer hulle byvoorbeeld in die sandput speel, sien hulle dat hulle vyf koppies sand nodig het om die emmertjie vol te maak. Deur torings met blokkies te bou, leer hulle konsepte soos lank en kort, langste en kortste. Ons gaan dus beslis nie klein kindertjies by ‘n tafel laat sit en somme met hulle doen nie. Ons gaan bloot geleenthede skep en bewus wees van geleenthede om hulle bloot te stel aan wiskundebegrippe.

My vorige vraag was aspris, want natuurlik vorm wiskunde deel van ons almal se alledaagse lewe - al koop jy net ‘n brood. Wat is van die heel eerste wiskundige begrippe wat ‘n klein kindjie nodig het om moeiliker  wiskundige begrippe te verstaan?

Die ontwikkeling van begrippe gebeur nie in ‘n spesifieke volgorde nie, en elke kind se ontwikkeling is uniek. Dit is dus goed om net bewus te wees van begrippe wat ‘n mens in die alledaagse met jou kind kan gebruik. Ek noem ‘n paar. Daar is begrippe ten opsigte van hoeveelheid: baie, min, meeste, minste, meer as, minder as. Ook begrippe ten opsigte van grootte: groot, klein, groter as, kleiner as, grootste, kleinste. Dan ook begrippe ten opsigte van posisie: onder, bo, tussen, regs, links, voor, na. As ons aan lengte dink, is daar begrippe soos lank, kort, langer as, korter as, langste, kortste. Massa: lig, swaar, ligter as, swaarder as, swaarste, ligste.

Vertel asseblief van hierdie boek: vir wie is dit geskryf, op watter ouderdomme is dit toegespits en wie sal daarby baat vind?

Wiskunde – klein begin, groot gewin is geskryf vir ouers, versorgers, onderwysers, oumas, oupas en enige persoon wat met jong kinders werk. Dit is ook bedoel vir lesers wat belangstel in wiskunde en hoe dit by jong kinders ontwikkel. Die boek verduidelik hoe wiskundevaardighede by kinders ontwikkel vanaf ‘n kind se geboorte tot ongeveer sesjarige ouderdom. Dit is ‘n boek met praktiese wenke wat ouers en versorgers in  staat stel om van vroeg af en te midde van ’n druk lewe alledaagse geleenthede te gebruik om jong kinders gemaklik in die wêreld van wiskunde in te lei.

Jy het ‘n ander produk ook, genaamd ‘n Box ‘n Dice-boks. Wil jy dalk vertel wat hierin is en waarom?

Box ‘n Dice ( en Box 'n Dice in Afrikaans) bestaan uit ‘n boksie propvol wiskundehulpmiddels, soos ‘n telraam, domino’s, getalblokkies, vorme, ‘n tangram, getalkaarte en ‘n dobbelsteen. Daar is DVD’s wat saam met die boks gebruik word. Op die DVD’s word aktiwiteite aangebied waar die hulpmiddels aangewend word om belangrike begrippe te verduidelik. Kinders kan dan voor die televisie of rekenaar sit en hul eie hulpmiddels gebruik om die aktiwiteite te doen. Daar is verskillende vlakke DVD’s beskikbaar, elk gemik op ‘n spesifieke ouderdomsgroep. Die program fokus dus op die konkrete, om wiskunde prakties te maak vir kinders en terselfdertyd ook sommer ‘n liefde daarvoor te kweek.

Jy het self ook (jong) kinders en bied ook wiskundehulp vir ouer kinders. Wat merk jy op – watter vrae en leemtes ontstaan by die kinders van verskillende ouderdomme?

Wanneer kinders nie oor goeie getalbegrip beskik nie, ontwikkel daar dikwels probleme. Getalbegrip verwys na ‘n persoon se vermoë om getalle te verstaan en met gemak te kan gebruik. ‘n Kind wat oor goeie getalbegrip beskik, sal byvoorbeeld die “grootte” van ‘n getal verstaan, ook die verhouding van die getal ten opsigte van ander getalle. So ‘n kind sal ook oor goeie hoofrekenvaardighede beskik en strategieë gebruik om probleme op te los.

Dink jy daar is mense wat ‘n meer natuurlike aanleg het vir wiskunde as ander, of kan alle mense daarmee regkom?

Mense se aanleg ten opsigte van wiskunde verskil beslis. Daar is mense wat begrippe in wiskunde maklik onder die knie kry en ander wat langer neem om dieselfde begrippe te bemeester. Ek sien egter gereeld met my klasse hoe kinders skielik lief raak vir wiskunde en dan begin presteer. Die kinders vir wie wiskunde nie so natuurlik kom nie, kan met baie herhaling en baie oefen ook goed presteer.

Is dit regtig so dat almal wiskunde as vak moet kies om te kan vorder in die lewe en om verder te kan studeer?

Om ‘n matrieksertifikaat te behaal, moet leerders tans wiskunde of wiskundige geletterdheid neem. Vir toelating tot sekere loopbaanrigtings is wiskunde egter ‘n vereiste. Baie graad 10-leerders weet nog nie watter loopbaanrigtings hulle gaan volg nie, of verander van keuse. Daarom word aanbeveel dat leerders wiskunde eerder as wiskundige geletterdheid neem. Of jy gaan vorder in die lewe en ‘n sukses van jou loopbaan maak, is egter onafhanklik van of jy wiskunde of wiskundige geletterdheid op skool gehad het.

Gestel my kind is nou al in die hoërskool en sukkel met wiskunde, wat is jou beste praktiese raad? Is dit ooit te laat?

Dit is nooit te laat nie. Die belangrikste is net om so gou as moontlik hulp te kry. Skole het gewoonlik die kontakbesonderhede van persone wat na skool vir kinders met wiskunde kan help. Enige hoërskoolleerder moet net weet dat wiskunde ‘n leerarea is waaraan jy baie aandag sal moet skenk. Soveel te meer as jy reeds agterstande het.

  • 25

Kommentaar

    • Hallo Carla, in hierdie onderhoud verskaf Marise Oberholzer 'n paar nuttige wenke. Op LitNet verskyn daar ook gereeld notas, toetse en vraestelle in ons Skole-afdeling. Hou hierdie ruimte dop, want nuwe inhoud word gereeld bygevoeg. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

    • Die wêreldbekende Suid-Afrikaanse CAMI-program (Computer-Aided Maths Instruction) wat al sedert 1984 by skole in SA en regoor die wêreld gebruik word, het nou ook 'n tuisprogram (CAMI@home) wat benewens wiskunde, ook Engels, Afrikaans, perseptuele vaardighede en wetenskap van graad R tot matriek insluit - wonderlike program wat die hele skool-curriculum dek en kinders werk/leer in die gerief van hul eie huis!

  • rina de jager

    Hallo Marise, ek is ouma van 'n vierjarige. Wat dink jy van die Cmaths-konsep? Ek het 'n TV-program gekyk waarop party kinders komplekse wiskund berekenings gevra is en dit was ongelooflik hoe hulle by die antwoorde kom.

  • Eddie Hulscher

    Gaan die notas deurwerk.My klein kind is 3 jaar oud en wil nou al met hom begin met wiskunde ens.

  • Ek is opsoek na iemand wat n graad 5 kind in Valhalla omgewing kan help met na skool ekstra klasse. Moet nie te duur wees nie .

    • Hallo Jacky, ons kan ongelukkig nie hiermee help nie. Ons bied wel gereeld nuwe notas, werkkaarte en vraestelle om gratis af te laai. Hou LitNet se Skole-afdeling dop vir nuwe toevoegings soos wat ons dit ontvang. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

    • Hallo Hettie, daar is 'n skakel na die webwerf van Box n Dice in hierdie onderhoud (http://www.boxndice.co.za/). As jy daarop klik, sal jy by Marise se kontakbesonderhede uitkom. Laat weet gerus as jy nie regkom nie. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Santie Coetzee

    Goeie dag - wat sal jy voorstel is die beste manier om Graad 4 leerlingte help om wiskunde beter te verstaan?

  • Philip Swanepoel

    As iemand wat ekstra wiskundeklasse aanbied, het ek gevind dat kinders bang is vir wiskunde, sukkel met negatiewe getalle (en persentasies), deurmekaar raak met die gebruik van x’e en y’e en ’n “mooi” antwoord soek. Hier volg ’n paar wenke vir ouers.
    Praat in ’n positiewe lig oor wiskunde. Wiskunde help mens om baie probleme in die “regte” wêreld op te los. En dit beïnvloed ons omtrent elke minuut van die dag. Dis ook belangrik dat kinders weet wiskunde is belangrik en nuttig, maar dat dit nie mislukkings is as hulle sukkel nie.
    Negatiewe getalle word die maklikste verduidelik met temperature in die koue dele van ons land of ander lande. Die idee van ’n bankrekening met skuld werk ook goed, maar is dalk nie bevorderlik vir finansiële welstand nie. ’n Bankrekening vir jou kind sal help om die konsep van persentasie en groei te verstaan. Persentasies is natuurlik ook belangrik vir die meting van prestasie.
    Wiskunde is ’n taal. So, die simbole in wiskunde is ’n manier om lang woorde op ’n kort, verstaanbare manier te skryf. In die kort duur voel dit vir die kind of dit dinge moeiliker maak, maar in die lang duur maak dit dinge makliker.
    Laastens, help dit baie as kinders die = teken sien soos ’n gebalanseerde wipplank. Maw, 5kg meel en 5kg suiker balanseer mekaar. Die twee lyk verskillend, maar weeg dieselfde. Selfs al is daar baie verskillende items aan die een kant en baie aan die ander kant. Die belangrikste is dat hulle balanseer. So as daar aan die een kant iets bygesit of weggevat word moet dieselfde aan die ander kant gedoen word.

  • bevely diergaardt

    ek het n seun in graad 5 en dit is n probleem. hy sukkel in afrikaans ,engels en wiskunde. ek weet regtig nie wat om te doen nie.is daar vraestelle wat hy miskien kan uitwerk en homself in kan verbeter.

  • Goeiedag.
    Hoe maak ek, as ek raad wil he vir my seun in gr 10. Hy moet n wiskunde plakaat maak. En is hierdie advies gratis of nie. Dankie baie.

  • Middag, by ons skool daag die juffrou nie eers op vir R/O klasse nie.

    As jy sê jou kind verstaan nie opstel en aftrek nie, dan sê sy sy wiskunde is goed. Maar sodra ons huiswerk doen dan is 20 somme foutief en dit in Graad 1. Wat is 'n maklike manier om my seun wat pas met ADHD gediagnoseer is te leer. Hy het agv konsentrasie niks opgevang in klas in die 1ste kwartaal nie. Het superieure IK. Dit moet net GOED verduidelik word. HELP ASSEBLIEF.

  • Hallo en dankie vir die geleentheid. My meisiekind is in Graad 7 en sukkel erg met wiskunde. In Graad 6 was haar jaareindpunt 65% en nou in Graad 7 met die Junie eksamen slegs 35%. Hier is niemand wat ekstra klasse aanbied nie. Ons bly op 'n baie klein dorpie. Help asb is daar dalk 'n program wat ons kan aankoop.

    • Hallo Johannes, dankie vir die navraag. Ek is jammer om te hoor jou kind sukkel met wiskunde. Op ons webwerf kan sy gratis vraestelle aflaai en dit vir oefening gebruik. Daar is ook 'n memorandum/antwoordstel by elke vraestel. Hier is 'n skakel na die indeks waar al die vraestelle beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Dit is ingedeel volgens graad en ons voeg so gereeld moontlik nuwe vraestelle by. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Marise, ek moet met ons prysuitdeling met die grondslagfase-ouers gesels oor hoe om speel-speel wiskunde met jou kind te doen. Waar kan ek jou boek "Wiskunde, klein begin, groot gewin" in die hande kry of het jy vir my praktiese wenke wat ek met hulle kan deel asb?

  • Waar begin ek as ek besef my 9-jarige dogter het geen begrip vir wiskunde nie, maar was van gr rr tot graad 2 in die skool met punte van 90%!! Sy weet nie eers wat is 4+3 nie ... tel op haar vingers ... nou wil ek tuis onderrig. Waar begin ek?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top