Wiskunde-eksamenhulp (graad 7 tot 11) vir leerders

  • 33

wiskunde_wolkie_nommersDie eksamen begin eersdaags. Wiskunde bly nou maar ‘n baie belangrike leeraea. Veral deesdae, waar prestasie in wiskunde ‘n voorvereiste vir die meeste studierigtings is. Daarom sal die punte wat jy vir wiskunde behaal waarskynlik met arendsoë dopgehou sal word.

Die goeie nuus is dat sukses in wiskunde nie net vir ‘n uitverkore groepie mense is nie. Daar is baie wat jy kan doen om seker te maak dat jy jou wiskunde vraestel met selfvertroue kan aanpak. Hiermee ‘n paar wenke:

• Wiskunde is ‘n leerarea waarvoor jy baie goed moet voorberei. Om die middag voor die vraestel deur jou boeke te blaai, is ‘n strategie wat jy nie eers moet oorweeg nie. Om suksesvol in wiskunde te wees, moet jy oefen! Daar is ongelukkig geen kortpad nie. 

• Indien jy nog nie met hersiening vir jou wiskunde vraestelle begin het nie, begin vandag. Spandeer elke dag ten minste dertig minute net aan wiskunde hersiening. Ek stel voor dat jy jou selfoon vir daardie tyd wegsit of afskakel sodat jy ononderbroke kan konsentreer.

• Werk stelselmatig deur al die inhoudsareas waaroor jy eksamen skryf. Begin by die inhoudsareas wat die grootste uitdaging vir jou inhou om seker te maak dat jy genoeg tyd hieraan afstaan.

• Leer eers die teorie, reëls en formules van ‘n inhoudsarea. Doen dan die oefeninge wat julle in die klas gedoen het. Hou die antwoorde toe wanneer jy die oefeninge doen. So maak jy seker dat jy weet hoe om soortgelyke voorbeelde in die eksamen aan te pak.

• Let veral op die foute wat jy in oefeninge en toetse gemaak het. Maak seker dat jy nie hierdie tipe foute in die eksamen herhaal nie.

• Maak ‘n lys van aspekte waaroor jy onseker voel en vra jou onderwyser of dalk ‘n klasmaat om dit vir jou te verduidelik. Onthou, jy is verantwoordelik vir jou wiskunde prestasie en daarom moet jy seker maak dat jy al die werk kan doen.

• Probeer ook om vraestelle of ekstra oefeninge in studiegidse te doen. Hoe meer voorbeelde jy van ‘n sekere inhoudsarea uitwerk, hoe beter is die kans dat jy soortgelyke voorbeelde suksesvol sal aanpak, of selfs dieselfde vraag in die eksamen sal kry. Maak seker dat jy die antwoorde van hierdie vraestelle of oefeninge het, of dat iemand dit vir jou kan merk, anders mors jy net jou tyd.

• Dit is dikwels baie effektief om ‘n studiegroep te stig en saam vraestelle uit te werk. ‘n Mens leer nogal baie by mekaar. Kies dan die lede met goeie oordeel, sodat julle nie mekaar se tyd mors met tydige en ontydige koffiebreke of onderbrekeings nie.

• Maak seker dat jy presies weet hoe om die funksies op jou sakrekenaar te gebruik. Indien jy goed vertroud is met jou sakrekenaar, sal jy tyd in die vraestel spaar en akkuraat werk.

• Moenie die aand voor die vraestel te laat gaan slaap nie. Die ideaal is dat jy die vraestel uitgerus en met ‘n helder verstand aanpak.

• Al die ure wat jy voor jou wiskunde boeke deurbring sal die moeite werd wees. Die belangrikste is egter dat jy positief oor wiskunde sal wees. Dit is teenproduktief om vir jouself te sê dat die werk moeilik is of dat wiskunde sleg is. Pak hierdie eksamen met ‘n positiewe, hardwerkende gesindheid aan.

Studiegidse met sinvolle oefeninge en volledige antwoorde:

  • 33

Kommentaar

  • Avatar
    Betsie van Niekerk

    Goeie naand ek het 2 seuns die een graad 5 en graad 7.Die een wat graad 5 is verstaan nie die wiskunde nie hoe kan ek hom meer help

    • Hallo Betsie, van LitNet se kant af bied ons gratis vraestelle om af te laai. Kyk by ons Skole-afdeling onder notas, toetse en vraestelle. Hier word gereeld nuwe hersieningsmateriaal bygewerk. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

    • As hy sy tafels leer sal hy kan regkom. Ek het ook gesukkel daarmee in die begin . My pa het my wakker gemaak in die aande dan vra hy my skielik “9x9” en dan moet ek die antwoord gee. Nadat ek dit so goed geken het, kon ek my wiskunde gedoen het.

  • Avatar
    andries de Swardt

    My seun is in graad 10 in 'n engelse skool hy kry so 70% vir wiskunde wat kan n mens doen om dit te verbeter hy het 'n groot breinoperasie gehad sukkel om te konsentreer in die klas het julle enige voorbeelde om te leer vir sy toetse en eksamen

    • Hallo Andries, LitNet bied ekstra notas, toets en vraestelle om gratis af te laai - soos die bladsy waar jy nou is. Hou hierdie ruimte dop, want ons voeg gereeld nuwe hersieningsinhoud by. Spoedig gaan daar getalbegrip-werkkaarte vir spesifiek graad 10 bygevoeg word en ek is seker jou seun sal hierby baatvind. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

        • Hallo Albertu, ons kan slegs inhoud aanlyn voorsien en voeg soveel moontlik wiskunde- en ander hersieningsmateriaal by soos wat ons dit gereël kon kry of toestemming ontvang om te plaas. Jy sal hierdie afdeling op LitNet moet dophou vir nuwe vraestelle en hersieningsmateriaal. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Baie dankie vir hierdie skitterende Wiskunde-hulp met vraestelle en memorandums! Ek wens net ouers en kinders wil die waarde van jou advies vroeg ontdek en benut - wiskunde moet jy oefen, oefen, oefen!

  • Avatar
    Adele Bateman

    Hallo my naam is Adele, my seun is in graad 7, hy sukkel met wiskunde as dit by eksamen tyd kom, maar reg deur die jaar kry hy omtrent alles reg in sy wiskunde boek en as ons hom vra dan verstaan hy dit. Maar sodra hy eksamen skryf kry hy omtrent alles verkeerd, hy het erken hy verstaan nie die vraestelle nie, hoe nou gemaak? Ek het n brief saam met sy rapport gekry wat se hy gaan gr 7 druip op meriete omdat hy al die wiskunde eksamens gedruip het. Help asb.

  • Avatar
    Susan Bezuidenhout

    Is daar enige Wiskunde vraestelle en memorandums vir NOVEMBER vir graad 7 beskikbaar? Ek probeer my kleinkind help om te verstaan - maar dinge het so verander, ek verstaan dit self nie.

    • Hallo Susan, hierdie vraestel dek die jaar se werk. Ons het nie 'n spesifieke vraestel vir November beskikbaar nie, maar sal byvoeg as ons dit sou ontvang en mag publiseer. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Hi julle, my dogter is graad 9 en sukkel met wiskunde, ek werk ver van die huis af so logistiek om haar deur die jaar by ekstra klasse uit te kry net nie moontlik. Is daar iemand wat in die Centurion bereid is om haar voor haar eksamen n met n paar goed te kan help asb, die mense wat nog oop is vir ekstra klasse buit dit heeltemal uit en ek kan dit nie finansieel bekostig nie. Het n fantastiese man gehad wat nou en dan uitgehelp het maar hy het n breingewas gekry begin van die jaar en nou kan hy nie meer help nie. Ek is raadop en baie bekommerd oor my kind, Is daar iewers iemand wat n paar uur kan help om net die goed wat sy nie verstaan nie weer met haar deur te gaan. Die onderwyseres voel vere, nie bereid om te help. Ons bly in The Reeds Centurion. Groooot asseblief.

  • My seun het sy gr 10 wisk gedruip, ek is so moedeloos. Wat gaan dit hom help om wisk geletterdheid te neem? Watter beroepskeuses is daar? Hy voel so waardeloos. Ek weet nie hoe kan ek hom help nie.

    • Ek weet Afriforum of Solidariteit adverteer dat hul wiskunde ekstra klasse aanlyn aanbied. Dit kos net R50 per maand om aan hul te behoort, die res is gratis. Ek het self nog nie daarna gaan kyk nie.

  • My dogter in gr7 het vir die eerste in haar skoolloopbaan wiskunde gedruip. Die rapport moet hoërskool toe gaan vir inskrywing maar ek bekommer my baie daaroor dat sy dalk gaan onsuksesvol wees einde van die jaar. Ek het haar reeds grR. teruggehou omdat sy emosioneel nognie gereed was nie. Ek het sopas n vraestel afgelaai en sal so dankbaar wees as iets ekstra kan help. Sy sal ook so gou moontlik ekstra klasse begin.

  • Waar kan mens hierdie wiskunde vraestelle kry? En het julle wiskunde vraestelle vir graad 9 se Junie eksamen om voor te berei met memos?

  • Avatar
    Maria Duimpies

    Ek soek interessante prikkelende take vir gr.3 eerste kwartaal in alle leerareas. Alle take verkieslik in Afrikaans behalwe natuurlik die Engelse take self. Indien u nie van alle leerareas het nie, kan u gerus net stuur wat u het. Indien u enige bronne van weet is u welkom om dit so deur te gee. baie dankie. Dit sal hoog op prys gestel word.

    • Hallo Maria, hier is 'n skakel na ons skoleafdeling. Die inhoud hier is gratis beskikbaar en is ingedeel volgens graad. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • hi, my seun is in graad 11 en het Tegniese Wiskunde en sukkel verskriklik met eksponente is daar dalk iets wat ek kan doen om hom te help, is daar vraestelle wat ek kan aflaai wat ek en hy kan saam uitwerk, die skool wil nie vraestelle gee wat hy kan uitwerk nie

  • Avatar
    Surette Van Niekerk

    Ek is opsoek na hersiening vraestelle vir nou November 2018 se wiskunde vraestel (Vrystaat)

    • Hallo Surette, ons vra kundiges om vir ons vraestelle op te stel en stel nie noodwendig spesifieke streke of jaartalle se vraestelle beskikbaar nie. Hier is 'n indeks van al die vraestelle wat op LitNet beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Laai gerus die vraestelle hier gratis af vir oefendoeleindes. Ons voeg so gereeld moontlik nuwe inhoud by. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Goeie dag

    My seun is in graad 11 het tegniese wiskunde en tegniese wetenskap. Hy sukkel met die twee vakke. Is daar dalk hulpmiddels of boeke, behalwe sy voorgeskewe skoolboeke wat ek iewers kan koop?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top