Om vrede te maak met my oupa: Koos Kombuis gesels oor voorvadergeeste, Afrikaanse resensies en RSG

  • 5

PC Schoonees (Foto: WAT)

“The unexamined life is not worth living.” ~ Socrates

Ek onthou my oupa.

Toe ek klein was, het die straat voor ons huis geëindig in ’n kruising teenaan die klipbruggie wat oor die rivier geloop het.

Die rivier se naam was die Eersterivier, want dit was die eerste rivier.

Dit was waar my oupa en my ouma gebly het, in daardie groot gewelhuis met Krismisrose in die tuin.

Daar was ’n spens vol koekies en daar was ou, donker vrugtebome in die tuin en baie slakke. Agter was daar ’n stel houttrappies wat opgelei het na ’n boonste kamer waarvan die deur altyd toe was, maar in die deur was ’n vierkantige openinkie, onder in die middel, en as ’n mens laag buk en jy kyk daardeur was dit donker daar agter, maar iets het geruik na strooi en jy kon die geskuifel van katjies se pootjies hoor, en soms het hulle gemiaau.

My oupa was ’n korrelkop, maar ’n heeltemal ander soort korrelkop as ek. Mens kan amper sê ons was absoluut die teenoorgestelde van mekaar. Hoewel beide ek en hy die belange van Afrikaans op die hart gedra het, was hy nooit so ’n ghwar soos ek nie. Hy sou nooit anglisismes gebruik nie en jy sou hom nooit gekruide taal hoor gebruik nie. Ook maar goed ons het nie op dieselfde tyd grootgeword nie – ons sou mekaar nie kon verdra nie.

Dis ook nie asof my oupa in sy lewe ’n tekort aan vyande gehad het nie. Hy het homself in die twintigerjare van die vorige eeu baie ongewild gemaak onder talle Afrikaanse skrywers as gevolg van sy genadelose kritiek op hulle werk.

Wikipedia stel dit so:

Hy is een van die eerste Afrikaanse kritici wat genadeloos onder die prosawerke van sy tyd inklim om slegs met die hoogste letterkundige standaarde as maatstaf te beoordeel, ’n benadering wat nagevolg word deur ander literatore [...] en spoedig lei tot die verhoging in gehalte van die prosa.

Ek dink deesdae besonder dikwels aan my oupa. Ek wonder vir die eerste maal of ons dalk meer gemeen het as wat ek ooit voorheen besef het. Op sy droë, ernstige, intellektuele manier was hy ook ’n opperste rebel; volgens gerugte, ek is nie seker hoe waar dit is nie, het hy destyds geweier om aan te sluit by die Afrikaner Broederbond en is as gevolg daarvan nooit bevorder tot professor nie.

Nog ’n rede hoekom ek die laaste tyd dikwels aan PC Schoonees dink, is die feit dat die debat oor literêre kritiek en oor resensente onlangs – so onlangs soos die laaste paar maande van 2023 – opnuut opgevlam het. Dié wat al daarvan vergeet het en belangstel in die onderwerp, kan gerus die essay “Bekgeveg oor resensies: Aardbewing in ’n miershoop of tydige waarskuwing?” deur Jean Oosthuizen gaan lees.

As die naam Jean Oosthuizen bekend klink, ja, dis die einste Jean Oosthuizen wat meer onlangs in die nuus was oor sy felle kritiek op Radio Sonder Grense se uitsaaiprioriteite, in die besonder die klem wat hulle deesdae plaas op Christelike inhoud. Rapport het daaroor berig in ’n storie getiteld “RSG druk die Bybel in ons kele af” en die debat – as mens dit ’n debat kan noem – duur steeds voort.

Ek is nie seker of my oupa van Jean Oosthuizen sou gehou het nie. Soos Jean was hy ook ’n baie onafhanklike en kritiese denker, maar benewens dit was die goeie Schoonees tydens sy lewe baie aktief in die kerk. En Jean is natuurlik, soos almal weet, een van die meer moderne Afrikaanse denkers wat verkies om hulleself te distansieer van die enger sienings van die tradisionele Christendom.

Soos Jean is ek ook deel van die post-kerkgenerasie. Tot watter mate is ons werklik vryer in ons denke as die eertydse tradisionaliste?

Of het dit alles niks met godsdiens te make nie en het ons hier te doen met ’n dieper issue?

Is mense toenemend nie in staat tot rasionele debat nie? Word die “volk” dommer? Is daar iets soos ’n kurwe van vervlakking, of was dit nog altyd so erg?

Miskien moet ek begin by die begin. Die herrie oor RSG het reeds sowat twee jaar gelede begin toe Hanlie Retief op 1 Mei 2022 ’n onderhoud gepubliseer het wat sy gevoer het met ene Louise Jooste, destyds die nuwe sakebestuurder van RSG.

Onder bespreking was die feit dat, kort ná haar aanstelling, Monitor gehalveer en die aktualiteitsprogram Praat Saam beëindig is.

“Ek hou van geselsradio en musiek,” het Hanlie vir Louise aangehaal.

Die lesers van Netwerk24 was duidelik nie tevrede met Louise Jooste nie. Van die 330 kommentare onderaan die storie was ’n oorweldigende meerderheid ten gunste van die behoud van die radioprogramme soos dit was.

  • Inkpot het geskryf: “Dalk moet al die puik RSG-aanbieders wat vervang is, hulle eie radiostasie begin.”
  • Chriswiele het gesê: “Ons skakel maar af, want RSG is nie meer ons luister werd nie.”

En so aan. En so aan. Die volk was dik die donder in. Hulle het radio met pitkos gesoek, nie spookasem-geklets nie.

...
Selfs 330 kommentare vol spelfoute is beter as die totale afwesigheid van die uitruil van menings.
...

Fast forward na 2024. ’n Week of twee gelede. Minder as twee jaar later ná daardie onderhoud.

Op sy persoonlike Facebook-bladsy vra Jean Oosthuizen die vraag hoekom RSG “deesdae al meer klink na Radio Kansel op steroids”.

’n Dag of wat later tel die Sondagpers die storie op. Rapport haal vir Jean aan: “Dit klink of RSG sy rol as openbare uitsaaier versaak deur al hoe meer soos ’n Christelike sender te klink.”

In sy pleidooi spreek Jean die versugting uit dat die Afrikanervolk NP van Wyk Louw se wyse woorde ter harte moet neem en ’n meer volwasse debat begin voer en meer kritiese denke inspan wanneer daar gesels word oor geestelike en aktuele sake.

NP van Wyk Louw deur Koos Kombuis

“Die land se grootste meningsvormers doen lustig mee aan die geestelike verdomming van die samelewing,” sê Jean.

Onderaan die digitale weergawe van die storie is daar weer 330 kommentare.

Byna al die mense wat kommentaar lewer, verdedig RSG en vaar uit teen Jean Oosthuizen.

Ek haal ’n paar sinsnedes aan (taal- en spelfoute nie gekorrigeer nie):

  • “Op die lang duur sal die Ewige Waarheid seëvier.”
  • “Jui sonder Ateisme kry mens die grootste klomp idiote wat te veel van hulself dink en net godjies van hulself maak”
  • “Kry Christinne uitsaai tyd en besprekings tye op Moslem radio stasies”
  • “Kies n ander stasie!”

En so voort. En so aan. Die volk het weer gespreek. Binne ’n skrale twee jaar het almal vergeet hoe die bliksem in hulle was vir Louise Jooste.

Jean self ken kort daarna op Facebook ’n prys toe aan die stukkie kommentaar wat hom die meeste geamuseer het, deur ene Maryna van Wyk:

“Jou satans gemors. Dis net jy wat sulke kak kan skryf in Rapport. In wie se h…l was jy gisteraand dat jy so suurgat is?”

Die vrae van die week is:

  • Is dit hoe vinnig die gemiddelde IK van die deursnee-radioluisteraar gedaal het?
  • Is dit moontlik om die spoed van verdomming te meet?
  • Is dit moontlik dat die volk in minder as twee jaar hul ganse redeneringsvermoë verloor het?
  • Of was die probleem nog altyd daar? Selfs in my oupa se tyd?

Sosiale media (Mudassar Iqbal | Pixabay)

...
 Dit is die ground zero van ons beskawing.
...

Onlangs publiseer ek self my eie boek oor sogenaamde “geestelike sake”, oftewel geloof versus ongeloof.

Ek probeer vertel, so goedig en taktvol moontlik sonder om doelbewus op enige tone te trap, hoekom ek myself nog as ’n belydende Christen nog as ’n ateïs kan bestempel.

Kort op mekaar – binne die tydperk van enkele weke – lees ek drie totaal uiteenlopende resensies van my eie boek raak in die media.

In die eerste resensie, wat van alle plekke geplaas is op Maroela Media, word my boek ten hemele geprys. Die resensie is jou wrintiewaar geskryf deur ’n teoloog. Nog meer verbasend: Die teoloog spreek sy verbasing uit dat Koos Kombuis “so baie weet van teologie”.

Die tweede resensie net daarna, ’n lesersopinie op LitNet, het ietwat gemengde kommentaar. Die skrywer, ’n voormalige predikant, betreur die feit dat Koos “nie genoeg weet van teologie nie”.

Die derde resensie in dieselfde Sondagkoerant wat die storie oor Jean geplaas het, is geskryf deur iemand wat ’n erotiese webwerf bedryf. Die resensent sê Koos weet absoluut niks van teologie nie.

Natuurlik stem ek saam met laasgenoemde. Ek het nog nooit myself voorgehou as ’n kenner van teologie nie. Om die waarheid te sê, ek sou ’n meer suksesvolle loopbaan kon bedryf as balletdanser as teoloog.

Ek is egter nuuskierig oor die persoon wat die derde resensie geskryf het. Ek gaan loer na die resensent se erotiese webwerf. Ek ontdek daar ’n nuwe spelling van die woord kinky: “KIENKY”. Die woord seksualiteit word op twee plekke in dieselfde paragraaf op twee verskillende maniere gespel.

“Seksueliteit”? Rêrig?

Terug na RSG. Ek was ’n geesdriftige luisteraar van hul oggendprogramme tot so ’n paar jaar gelede. Toe het daar twee dinge gebeur wat veroorsaak het dat ek heeltemal ophou radio luister het. My karradio het gebreek. En my kinders het matriek gemaak. Dit het beteken dat ek nie meer elke weeksoggend en elke middag skool toe en terug moes ry nie. Dit was in daardie tydgleuwe dat ek gereeld na RSG geluister het. Dit het my gepas, want in daardie tydgleuwe het hulle min musiek uitgesaai. Wanneer ek ander tye van die dag moes rondry, het ek eerder my radio ingestel op KFM, want ten minste het hulle nie die aaklige kommersiële Afrikaanse liedjies uitgesaai wat mens dag en nag op RSG moes hoor nie.

Sedert my karradio gebreek het, luister ek net RSG wanneer ek by my skoonouers kuier. Hulle hou van die kerkuitsendings, maar deesdae is dit inderdaad asof daar nogal baie meer kerkuitsendings as voorheen is. Toe ek laas daar gekuier het, het dit gevoel asof die domineestemme en geprekery vir ure en ure aangaan. Op ’n stadium het dit selfs vir my skoonma te erg geraak en sy het op die ou end die radio afgesit.

Toe die RSG-“debat” nou weer opvlam, het ek ’n punt daarvan gemaak om weer RSG te begin luister op my selfoon. Die inligtingprogramme wat daar nog is, is steeds van hoogstaande kwaliteit. Dit is duidelik dat daar nog heelwat hoogs professionele mense vir RSG werk. En ek is bly dat hulle nou begin het met inisiatiewe soos die uitsaai van Langenhoven se spookstories op sommige aande.

RSG is inderdaad nie alles aaklig nie. Maar ek het nog nie ’n poging aangewend om ’n nuwe karradio aan te skaf nie.

Beteken dit die “debat” oor RSG was useless? En die debat oor resensies?

Allermins.

Dis natuurlik ’n groot versoeking om hierdie essay af te sluit met ’n pleidooi om meer rasionele debatvoering, meer ingeligte opinies, minder persoonlike aanvalle, minder swak taalgebruik. Maar ek is nou al lank genoeg in die tand om te besef so ’n pleidooi sal inderdaad geen effek hê nie. Boonop is dit nie asof ek nog altyd onskuldig was nie. So ’n pleidooi sou goed klink op papier en dit sal dalk selfs die regte ding wees, maar wie gaan luister? Hoeveel mense gaan hierdie rubriek lees? En hoeveel mense wat wel hierdie rubriek lees, gaan hul gedrag verander?

Eweneens sou dit goed klink, in teorie, om te pleit vir meer verantwoordelike resensies, minder beledigende retoriek, meer opgeleide resensente en groter professionaliteit by die oordeel van boeke. Dis waarvoor my oupa gepleit het, alreeds in die twintigerjare. Maar waar het dit hom gebring?

Ek weet dit klink verskriklik om te sê, maar op die ou end moet ons dalk berus by die feit dat kwantiteit altyd sal seëvier bo kwaliteit. Dis so met musiek wat op die radio gespeel word. Dis so met die uitsaai van godsdiensprogramme. Dis so met boekresensies. Wie weet, dalk moet ons selfs aandring op MEER kwantiteit, nie minder nie. Want hoe meer stemme gehoor word, hoe raserig en oningelig daardie stemme ook al is, hoe groter is die kanse dat ten minste ’n redelike persentasie van daardie stemme ’n ware bydrae maak tot die kwaliteit van ons redevoering.

Laat ALMAL hul menings lug oor alles van boeke tot godsdiens. Daar is nie iets soos ’n regte standpunt nie. Diversiteit is beter as sensuur of stilte. Dink net hoe vervelig sou ons wêreld gewees het as Jean Oosthuizen ’n kontroversiële stelling maak en NIEMAND reageer nie! 330 kommentare is beter as nul. Selfs 330 negatiewe kommentare is beter niks. Selfs 330 kommentare vol spelfoute is beter as die totale afwesigheid van die uitruil van menings. Die behoud van ons demokrasie lê in die kwantiteit van mense wat hul stemreg uitoefen, al stem die meeste van hulle volgens ingeligte opinies “verkeerd”. Pandemonium op die internet is beter as geen internet. Ons moet vryheid van spraak aanmoedig, al is die gevolge dikwels absoluut wanordelik, onsmaaklik en chaoties. Dit is ons reg. Dit is die ground zero van ons beskawing.

En soms is dit baie lekker.

Bless your soul, Oupa. Ek wens jy was hier vandag. Jy sou moedeloos gewees het. Maar jy sou nie jou bek gehou het nie.

En, al verskil ek van jou, besef ek dat ons vandag korrelkoppe soos jy meer nodig het as ooit.

Lees ook:

Bekgeveg oor resensies: Aardbewing in ’n miershoop of tydige waarskuwing?

Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba

’n Plekkie in die son?

Deur die tonnel van twyfel: Waarom Kombuis hom nie as Christen beskou nie

’n Snotjantietie met ’n pan in die hand

Wie mag resensies/lesersindrukke skryf?

  • 5

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Die meeste van die musiek wat op RSG gespeel word is oppervlakkige gemorspop. Dit geld ook vir die meeste van die Afrikaanse musiek op RSG. Dat hulle eerder sulke musiek speel en nie meer musiek van mense soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel nie, wys al klaar van watter bedenklike stoffasie hulle is. Ek het iewers selfs gelees hulle weier om Koos Kombuis se laaste album te speel. Hoe pateties.

  • Barend van der Merwe

    Dit laat my nou ook dink aan demokratiese sisteme. Toe die Grieke glo die (vermoedelik) eerste primitiewe weergawe van demokrasie begin het, was dit eintlik alles behalwe demokraties. Dit was slegs mans wat kon stem. En ook nie die armes nie. Daar is vandag nog mense wat, as hulle hul sin kan kry, na so sisteem sal wil terugkeer.

    Ten opsigte van RSG: Ek het 'n interne alarm. Sondagaande 8 uur gaan dit af. Dan skakel ek meganies in op RSG se politieke kommentaar. Ek is 38 jaar oud en luister al politieke kommentaar elke Sondag om 8 al vandag ek 'n tiener was. Kom ons sê al 20 jaar lank. Daar is nog so klompie geliefde programme. Musiek sonder grense is een. Die was altyd op Vrydae maar is toe geskuif na Woensdae. Die verandering het my vir maande lank beduiwel voordat ek uiteindelik aangepas het.

    Maar oor die algemeen is RSG 'n stasie wat ek liefs vermy, en na afloop van Oosthuizen se artikel is ek vir hulle ekstra versigtig. Van godsdienstige indoktrinasie had ek genoeg in my lewe. Fine Music Radio is buitendien sonder gelyke.

  • Barend van der Merwe

    Iets interessant oor Schoonees. Die taalkundige Christo van Rensburg skryf:

    "Schoonees was ook bekend daarvoor dat hy nie geskroom het om, dikwels ontaktvol en teen sy beterwete in, by sy standpunt vas te steek nie. Hy was 'n lid van die Akademie se Letterkundekommissie wat in 1964 die Hertzogprys aan Leroux vir sy werk SEWE DAE BY DIE SILBERSTEINS toegeken het; hy het byvoorbeeld nie met die oordeel van die Kommissie akkoord gegaan nie en 'n minderheidsverslag ingedien "waarin hy hom sterk teen die "onwelvoeglikhede" van die boek uitgespreek het."

    Uit: C. van Rensburg, Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls se eerste honderd jaar, Arcadia, 202, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, bl. 261.

  • Die probleem was oënskynlik ook daar in oupa se tyd. By die eerste lees van ‘Sewe dae by die Silbersteins’ was ek ongelooflik beïndruk, net soos met die grootte van ons eerste huis as kind ‒ later, steeds, but not soooo much. Steeds dieselfde huis en boek, maar ék het skynbaar verander en nie die volk nie. Dalk die volk ook. Hier in Etienne Leroux se ‘Magersfontein, O Magersfontein’, staan: “In ʼn stadium het hy dit selfs oorweeg om 'n k***r-taxi te stop ...” Miskien het Schoonees na dié klas onwelvoeglikheid verwys.

    Kyk net wat lees ek op die Net raak, ‘from The Rubaiyat of Omar Khayyam:

    Awake! for Morning in the Bowl of Night
    Has flung the Stone that puts the Stars to Flight:
    And Lo! the Hunter of the East has caught
    The Sultan’s Turret in a Noose of Light.

    And, as the Cock crew, those who stood before
    The Tavern shouted – ‘Open the Door!
    You know how little while we have to stay,
    And, once departed, may return no more.’

    Come, fill the Cup, and in the fire of Spring
    Your Winter-garment of Repentance fling:
    The Bird of Time has but a little way
    To flutter – and the Bird is on the Wing.

    A Book of Verses underneath the Bough,
    A Jug of Wine, a Loaf of Bread – and Thou
    Beside me singing in the Wilderness –
    Oh, Wilderness were Paradise enow!

    Oh, come with old Khayyam, and leave the Wise
    To talk; one thing is certain, that Life flies;
    One thing is certain, and the Rest is Lies;
    The Flower that once has blown forever dies.

    Myself when young did eagerly frequent
    Doctor and Saint, and heard great Argument
    About it and about: but evermore
    Came out by the same Door where in I went.

    With them the seed of Wisdom did I sow,
    And with my own hand wrought to make it grow:
    And this was all the Harvest that I reap’d –
    ‘I came like Water, and like Wind I go.’

    Ah, fill the Cup – what boots it to repeat
    How Time is slipping underneath our Feet:
    Unborn TOMORROW, and dead YESTERDAY,
    Why fret about them if TODAY be sweet!

    But leave the Wise to wrangle, and with me
    The Quarrel of the Universe let be:
    And, in some corner of the Hubbub coucht,
    Make Game of that which makes as much of Thee.

    For in and out, above, about, below,
    ’Tis nothing but a Magic Shadow-show,
    Play’d in a Box whose Candle is the Sun,
    Round which we Phantom Figures come and go.

    ’Tis all a Chequer-board of Nights and Days
    Where Destiny with Men for Pieces plays:
    Hither and thither moves, and mates, and slays,
    And one by one back in the Closet lays.

    The Moving Finger writes; and, having writ,
    Moves on: nor all thy Piety nor Wit
    Shall lure it back to cancel half a Line,
    Nor all thy Tears wash out a Word of it.

    Ah Love! could thou and I with Fate conspire
    To grasp this sorry Scheme of Things entire,
    Would not we shatter it to bits – and then
    Re-mould it nearer to the Heart’s Desire!

    Yon rising Moon that looks for us again –
    How oft hereafter will she wax and wane;
    How oft hereafter rising look for us
    Through this same Garden – and for one in vain!

    And when like her, oh Sáki, you shall pass
    Among the Guests Star-scatter’d on the Grass,
    And in your joyous errand reach the spot
    Where I made One – turn down an empty Glass!

    Edward Fitzgerald (1809 - 1883)
    Omar Khayyam (1048 - 1123)’

  • Dankie vir die interessante artikel, Koos. Ek het juis die afgelope vakansie op Tien jaar prosa (1950) van P.C. Schoonees afgekom en dit met genot gelees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top